Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Lekker lag saam met Joke van Leeuwen – lekker huil kom vanself


Carina van der Walt - 2011-02-24

“Joke” staan vir “grap” in Engels. Maar wie in die gedigte van Joke van Leeuwen net die snaakse dinge hoor, word op Woordfees met ’n Joker buite spel geplaas. Nietemin is humor in taal een van die belangrikste eienskappe in haar styl. Sy skommel met woorde totdat dit iets verrassends sê. Daarmee trek sy jou aandag  af van die erns van die kaartspel. Óf die lewe. Sy maak van ’n “nobody” ’n “yesbody”. Lara, een van die karakters in haar laaste roman, Alles nieuw (2008), wil ’n foto van ’n gesig wat “vermink” is, deur manipulasie “ontmink”. Met die verandering van ’n lettergreep ontstaan ’n nadenkende ligtheid in haar styl. Dit is hierdie styl wat Italo Calvino aanbeveel vir literatuur oor gewigtige onderwerpe.

Van Leeuwen is veral bekend vir haar kinder- en jeugpoësie, maar sy dryf die spot met liefdeloosheid, geweld, mag, moralisme, rassisme en dekadensie. Dit doen sy in helder en direkte taal. Sy is vrypostig. ’n Vrolike gebrek aan respek kenmerk haar trant. Net soos Annie MG Schmidt is Van Leeuwen “lekker stout”. Met haar literêre werk en illustrasies wil sy vir haar leser iets gee: gevoelens van geluk. Sy kry dit ook op die verhoog reg. Ses jaar lank het sy allerhande literêre optredes gedoen. Haar gehore lê gewoonlik van die lag, terwyl haar eie gesig nie ’n spier vertrek nie. Sy lyk eerder verskriklik verstrooid, wat tot verdere lagbuie lei. Vra haar gerus maar om met pen en papier ’n bril te ontwerp vir lê en lees in die bed of op die strand.

Van Leeuwen gebruik haar gedigte, illustrasies en kuns én haar optredes om voortdurend op die samelewing te reflekteer. Daarin deel sy die opvattings van die Duitse filosoof Peter Sloterdijk oor kynisme. Kynisme verwys na provokasie sonder formele mag. Dit staan teenoor cynisme of magsdenke. Die kritikus Arjan Peters skryf oor haar oeuvre: “Zware dingen licht maken, transparant, grappig, zonder de ernst te smoren, dat is altijd Van Leeuwens kracht geweest, en dat adagium is ze trouw gebleven.”

 Sy self verkies dit om te skryf vanuit die onbevange blik van ’n kind. Een van haar bekendste kindergedigte is “Heppie”uit die digbundel Ozo heppie en andere versjes (2000). Haar poësie vir jonk en oud straal ’n energieke teenwoordigheid uit. Sy sê: “Hier en nu aanwezig zijn, aldoor voor de eerste keer, die sensatie wil ik met poëzie oproepen.”

Dit is nie Van Leeuwen se eerste besoek aan Suid-Afrika nie. Sy was in Oktober–November 2005 saam met Anna Provoost en Jean-Pierre Rawie op ’n lesingtoer in die noordelike dele van die land: Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein. Met haar komende besoek aan Woordfees sal sy waarskynlik ’n sensasie by haar gehoor oproep van “hier en nu aanwezig zijn”.

Sy is gekant teen die formele onderskeid tussen kinder- en jeugliteratuur en letterkunde aan volwassenes. Dit is dan ook verdeksels moeilik om dit te onderskei in die meeste van haar werk. Is onderstaande gedig, wat as individuele gedig met die Herman de Coninck-prys in 2007 vereer is, nou vir kinders of vir volwassenes bedoel?

Andermans hond

Ik ging niet wandelen met de hond,
de hond ging wandelen met mij.
Kijk, zei hij, kijk, zo doe je dat:
je snuffelt wat, je kruipt eens
onder groen, je doet daar wat je
daar moet doen, je kwispelt -
nee dat kun je niet - loopt achterna
wat vleugels heeft, je rolt je op je
ene zij, je andere zij, je ene zij,
je mond staat op de tocht, je zoekt
in woorden naar een geur, bij grenzen
naar vreemd vocht, hoort woest geroep
van groepen mensen als blaffen aan,
verstaat alleen je naam
en Lig en Koest en Af.

(Uit: Wuif de mussen uit, 2006)

Dit lyk asof Van Leeuwen vanaf haar debuut in 1978 tot aan die einde van die negentigerjare veral kinder- en jeugliteratuur skryf. Gedurende hierdie tydperk ontvang sy talle groot literêre pryse. Een huis met zeven kamers (1979), Deesje (1985), Iep! (1996)en Bezoekjaren (1998) het tien groot pryse verower. Vir haar hele oeuvre word die Theo Thijssen-prys (2000) en ’n Gouden Ganzenveer (2010) toegeken. Met die toekenning in 2000 sê sy: “In essentie is er geen verschil of je voor volwassenen of kinderen schrijft …”

Gedurende die negentigerjare ontvang Van Leeuwen ook die C Buddingh’-prys vir haar poësiebundel vir volwasse lesers: Laatste lezers (1994).Met die begin van die nuwe millennium lyk dit asof sy haar veral begin toespits op volwasse lesers en op romans met Vrije Vormen (2002) en Alles nieuw (2008). Maar nee, sy speel ’n Joker. ’n Boek oor taal vir kinders én ander mense, Waarom een buitenboordmotor eenzaam is (2004), wen weer twee literêre pryse.

Vanaf 2008 tot 2010 was Joke van Leeuwen stadsdichter van Antwerpen. Dis ’n ereposisie. Sy volg mense op soos Tom Lanoye, Ramsey Nasr en Bart Moeyaert.


 

 

Besoek haar persoonlike webwerf.

 

Kyk hoe sy haar woordkaarte voor ’n Londense gehoor skommel.

 

Luister na “Heppie”.