Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

True Grit: ’n konvensionele storie met onkonvensionele karakters


André Crous - 2011-02-24

Untitled Document

Regisseur: Joel Coen & Ethan Coen
Kamerawerk: Roger Deakins
Rolverdeling: Hailee Steinfeld, Jeff Bridges, Matt Damon
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 18 Februarie 2011

Matty Ross is ’n veertienjarige meisie in die Wilde Weste wat haar pa se moord wil wreek deur, met behulp van die eenoog-, halfdronk (of halfmal?), immerpraterige offisier Rooster Cogburn, die moordenaar Tom Chaney op te spoor en voor haar eie vorm van die gereg te bring.
Dis ’n film deur die Coen-broers en selfs al neem dit ’n genre met sekere stywe konvensies en kies dit om dit te gehoorsaam, is dit nogtans ’n storie waarvan nie een van die karakters regtig normaal is in enige konvensionele sin van die woord nie.
Die film se fokus is op die effens vreemde karakters en wys ongelukkig bitter min van die landskap – wat ’n mens sou verwag in ’n film van hierdie aard. Gegewe die ervaring van die film se kameraman, Roger Deakins, wat talle van hul vorige films geskiet het, insluitende No Country for Old Men, sal ’n mens mooi skoon beelde verwag, en dít doen hy wel, maar die inhoud van die beelde is maar bra oninteressant.
Die karakter Cogburn, vertolk deur Jeff Bridges, maak vir ’n taamlik patetiese spektakel soos hy tussen sy tonele rondstrompel op pad om Chaney vas te vang, maar dit is ’n lekker karakter om te sien rondstrompel.


True Grit


Die ster van die film, ’n ware ontdekking, is Hailee Steinfeld as Matty Ross, wie se vasberadenheid en chutzpah ’n mens keer op keer onkant vang (en natuurlik doelbewus só geskryf is deur Joel en Ethan Coen), maar wat ’n sterk anker is in hierdie heel onstabiele vennootskap tussen haar en offisier Cogburn. Ook in haar interaksie met LaBoeuf, die opspoorder, in die vorm van Matt Damon, draai sy nie doekies om nie en lewer die aktrise ’n baie sterk vertolking. Die titel, wat aanvanklik na Cogburn verwys, verwys natuurlik eintlik na haar, en dit is maklik om te sien waarom.
Ek sou graag meer wou hê van die karakter wat Josh Brolin speel (ek sal nie hier verklap wie presies hy uitbeeld nie), maar kan ook verstaan dat die Coens juis sy rol so ver as moontlik wou inperk om op die band tussen Matty en Cogburn te fokus. Hoewel ek hul keuse kan verstaan, dink ek die film skep gevolglik die verkeerde verwagting by die kyker, maar dit is ’n persoonlike saak en baie kykers sal waarskynlik nie hieroor met my saamstem nie.

Die film is nou nie Unforgiven nie (my idee van ’n Wilde Weste-film, wat karakter en landskap in ’n meesterstuk saamsnoer) en het sekerlik sy stadige stukke, maar die Coens se eksentrieke humor is daar om jou aandag te hou en die toneelspel deur die jong Steinfeld is uitstekend. Selfs diegene wat nie gewoonlik sulke films kyk nie, sal vermaak word en wegstap met ’n gevoel dat dit dieper was as wat dit eintlik is.