Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Funksionaliteit van die parateks in Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans


Carla-Marié Spies - 2011-02-28

 

Opsomming 

Die parateks kan funksioneel ingespan word by ’n vertaling om die doelteks vir die doelteksleser toegankliker, verstaanbaarder en aanvaarbaarder te maak. In die vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, uit Nederlands in Afrikaans (Die Agterhuis) maak Lina Spies as vertaler ruimskoots gebruik van parateks om die doelteks toegankliker vir die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse doelteksleser te maak. In hierdie artikel word die funksionalistiese vervreemdings- en domestikeringsbenaderings bespreek as basis vir die motivering vir die gebruik van parateks in oorwegend vervreemdende doeltekste, met spesifieke fokus op Die Agterhuis. Daar word gekyk na die funksionaliteit van die parateks in Die Agterhuis, naamlik die voorblad en titel, die agterblad, Spies se gedig "Vir Anne Frank van Het Achterhuis", die inleiding (wat as vertaalspesifikasie dien), die bronnelys, die toevoegsels, die foto’s, die voetnote, die nawoord en die epiloog. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie benadering tot die vertaling (vervreemding gekombineer met die parateks) geslaagd is om die stem en styl van die dagboekskrywer en die outentiekheid van die dagboek behoue te laat bly, maar terselfdertyd die doelteks vir die doelteksleser toeganklik te maak en die vertaler se prominensie en sigbaarheid te verhoog.

Trefwoorde: vertaling, Anne Frank, Het Achterhuis, Die Agterhuis, Lina Spies, parateks, funksionalisme, vervreemding, domestikering

Abstract

Functionality of the paratext in Lina Spies’s translation of the diary of Anne Frank, Het Achterhuis, in Afrikaans  

Paratext can perform the function of making a translation more accessible to the target text reader by making the target text more understandable and acceptable. In her translation of Anne Frank’s diary, Het Achterhuis, from Dutch to Afrikaans (Die Agterhuis) Lina Spies makes generous use of paratext to make this translation more accessible to the Afrikaans-speaking South African target text reader. In this article the theoretical approaches of functionalism, foreignisation and domestication, are discussed in order to form a premise for the motivation behind the use of paratext in foreignised translations, and more specifically Die Agterhuis. The functionality of the various forms of paratext in Die Agterhuis is investigated. These include the cover page, the title, the back page, Spies’s poem "Vir Anne Frank van Het Achterhuis", the introduction (which serves as a translation brief), the list of references, the addenda, the photos, the footnotes, the afterword and the epilogue. It is concluded that this approach to the translation (foreignisation combined with making use of paratext) is effective in preserving the voice and style of the author of the diary and the authenticity of the diary while at the same time making the target text more accessible to the target text reader and elevating the prominence and visibility of the translator.

Key words: translation, Anne Frank, Het Achterhuis, Die Agterhuis, Lina Spies, paratext, functionalism, foreignisation, domestication

1. Inleiding

Die vraag word dikwels gevra waarom Nederlands juis in Afrikaans vertaal word, aangesien die twee tale so na aan mekaar is en die Afrikaanse leser die Nederlands behoort te kan verstaan. Lina Spies (in Brand 2008), wat die dagboek van Anne Frank uit Nederlands in Afrikaans vertaal het, antwoord hierop dat dit eerstens om die eenvoudige rede is dat hierdie werk, soos baie ander Nederlandse literêre werke, nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie en spesiaal uit Nederland bestel moet word.

Hugo (2008) sê ook dat as die (gewone) Afrikaanse leser toegang wil verkry tot die Nederlandse literatuur, dit noodsaaklikerwys deur middel van vertalings moet geskied, aangesien die twee tale immers nié, soos daar dikwels geglo word, altyd, of so maklik, wedersyds verstaanbaar is nie. Wat die verskille tussen Afrikaans en Nederlands betref, is daar byvoorbeeld talle Nederlandse idiome en uitdrukkings wat nie in Afrikaans voorkom nie en Nederlands het ’n groter aktiewe woordeskat as Afrikaans. Die fyner nuanses in die Nederlandse teks sal die Afrikaanse leser wat nie Nederlands magtig is nie, verbygaan, wat tot gevolg sal hê dat die leeservaring minder genotvol sal wees.

As deel van die Suid-Afrikaanse "Literatuur van die Lae Lande"-reeks is Het Achterhuis in Nederlands uitgegee met Afrikaanse aantekeninge en woordverklarings deur W.F. Jonckheere (Frank 1982). Hierdie uitgawe het egter nie baie goed verkoop nie, aangesien dit vir die meeste Afrikaanssprekendes steeds nie toeganklik genoeg was nie en dit die leeservaring onderbreek om telkens na agter te moet blaai vir die woordverklarings (Spies 2009). ’n Afrikaanse vertaling van die dagboek was dus nodig om die Afrikaanse leserspubliek te prikkel en te betrek en die dagboek toeganklik vir die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse leserspubliek te maak en daarom vertaal Lina Spies in 2008 hierdie wêreldbekende dagboek in Afrikaans.

Met die Afrikaanse vertaling van Het Achterhuis slaag Spies daarin om die outentiekheid van Anne Frank se dagboek en die stem en die styl van die skrywer behoue te laat bly deur baie getrou aan die bronteks (BT) te bly. Hierdie sterk Nederlandse stem in die doelteks (DT) het ’n vervreemdende effek (sien afdeling 4) op die doelteksleser, maar terselfdertyd word die doelteks vir die doelteksleser toeganklik gemaak deur die herhaaldelike gebruik van parateks (teks wat bykomend tot die "hoofteks" is en nie deel vorm daarvan nie). Die gebruik van parateks in die Afrikaanse vertaling is baie meer geslaagd as die Jonckheere-weergawe, wat bloot Afrikaanse annotasies in ’n Nederlandse teks bevat.

Hierdie navorsingsartikel fokus op die wyse waarop Spies as vertaler funksionalisties te werk gaan deur ’n vertaling wat hoofsaaklik op ’n vervreemdingsbenadering berus (en dus baie getrou aan die bronteks bly), toeganklik en aanvaarbaar vir die doelteksleser te maak deur middel van parateks. Die parateks in Die Agterhuis motiveer ook die vertaler se vertaalbenadering, soos ’n mens in die uitgebreide inleiding tot die vertaling (afdeling 5.4) kan sien.

2. Die bronteks en ’n bronteksgeoriënteerde vertaalbenadering

Die eerste weergawe van Anne se dagboek staan bekend as die a-weergawe2, wat die oorspronklike inskrywings bevat in die dagboek wat sy vir haar dertiende verjaarsdag op 12 Junie 1942 ontvang het. Anne het op ’n stadium besluit dat sy later haar dagboek sou wou publiseer, dus het sy sekere dele van die dagboek herskryf. Die tweede weergawe, of b-weergawe, is Anne se herskrywings van die dagboekinskrywings tot 29 Maart 1944, waarin sy sekere dele van die teks uitlaat en van die name verander. Anne se pa, Otto Frank, tik later die twee weergawes oor as één dokument. Die oorgeskryfte b-weergawe tot by 29 Maart 1944 en die onveranderde a-weergawe word saamgevoeg, geredigeer (soms ten goede en soms ten slegte), sekere dele word weggelaat, en van die inskrywings word rondgeskuif, en in 1947 word dít gepubliseer. Hierdie gepubliseerde weergawe staan as die c-weergawe bekend (Barnouw 1998:13, 16).

Weergawes a, b en c vorm saam die wetenskaplike uitgawe, of "Kritiese Edisie", van Anne Frank se dagboek: Die dagboeken van Anne Frank (Rijksinstituut voor Oorlogsdokumentatie 1986:196–714). Die Kritiese Edisie is egter nie geskik as leesboek vir die publiek (veral die jeug) nie. Daarom is ’n leesuitgawe, gebaseer op die wetenskaplike uitgawe, saamgestel en uitgegee deur die uitgewery Bert Bakker: Het Achterhuis. Dagboekbrieven 12 Juni 1942 – 1 Augustus 1944. Samengesteld door Otto Frank en Mirjam Pressler. Hierdie uitgawe (Frank 2008b) staan bekend as die "Definitiewe Edisie" en dien deesdae as die bronteks van alle vertalings. Spies het hierdie uitgawe van die dagboek gebruik as die teks om vanuit te vertaal, dit wil sê as haar "bronteks". Wanneer sy daarvan afwyk en die wetenskaplike uitgawe gebruik, byvoorbeeld ten opsigte van die chronologie, dui sy dit in voetnote aan.

Sedert die dagboek van Anne Frank vertaal begin word het, het daar wêreldwyd ’n hele kultus rondom Anne en haar dagboek ontwikkel wat as die sogenaamde "Anne Frank-industrie" bekend staan. Sy het as’t ware ’n handelsnaam geword. Dit behels die kommersialisering van Anne Frank en veral die veramerikanisering van haar en haar werk (Barnouw 1998:85). Deur die verskillende Amerikaanse weergawes van Anne se dagboek, van die vertalings (o.a. The diary of Anne Frank), tot die Broadway-toneelstuk, tot die dokumentêre film Anne Frank remembered onder regie van Jon Blair, is Anne Frank, asook haar dagboek, in die VSA verpopulariseer (Barnouw 1998:93). En aangesien die VSA ’n groot invloed op die res van die wêreld het, veral ook deur sy filmbedryf, het die beeld van Anne Frank verwronge geraak en word sy dikwels deur die wêreld as ’n oppervlakkige tienermeisie beskou. Wat meestal in hierdie vertalings en verwerkings vertoon word, is die beeld wat Anne volgens haarself aan die wêreld, dit wil sê haar mede-onderduikers, voorgehou het, in plaas van die ware innerlike gevoelens wat niemand kon sien nie, maar wat wel in haar dagboek na vore kom en dus ook in die vertaling daarvan na vore behoort te kom.

’n Wanbeeld is ook van die Holocaust geskep deur die ingrypend aangepaste Amerikaanse weergawes van Anne se dagboek, soos The diary of Anne Frank, wat in 1952 die mees wydgelese boek3 oor die Holocaust was. Dit is omdat daar in die verwerkings van die dagboek sekere ideologiese aspekte uitgelaat is, of die beeld van die Holocaust daarin versag is. In Duitse vertalings van die dagboek word daar ook dikwels ideologies geneutraliseer, of gemanipuleer, deur byvoorbeeld verwysings na die oorlog, of na Joodsheid of Christelikheid, uit te laat. Waar Anne byvoorbeeld in haar dagboek na Christene verwys, word dit in die Afrikaanse vertaling behou:

Woensdag, 24 Junie 1942
DT4: Ek wens ek hoef nie skool toe te gaan nie, my fiets is in die Paasvakansie gesteel en Moeder s’n het Vader by Christenmense in bewaring gegee. (45)

In die Duitse vertaling word daar in hierdie inskrywing slegs na "mense" en nie na spesifiek "Christenmense" verwys nie.

As gevolg van die wanbeeld wat deur die verskillende vertaalde weergawes van Anne se dagboek geskep is, word daar deesdae gestipuleer dat die Frank-Pressler-uitgawe as die Definitiewe Edisie en enigste bronteks vir die vertaling van haar dagboek mag dien. Soos hier bo vermeld is, is die bronteks vir die Afrikaanse vertaling van Het Achterhuis dus ook die Frank-Pressler-uitgawe (Frank 2008b). Spies wyk wel plek-plek van hierdie weergawe af, maar dui dit telkens in ’n voetnoot aan (sien afdeling 5.4 en 5.7.5).

Vertalers en vertaalteoretici beywer hulle vir, of verkies, verskillende vertaalbenaderings en -strategieë. Wat die vertaling tussen Nederlands en Afrikaans betref, merk Van Coller (2002:132) op dat die algemene opvatting binne die vertaalpraktyk in Nederland is dat ’n vertaling na aan die bronteks moet staan – hy verwys in hierdie verband na uitsprake deur Riet de Jong-Goossens en Robert Dorsman. Van Coller voer verder aan dat na aanleiding van voordragte van lede van die Nederlandse Produktiefonds by die Nederlandse Taalunie se vertalerswerkswinkel van 2000, en uit sowel Daniel Hugo se vertaalbeskouing as sy eie vertalings, dit blyk dat ’n bronteksgeoriënteerde benadering ook hoofsaaklik by vertalings uit Nederlands in Afrikaans voorkom. Van Coller wys ook daarop dat die taalkundige Leon de Stadler egter ’n meer doelteks(leser)georiënteerde vertaling bepleit en dat byvoorbeeld Antjie Krog se vertaling van Henk van Woerden se Een mond vol glas in Afrikaans (onder die titel Domein van glas) so ’n doeltekslesergeoriënteerde benadering volg.

Verskeie faktore moet telkens in ag geneem word om te bepaal watter oorkoepelende vertaalbenadering vir ’n spesifieke teks gevolg gaan word. Die vertaalbenadering/-strategieë verskil dus van teks tot teks, maar ook van vertaler tot vertaler, aangesien persoonlike vertaalnorme ook ’n rol speel.

Vanweë die verskillende weergawes van Anne Frank se dagboek wat al as bronteks tot vertalings gedien het, die verdraaide beeld wat dikwels van haar deur vertalings en verwerkings van die dagboek geskep is, en die feit dat daar deesdae ’n bepaalde bronteks van die dagboek is wat as bronteks vir enige vertaling daarvan móét dien, ag Spies dit nodig om so na moontlik aan die dagboek te bly, sodat die stem van die dagboekskrywer en die outentisiteit van die dagboek behoue bly. Hierdie bronteksgeoriënteerdheid is ook byna ’n noodsaaklikheid, aangesien die bronteks wat genre betref, ’n egodokument is en dus die persoonlike gedagtes en gevoelens van ’n werklike mens bevat. Daarom is dit nodig om sover moontlik naby die skrywer se skryfstyl en manier van uitdrukking te bly om die dagboek se inhoud en die stem van die skrywer so outentiek moontlik oor te dra.

’n Vertaling moet egter toeganklik en verstaanbaar vir ’n doelteksleser wees, en die parateks word in Die Agterhuis ingespan om hierdie funksie te vervul.

3. Funksionalisme

Binne die vertaalteorie het daar oor die jare ’n sogenaamde kulturele wending plaasgevind. Dit behels dat daar ’n skuif plaasgevind het van nougeset letterlike vertaling na vertaling waar aspekte soos pragmatiek en kultuur ook in ag geneem word. Alhoewel hierdie wending plaasgevind het, word benaderings wat nié kultuur in ag neem nie, en suiwer linguisties is, egter steeds gevolg.

Vermeer (byvoorbeeld Reiss en Vermeer 1984) het ’n skoposteorie (skopos is die Grieks vir doel of funksie) ontwikkel wat behels dat die doel, of funksie, van die doelteks by vertaling vooropgestel word. Hierdie skoposteorie staan ook as die funksionalistiese benadering bekend.

Deur hierdie teorie word ’n wyer benadering tot die vertaling en vertaalteorie gevolg en in plaas daarvan om slegs op die teks en sy linguistiese eienskappe en die ekwivalensie (gelykwaardigheid) daarvan in die doelteks te fokus, is die maatstaf vir ’n goeie vertaling nou of die teks vir die doeltekslesers in hulle kultuur die regte doel (skopos) bereik, of die regte funksie vervul.

In retrospektiewe vertaalbenaderings dien getrouheid aan ’n bronteks as feitlik die enigste maatstaf vir ’n vertaling. In teenstelling daarmee, word daar deur Vermeer ’n nuwe riglyn vir vertaling voorgestel, naamlik die "translation brief" of vertaalopdrag/-spesifikasie. Hierdie spesifikasie sit die skopos vir die vertaling uiteen en neem byvoorbeeld aspekte soos die kliënt en doeltekslesers van die vertaling, die doel van die vertaling en die doeltekstipe in ag (sien ook Harvey 1998:279, 280, 281). So word effektiewe kommunikasie tussen die bronteks se skrywer en die doelteksleser bewerkstellig.

Na aanleiding van Vermeer se funksionalistiese benadering, of funksionalisme, voeg Nord (2001) ’n bykomende aspek tot die funksionaliteit toe, naamlik lojaliteit. Funksionalisme berus dus nou op twee pilare, naamlik funksionaliteit (die doel om die doelteks vir al die doelkultuur-ontvangers toeganklik te maak) en lojaliteit (om al die intensies en verwagtinge van ál die betrokke partye in die kommunikatiewe interaksie van vertaling in ag te neem) (Nord 2001:195).

Spies maak (alhoewel onbewus, aangesien sy nie ’n teoreties-geskoolde vertaler is nie) hoofsaaklik in haar vertaling van Het Achterhuis in Afrikaans van die funksionalistiese benadering gebruik deur van Nord (2001:185, 188, 195) se twee maatstawwe vir ’n goeie vertaling gebruik te maak. Sy bly getrou/lojaal aan die bronteks en bronteksskrywer deur die konteks van die dagboek te behou, bykans niks by te voeg of weg te laat in die doelteks nie, en ook nie haar eie skryfstyl op die doelteks af te druk nie, maar eerder dié van die skrywer, Anne Frank, na te boots. Sy neem terselfdertyd ook die doelteksleser en sy/haar kultuur in ag deur van parateks gebruik te maak om aspekte te verduidelik wat die doelteksleser waarskynlik nie sal ken of verstaan nie. Spies skryf ook as inleiding tot Die Agterhuis haar eie vertaalspesifikasie, waarin vertaalbesluite verduidelik en regverdig word.

4. Vervreemding en domestikering

Wanneer letterkundige tekste vertaal word, vind daar altyd interaksie tussen twee literêre sisteme, twee kulture en twee tale plaas. Literêre werke word deur middel van taal van een sisteem en kultuur na ’n ander oorgedra en dus moet daar ’n kompromie tussen die twee sisteme en kulture en ook die bron- en doeltaal getref word (Lefevere 1982:248). Bronislaw Malinowski (aangehaal in Katan 2004:99) beskryf hierdie verhouding tussen taal en kultuur soos volg: "[L]anguage is essentially rooted in the reality of culture [...] it cannot be explained without constant reference to these broader contexts of verbal utterance." Om ’n effektiewe vertaling en kultuuroordrag te bewerkstellig, is dit belangrik om strategieë aan te wend wat hierdie linguistiese en kulturele verwantskappe en verskille in ag neem (Nida 1964:130).

Volgens die Duitse vertaalteoretikus en filosoof Friedrich Schleiermacher is daar twee strategieë wat in (veral kultuurgebonde) vertaling gevolg kan word. Die eerste is om die doelteksleser nader aan die skrywer, of die bronteks, te laat beweeg, en die tweede is om die skrywer of bronteks nader aan die doelteksleser te beweeg. Die eerste metode word deur Venuti (1995:19, 20) as "vervreemding" en die tweede as "domestikering" bestempel.

Vervreemding is ’n strategie waar die doelteks geproduseer word deur doelbewus die doeltekstaal- en doelkultuurkonvensies te verbreek om iets van die vreemdheid of die andersheid van die oorspronklike teks te behou (Venuti 1995:13–20). Hierdie vreemdheid of andersheid word deur Venuti (2000:468–9) as wérklike interkulturele kommunikasie (in teenstelling met "domestiese inskripsie" [domestic inscription]) beskou. Hy glo dat die vreemdheid wat in die doelteks voorkom, die kanon van die doeltekstaal en doeltekskultuur kan verryk indien die doelteks in die literêre sisteem van die doelteksleser opgeneem word (Venuti 2000:46870). Berman (1985:284, 285) noem dat die vervreemdingsbenadering goed kan werk om die vreemdheid, of andersheid, van ’n teks te beklemtoon en ’n vreemde werk só aan te bied dat die doelteksleser daarvan bewus is dat hy/sy besig is om met ’n teks om te gaan wat in ’n ander konteks as wat eie aan syne/hare is, geskryf is. Die doelteksleser word gevolglik in sy/haar eie taal (of ’n taal wat aan hom/haar toeganklik is) aan ’n vreemde kultuur of denkwyse blootgestel en die doelkultuur word deur hierdie "vreemdheid" verryk, verbreed en verdiep (Benjamin 1932:22).

Domestikering is ’n strategie wat behels dat ’n deursigtige, vloeiende styl in die doelteks gebruik word om die vreemdheid of andersheid van die vreemde teks vir die doelteksleser te minimaliseer. Dit maak die doelteks vir die doelteksleser aanvaarbaar en toeganklik, aangesien die doelteksleser hom/haar met die teks kan vereenselwig en dit kan verstaan (Venuti 1995:13–20).

Daar is natuurlik plek vir albei hierdie benaderings (domestikering en vervreemding) in literêre vertaling, en die keuse daarvan hang af van verskeie veranderlikes, soos die doel van die doelteks, die doelteksleser, die genre van die bronteks en die tipe doelteksleser. In die Afrikaanse vertaling van Het Achterhuis is daar, soos reeds genoem, besluit om so na moontlik aan die bronteks te bly om die outentiekheid daarvan te behou. Op sowel kulturele as stilistiese en linguistiese vlak word daar dus meestal van die vervreemdingstrategie gebruik gemaak. Daar word baie naby aan die bronteks gebly en derhalwe word daar dikwels van vertaalstrategieë soos leenvertalings, leenwoorde, en selfs woorde, frases en sinne in die brontekstaal gebruik gemaak. Die tyd, plek, kultuur en politiese klimaat waarin die bronteks afspeel, word ook in die doelteks behou en daar word veral ten opsigte van pragmatiese en kontekstuele verwysings ((inter)kulturele, godsdienstige, ideologiese, historiese en politiese verwysings) vervreem.

Tog poog die vertaler om, soos Nida (1964:163) daarna verwys, die "naaste natuurlike ekwivalent" in Afrikaans vir die Nederlandse teks te gebruik, tensy die vertaler om ’n spesifieke rede die teks van die doelteksleser wil vervreem. ’n Domestikeringstrategie word dus wel ook in hierdie vertaling gebruik.

Cai (2008) beskryf die balans tussen vervreemding en domestikering as accommodation. Sy noem dat vertalings meestal van albei hierdie strategieë gebruik maak met die een as "primêre" en die ander as "sekondêre" strategie. In Die Agterhuis is vervreemding die primêre, en domestikering die sekondêre strategie. Lefevere (1982:494) is van mening dat daar buitendien altyd ’n "domestic remainder" van ’n bronteks oorbly – soos duidelik in Die Agterhuis gesien kan word, aangesien die Nederlandse taal en kultuur ’n groot invloed op die vertaling van Het Achterhuis in Afrikaans het en daar in die Afrikaanse teks ’n duidelike "neerslag" van die bronkultuur en brontekstaal is.

Aangesien Die Agterhuis op mikro- en makrovlak hoofsaaklik vervreemdend is, is dit belangrik dat die doelteks wel vir die doelteksleser toeganklik gemaak word. Die parateks in die doelteks is baie doeltekslesergerig en die inleiding tot die dagboekbriewe, die epiloog (albei deur die vertaler) en die nawoord (vertaal uit die bronteks) dra alles daartoe by om die agtergrond van die dagboek en die skrywer te verskaf. Voetnote wat deurgaans in die doelteks voorkom, help weer om verwysings en woorde en uitdrukkings te verduidelik, of te vertaal, sodat dit vir die doelteksleser toeganklik is. Die parateks en dagboekbriewe werk dus in interaksie saam om die doelteks terselfdertyd te vervreem van, maar ook toeganklik te maak vir, die doelteksleser.

Vervolgens sal die parateks in Die Agterhuis, die Afrikaanse vertaling van Het Achterhuis, bespreek word.

5. Parateks

Volgens Genette (1997:1) is parateks5 materiaal wat aanvullend tot die kernteks (in die geval van Het Achterhuis/Die Agterhuis die dagboekbriewe) aangebied word, soos die voorwoord, titel en illustrasies. Dit word deur Genette (1997:i) soos volg gedefinieer:

Those liminal devices and conventions, both within and outside the book, that form part of the complex mediation between book, authors, publisher, and reader: titles, forewords, epigraphs, and publishers’ jacket copy are part of a book’s private and public history.

Die parateks van ’n vertaling behels die teks wat bykomend tot die hoofteks van die doelteks is, maar nie deel vorm van die hoofteks self nie. In die geval van Die Agterhuis is die hoofteks/kernteks die dagboekbriewe en die parateks sluit byvoorbeeld ’n inleiding, voetnote en ’n epiloog in. Parateks soos die inleiding bereik die leser voor die kernteks (Koş 2008:60) en ander, soos die voetnote, speel ’n aanvullende rol tot die doelteks om die leser tydens die lees van die doelteks by te staan deur byvoorbeeld verklarings of bykomende inligting te verskaf.

Appiah (1993:427) is ten gunste van die gebruik van parateks by ’n vertaling aangesien dit vir hom belangrik is dat ’n literêre vertaling gebruik kan word in "literêre opvoeding", deurdat dit ’n sogenaamde "akademiese" vertaling raak. Hierdie tipe vertaling word bewerkstellig deur middel van annotasies, voetnote en glosse wat by die vertaling gevoeg word en ’n vertaler kan daardeur ’n ryk kulturele en linguistiese konteks skep wat die doelteks vir die doelteksleser makliker maak om te verstaan en dus as’t ware die doelteksleser "opvoed" in die brontekskultuur. Appiah (1993:427) beskryf ’n vertaling wat baie van hierdie tipe verduidelikings bevat, as ’n digte vertaling (thick translation) en volgens hom bewerkstellig/vestig sodanige digte vertaling in werklikheid ’n ingeligte begrip tussen twee kulture sodat die twee groepe respek vir mekaar kan kry en mekaar te midde van die verskille tussen hulle kan verstaan. Hy gee hiermee te kenne dat die vertaler ’n sosiale verpligting teenoor sowel die bron- as die doelkultuur en veral teenoor die doelteksleser het (vergelyk hierdie deurlopende tema in Nord (1995, 1997, 2001)) om sekere aspekte in die doelteks te verduidelik. Sy standpunt is nie dat hierdie annotasies noodwendig moet inmeng met die teks of die vloei van die teks moet onderbreek nie, maar dat dit waar nodig wel verduidelikings by die vertaling moet gee. En op hierdie manier speel parateks ’n beduidende rol ten einde die doelteksleser se persepsie van ’n teks te beïnvloed (Tahir-Gurcağlar 2002:45).

In Die Agterhuis word daar, soos genoem, ruim van parateks gebruik gemaak, omdat die vertaling hoofsaaklik vervreemdend en bronteksgeoriënteerd is. Nie net kom parateks dikwels in die doelteks voor nie, maar daar word ook van verskillende tipes parateks gebruik gemaak. Die dagboek is dus ’n goeie voorbeeld om te ontleed hoe verskillende tipes parateks funksioneel ingespan kan word by ’n vertaalde literêre werk. In hierdie bespreking gaan daar gekyk word na die funksionaliteit van die parateks in Die Agterhuis om te sien hoe dit by die vertaling aansluit en die vertaling kontekstualiseer en veral hoe dit die doelteksleser bystaan in die lees van die dagboek om dit vir hom/haar toegankliker en verstaanbaarder te maak.6

5.1 Voorblad en titel

Aangesien die leser heel eerste die voorblad sien alvorens hy/sy ’n boek lees, is dit belangrik dat die ontwerp van die voorblad weldeurdag moet wees om aan die leser ’n gevoel oor te dra van wat die inhoud, atmosfeer en boodskap van die boek behels. Dit geld uiteraard ook wanneer daar besluit word op ’n voorblad vir ’n vertaalde werk. By ’n literêre werk is sowel die titel as die voorblad van ’n boek minder eksplisiet om aan te dui waaroor die inhoud van die boek gaan as byvoorbeeld by ’n tegniese boek. Dit is aangesien die titel en voorblad van ’n literêre werk misterie by die leser kan ontketen, terwyl ’n tegniese werk se voorblad duidelik moet aandui waaroor die boek gaan om dit vir die leser dadelik toeganklik te maak (Newmark 1998:56, 57).

Anne Frank se oorspronklike dagboek is ’n notaboek wat sy vir haar dertiende verjaarsdag, op 12 Junie 1942, gekry het. Hierdie boek het ’n pienk geruite buiteblad gehad en met ’n knip gesluit. Anne het hoofsaaklik haar dagboek hierin gehou, maar toe sy die dagboek begin redigeer het, het sy die nuwe weergawes op los velle papier geskryf. Sedert die publikasie van haar dagboek was daar verskeie voorblaaie – aanvanklik het dit slegs ’n effekleurige stofomslag met die titel en die naam van die skrywer daarop gedruk gehad en meer onlangs meestal ook met ’n foto van Anne Frank daarby. Die voorblad van die bronteks vir die Afrikaanse vertaling is ’n foto van die glimlaggende dagboekskrywer wat by ’n oopgeslaande boek sit.

Spies het self die voorbladfoto van die doelteks gekies – haar rol as magsagent kom hier duidelik na vore – en sy verduidelik dat sy spesifiek die profielfoto van ’n peinsende Anne op die voorblad geplaas het om die ander sy van Anne wat mense so dikwels miskyk, te beklemtoon (Spies 2008b). Spies sê hierdie keuse is ook gemaak om die vals beeld wat die wêreld deur vertalings en verwerkings van die dagboek van Anne gevorm het, te probeer verander. Hierdie foto beeld Anne as denker en dromer uit – karaktertrekke wat baie duidelik in sowel die bronteks as die Afrikaanse doelteks na vore kom (Spies 2008b).

Om groter fokus op die foto en die beeld van Anne wat daarmee gepaard gaan, te plaas, het Spies so min moontlik teks op die voorblad geplaas. Op die voorblad van die bronteks kom die skrywer se naam en van (Anne Frank), die titel (Het Achterhuis), die woorde "Dagboekbrieven 12 Juni 1942 – 1 Augustus 1944", en die uitgewery (Uitgeverij Bert Bakker) voor. Op die voorblad van die doelteks is egter slegs die skrywer se naam en van (Anne Frank) en die titel (Die Agterhuis). Die vertaler is dus nie sigbaar op die voorblad nie en ’n mens kan nie, tensy jy bewus is van die werk, sien dat die boek ’n vertaling is nie. Dit dra tot die outentiekheid van die werk by, in die sin dat dit die werk soortgelyk aan die bronteks voorstel, maar die prominensie en sigbaarheid van die vertaler (waarvoor Venuti (1995) hom beywer) minder maak.

Volgens Mladen Jonanović (in Pinto 2000:132) is die titel van enige kunswerk, soos ’n roman, storie of gedig, moontlik die belangrikste woord of frase van die kunswerk. Dit is omdat die titel dit vir die leser moontlik maak om ’n sekere idee van die inhoud van die werk te kry (net soos by die voorblad) reeds voor dit gelees word. Hoe die vertaler die titel van ’n werk vertaal, is dus baie belangrik. Volgens Nord (1995:265) moet die funksionaliteit van die titel van die bronteks ook onderskei word van die funksionaliteit van die doeltekstitel. Die doelteksleser moet in gedagte gehou word wanneer die titel van ’n werk vertaal word, aangesien dit daarop gerig moet wees om die doelteksleser ’n idee van die inhoud van die doelteks te gee.

Die titel van die bronteks, Het Achterhuis, is gekies aangesien dit die naam is waaronder Anne Frank haar dagboekinskrywings in romanvorm na die oorlog wou publiseer. Vertalings in ander tale se titels is meestal ’n vertaling hiervan, soos die Engelse The Annex, of ’n beskrywing van die werk, naamlik The diary of a young girl. Spies (2007:21) merk op dat laasgenoemde (Amerikaanse) titel die oorlogsagtergrond van die dagboek kamoefleer ten gunste van die belydenis van ’n tienermeisie. Sy noem ook dat dit dan verder die skrywer, Anne, se beeld en karakter falsifieer en nie erkenning gee aan die Joodsheid van hierdie jong meisie wat in ’n krisisperiode dagboek gehou het nie. Volgens Spies (2007:21) moet albei kante van Anne wat in die dagboek na vore kom, en daarmee saam die tweekantigheid van die dagboek, in die titel weerspieël word. Sy sê die dagboek is ’n verslag van ’n puberteit én ’n getuienis oor die Holocaust. Spies verkies dus om die titel van die dagboek so na moontlik aan die bronteks se titel te hou, al word die Afrikaanse woord agterhuis nie werklik in hierdie konteks so gebruik nie. Die titel Het Achterhuis word dus as Die Agterhuis vertaal om erkenning aan die skrywer te gee, die beeld van die skrywer sterker na vore te laat kom, outentiek aan die bronteks te bly en erkenning aan hierdie gekanoniseerde werk te gee.

5.2 Die agterblad

’n Agterblad dien, saam met ’n voorblad van ’n boek, as ’n prikkel om die boek te lees. Die agterblad van die bronteks en die doelteks verskil in hierdie geval hoofsaaklik in dié opsig dat die bronteks se agterblad meer uitbrei oor die agtergrond van die dagboek, asook meer biografiese besonderhede oor Anne Frank verskaf. Die bronteks se agterblad sê deur wie en wanneer, asook in watter omstandighede, die dagboek geskryf is, hoe die dagboekskrywer van voorneme was om na die oorlog haar dagboek te publiseer, en waar en hoe die dagboek uiteindelik (te danke aan haar pa, Otto Frank) na haar dood wel gepubliseer is. Op die agterblad van die bronteks (Frank 2008b) is daar ook ’n aanhaling van Primo Levi oor die betekenis van die dagboek vir die wêreld:

Eén enkele Anne Frank ontroert ons meer dan de ontelbaren die net zo leden als zij, maar wier beeld in de schaduw is gebleven. Misschien moet dat ook zo zijn: als we het leed van alle mensen moesten en konden meelijden, zouden we niet kunnen leven.

Die doelteks se agterblad plaas meer klem op die feit dat Die Agterhuis ’n vertaling is en kompenseer daarvoor dat dit nie op die voorblad aangedui word nie. Die teks op die agterblad begin met ’n aanhaling uit die dagboek, wat tot die doeltekslesers spreek en hulle aandag trek:

O ja, ek wil nie soos die meeste mense vir niks geleef het nie. Ek wil nuttig wees of vreugde vir die mense wat om my leef en my tog nie ken nie, ek wil voortlewe, ook ná my dood! (Frank 2008a)

’n Kort beskrywing van die agtergrond waarteen die dagboek geskryf is en van die persoon Anne Frank word daarna gegee, soos in die bronteks. Laastens word ’n verantwoording van die vertaling deur ’n derde party, waarvan die naam nie aangedui word nie, gegee:

Die Agterhuis is sedert die verskyning van die oorspronklike Nederlandse uitgawe in 1947 reeds in verskeie lande gepubliseer. Danksy die sprankelende vertaling van die bekende digteres Lina Spies, kan Anne Frank nou ook vir die Afrikaanse leser in haar dagboek voortleef. (Frank 2008a)

’n Mens kan sien dat die vertaler en haar posisie in die Afrikaanse literêre sisteem as gekanoniseerde digter ook hier beklemtoon word.

5.3 Die gedig

Spies se belangstelling in die Holocaust en Anne Frank se dagboek het reeds toe sy nog ’n universiteitstudent7 was, begin. Sy sê haar ideaal om die dagboek te vertaal, hang ten nouste saam met haar digterskap, wat volgens haar in alle erns by die dagboek van Anne Frank begin het nadat sy die film The diary of Anne Frank in 1961 gesien het. Sy het die dagboek teen die agtergrond van die beriggewing van die Eichmann-verhoor in Jerusalem gelees en dit was ook die stimulus vir haar gedig "Vir Anne Frank van Het Achterhuis" (Spies 2007:8), wat later opgeneem is in haar eerste digbundel, Digby Vergenoeg, wat in 1971 gepubliseer is. Sy sê dat haar beeld van Anne Frank destyds anders was en dat sy ook ’n "ander Anne" in haar gedig uitgebeeld het as in die vertaling van die dagboek (Spies 2009). Sy het dus in die vertaling die verwronge (volgens Lefevere se konsep warped) beeld wat sy vroeër van Anne geskep het, as’t ware terug gemanipuleer na die meer lewensgetroue beeld.

Spies (2007:9) lewer die volgende kommentaar oor genoemde gedig:

As ek na al die jare die leser van my eie gedig word, lees ek in my weergawe van die net van komplekse menseverhoudings waarin Anne gevange gesit het – in kontras met die terreur teen die Jode in die buitewêreld – haar moeisame verowering en behoud van eie identiteit.

Sy sluit hierdie gedig voor in Die Agterhuis in om as inleiding vir die dagboek te dien. Hierdie byvoegsel in die doelteks dien sowel om ’n agtergrond vir die vertaling te skep as om die vertaler se prominensie as ’n gekanoniseerde Afrikaanse digter, en haar betrokkenheid by die vertaling, te beklemtoon. Hierdie gedig dra dus nog meer tot die sigbaarheid en statuur van die vertaler by. Verder kan die doelteksleser hom-/haarself ook met die teks vereenselwig, aangesien hy/sy ’n gedig oor die dagboek in sy/haar eie taal, uit sy/haar eie literêre sisteem, kan lees.

Vir Anne Frank van Het Achterhuis

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,
as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,
die meisie in haar sabbatrok,
wat in die dodeput afstort,
die vrou wat met sekslose sekerheid besef
uit haar vervloekte bloed sal ’n kind
die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind ...

Maar in die agterhuis was veel
menslikheid: Mevrou van Daan,
prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,
’n moeder se subtiel verset,
omdat haar kind die vader liewer het ...

En tog moes jy jou jong
ontwaking leer verstaan – alleen.
En wat het al jou vroulikheid gebaat?
Jy moes die laaste toevlug deel
vir nog ’n Jood se veiligheid –
tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

Toe het jy jou na hom gekeer:
blou agter ’n berookte ruit en ’n gordynde raam
het helder in sy oë kom leef ...
maar die natuur verdra geen surrogaat –
jy het geweeg, te lig bevind. Weer
moes Peter maar vir Mouschi streel
en vir ’n troos het jy seisoenverward
pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.

Meer as Jood of Christen het jy geweet
die mens se gees oorwin as hy
elke dag sy aartappels met vreugde eet.

(Spies 1971:6)

5.4 Die inleiding

In sowel die bronteks (Frank 2008b) as die doelteks is daar ’n inleidende gedeelte. In die bronteks is hierdie gedeelte getitel "Over dit boek" en die samestellers fokus spesifiek daarop om ’n agtergrond tot die dagboek te gee: ’n verduideliking van hoe die dagboek gevind is en hoe en waarom dit gepubliseer is, waarom daar vroeër sekere passasies uit die dagboek gelaat en later weer in die bronteks bygevoeg is, hoe die vyf bladsye uit die dagboek wat doelbewus verswyg is en later opgeduik het, ook nou ingesluit is, hoe die dagboek sedert die eerste uitgawe daarvan wyd versprei is en politieke betekenis en gewildheid verkry het, en wie die skrywersregte van die dagboek besit. Verder word daar ook verduidelik dat die pseudonieme wat Anne Frank in die dagboek gebruik het, ook in hierdie uitgawe van die bronteks gebruik word, behalwe die skuilnaam wat sy vir haarself gegee het, Anne Aulis of Anne Robin. Dus is "Anne Frank" behou in die bronteks (ook die doelteks, omdat hierdie naam in die bronteks gebruik word) om die dagboek meer outentiek en lewensgetrou te hou en meer klem op die skrywer as persoon te plaas (sien Pressler 2008a:5–7).

Hierdie inligting word deur die vertaler in die inleiding tot die doelteks weergegee, maar nie as ’n vertaling van die bronteks nie. Sy skep inderwaarheid ’n heel nuwe teks as inleiding wat heelwat omvattender is as die inleiding in die bronteks en spreek dus spesifiek die doelteksleser aan. Waar die inleiding in die bronteks drie bladsye beslaan, strek die inleiding in die doelteks oor sewentien bladsye, en daar word ook spesifiek fokus daarop geplaas dat die doelteks ’n vertaling is.

Spies (2007:8–26) se inleiding dien ’n dubbele funksie in die doelteks. Eerstens gee dit agtergrondinligting oor die Holocaust, die skrywer Anne Frank en die bronteks; tweedens dien dit as ’n vertaalopdrag/-spesifikasie waarin die vertaler sekere besluite wat tydens die vertaalproses geneem is, aan die doelteksleser verduidelik, en ook die funksie van die doelteks vir die doelteksleser aandui. Volgens Nord (1997:21) is die vertaler nie gewoonlik die inisieerder of opdraggewer van ’n vertaling nie, maar word hy/sy genader om ’n vertaling te doen. Die opdraggewer moet dan ’n vertaalopdrag saamstel waarin hy/sy spesifikasies ten opsigte van die vertaling verskaf. Dit sluit in die bedoelde funksie van die doelteks, die doelteksleser, die tyd en plek waartydens en waar die doelteks ontvang gaan word, die medium waardeur die teks oorgedra moet word en die motief, of rede, vir die produksie en resepsie van die teks, en sluit dus aan by Nord (1997:60) se riglyne vir ’n aanvaarbare vertaling.

Spies stel dus haar eie spesifikasies vir die doelteks op en bepaal self die funksie van sowel die doelteks as wie die doeltekslesers sal wees. Aangesien sy nie ’n teoreties-geskoolde vertaler is nie, benader sy nie die vertaling uit ’n vertaalteoretiese oogpunt nie, maar as akademikus benader sy dit wel uit ’n akademiese, of wetenskaplike, oogpunt. Aangesien sy self ’n skrywer is, is sy ook besonder sensitief vir die literêre waarde van die bronteks wat in die doelteks behoue moet bly en fokus ook daarop om goeie styl en taalgebruik in die doelteks toe te pas (Spies 2007:12).

Spies (2007:19) verduidelik in die inleiding waarom hierdie dagboek vir so lank nie in Afrikaans vertaal is nie. Sy sê dit is omdat daar geglo is dat Afrikaanssprekendes maar die dagboek in Engels kan lees aangesien "almal tog Engels kan lees" en aangesien Anne Frank ’n "all English girl" en ’n anti-apartheidsimbool in Suid-Afrika geword het. Die rede vir die vertaling in Afrikaans is om sowel die beeld van Anne as die verhaal van Anne Frank, wat volgens Cynthia Ozick (soos aangehaal in Spies 2007:10) "sedert die publikasie van die dagboek geëkspurgeer, verdraai, verander, beswadder, verklein, kinderagtig gemaak, veramerikaniseer, versentimenteer, verkitsch en op ’n blatante wyse ontken is", in ere te herstel deur die vertaling weer getrou aan die dagboek en lojaal aan die dagboekskrywer se oorspronklike denke en styl te maak.

Spies beskou die dagboek as waardig om te vertaal vanweë die besondere boodskap wat dit oordra, die prominente posisie wat die werk in die Nederlandse literêre sisteem, of kanon, beklee, en die rol wat die dagboek speel om as getuienis van die Holocaust te dien.

Daar word verder in die inleiding verantwoording gedoen van die benadering wat sy in die vertaling volg. Sy bepleit dat die identiteit van die skrywer in ’n outobiografiese werk behoue moet bly wanneer dit vertaal word. Sy verduidelik dat Anne twee kante het, wat volgens Ozick en Denise de Costa se beskouing min of meer in opposisie met mekaar staan: die bekkige tiener en die nadenkende Jodin (Spies 2007:20). Spies (2007:20) wil graag in die doelteks die twee teenstrydige kante van Anne se persona weergee, waarvan die nadenkende sy dikwels, in veral Amerikaanse vertalings van die dagboek, verlore raak. Daarom sê Spies (2007:23) sy bly getrou aan die bronteks soos, volgens haar, van die vertaler vereis word.

Om verder die identiteit van die skrywer in die doelteks te versterk, word daar plek-plek Nederlandistiese en verouderde Afrikaans gebruik om dieselfde atmosfeer as in die bronteks oor te dra. Spies sê dat sy so na moontlik aan die Nederlandse teks bly, maar steeds nie die eiendomlikheid van Afrikaans geweld wil aandoen nie. Sy regverdig hierdie benadering deur verder te verduidelik dat waar sy wel Nederlandistiese uitdrukkings en woorde gebruik, dit doelbewus is om vervreemding tussen die teks en die leser te bewerkstellig "waar dit gaan om omstandighede wat vir ’n jong Afrikaanstalige leser totaal vreemd is: ’n Joods-Nederlandse meisie wat in selfopgelegde ballingskap dagboek hou tydens die Tweede Wêreldoorlog in die skaduwee van vervolging en dood" (Spies 2007:24).

Verder doen Spies in die inleiding verantwoording van die plekke in die doelteks waar sy van die bronteks (Frank 2008b) afwyk. Sy sê daar is enkele uitsonderings waar sy nie by die Frank-Pressler-uitgawe hou nie, maar dat sy dit in voetnote erken (Spies 2007:22). Dit sluit aan by Nord (1995) se uitgangspunt dat drastiese veranderinge en afwykings in ’n vertaling verduidelik moet word.

Die funksie wat Spies as vertaler uiteindelik met die doelteks wil bereik, is om die doelteks so na moontlik aan die bronteks te behou deur dit ook in dagboekvorm te skryf met dieselfde indeling as wat in die bronteks voorkom, om sodoende vir die doelteksleser ’n vertaling daar te stel wat sal lees soos die bronteks, binne dieselfde konteks en in dieselfde styl – maar in Afrikaans. Die identiteit van die skrywer en die bronteks bly dus in die vertaling behoue, soos Spivak (1992:397–414) voel belangrik is. Die "verhaal" van Anne Frank moet dus nie verdraai of gemanipuleer word nie, en haar stem, wat mense "geroer en geïnspireer het, [...] bewus gemaak het van die kwaad [... en ...] die liefde bely het in aansig van die haat en die goedheid van die mens in aansig van sy boosheid" (Spies 2007:26), moet in die doelteks behoue bly. Hierdeur word die doelteks vir die doelteksleser aanvaarbaarder gemaak, aangesien die stem en styl van die skrywer dieselfde as in die bronteks is en die doelteksleser kan voel hy/sy lees die oorspronklike dagboek, die bronteks, maar net in ’n ander taal.

Nord (1997:62) voer aan dat dit baie belangrik vir ’n vertaler is om die bronteks te interpreteer om uiteindelik ’n "goeie" doelteks te kan produseer. Spies (2007) se inleiding getuig van deeglike navorsing wat oor die agtergrond van die dagboek gedoen is en dat sy krities en in diepte daarmee omgegaan en dit geïnterpreteer het alvorens sy gepoog het om dit te vertaal. ’n Mens kan ook uit die inleiding aflei dat die vertaler ’n aantal bewuste besluite geneem het ten opsigte van die benaderings en strategieë wat in die vertaling gevolg is, met ’n spesifieke doel: om die beeld van Anne Frank so getrou moontlik aan die Afrikaanse teikengehoor oor te dra en die outentiekheid en egtheid van die dagboek te behou. Sy regverdig ook hierdie besluite in die vertaalspesifikasie – deel van die inleiding – wat sy vir haarself (en die doelteksleser) opstel.

Deur middel van die inleiding beklemtoon Spies dat sy nie lukraak te werk gegaan het om Anne Frank se dagboek te vertaal nie, maar dat die vertaalproses deur deeglike beplanning en navorsing voorafgegaan is én dat besluite weldeurdag en gegrond is. Hierdeur word die waarde en die status van die doelteks verhoog en die doelteksleser is geneig om die doelteks beter te ontvang, verstaan en aanvaar.

5.5 Die bronnelys

Die bronnelys, "Bronne" (DT:27), wat op die inleiding in die doelteks volg, dien as ’n bronnelys vir die inleiding tot die vertaling, asook as ’n aanduiding van die bronne wat gebruik is om die vertaling te bewerkstellig. Dit getuig van die navorsing wat vir die vertaling en tydens die vertaalproses gedoen is (sien opmerking oor Spies se akademiese werkswyse in die vorige afdeling). Die vertaler het dus nie bloot na die dagboek gekyk nie, maar ook na die konteks waarin dit geskep is en na tekste wat deur ander skrywers oor die werk, die genre, vertalings en verwerkings van Het Achterhuis geskryf is. Hierdie bronnelys is tot die doelteks bygevoeg en kom nie in die bronteks voor nie.

Die bronnelys gee ook vir die doelteksleser ’n lys verwysings indien hy/sy aanvullende navorsing oor die dagboek van Anne Frank wil gaan doen, of verder oor die dagboek wil gaan lees.

5.6 Die toevoegsels

Sowel die bronteks as die doelteks bevat toevoegsels. In die doelteks is daar egter meer toevoegsels as in die bronteks. Die eerste stel toevoegsels in die doelteks word almal voor die dagboekbriewe geplaas onder die opskrif "Toevoegsels" (DT:31–3). Die eerste drie toevoegsels is die inskrywings wat die vertaler as besonders of as belangrik geag het om as ’n inleiding vir die dagboekinskrywings te dien, en die ander twee is toevoegsels uit die bronteks. Hierdie inskrywings word nie in die bronteks ook voor die res van die dagboekinskrywings geplaas nie; in die bronteks kom die toevoegsels tussen die dagboekbriewe voor en word dit deurgaans telkens met die opskrif "Toevoegsel" aangedui.

Die eerste toevoegsel in die doelteks handel oor die omstandighede waarin Anne en die ander onderduikers hulle bevind het:

28 September 1944
DT: Dit maak my ook benouder as wat ek kan sê dat ons nooit meer buitentoe kan gaan nie, en ek is baie bang dat ons ontdek sal word en ’n koeël deur die kop kry. Dit is natuurlik ’n minder plesierige vooruitsig. (31)

Die tweede toevoegsel gaan spesifiek oor Anne se verhouding met een van die onderduikers, meneer Van Daan, maar eintlik skep dit weer eens ’n idee van die omstandighede in die agterhuis en hoe Anne se dagboek vir haar as ’n ontvlugting dien:

21 September 1942
DT: Meneer Van Daan is die laaste tyd katvriendelik teenoor my, ek laat dit maar stilweg by my verbygaan.           O, ek is so bly dat ek jou [die dagboek] saamgeneem het! (31)

Die derde toevoegsel is waarin Anne haar dagboek herbeskou en ook gevolglik herbesin oor wat sy soms in die dagboek geskryf het:

22 Januarie 1944
DT: [...] Maar dat ek so onbeskaamd oor ander dinge geskryf het, is vir my ondenkbaar. Ek skaam my werklik as ek die bladsye lees wat oor onderwerpe handel wat ek liewer vir my mooier wil voorstel. Ek het dit so aanstootlik beskryf [...]. (31)

Dit is juis as gevolg van hierdie besinning dat Anne haar eie dagboek hersien (daar word na die hersiene weergawe verwys as die "b-weergawe"). Sy haal van hierdie "dinge [wat sy] geskryf het" uit die dagboek soos sy dit oorskryf en Otto Frank neem dit ook nie in die c-weergawe van die dagboek op nie. Hierdie inskrywings word later deur die samestellers van die bronteks waarop die Afrikaanse vertaling gebaseer is (Frank 2008b), teruggeplaas en gevolglik ook vertaal. Die terugplasing van hierdie gedeeltes in die teks dien nie net om die outentiekheid van die teks te bewaar nie, maar ook om ’n beter beeld van Anne te skep en haar stem sterker in die dagboek te laat deurkom. Dit is aangesien Anne nie nét ’n positiewe tienermeisie was nie, maar ook by tye baie negatief en terneergedruk en teenoor haar huislede soms byvoorbeeld onsensitief of onbeleef. Die geïdealiseerde Anne wat dikwels in vertalings en verwerkings van die dagboek voorgestel word, word dus juis nie in die Afrikaanse vertaling uitgebeeld nie. ’n Meer realistiese beeld van haar word vertoon.

Die volgende stel toevoegsels (DT:32) in die doelteks is twee wat uit die bronteks vertaal is, naamlik die een op 12 Junie 1942, wat nie in die bronteks (BT:9) as ’n toevoegsel gemerk word nie, en een op 28 September 1942. Albei die inskrywings handel oor Anne wat in ’n persoonlike gesprek tree met haar dagboek, wat sy in hierdie gevalle personifieer.

2 Junie 19428 
DT: Ek hoop dat ek alles aan jou sal kan toevertrou soos ek dit nog nooit aan iemand kon doen nie, en ek hoop dat jy ’n groot steun vir my sal wees.
Anne Frank (33)

28 September 1942
DT: Ek het tot nou toe in jou groot steun gevind, en ook in Kittie, aan wie ek nou gereeld skryf. Om op hierdie wyse in my dagboek te skryf, bevredig my veel meer en nou kan ek die uur byna nie afwag wanneer ek weer in jou kan skryf nie.
          O, ek so bly dat ek jou saamgeneem het! Anne Frank (33)

Spies (2007:23) verduidelik in haar inleiding tot die vertaling dat in plaas daarvan om die tweede stel toevoegings wat in die doelteks voorkom, te behou as deel van die teks soos in die "Definitiewe Edisie", waarin sy noem dat hulle tot kernagtige inskrywings gereduseer is, sy hulle laat aansluit by die eerste stel toevoegsels in die doelteks, wat sy as motto’s beskou. Sy sê dit is aangesien Anne Frank haar dagboek oorgeskryf of self geredigeer en taalversorg het om dit ’n boeiende, goedgeskrewe geheel te maak (De Costa in Spies 2007:24).

Die toevoegsels wat sy wel in die hoofteks van die dagboek behou, soos die voorbeeld op Maandag 15 Junie 1942, lei sy nie in met die opskrif Toevoegsel nie en kursiveer dit ook nie soos in die bronteks nie. Sy plaas dit bloot tussen hakies. Volgens Spies (2007:24) versteur die kursiefgedrukte "toevoegsels" die geheel en verbreek dit die ontwikkelende verhaallyn. Soos Spies ook telkens in haar inleiding noem, probeer sy hierdeur dus om so min moontlik "in te meng" in die teks en die doelteks so outentiek moontlik aan Anne Frank se oorspronklike dagboek –  en wat sy daarmee beoog het – te hou. Sien die volgende voorbeeld:

Maandag, 15 Junie 1942
BT: G.Z. is wel het mooiste meisje uit onze klas. Ze heeft een lief gezicht, maar is op school taamelijk stom. Daarom denk ik dat ze zitten bleeft, maar dat vertel ik haar natuurlijk niet.
                                                                                                (TOEVOEGSEL)
G.Z. is tot mijn grote verbazing toch niet blijven zitten.

En tot slot van onze twaalf meisjes zit ik naast G.Z. (12)

DT: G.Z. is die mooiste meisie in ons klas. Sy het ’n liewe gesig, maar is op skool taamlik dom. Daarom dink ek dat sy nie gaan deurkom nie, maar dit sê ek natuurlik nie vir haar nie. (Tot my verwondering het sy tog geslaag.)

En ten slotte is daar, wat die meisies betref, ek wat langs G.Z. sit. (38)

Hierdie toevoegsel is waarskynlik later deur Anne self by die dagboekinskrywing gevoeg.

5.7 Die foto’s

Aangesien Anne Frank se dagboek ’n outobiografiese werk is, en die persone oor wie daar in die dagboek geskryf word, werklik geleef het en die plekke wat in die dagboek beskryf word, werklik bestaan het, is dit goed om hierdie verwysings vir die bronteks- en doelteksleser visueel aan te bied. Daarom is daar in sowel die bronteks as die doelteks foto’s in die middel van die boek geplaas. Die doelteks sluit foto’s van Anne Frank, haar gesin, die ander onderduikers en die mense wat die onderduikers gehelp het, die personeel van Opekta, in. Die bronteks bevat aansienlik meer foto’s, onder andere meer babafoto’s van Anne en Margot, asook foto’s van Anne en haar vriende. Van die foto’s, byvoorbeeld dié van die personeel van Opekta en van Peter van Daan, is dieselfde in sowel die bronteks as die doelteks. Daar is ook in beide die bronteks en die doelteks foto’s van Prinsengracht 263, waar Anne se gesin, die Van Pelse (Van Daans in die dagboek) en Fritz Pfeffer (Dussel in die dagboek) gewoon het en van die draaikas in hierdie gebou wat na die skuilgedeelte gelei het. In die bronteks is ’n vloerplan van die gebou en in die doelteks ’n grafiese voorstelling, ’n dwarsdeursnit, daarvan. In die byskrif by laasgenoemde illustrasie word verduidelik waar elkeen van die onderduikers se slaapkamers was. In die doelteks is ook ’n fotokopie van die laaste bladsy van Anne Frank se dagboek, waar ’n mens haar handskrif kan sien, asook ’n foto van bladsye uit die dagboek met foto’s van haar en Margot tydens ’n seevakansie in 1939. Hierdie foto’s herinner die bronteks-/doelteksleser daaraan dat die dagboek nie ’n fiktiewe teks is nie, maar dat alles wat daarin beskryf word, werklik was.

Wat die byskrifte by die foto’s betref, is dit interessant om op te merk dat die bronteks die name gebruik waarvan Anne in haar dagboek gebruik maak, in plaas van die mense se regte name en vanne: mevrouw Van Daan (i.p.v. Van Pels), meneer Van Daan (i.p.v. Van Pels), Peter Van Daan (i.p.v. Van Pels) en meneer Dussel (i.p.v. Pfeffer). In die doelteks word hierdie persone se regte name en vanne gegee, naamlik Auguste en Hermann van Pels, Peter van Pels, en Fritz Pfeffer. Die vertaler se stem klink dus in hierdie gevalle duideliker as die skrywer self s’n, maar tog verleen dit ook groter realiteit aan die doelteks as egodokument.

5.8 Die voetnote

Daar word in die Afrikaanse vertaling van Het Achterhuis ruim van voetnote gebruik gemaak om die teks vir die doelteksleser verstaanbaarder en toegankliker te maak. Hierdie voetnote kan in ’n paar kategorieë verdeel word. Van die voetnote in die doelteks kom ook in die bronteks voor, maar die meeste voetnote is parateks wat deur die vertaler bygevoeg is en spesifiek op die doelteksleser gemik is.

5.8.1 Voetnote wat ook in die bronteks voorkom

Daar is ’n paar voetnote wat in Het Achterhuis voorkom wat in die Afrikaanse doelteks vertaal is. Hierdie voetnote is deur die samestellers/uitgewers van die bronteks (Frank 2008b) by die Nederlandse teks gevoeg en is dus van toepassing op enige leser van die dagboek en is derhalwe ook vir die Afrikaanse doelteksleser vertaal. Sien byvoorbeeld die verwysing na die karakter uit ’n kinderfilm uit daardie era:

Maandag, 15 Junie 1942
BT: Rin-tin-tin [...]. Voetnoot: Rin-tin-tin heette de hond in een bekende kinderfilm. (11)
DT: Rin-tin-tin [...]. Voetnoot: Rin-tin-tin was die Duitse herdershond in ’n baie gewilde film van dié tyd. (36)

Alhoewel die voetnote wat uit die bronteks vertaal is, dieselfde inligting in die doelteks bevat, pas die vertaler dit wel aan. In die bostaande aanhaling word daar bygevoeg watter soort hond dit is (die vertaler dui aan dat dit ’n Duitse herdershond is en nie bloot ’n hond soos in die bronteks aangedui word nie), en voeg van dié tyd by om die voetnoot meer relevant vir vandag te maak. Sy bring ’n verandering aan deur bekende as baie gewilde te vertaal en noem nie, soos in die bronteks, dat dit spesifiek ’n kinderfilm is nie en maak dus op dié manier weer die voetnoot ongelukkig vaer in die doelteks en dus minder toeganklik vir die doelteksleser.

Nog ’n tipe voetnoot in die bronteks is waar Duits of ander tale wat net so in die bronteks, en ook in die doelteks, voorkom, vertaal word om dit vir die (bron- en) doelteksleser verstaanbaar te maak:

Dinsdag, 8 Februarie 1944
BT: "Du bist doch eine echte Rabenmutter." Voetnoot: Je bent toch een echte ravenmoeder. (167)
DT: "Du bist doch eine Rabenmutter.9" Voetnoot: "Jy is tog ’n regte Moeder Raaf." Die verwysing na "Rabeneltern" ("raafouers") is bekender as ’n "raafmoeder". Dit beteken iets soos "liefdelose ouers", maar word nie letterlik bedoel nie, maar spelenderwys gesê soos Anne dit ook kennelik bedoel het (vgl. Langenscheidtz Pocket Dictionary). (202)

Weer eens, soos in die vorige voetnoot wat bespreek is, voeg die vertaler inligting in die voetnoot by om die uitdrukking vir die Afrikaanse doelteksleser toegankliker en verstaanbaarder te maak, veral aangesien die Afrikaanse leser waarskynlik nie so bekend soos die Nederlandse leser sal wees met hierdie idiomatiese uitdrukking, oftewel metafoor, nie. Om haar annotasie te ondersteun, sluit die vertaler ook ’n bron in om die inligting te verifieer.

In die bronteks kom ook voetnote voor wat ’n ekspliserings- of verduidelikingsfunksie vervul vir die bronteksleser, en in die geval van die doelteks, vir die doelteksleser:

Woensdag, 7 Oktober 1942
BT: [...] de jonges [...]. Voetnoot: Hier worden de twee neven Bernhard en Stephan bedoelt. (52)
DT: [...] die seuns [...]. Voetnoot: Anne se twee neefs, Bernhard (Bernd) en Stephan Elias. (80)

Hier pas die vertaler weer eens die doelteksannotasie aan deur Bernhard se noemnaam en die twee neefs se vanne ter wille van volledigheid by te voeg.

’n Mens kan dus sien dat alhoewel die vertaler poog om so na moontlik aan die bronteks (Frank 2008b) te bly wat die dagboek self betref, sy die voetnote feitlik elke keer herskryf en veral van die uitbreiding- of ekspliseringstrategie gebruik maak. Dit is waarskynlik aangesien sy, alhoewel sy lojaal teenoor die skrywer (Anne Frank) en getrou teenoor die bronteks is (vgl. Nord 2001:185–8), sy nie soseer hierdie lojaliteitsgevoel teenoor die samestellers van die heruitgawe van die bronteks, wat die bronteks se voetnote geskryf het, het nie. Sy gaan dus baie funksionalisties te werk deur die doelteksleser in ag te neem en die doelteks, so goed moontlik, vir hom/haar toeganklik en verstaanbaar te maak deur middel van hierdie voetnote. Wat hierby aansluit, is dat die vertaler nie net die voetnote wat in die bronteks voorkom in die doelteks oordra nie, maar dat sy boonop nog ekstra voetnote byvoeg.

Hierdie ekspliserende voetnote kan in vyf breë kategorieë verdeel word, naamlik ekstra inligting; voetnote oor die land, kultuur en geloof; voetnote oor taal: betekenis en vertalings van vreemde tale soos Duits; voetnote oor die dagboek en Anne Frank se skryfwerk; asook ander vertaalnotas.

5.8.2 Ekstra inligting

Daar is ’n hele paar voorbeelde in die doelteks van waar die vertaler deur middel van voetnote ekstra inligting aan die doelteksleser verskaf vir interessantheid, om die konteks rondom die betrokke dagboekinskrywing te skets, of om ’n inskrywing aan die doelteksleser te verduidelik. ’n Voorbeeld hiervan is die eksplisering van Anne se verduideliking van hoe haar pa, Otto Frank, dit bewerkstellig het om ander te laat glo dat hy en sy gesin Nederland verlaat het, alhoewel hulle bloot in die versteekte kamer in die gebou waar Opekta se kantore was, gaan skuil het:

Woensdag, 7 Oktober 1942
Luister net wat hulle nou uitgedink het om meneer Broks, ’n verteenwoordiger van die Opekta Maatskappy en ’n kennis en klandestiene goederestoorder, ’n berig oor ons te laat kry! Hulle het ’n brief getik vir ’n winkelier, ’n indirekte klant van Opekta, in Zeeuws-Vlaandere, in Zeeland, en wel so dat die man ’n ingeslote briefie as antwoord moet invul en in die eweneens ingeslote koevert moet terugstuur. Vader het die adres op die koevert geskryf. As die koevert uit Zeeland terugkom, word die voltooide briefie uitgehaal en ’n handgeskrewe briefie van Vader as lewensteken daarin gesit. Op dié manier kan Broks dit lees sonder om agterdogtig te begin raak. Hulle het Zeeland juis gekies omdat dit digby België lê en ’n pakkie of brief dus maklik oor die grens gesmokkel kan word, maar ’n mens nie sonder ’n spesiale vergunning daarheen mag gaan nie. ’n Gewone verteenwoordiger soos Broks sal so ’n vergunning beslis nie kry nie. Voetnoot: Otto Frank wou Broks laat glo dat die gesin hulle in België bevind. (DT:69)

’n Voorbeeld van ekstra inligting wat verskaf word en wat, soos Appiah (1993:427) noem, kan help met ’n akademiese ontleding van hierdie vertaling, is die volgende:

Donderdag, 11 Mei 1944
’n Dominee wat die stem van meneer Edel gegaps het, [...]. Voetnoot: Dit is kennelik Anne se ligspottende benaming vir ds. J. van Dorp. Die Kritiese Edisie (2000), p. 685, verwys na ’n toespraak van koningin Wilhelmina van 9 Mei 1944 oor Radio Oranje, wat op Donderdag 11 Mei herhaal is. Haar toespraak van 10 Mei is dieselfde aand herhaal. Ook het minister-president Gerbrandy en ds. J. van Dorp op 10 Mei ’n toespraak gehou. (DT:302)

Hoe relevant hierdie inligting werklik vir die verstaan van die bronteks is, is debatteerbaar, maar hierdeur word daar vir die doelteksleser ’n konteks waarbinne die dagboek geskryf is, geskep, sodat hy/sy die geheel van die doelteks beter kan verstaan.

Nog ’n voorbeeld van ekstra inligting wat gegee word om konteks te skep, is die volgende:

Saterdag, 27 Maart 1943
’n Paar dae daarna het die Burgerlike Stand gevolg. Voetnoot: Op 10 Februarie 194410 is brand in die Provinsiale Arbeidsburo in Amsterdam gestig en op 27 Maart is ’n aanslag op die Bevolkingsregister van Amsterdam gemaak. Beide aanslae was bedoel om die uitstuur van arbeiders na Duitsland te bemoeilik en om die deportasie van Jode te verhinder (Kritiese Edisie, 2000, p. 394). (DT:120)

Dit is moontlik vanweë die feit dat Spies ’n akademikus is dat sy hierdie verduidelikings insluit, sodat die doelteks ook op ’n meer wetenskaplike, of akademiese, wyse ontleed kan word. Hierdie byvoegings getuig ook daarvan dat Spies die bronteks en die vertaling van hierdie teks op ’n wetenskaplike wyse benader het.

5.8.3 Voetnote oor die land, kultuur en geloof

Aangesien die doelteksleser kultureel en geografies ver verwyderd is van sowel die geografiese ligging van die bronteks as die Europese bronkultuur, asook meestal van die Joodse geloof, wat ’n kernrol in die bronteks speel, voeg die vertaler dikwels annotasies by die teks om sekere van hierdie aspekte aan die doelteksleser te verduidelik.

Sien die volgende voorbeelde:

Donderdag, 1 Oktober 1942
[...] die Bijenkorf. Voetnoot: ’n Bekende afdelingswinkel in Nederlandse stede; iets soos Woolworths. (DT:78)

In hierdie voetnoot domestikeer die vertaler deur die afdelingswinkel wat in die bronteks genoem word, met ’n afdelingswinkel te vergelyk wat binne die doelteksleser se verwysingsraamwerk val.

Maandag, 21 September 1942
Koenen. Voetnoot: Nederlandse woordeboek. (DT:67)

Vrydag, 19 Maart 1943
[...] die Dam. Voetnoot: Stadsplein in die sentrum van Amsterdam. (DT:116)

Vir die Nederlandse bronteksleser is dit nie nodig om hierdie twee name/benamings te verduidelik nie, maar die Suid-Afrikaanse doelteksleser sal waarskynlik nie weet waarna hier verwys word nie.

Voorbeelde van religieuse verwysings wat verduidelik word, is die volgende:

Maandag, 7 Desember 1942
Hannuka. Voetnoot: Joodse fees van lig ter herinnering aan die herstel van die tempel. (DT:101)

Vrydag, 3 Maart 1944
Toe ek vanaand in die kersie gekyk het [...]. Voetnoot: Dis ’n Joodse gebruik om Vrydagaand, die begin van die Joodse Sabbat, kerse aan te steek. (DT:221)

Aangesien daar binne ’n Suid-Afrikaanse kultuur Kersfees met ’n Kersvader gevier word, word Sint Nicolaas in ’n voetnoot aan die doeltekslesers verduidelik:

Maandag, 7 Desember 1942
Sint Nicolaas. Voetnoot: Op 5 Desember kom Sint Nicolaas uit Spanje in Nederland aan saam met Swarte Piet. Soet kinders kry presente by Sinterklaas en Swarte Piet straf stoutes. (DT:101)

Waar daar in die dagboek bloot na ’n "kandelaar" verwys word as Anne oor Hanukka skryf, voeg die vertaler ’n voetnoot by om te verduidelik presies van watter kandelaar daar gepraat word:

Maandag, 7 Desember 1942
Meneer Van Daan het ’n kandelaar uit hout vervaardig, dus is daarvoor ook gesorg. Voetnoot: Die menora met sewe arms wat tydens Hanukka aangesteek word. (DT:101)

5.8.4 Voetnote oor taal

Alhoewel daar ’n paar vertaalde voetnote in die bronteks voorkom wat vertalings vir teksgedeeltes in vreemde tale, veral Duits, gee, voeg die vertaler ook ’n hele paar in die doelteks by wat nie in die bronteks voorkom nie. ’n Voorbeeld van sodanige vertaling in ’n voetnoot is die volgende (die eerste uit Latyn en die volgende uit Duits):

Donderdag, 3 Februarie 1944
Per pedes apostolorum. Voetnoot: "Met die voete van die apostels." (DT:200)

Maandag, 27 Maart 1944
Um Gottes Willen [...]! Voetnoot: "In hemelsnaam!" (DT:254)

Wat taal verder betref, verduidelik die vertaler ook op ’n plek ’n idiomatiese uitdrukking wat Nederlandisties is en nie noodwendig deur die Afrikaanse doelteksleser verstaan sal word nie:

Maandag, 27 Maart 1944
[...] maar die keersy van dié medalje [...]. Voetnoot: Die minder mooi kant van ’n saak. (DT:255)

In Anne se dagboek haal sy ’n gedig wat Margot geskryf het, aan. Hierdie gedig word in die Afrikaanse vertaling in Nederlands behou. In hierdie gedig word die woord meid gebruik en vanweë die pejoratiewe konnotasie wat die woord meid in Afrikaans het, word die betekenis daarvan in ’n Nederlandse konteks in ’n voetnoot verduidelik:

Woensdag, 4 Augustus 1943
[...] een kleine meid... Voetnoot: "Meid" beteken in Nederlands "meisie" en word in dié verband vertederend – soos dikwels die geval is – gebruik. (DT:145)

Die laaste tipe taalverwysing wat die vertaler annoteer, is waar sy verduidelik dat Anne met haar huisgenote se geradbraakte Nederlands spot. Die grootmense in die agterhuis se Duits was baie beter as hulle Nederlands, maar aangesien hulle in Nederland gebly het en in opstand teen die Duitse volk gekom het vanweë die vervolging van die Jode, het hulle feitlik net Nederlands gepraat. Hierdie Nederlands is dikwels vermeng met Duits, soos die volgende inskrywing getuig:

Woensdag, 18 Augustus 1943
"Putti,11 kyk du spatst schon!" Voetnoot: "Putti, kyk jy spat reeds!". Anne gee die mengtaal van mevrou Van Daan weer. (DT:152)

5.8.5 Voetnote oor die dagboek en Anne Frank se skryfwerk

Soms is daar in gepubliseerde weergawes van die dagboek van Anne Frank inskrywings wat nie oorspronklik deel was van die handgeskrewe dagboek nie, maar wel uit ander skryfwerk van Anne kom, byvoorbeeld haar kortverhale. Daar word telkens deur middel van ’n voetnoot aangedui indien ’n gedeelte van die dagboekinskrywings deel vorm van een van hierdie ander stukke teks. Sien die volgende voorbeelde:

Dinsdag, 13 Julie 1943
Die beste tafeltjie. Voetnoot: Otto Frank het hierdie selfstandige teks wat Anne vir haar Verhaaltjesboek bestem het, opgeneem in sy weergawe van Het Achterhuis (die datering is van Anne). Vgl. Kritiese Edisie, 2000, pp. 410–413. (DT:133)

Donderdag, 17 Februarie 1944
[...] en het hom die stuk tussen Cady en Hans* oor God laat lees. Voetnoot: Dit is ’n gedeelte uit ’n storie wat Anne besig was om te skryf oor die lewe van ’n meisie wat sy Cady genoem het. Vergelyk ook die inskrywings van 5 April en 11 Mei 1944. (DT:210)

Hierdie voetnote getuig ook van die wetenskaplike vertaalbenadering wat gevolg is, aangesien daar verder as bloot die bronteks gekyk is om Anne Frank se dagboek in Afrikaans te vertaal. Soos in die geval van die res van die parateks, gee van hierdie voetnote, asook ander tipes voetnote in die doelteks, vir die doelteksleser ’n aanduiding waar hy/sy verder oor die dagboek kan gaan lees indien hy/sy wil.

5.8.6   Vertaalnotas

Aangesien daar in die inleiding tot die doelteks verduidelik word wat die benadering tot die vertaling is, asook regverdig word hoekom sekere besluite ten opsigte van die vertaling geneem is, is daar min vertaalnotas in die hoofteks. Waar die vertaler dit tog nodig geag het om byvoorbeeld afwykings van die bronteks aan die doelteksleser te verduidelik en te regverdig, is dit deur middel van voetnote gedoen:

Saterdag, 17 November 1942
Voetnoot: Ek volg hier die chronologie van die oorspronklike dagboek (vgl. die Kritiese Edisie, 2000: p. 337). (DT:88)

Dinsdag, 15 Februarie 1944
Liewe Kittie. Voetnoot: Hierdie gedeelte word wel uit die Definitiewe Edisie vertaal, maar volgens die Kritiese Edisie het Anne in haar oorgeskrewe weergawe die briefvorm gekies en dus word, anders as in die Frank-Pressler-uitgawe, met ’n aanhef aan Kittie begin. Sy het dit ook anders gedateer, nl. as Donderdag, 17 Februarie 1944. (DT:206)

Donderdag, 17 Februarie 1944
Voetnoot: Hierdie inskrywing was nie deel van Anne se dagboek nie, maar het onder die titel "Zondag" deel uitgemaak van haar boek met verhaaltjies en sketse oor gebeure in die Agterhuis. Frank en Pressler neem dit nie volledig in die dagboek op nie. (DT:212)12

’n Mens kan dus sien dat die voetnote help om ’n teks wat enersyds baie vervreem word van die doelteksleser, andersyds verstaanbaarder en aanvaarbaarder vir die doelteksleser te maak. Dit werk ook goed dat die annotasies in die vorm van voetnote gemaak word sodat dit op dieselfde bladsy onder die teks self staan en dat ’n mens nie soos in die geval van eindnotas heen en weer hoef te blaai om die verduidelikings te kry nie. Tog word dit darem ook nie in die doelteks self aangebring en sodoende deel van die hoofteks gemaak nie. Dit sou die strekking en vloei van die dagboek belemmer deur die verteller se stem te onderbreek.

Die aanwending van die vertaalnotas is dus baie funksioneel, maar kritiek wat wel teen die hantering van voetnote, of aanbieding van voetnote, gelewer kan word, is dat daar nie onderskei word tussen voetnote wat die vertaler self bygevoeg het en dié wat in die bronteks voorkom nie, en dit doen afbreuk aan die sigbaarheid van die vertaler (vgl. Venuti 1995) Tog is die meeste vertalings wat sy van voetnote gemaak het, herskrywings en word die vertaler se stempel wel op elkeen afgedruk, wat haar sigbaarder maak as ’n mens die bronteks en doelteks pertinent vergelyk.

Nog ’n tekortkoming by die voetnote is dat een voetnoot wat in die bronteks voorkom, nie in die doelteks vertaal is nie. Dit is die volgende:

Vrijdag, 30 Juni 1944
Bernd. Voetnoot: Neef Bernhard (Buddy genoemd) Elias. (BT:286)

Aangesien die vertaler in haar voetnoot by Woensdag 7 Oktober 1942 se inskrywing wel verduidelik dat Anne se neef Bernhard Bernd genoem is en dat sy van Elias is, het sy dit waarskynlik onnodig geag om dit weer te verduidelik – "(Anne se twee neefs, Bernhard (Bernd) en Stephan Elias." [DT:80]). Tog word daar nie nou in die Afrikaanse vertaling daarop gewys dat hierdie neef ook "Buddy" genoem is nie en konsekwentheid ten opsigte van wat vertaal word, word ingeboet.

5.9 Die nawoord

Die nawoord in die doelteks (DT:345–6) is ’n vertaling van die nawoord in die bronteks (BT:299–301). Dit gee, soos die inleiding in die doelteks, agtergrondinligting oor die dagboek en die mense in die dagboek. Dit handel oor hoe die onderduikers ontdek is, na konsentrasiekampe geneem is, en almal, behalwe Otto Frank, in die konsentrasiekampe omgekom het. Dit dien nie as ’n slot vir die verhaal van Anne Frank nie, aangesien, soos Spies (2007:10) ook noem, die dagboek ’n oop einde het en nooit afgesluit is nie. Om juis die gevoel van hierdie oop einde te behou, maak die vertaler ’n verandering in die doelteks deur "Hier eindigt Annes dagboek" (BT:298), wat vertaal is as "Hier eindig Anne se dagboek" (DT:345) op ’n ander plek in die doelteks as in die bronteks te plaas. In die bronteks volg hierdie sin direk na die laaste dagboekinskrywing, terwyl dit die nawoord in die doelteks inlei. Deur nie hierdie gedeelte by die dagboekbriewe self in te sluit nie, beklemtoon dit die oop, tragiese einde van die dagboek.

5.10 Die verantwoording en die epiloog

Die afdeling wat op die nawoord in die bronteks en die doelteks volg, verskil. Die bronteks se verantwoording (BT:302, 303) fokus sowel op die oorspronklike dagboek in Nederlands as op die veranderinge wat in die spesifieke uitgawe van die bronteks aangebring is, terwyl die epiloog (DT:349–50) in die Afrikaanse vertaling ’n dankbetuiging deur die vertaler is aan almal wat betrokke was by die publikasie en redigering van Die Agterhuis.

5.10.1 Die verantwoording

Die verantwoording in die bronteks (Frank 2008b) word nie in die Afrikaanse doelteks vertaal of ingesluit nie, waarskynlik aangesien dit nie van toepassing is op die vertaling nie en omdat dit op die bronteks fokus. Die inligting wat wel van toepassing is op die doelteks word in die "inleiding" tot die doelteks bespreek. Dit verwys onder andere na die bladsye wat in die oorspronklike gepubliseerde Nederlandse uitgawe van die dagboek (die c-weergawe van 1947) uitgelaat is – byvoorbeeld waar Anne oor seksualiteit, of baie negatief oor haar ma, praat – wat nou wel in die Frank-Pressler-uitgawe van die bronteks teenwoordig is (sien Pressler 1991:302). Die vyf bladsye uit die dagboek wat later eers ontdek is, is ook in hierdie uitgawe van die dagboek ingesluit (sien Pressler 2008b:303). In die Afrikaanse vertaling word genoemde gedeeltes dus ook ingesluit.

Die verantwoording in die bronteks (Frank 2008b) plaas verder klem op die verskil tussen dié spesifieke uitgawe en die wetenskaplike uitgawe of Kritiese Edisie. Die bronteks wat vir die Afrikaanse vertaling gebruik is, is die leesuitgawe of Definitiewe Edisie (Frank 2008b), wat gebaseer is op die wetenskaplike uitgawe, De dagboeken van Anne Frank (Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie 1986). In laasgenoemde uitgawe is al drie die weergawes van die dagboek (weergawes a, b, en c) opgeneem (sien Pressler 1991). Spies (2007:23) noem in die inleiding tot die doelteks (Frank 2008a) dat sy ook hierdie wetenskaplike uitgawe van die werk geraadpleeg het vir haar vertaling van die dagboek; waar sy afgewyk het van die leesuitgawe van die dagboek, en die wetenskaplike uitgawe gevolg het, dui sy dit in voetnote aan.

Die laaste belangrike aspek rakende die verantwoording wat deur Pressler (1991:302) geskryf is, is dat sy noem dat hulle "hebben gemeend in het taalgebruik van Anne zo min mogelijk te moeten ingrijpen". Volgens haar is "korreksies" wat in die 1947-uitgawe aangebring was, ontdaan gemaak in die Definitiewe Edisie. Sy noem dat daar wel drie tipes (nuwe) veranderinge gemaak is, naamlik om Anne Frank se spelling volgens die hersiene Woordenlijst Nederlandse Taal aan te pas, foute met betrekking tot voorsetsels, lidwoorde en voornaamwoorde te korrigeer en slegs die Germanistiese uitdrukkings wat die samestellers gevoel het nie deur die jeugdige leser begryp sal word nie, met gangbare Nederlands te vervang. Van die Germanismes is dus steeds aanwesig in die teks (Frank 2008b) wat Spies as bronteks gebruik. Pressler (1991:303) sluit hierdie kommentaar soos volg af: "In de overtuiging dat iedere verdere ingreep de authenticiteit van de dagboeken alleen maar zou aantasten, hebben wij de tekst voor het overige ongemoeid gelaten."

Hierdie benadering tot die samestelling van die Definitiewe Edisie van die dagboek sluit goed aan by die vertaalbenadering wat Spies volg. Die Afrikaanse vertaler noem in die inleiding van die doelteks dat sy so min moontlik ingemeng het met, of verander het aan, die dagboekteks. Sy het dus nie haar bronteks gemanipuleer of herskryf nie, maar eerder baie getrou daaraan gebly, soos die samestellers van die Frank-Pressler-uitgawe die skrywer Anne Frank en die oorspronklike dagboek op hierdie wyse respekteer het. Die uitgangspunt by sowel die bronteks (Frank 2008b) as die doelteks (Frank 2008a) is dus om wel te redigeer en sekere veranderinge aan te bring om dit vir die teikenleser (hetsy bronteksleser of doelteksleser) toeganklik en verstaanbaar te maak op taalkundige vlak, dog nie te veel te verander sodat daar van die outentiekheid van die dagboekbriewe verlore raak nie.

Dit is uiteraard baie makliker om in ’n vertaling uit Nederlands in Afrikaans so getrou aan die bronteks te bly, aangesien die eendersheid van die twee tale hulle daartoe leen. Dikwels word die dagboek van Anne Frank egter uit die Engelse vertaling in plaas van die Nederlandse bronteks (Frank 2008b) vertaal,aangesien die vertaler in ander tale, byvoorbeeld Mandaryns of Hebreeus, nie toegang tot Nederlands het nie. Die outentiekheid van die dagboek kan deur middel van hierdie proses verlore gaan, aangesien die bron- en doeltaal nie so nou verwant is nie, of aangesien Nederlands en Engels nie so nou verwant is nie. Hoe meer daar hervertaal word uit vertalings, hoe verder word daar ook dan van die dagboek en Definitiewe Edisie beweeg.

5.10.2 Die epiloog

In die epiloog van die doelteks bedank Spies die persone en partye wat betrokke was by die totstandkoming van Die Agterhuis (Frank 2008a), haar vertaling van Het Achterhuis (Frank 2008b). Sy bedank in besonder vir Eva Koralnik, wat in 2005 gehelp het dat die vertaalregte aan haar toegestaan is, en Nicol Stassen van Protea Uitgewers, wat aangebied het dat die vertaling deur hulle gepubliseer word (Spies 2008a:349). Dit is waarskynlik te danke aan sowel Spies se prominente posisie in die Afrikaanse literêre sisteem as digter as die noue bande wat sy oor die jare met Nederland gesluit het, wat aan haar hierdie geleentheid gebied het om die vertaling van ’n boek wat wel in Engels beskikbaar is, en deur die meeste Afrikaanssprekendes gelees sou kon word, uit Nederlands in Afrikaans te vertaal.

Verder bedank sy haar redakteur, Martjie Bosman, vir die taalversorging en die uitwys van onduidelikhede in die vertaling, veral wat Nederlandismes betref (Spies 2008a:349, 350). Hierop lewer sy die volgende kommentaar:

[H]aar uitwys van onduidelikhede in my vertaling was onontbeerlik om Anne Frank se dagboekbriewe in die bes moontlike Afrikaans weer te gee; om van Die Agterhuis ’n waardige en wesenlik Afrikaanse ekwivalent van Het Achterhuis te maak. (Spies 2008a:350)

Hiermee beklemtoon die vertaler dan die manier waarop sy die vertaling aangepak het – om so getrou moontlik aan die bronteks te bly om as ’n ekwivalent vir die bronteks te dien. Die ekwivalentverhouding wat in hierdie vertaling bewerkstellig word, is funksionalistiese ekwivalensie, aangesien sowel die bronteks- as die doelteksleser in ag geneem word.13

Laastens bedank sy ook Pierre Brink, wat "met ’n kil oog en ’n streng hand alle oorblywende Neerlandistiese wendinge uitgewys het" (Spies 2008a:350). Spies (2009) noem egter dat daar steeds Nederlandismes in die doelteks voorkom wat sekerlik in meer idiomatiese Afrikaans geskryf kon word. Sy sê dat dit doelbewus teruggesit is nadat Bosman en Brink dit uitgehaal het, om ’n spesifieke gevoel wat die bronteks geskep het oor te dra, Anne Frank se stem meer prominent in die vertaling te laat klink, en sekere passasies uit die dagboek wat baie bekend is, nie verlore te laat gaan nie, maar eerder soos die oorspronklike Nederlands te laat klink. Hierdeur dra die epiloog ook daartoe by om die verduideliking van die bronteksvoorkeur (wat veral in die inleiding voorkom) te versterk.

6. Gevolgtrekking

Werner Koller (aangehaal in Qvale 1998:52) beweer dat die vertaler as ’n hekwagter moet dien, nie net vir die skrywer se belange nie, maar ook vir dié van die leser. Hy sê dat ’n teks juis nie so "skoongemaak" moet word van vreemde elemente of onvolmaakthede nie, want dit maak die doelteks saai. Vervreemdende elemente, ook wat taalgebruik betref, kan aan die doelteks tekstuur gee en dit interessanter maak:

Often, without even knowing it himself because of his imperfect mastery of the language, he [the translator] makes the translation easier to read, easier to understand, duller than the original. He smoothes out, dusts off, tidies up, tosses out wilted flowers, sees to it that what he serves up is eaten in a proper manner and that the wine is drunk at the correct temperature. And he does all this because he believes – often not even consciously – that he must think of the translation’s readers, these uncultivated tyrants of taste! In fact he thinks only of the publisher’s sales, even though it doesn’t fetch him a penny more. He knows what Joe Public will be able to put up with. (Koller soos aangehaal in Qvale 1998:47)

Die vertaler behou doelbewus in die vertaling van Het Achterhuis vreemde elemente wat kulturele verwysings en taalgebruik betref. Sy doen dit om die outentiekheid van die dagboek behoue te laat bly in die doelteks, asook om die stem van die skrywer, die dagboekskrywer Anne Frank, duideliker te laat klink en haar skryfstyl beter behoue te laat bly. Aangesien die vertaler dus ’n oorkoepelende vervreemdende benadering tot die vertaling van Het Achterhuis volg, maak sy, soos geïllustreer, gebruik van parateks om die vertaling toegankliker vir die doelteksleser te maak. Nie net maak dit Die Agterhuis vir die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse doelteksleser meer aanvaarbaar en verstaanbaar nie, maar dit dra ook daartoe by dat die stem van die vertaler, alhoewel nie soseer in die vertaling self nie, maar deur middel van die parateks, sterker na vore kom. Die doelteksleser word dus deur middel van die parateks bewus gemaak daarvan dat hy/sy besig is om ’n vertaling te lees van ’n dagboek wat tydens die Tweede Wêreldoorlog en Holocaust deur ’n Duitse Jodin in Nederlands geskryf is. Dit is dus belangrik om die parateks saam met die dagboek te lees en nie bloot die dagboekbriewe in isolasie te lees nie, aangesien die parateks die geloofwaardigheid en impak van die doelteks verhoog en die boodskap van die dagboek duideliker na vore laat kom.

Bibliografie

Appiah, K.A. 1993. Thick translation. In Venuti (red.) 2000.

Barnouw, D. 1998. Anne Frank voor beginners en gevorderden. Amsterdam: Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie;  Den Haag: SDU Uitgevers.

Benjamin, W. 1932. The task of the translator. In Venuti (red.) 2000.

Berman, A. 1985. Translation and the trials of the foreign. In Venuti (red.) 2000.

Brand, G. 2008. Anne Frank se dagboek nie haar verhaal nie. Gesprek by Die Burger se boekklubete. Stellenbosch: Volkskombuis.

Cai, K. 2008. Optimizing translation through accommodation. http://www.sytra.cn/ (8 November 2008 geraadpleeg).

Flanzbaum, H. (red.) 1999. The Americanization of the Holocaust. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

Frank, A. 1982. Het Achterhuis – met aantekeninge deur W.F. Jonckheere. Kaapstad: Academica.

—. 2008a. Die Agterhuis. Dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944. Uit die oorspronklike Nederlands vertaal en ingelei deur Lina Spies. Pretoria: Protea.

—. 2008b [1991]. Het Achterhuis. Dagboekbrieven 12 Juni 1942 – 1 Augustus 1944. Samengesteld door Otto Frank en Mirjam Pressler. 48ste druk. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of interpretation. Vertaal deur J.E. Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.

Harvey, K. 1998. Compensation and the brief in a non-literary translation: Theoretical implications and pedagogical applications. Target, 10(2):267–90).

Hermans, T. (red.). 2002. Crosscultural transgressions. Manchester: St. Jerome.

HistoryOrb.com. 2009. Historical events for the year 1943. http://www.historyorb.com/events/date/1943 (4 Oktober 2009 geraadpleeg).

Hugo, D. 2008. Valse vriende? Die gevaarlike avontuur van vertaal uit Nederlands. http://www.litnet.co.za/article.php?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=48875 (16 Julie 2008 geraadpleeg).

Katan, D. 2004. Translating cultures. Manchester: St. Jerome.

Koş, A. 2008. Analysis of the paratexts of Simone de Beauvoir’s works in Turkish. In Pym en Perekrestenko (reds.) 2008.

Lefevere, A. 1982. Mother Courage’s cucumbers: Text, system and refraction in a theory of literature. In Venuti (red.) 2000.

Newmark, P. 1998. A textbook of translation. New York: Prentice Hall.

Nida, E. 1964. Principles of correspondence. In Venuti (red.) 2000.

Nord, C. 1995. Text-functions in translation: Titles and headings as a case in point. Target, 7(2):261–84.

—. 1997. Translating as a purposeful activity. Manchester: St. Jerome.

—. 2001. Loyalty revisited. Bible translation as a case in point. The Translator, 7(2):185–202.

Pinto, D. 2000. Power relations in the Portuguese translation of Alan Paton’s "Life for a life". Language Matters: Studies in the Languages of Africa, 31(1):130–54.

Pressler, M. 1991. Verantwoording. In Frank 2008b.

—. 2008a. Over dit boek. In Frank 2008b.

—. 2008b. Verantwoording. In Frank 2008b.

Pym, A. en A. Perekrestenko. (reds.). 2008. Translation research projects 1. Tarragona: Intercultural Studies Group.

Qvale, P. 1998. From St. Jerome to hypertext: Translation in theory and practice. Vertaal deur N.R. Spencer. Manchester: St. Jerome.

Reiss, K. en Vermeer, H.J. 1984. Grundlegung einer allgemeinen Translationstheorie. Tübinger: Max Niemayer Verlag.

Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie. 1986. Die dagboeken van Anne Frank. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Spies, L. 1971. Digby Vergenoeg. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2007. Inleiding, die dagboek van Anne Frank. In Frank 2008a.

—. 2008a. Epiloog. In Frank 2008a.

—. 2008b. Praatjie oor haar vertaling van Anne Frank se dagboek. Stellenbosch: Protea Boekhandelaar. 28 Junie 2008.

—. 2009. Persoonlike onderhoude en gesprekke met artikelskrywer. Stellenbosch.  

Spivak, G.C. 1992. The politics of translation. In Venuti (red.) 2000.

Tahir-Gurcağlar, S. 2002. What texts don’t tell: The uses of paratexts in translation research. In Hermans (red.) 2002.

Van Coller, H.P. 2002. Antjie Krog se vertaling van Henk van Woerden se roman Een mond vol glas. Literator, 23(2):129–63.

Venuti, L. 1995. The translator’s invisibility. Londen: Routledge.

Venuti, L. (red.). 2000. The translation studies reader. New York: Routledge.

Eindnotas

1 Hierdie artikel is gebaseer op die MPhil (Vertaling)-verhandeling getiteld "Die Agterhuis – Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans: Besluite, benaderings en strategieë" (Universiteit Stellenbosch).
 
2 Spies en ander verwys na die verskillende weergawes van die dagboek as die a-, b- en c-versie. Die benaming a-, b- en c-weergawe wat in hierdie artikel gebruik word, verwys na hierdie "versies".

3 Die vertaalde verwerkings word byvoorbeeld in skole (in die VSA, asook in Suid-Afrika) voorgeskryf (Flanzbaum 1999:1).

4 Die afkortings DT (doelteks) en BT (bronteks) word gebruik vir teksverwysings van hierdie aard.

5 Sommige skrywers gebruik die term metateks om parateks in te sluit.

6 Let wel: Die doel van die bespreking is nie om die inhoud van die parateks as sodanig te evalueer nie, maar om te verduidelik hoe die verskillende tipes parateks wat in die doelteks gebruik word, ’n spesifieke funksie probeer/kan vervul om die teks vir die doelteksleser toegankliker en verstaanbaarder te maak, asook om te verduidelik wat die aard van die verskillende tipes parateks is, watter funksies dit vervul en wat die doel daarvan is. Die vertaling as sodanig word ook nie in hierdie bespreking evalueer nie, maar daar word bespreek hoe parateks in ’n vertaling benut kan word, met Die Agterhuis as voorbeeldmateriaal.

7 Aan die Universiteit Stellenbosch.

8 Fout in doelteks – dit moet 12 Junie 1942 wees en nie 2 Junie 1942 nie.

9 Let wel: Die vertaler is hier nalatig deur in die hoofteks die Duitse woord echte uit te laat. In die voetnoot word regte wel bygevoeg; dit is dus nie ’n akkurate vertaling vir wat in die doelteks se hoofteks staan nie.

10 Hierdie datum is foutief in die doelteks en moet 1943 wees (HistoryOrb.com 2009).

11 Putti is mevrou Van Daan se bynaam vir haar man. In hierdie toneel vermaan mevrou Van Daan haar man dat hy ’n voorskoot moet dra as hy kook, anders gaan sy sukkel om die spatsels uit sy klere te kry.

12 Hierdie voetnoot kan ook onder "Voetnote oor die dagboek en Anne se skryfwerk" ressorteer, maar word hier as voorbeeld gebruik om te illustreer hoe Spies aandui indien sy in haar vertaling van die bronteks afwyk. Dit dien dus hier as ’n vertaalnota.

13 Die vertaling bly getrou aan die bronteks deurdat daar origens ’n vervreemdingsbenadering gevolg word, maar die doelteksleser word ook in ag geneem deurdat daar in die parateks vir die doelteksleser verduidelikings gegee word wat op hul beurt die vertaling vir hom/haar verstaanbaarder en toegankliker maak.