Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Kortaf: The Tourist se sterre lok toeskouers


André Crous - 2011-02-24

Untitled Document

Regisseur: Florian Henckel von Donnersmarck
Kamerawerk: John Seale
Rolverdeling: Angelina Jolie, Johnny Depp, Paul Bettany, Timothy Dalton
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 7 Januarie 2011

Ek het nie gejaag om by hierdie film uit te kom nie en kon dit maar eintlik gelos het. Die hoofrede waarom ek toe wel gegaan het, was die regisseur, Florian Henckel von Donnersmarck, wat ’n paar jaar gelede die uitstekende The Lives of Others gelewer het. The Tourist, sy eerste Amerikaanse film, het die sterre om toeskouers te lok en ’n eksotiese, weeldebelaaide blik op Venesië, maar nie veel meer nie.

Dit is weer een van daai films waarin Jolie die heeltyd haar mond op ’n tuit trek en die mans in hul spore stop wanneer sy verbyloop. En dit gebeur baie. Eintlik heeltemal te veel. Sy speel die enigmatiese Elise Ward, wat Johnny Depp se karakter, Frank Tupelo, op ’n trein ontmoet en vinnig met hom bevriend raak. Die polisie is egter agter haar aan en kort voor lank is ’n ewe groot kolskoot op sy rug geverf.

Een deurlopende grap, wat meer toeganklik sal wees vir ’n Amerikaanse as ’n Suid-Afrikaanse gehoor, fokus op Tupelo se voortdurende gebruik van Spaans om met die Italianers te praat. Dit is eintlik nogal snaaks – en waarskynlik nie heeltemal onrealisties vir ’n Amerikaanse karakter nie – maar in die halfvol teater waarin ek was, het niemand dit gevang nie.

Dit is ook jammer dat, ten spyte van wat duidelik ’n reusebegroting moes wees, die visuele effekte nog steeds nie goed genoeg is wanneer iemand oor Venesië se teëldakke skarrel nie. Hier, net soos die ewe vergeetlike Heath Ledger-film Casanova, lyk dit baie soos ’n stilfoto wat die agtergrond vervang in die tonele waar Depp in sy nagklere oor die Venesiese dakke gejaag word deur bose Russe.

Die film is maklik om te kyk en nog makliker om te verstaan. Die einde behoort nie veel van ’n verrassing te wees nie, maar die storie bied tog ’n bietjie kortstondige ontvlugting uit die werklikheid. Dis net jammer dat daar ’n oomblik is, reg teen die einde, wanneer woorde in stadige aksie gefluister word – woorde wat ernstig moet wees, maar so belaglik aangebied word dat dit die gehoor lekker laat lag.