Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Uittreksel uit die ongepubliseerde roman Wat Emma weet


Dineke Volschenk - 2011-03-01

Emma staan so lank onder die stort , dat Marina aan die deur kom klop en sê: “Onthou, ons het nie baie water hier nie!”

“Skies!” roep sy en draai die krane toe.

Sy voel verkwik. Dalk vir die eerste keer vandat haar ma dood is, dink sy: weg uit die stad, skoongewas en effe aangeklam. Die chenin blanc in die tuin het haar vinnig aangetas en sy voel haar skouers is los.

In haar kamer, terwyl sy aantrek, raak sy bewus van die stilte. Iewers blaf ʼn hond en ʼn opgewarmde kar jaag ʼn ent weg in ʼn straat af, maar verder is dit net naggeluide wat sy hoor, krieke en ander insekte, die radio in die kombuis op RSG ver weg in die agtergrond, kombuisgoed wat stamp en klink waar Marina die afronding vir die maal doen.

Toe sy by die voordeur uitstap na die lapa toe, is sy verras oor wat sy sien. Marina het klein glashouers met kerse orals aan die dak gehang en dit skep ʼn feestelike atmosfeer met ʼn Midde-Oosterse geur. Sy en Evert het ʼn paar van die lampies uit Turkye saamgebring, dié met die rooi en blou glasskermpies. Sy onthou hoe onseker hulle was of Marina van haar geskenk sal hou. Verder het Marina draadharnasse vir leë konfytbotteltjies gemaak – in haar verbeelding sien Emma haar pa sit en die draad buig en vasdraai soos Marina dit wil hê. Hy is ʼn goeie opdragnemer.

Die lig van die kerse is sag en om hulle is dit donker. Die lapa lyk soos ʼn dobberende bootjie op ʼn meer. Net ʼn straatlig brand naby hulle. Die bure om hulle se ligte is af of baie gedemp. Iewers hoor sy die Afrikaanse TV-nuus se kenwysie speel.

Die tafel het ʼn blou tafeldoek oor en is met Marina se goeie pienk-blommetjies-eetstel gedek, servette in waaiers gevou in die wynglase. Die eetgerei is ʼn ligte geelkope rstel wat die kerslig vang en lyk of dit flikker. In die middel van die tafel is ʼn rangskikking van donkerrooi malvablomme uit die tuin.

“Sjoe, Marina, ek wou nog kom help,” sê sy. “Dit lyk baie mooi, baie dankie.”

“Ag, jy was so lanklaas hier, dis lekker om jou bietjie te bederf.”

“Bederf maak vrot, onthou,” terg Ben. Sy slaan speels op sy arm. Ben draai om en trek ʼn kurkprop van ʼn bottel wyn uit. “Die water is mos nou die laaste paar jaar brak. Ons plaaslike regering is bedenklik. Ons moet maar wyn drink,” sê hy ondeund en skink hulle kristalglase vol. “Al wat nog kort is bietjie musiek,” sê Ben dan en druk ʼn kassetspeler se knoppie.

Alles is presies beplan, dink Emma. Vir my.

Ben se geliefkoosde country musiek begin saggies speel. “If you should ever think of leaving me, don’t let it go too far ... ” sing Ricky Nelson. Emma en Ben sing saam in harmonie. “It took an awful lot of looking to find you ... ” Soos soveel kere toe sy nog ʼn kind was en hulle nog almal saam gewoon het. “ ... but darling it’s not very easy finding an angel like you ... ”

Met die laaste sin val Marina saam met hulle in: “ ... because I need you, honest I do ... ” Emma sien dat sy haar hand oor Ben s’n sit en dit saggies druk.

Hulle eet murgsagte skaapskenkel en pampoen-risotto, en vrugteslaai vir nagereg, praat oor die weer en kos en luister na Kris Kristofferson, sing hier en daar weer saam. Emma en Ben stry oor die politiek. Ben geniet sulke ligte twiste met haar.

“So, Emma, jy het nog nie ʼn woord oor Evert gesê nie. Hoe gaan dit met hom?” sê Marina uit die bloute. “Hoekom het hy nie saamgekom nie?”

“Ag, ek wou graag alleen kom, net ʼn bietjie tyd met my pa kom hê,” antwoord sy.

Sy sien dat Ben en Marina betekenisvol na mekaar kyk. Hulle het afgespreek om haar een of ander tyd te vra, besef sy ; dit is ook beplan.

“Wat?” sê Emma.

Marina trek haar skouers op.

“Jy is so baie soos jou ma, weet jy?” sê haar pa.

Sy is uit die veld geslaan.

“Wat bedoel Pa?”

“Jou ma wou ook alles alleen doen.”

Emma wil verder daaroor praat, maar sy ken haar pa goed genoeg om te weet dat hy sal nie uitwei nie.

“Dit sou lekker gewees het as hy hier was,” sê Marina ; “bring hom tog maar volgende keer weer saam.”

“Natuurlik,” sê Emma terwyl sy afkyk en die tafeldoek glad vryf.

Emma voel afgehaal , hoewel sy nie werklik weet hoekom nie. Hulle wil weet of iets fout is met haar en Evert, dit weet sy goed, maar sy gaan beslis nie vanaand daaroor praat nie. Hulle nie eens gerusstel nie. Vir eers gaan sy hardkoppig wees. Sy sal na die besoek hier weer aandag gee aan haar lewe in die stad. Hier wil sy net vergeet van enige en alle komplikasies en spanning.

***

Emma gaan haal ʼn glas water in die kombuis en stap in die gang af verby die badkamer. Die deur is oop en stoom kom by die deur uit. Sy gaan staan toe sy haar pa hoor praat.

“Kom nou, ou daddy-long-legs,” hoor sy hom sê. Hy praat met die spinnekop asof dit ʼn kind is.

Emma loer in die badkamer in. Ben het gestort het en staan in sy han ddoekstofkamerjas. Sy yl klam hare is plat gepleister teen sy kop en sy kopvel skyn plek-plek wit deur. Hy ruik na seep en stoom. Hy is besig om die spinnekop met ʼn stuk koerant te probeer oorreed om hoër op teen die muur te klim. “Kom nou, op, óp. Môre kry die ousie jou hier en dan’s jy in jou moer in, my ou maat. Sy vee jou met die besem plat voor jy kan sê mes. Klim nou op, man. Jy weet mos hoe is vroumense, niks genade nie.” Hy kry dit reg om die spinnekop teen die natgewasemde muur op te stoot. By die kantgordyn kry hy vastrapplek, skarrel teen die gordyn uit en verdwyn uit Emma se sig. Ben staan die spinnekop en agterna kyk.

Emma voel soos ʼn afloerder en wil kamer toe stap sodat Ben nie moet weet sy het hom gesien nie, maar hy het omgedraai. “Ek dog jy slaap al.”

“Net gou gaan water haal,” antwoord sy.

Op die ingewing van die oomblik vra Emma: “Pa, wie is Spikkel? Weet Pa wat was hy van Ma?”

Ben bly vir ʼn oomblik stil voor hy antwoord. “Waar kom jy aan hom?”

“Ek het briewe en goed gekry in Ma se papiere. Toe ek opgeruim het.”

“Ah,” sê hy, maar dit lyk nie of hy verder gaan praat nie. Dan sê hy: “Spikkel was haar kêrel voor ons getrou het. Los dit uit, my kind. Dis lankal verby. Ek gaan slaap.” Hy stap vasberade by haar verby. Een van die worshonde kom aangetrippel, sy naels tip-tip op die gangteëls. “Kom,” roep hy die hond agter hom aan toe dié gaan staan en staar na Emma.

“Nag, Emma. Lekker slaap,” sê Ben by sy kamerdeur.

“Lekker slaap, Pa,” sê Emma, maar die kamerdeur is reeds toe.