Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Die buurman


Melanie Grobler - 2011-02-24

Die buurman


Laatmiddag eet ek bloubessies maar soms eet ek reën

hoe min het ek nodig om alles te besit?


my behoedsame buurman wat alleen leef bewaar sy goed met sorg

hy kan oud en nut na vore bring. matrys en instellings en voorskadu


en naskadu asook insigte uit die heelal. sy boekrak stof hy daagliks af

hy versamel memorabilia, voorwerpe duidelik in vorm. betoon eerbied


aan kleinodes, bewys hoflikheid aan versamelde en gesoute patrone

van beskawing. soms is daar sameswerings, hier ’n verjaarsdag


en daar ’n huweliksherdenking en in die tussenlae van weke

maande en nou ’n paar jaar tot en met die aangewysde uur


luister hy na die Bach Cantates. my behoedsame buurman

hoeveel meer het hy nodig om alles te besit?