Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Lughawe (Cape Town International)


Loftus Marais - 2011-02-22

Lughawe (Cape Town International)


iets word hier gevier
dis selfs in die dieng-dieng-dieng voor die afkondigings
in die chirpy gepiep van bagasietrollies

’n holte vol eggo’s, afwagting en té veel helderte
feestelik maar ingehou soos in ’n eksklusiewe hotelkroeg
die lui elegansie van die roltrappe

al is daar ’n vreemdheid in die kliniese skynsels
(altyd iets hier van die hospitaal)
en in die enjindreunings deur die uitkykvensters
(is dit net ék wat graag ’n CNN-waardige lugramp
met my eie oë wil sien?)
pla dit maar min:

almal bevestig verbintenisse
belig deur kameraflitse en die departure-skerm wat gloei
groepies lag-lag deur die skuifdeur
wat hier gebeur gebeur op die geraas van restaurantjies
daar is twee wat vry daar langs ’n dik pilaar

bousel van kurwes, skuinstes, vensters, klank
wat sê ’n plek soos dié?
’n teenstrydigheid van dramátiese afmetings:
o vaste fort van vlietendheid!
aanskou die tempel van die heen en weer!

of dalk sê dit net: ons maak maar die meeste
van die afskeide
wat ons darem kan beheer