Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte verdien slegs ’n halwe loflied


JB Roux - 2011-02-22

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Saamgestel deur Fanie Olivier
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151825
Prys: R165.75

Klik hier en koop Die mooiste Afrkaanse liefdesgedigte nou van Kalahari.net!

 

Vir iemand wat nooit ooghare vir die poësie van die afgelope dekades gehad het nie maar ’n “sucker” is vir die romantiek, is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (vierde, uitgebreide uitgawe, saamgestel deur Fanie Olivier en uitgegee deur Human & Rousseau) dalk die laaste kans om oortuig te word dat die digters van die sestigs en daarna nie hééltemal afgeskryf moet word nie. Gedigte wat lesers se belesenheid en intellektuele vermoëns uitdaag en emosies konstateer pleks daarvan om ’n leser deel daarvan te maak, het net so min bestaansreg soos ’n onbeholpe rymelary. Maar as die sestig-plussers êrens langs die pad iets reg gedoen het – al is dit per ongeluk – sal dit dus in hierdie bundel te vinde wees: die liefde – in al sy duisend vorme – het nog altyd die beste in enige digter na vore gebring.

Olivier gaan haal sy eerste gedig duskant die Sondvloed. 1872, om presies te wees. Die gedig ter sprake is “Dopper Joris en sy seiltjie” deur Pulvermacher. Dié gedig het ek dikwels in bloemlesings raakgeloop, maar nooit regtig meer daarin gesien as ’n lawwigheid wat slegs moet bewys hoe ver die Afrikaanse digkuns die verlede instrek nie. Maar omdat die gedigte in hierdie bundel uiteraard in die konteks van die liefde of verliefdheid gelees moet word, het hierdie gedig vir die eerste keer werklik sin – as ’n soort heildronk op die liefde. En die eerste van vele aspekte van die liefde wat in dié bloemlesing uitgewys word, word behendig aan lesers ontbloot: humor.

Met dié gedig dek Olivier ’n Valentynstafel soos min, met kerslig, vonkelwyn en ’n enkele donkerrooi roos in ’n kristalvaas ... en soveel heerlikhede om na uit te sien. Hoeveel (dalk onverwagse) aspekte van die liefde gaan nog in hierdie boek blootgelê word? En hoeveel gedigte is daar nog wat eers met hul insluiting in hierdie bloemlesing tot hul reg gekom het?

Ná die berekende ligsinnigheid van “Dopper Joris” bewys die samesteller sy erns met die insluiting van AG Visser se “Rosa Rosarum” (1925). My eerste kennismaking met dié gedig was in ’n stowwerige klaskamer in standerd 7, toe “Rosa Rosarum” as voorgeskrewe gedig aan ’n groepie lomerige leerders voorgehou is. Die herontmoeting is stroopsoet. Trouens, daardie eerste versreëls het in die loop van die jare in my brein bly vassteek:

Kom na my tuin waar donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag ...

Towerwoorde wat ’n mens lus maak om lief te hê. En ’n voorloper van die dertigerjare, toe verse geskryf is wat ’n mens vir ewig wou onthou. Toe poësie nog aan “die mense” behoort het en daar veral geskryf is oor dinge wat saak maak – soos die liefde.

“Rosa Rosarum” word opgevolg deur Toon van den Heever se “Haelwit gestapelde wolke”. Dan is dit die een klassieke vers ná die ander. NP Van Wyk Louw is, soos ’n mens sou verwag, goed verteenwoordig, met immergroen gunstelinge soos “Kom vannag in my drome”. Die verganklikheid van die liefde – dat selfs dít wat so onverwoesbaar is, kan sterf – is ’n aspek wat goed belig word in Van Wyk Louw se “Dat alle liefde” en Eybers se “Eerste liefde”. ID du Plessis se soms melankoliese en verganklike verse is hartverskeurend mooi.

WEG Louw lui die 1940’s in. Veral “Bevryding” tref diep. DJ Opperman se “Dank” en “Verlange” hóórt in ’n bloemlesing soos hierdie. Ditto die enkele verse deur Ronnie Belcher wat hier opgeneem is – sy “Aan ’n gestorwe beminde” tref diep.

En wie kan die liefde vindingryker bepeins en besing as Boerneef? “Bantom hom so en flenie die snare”, “Aandblom is ’n wit blom, die Berggans het ’n veer geval” en ander is lankal volksbesit, deels danksy toonsetting deur talentvolle musikante.

Die sestigs behoort – as ’n mens Olivier moet glo – veral aan Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach. Die verse van hierdie twee digters wat hier opgeneem is, bewys helaas dat die liefde ook die slegste in baie digters na vore bring. Jonker se verse openbaar ’n besonderse sin vir ritme, maar lesers vir wie sinvolheid en doodgewone digterlike vernuf en insig net so belangrik is soos toeganklikheid, kan gerus verbyhou (byvoorbeeld “Die môre is jy” en “Daar is net een vir altyd”). Breytenbach kan verál nie deur die liefde nie van ’n banale, geforseerde woordrykheid gered word nie.

Aan die hand van Olivier het ons intussen die sestigs binnegeswerf. En dis asof daar al minder is om oor te juig, met net hier en daar ’n wuiwende dadelpalm in die liefdeswoestyn. Wilma Stockenström se twee 1970-gedigte is werklik treffend. Fanie Olivier beskryf die wonder van jonk én verlief wees akkuraat in “Jeugliefde”.
Van Joan Hambidge is daar ’n hele paar gedigte ingesluit: oor die liefde het sy nie regtig iets te sê nie, maar sy sê dit in elk geval. Maar wie kan ’n vers so mooi laat sing soos Marlene van Niekerk? Haar drie 1972-gedigte (“Lenteliedjie”, “Berusting” en “Ek weet vanaand”) is elk ’n hoogtepunt op sy eie. Pieter van der Lugt se bronstigheid is groot pret. George Weideman se “En nou het alles winter geword” (1987) verdien vermelding, asook TT Cloete se “Vrou” (1998). Gert Vlok Nel se “Beautiful in Beaufort-Wes” (1999) is veel, veel treffender op papier as wanneer dit oor die radio uitgeteem word.

Hans du Plessis se Griekwa-liefdesverse (ongelukkig is net twee opgeneem) en Petra Müller se subtiele maar skerp woordspel is al wat oorbly.

Vir dié bygewerkte uitgawe kon die samesteller gerus iets van Riana Scheepers ingesluit het (verkieslik ten koste van iemand soos Carina Stander, wat hier heeltemal oorverteenwoordig word) en selfs ’n gedig of twee deur Jelleke Wierenga: ’n skootjie sinisme doen meer goed as kwaad, selfs hier rondom Valentynsdag. Maar die uitblinkers is in die minderheid indien ’n mens die aantal digters wat die afgelope vyftig jaar gepubliseer het, in ag neem.

Aan die ander kant: dis maklik genoeg om deur die sterk, forse poësie van die laaste helfte van die vorige eeu verlei te word, om jou hart te verloor op gedigte wat rym en sing. Dis dalk tyd om te swig voor die uitdaging van poësie wat op die oog af vlugtig en selfs onbenullig lyk, kleurloos en swak; en om – wie weet – verras te word.

Of dalk ook nie.

Die mooiste liefde, lyk dit my, is verby. Net hier en daar stuiptrek dit nog.

En Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte verdien slegs ’n halwe loflied.