Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die minagting vir die boekeblad by Media24


Willie Burger - 2011-03-01

Natuurlik sal daar goeie en mooi verduidelikings wees dat hierdie eintlik ’n verbetering is. Maar die punt is dat hierdie saak eintlik nou al ’n baie lang aanloop het. Destyds, toe Peet Kruger weg is by Beeld om na al die koerante oorhoofs om te sien, was daar al sprake daarvan dat al meer dele van die koerante saamgevoeg gaan word.

As ’n mens mooi nadink oor die bestaande boekeblaaie oor die afgelope klompie jare, kan mens sien dat die minagting vir die boekeblad by Media24 nou al ’n heelwat langer aanloop het.

Miskien kan mens ook nie anders verwag van ’n koerant wat ’n voorbladartikel wy aan een sin uit Steve Hofmeyr se blog oor sy liefdeslewe terwyl 200 mense die vorige dag in Tunisië gesterf het nie.

Die boekeblad in Beeld het oor die afgelope tien jaar geleidelik agteruitgegaan. En dit is nie die skuld van ’n enkele boekredakteur nie – Jo Prins doen tans sy bes onder moeilike omstandighede. Maar dit was duidelik – veral sedert die vertrek van Elfra Erasmus – dat die boekeblad nie vir die redaksie van Beeld ’n baie belangrike saak was nie. Eers is baie lank gesloer om ’n boekeredakteur aan te stel en in dié tydperk is die boekeblad byna ad hoc saamgeslaan en dikwels was die resensente redaksielede van Beeld.

Die groot kuns van ’n deeglike boekeblad lê daarin dat die redakteur die regte boeke by die regte resensente kan uitkry. En dit is ’n vermoë wat kundigheid en kennis van talle vakgebiede verg. Geen joernalis kan dit as ’n deeltydse taak so tussendeur doen soos wat vir ’n lang tyd van sommige mense by Beeld verwag is nie.

Waar die boekeblad ’n geleentheid bied om lesers met nuwe idees te konfronteer – hetsy oor politiek, ekonomie, die kunste, die letterkunde, die teologie of die natuurwetenskappe – en die impak van hierdie idees op ons samelewing, het dit die vlak bereik van ’n "leefstyl"-aangeleentheid. Die boekeblad was nog altyd die een deel van die koerant wat ’n belangrike bydrae kon lewer om dalk nog ’n intellektuele gespreksruimte te kan skep, maar geleidelik is dit oënskynlik willens en wetens verskuif in die rigting van ’n "demokratiese" blad vir "gewone lesers" wat asseblief nie iets "intellektueels" wil lees nie.

Hierdie doelbewuste verwaarlosing van die boekeblad en ’n wegbeweeg van enigiets wat dalk nie vir "die gewone leser" prikkelend is nie, was ’n teken dat al lankal gedink word aan die amalgamering van die boekeblaaie. Met ander bylaes het dit reeds gebeur. Dit is immers ’n sakebesluit. Minder mense kan nou meer werk gedoen kry. Jy het minder werkers nodig en dit maak die produksiekoste laer.

Redakteurs is onder druk. Hulle bely openlik dat hulle toenemend gemeet word aan die "bottom line". ’n Mens kan dus verstaan dat hulle iewers aan koste wil sny. En om slegs een boekeblad te hê, pas in hierdie struktuur.

Om koste te sny is natuurlik een manier om te probeer om ’n onderneming vlot te hou. Die ander is om die inkomste te verhoog. En dit kan redakteurs net doen deur sirkulasie te verhoog. Redakteurs glo dat sirkulasie verhoog kan word deur al hoe oppervlakkiger en al hoe sensasioneler oor alles verslag te doen. Peet Kruger het destyds as redakteur van Beeld volgehou dat te veel ruimte aan resensies van kunsflieks afgestaan word en dat "die lesers" nie daarin belangstel nie.

Daar is ook tydens sy redakteurskap wegbeweeg van kundige resensente na die soort resensente wat kan vertel oor hulle eie indrukke van die flieks (of boeke).

Onder die slagspreuk van "dit is wat die mense wil hê" is al meer weggeskram van ’n boekeblad wat ’n forum van ernstiger nadenke is. Maar die impak daarvan is dat Afrikaanssprekendes wat hoegenaamd belangstel in die intellektuele gesprek, in nuwe idees en in die kritiese omgaan daarmee, hulle moet verlaat op Mail & Guardian of op die Independent. (En dus nie meer oor Afrikaanse boeke dink en lees nie.) Die Afrikaanssprekende gemeenskap verloor die openbare ruimte vir kritiese nadenke en gesprek ten gunste van die sensasionele, die slagspreukfilosofie. Miskien was die ou volkie nog altyd net daarop ingestel om opgewonde te raak oor rugbyspelers, oor Steve Hofmeyr se sekslewe, oor bylmoorde op wit mense. Maar as dit al is wat die koerant ook bied, versterk dit hierdie gevoelens van die volk en stimuleer nog minder tot ’n kritiese omgaan met die wêreld.

Miskien sou mens nog kon redeneer dat ’n enkele sakeblad al die koerante kan dien. (Al sou mens ook daaroor kon redeneer.) Die belangrike punt is egter dat die boekeblaaie in Afrikaanse koerante een van die heel laaste plekke is waar, in die openbaar, ’n gesprek oor idees in Afrikaans gevoer kan word. En as die gesprek nou gereduseer word tot ’n enkele gesprek, grootliks bepaal deur ’n enkele almagtige boekeredakteur, is dit maar ’n eensydige gesprek.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<