Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die verhaal van vervlakking en agteruitgang


Crito - 2011-03-01

’n Bietjie meer as ’n maand gelede het Heindrich Wyngaard ’n verdoemende resensie van sy boek Ons in Rapport op die lyf geloop. Die bespreking, deur Jason Lloyd, was van só ’n aard dat dit die boek se kanse op ’n goeie ontvangs by die publiek sou vernietig het as dit die enigste resensie was wat daarvan verskyn het. Vandeesweek het Die Burger ’n positiewe bespreking daarvan deur Michael le Cordeur geplaas – ’n korrektief wat die waarde bevestig van die huidige bestel van boekeblaaie in die Media24-stal koerante.

Die boek is gepubliseer deur ’n klein uitgewery van Caledon – een van die talle uitgewerye wat deur die jare die voordeel getrek het uit die ou Naspers en die huidige Media24 se bereidwilligheid om die Afrikaanse boek te ondersteun via die boekeblaaie van hul koerante.

Die vooruitsig van ’n nasionale boekeredakteur wat verantwoordelik sal wees vir Beeld, Volksblad en Die Burger se boekeblaaie, asook sekere digitale platforms én inhoud vir BY, is nie een wat gaan werk nie.

Die onmiddellikste uitwerking sal wees dat die verskeidenheid boeke wat gedek word, sal verskraal. Dit is ondenkbaar dat een persoon hom/haar só in die boekleespubiek van drie kontreie sal kan ingrawe dat hy/sy in elke streek resensente sal kan vind vir al die terreine waarop Afrikaanse boeke gepubliseer word. Ek is bereid om geld te verwed daarop dat die drie dagblaaie sal begin om resensies te deel. Koerantlesers weet mos reeds wat met Media24 se sake- en sportblaaie gebeur het. En hoeveel gesaghebbendheid daardeur ingeboet is, hoeveel ergernis ontketen is. (Kom nou, vra maar vir enige leser van Die Burger hoeveel gewig JJ Harmse se rugbyberigte in die Wes-Kaap dra.) Maar meer nog, ek verwag die ergste weens die nuwe boekeblad-beleid.

Die rede vir my pessimisme lê in die onlangse geskiedenis van die drie oggendkoerante se boekeblaaie – die verhaal van vervlakking en agteruitgang. As Tim du Plessis vir my sê dat hy hierdie agteruitgang wil stuit, sal ek meer gerus voel, maar dit is ongelukkig nie die geval nie.

Wat het by die boekeblaaie gebeur? Kom ons neem aan dat Beeld se boekeblad nooit weer sal wees soos in die dae toe Elfra Erasmus die redakteur daarvan was nie, en Die Burger s’n nie weer die hoogtepunte van André le Roux se termyn sal beleef nie. Waarmee ons tans moet saamleef, is boekeblaaie wat nie meer alles veil het vir die Afrikaanse boek nie.

By Die Burger was Gerrit Brand se termyn ’n terugslag vir die Afrikaanse boek, ofskoon dit boeke aan lesers bekend gestel het op hoogs gespesialiseerde terreine. Willem de Vries, sy opvolger, het ook nog nie sy gewig volledig ingegooi agter die plaaslike boekebedryf nie. Té veel Afrikaanse boeke kry nooit enige resensies nie – ook nie by Beeld en Volksblad nie.

Volksblad het deur die jare ’n baie betroubare patroon gevolg – nooit werklik dinamies nie, soms geneig om te maklik terug te val op die dienste van Volksblad-joernaliste wat nie oor spesialis-kennis beskik het nie, en alte lief vir die emeritus-professore. Maar dit het in die onlangse verlede interessante dinge gedoen – die eerste resensent wat bereid was om Karel Schoeman werklik te kritiseer, en die bekendstelling van Cilliers van den Berg, die skerpste resensent sedert Thys Human, Andries Visagie en Willie Burger se toetrede tot die resensieblaaie.

By Beeld het die dekking van boeke dermate agteruitgegaan dat ek in my blog die onvergenoeglike stap moes doen om te waarsku teen die tendens by daardie koerant om boeke aan redaksielede uit te deel vir resensies. Dié praktyk het meer as enigiets anders gedoen om die geloofwaardigheid van Beeld se boekeblad te skaad.

Die dag waarop die storie oor die nasionale boekredakteur breek, spog Beeld se boekeblad met ’n bespreking van ’n Dick Francis-boek en die Suid-Afrikaanse rugbyjaarboek in Engels. Meer hoef mens seker nie te sê oor die manier waarop Beeld se boekeblad opgehou het om saak te maak nie, eenvoudig omdat daar geen sigbare moeite gedoen word om eerste te wees met nuus en besprekings van Afrikaanse boeke nie.

Ek is jammer om dit te moet sê, maar hierdie vervlakking het geskied terwyl Tim du Plessis die leiding by Beeld gegee het. In dieselfde tyd het diegene, soos ek, wat Beeld se boekeblad via die internet besigtig, agtergekom dat Beeld geen benul het hoe om ’n boekeblad op die internet toeganklik en iets spesiaals te maak vir sy lesers nie. Volksblad vaar ’n bietjie beter, maar versuim té dikwels om die blad by te werk, en Die Burger vaar die beste, met Willem de Vries se uitmuntende opgaaf van resensies genaamd Boekeblok (wat hy by Gerrit Brand oorgeneem en verbeter het).

Tim du Plessis se versekering dat die nuwe bestel ’n verbetering gaan beteken, is suiwer sofisme. Hy sal ’n supermens nodig hê om ’n boekeblad op papier- en digitale platforms te skep, laat staan nog dit in drie stemme laat praat ook. Die supermens sal buitengewoon begaafd moet wees om nie alleen die Afrikaanse boek in oorvloed terug te bring na al drie boekeblaaie nie, maar ook die algemene peil by veral Beeld te lig.

Normaalweg weerhou ek my daarvan om kommentaar te lewer op die uitgewerye wat betrokke is, maar in hierdie debat is dit tog nodig om die aandag te vestig op die vreemdheid van hierdie nuwe boekeblad-ontwikkeling binne die konteks van Media24.

Media24 is ook die tuiste van NB-Uitgewers, die markleier op die gebied van Afrikaanse boekpublikasies. NB is sinoniem met smaakvolheid, gehalte en waagmoed. In baie opsigte is die toekoms van Afrikaanse boeke onlosmaaklik verweef met dié van NB-Uitgewers. Ek sê dit nie met disrespek aan Lapa, Protea, Griffel, Umuzi, Zebra en talle ander kleiner uitgewers nie, maar mens moet die feite van die saak erken.

Dít in ag genome, kan mens nie anders as om respek te hê vir die manier waarop Media24 se koerante gewillig is om resensieruimte af te staan aan uitgewers buite die Media24-stal nie. Vir ’n waarnemer van buite lyk dit soms selfs asof dit ten koste van NB-Uitgewers is. ’n Besoek aan hul webwerf is genoeg om ’n mens onder die indruk te bring van presies hoeveel NB-boeke nié deur Beeld, Volksblad of Die Burger geresenseer word nie.

Mens weet nie in watter mate die linkerhand weet wat die regterhand doen in Media24 nie, maar dit is seker veilig om aan te neem dat NB-Uitgewers nie opgewonde is oor die vooruitsig van ’n verdere vermindering van resensies van hul boeke nie. Hopelik sal hulle nie stilbly in hierdie debat nie – terwyl daar nog tyd is om te keer. Want om heeltemal eerlik te wees, NB-Uitgewers en sy Afrikaanse skrywerskorps, verreweg die grootste van al die plaaslike Afrikaanse uitgewerye, gaan die grootste verloorders wees as hierdie ontwikkeling toegelaat word om voort te gaan. Is dit dus enigsins in Media24 se belang om dit te doen? Ek glo nie.

 

<< Terug na die “Een boekeredakteur”-miniseminaar <<