Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Trimalchio se fees – ’n Fragment uit Petronius se Satirikon


Johann de Lange - 2011-02-16

Die derde dag het uiteindelik aangebreek, en daarmee saam die vooruitsig van ’n vry ete. Maar ons was so verinneweerd dat ons eerder wou weghardloop as rus. Terwyl ons bedruk besig was om te beraadslaag oor hoe om die komende storm te vermy, het een van Agamemnon se slawe ons onderbreek.

“Wat’s fout? Weet julle dan nie wie’s vandag julle gasheer nie? Dis Trimalchio – ’n uiters elegante man … Hy het ’n waterhorlosie in sy eetkamer en ’n trompetblaser in volle kostuum op roep, sodat hy te eniger tyd presies weet hoeveel van sy lewe reeds verby is.”

Ons het onmiddellik ons eie probleme vergeet, keurig aangetrek en Giton, wat gaaf genoeg was om as ons dienskneg diens te doen, gevra om ons na die baddens te vergesel.

Terwyl ons in ons aandklere rondgestap het – of eerder grappe loop en uitruil het terwyl ons tussen klein groepies sirkuleer – het ons meteens ’n bles ou man in ’n bloedrooi soldatebaadjie teengekom wat saam met ’n klomp langhaar-seuns bal gespeel het. Dit was nie soseer die seuns wat ons oog gevang het nie – hoewel hulle dit deeglik werd was – as die pater familias self. Hy het in sy pantoffels aandagtig met ’n prei-groen bal staan en speel. As die bal die grond getref het, het hy dit nie opgetel nie, maar ’n slaaf met ’n sak vol balle het telkens ’n nuwe bal vir die spelers aangegee. Ons het ander eienaardighede opgemerk: Daar was twee eunugs op verskillende plekke in ’n sirkel opgestel; een van hulle het ’n silwer kamerpot vasgehou; die ander het die balle getel – nie dié wat die spelers oor en weer na mekaar geslaan het nie, maar slegs dié wat op die grond geval het!

Terwyl ons besig was om die uitspattigheid van hierdie toneel te bespreek, het Menelaus vinnig nader gekom.

“Dis die man wat vanaand die ete gee,” het hy gesê. “Wat julle nou sien, is maar net die aanloop tot die partytjie!”

Menelaus se woorde was skaars koud toe Trimalchio sy vingers klap as teken vir die eunug om vir hom die kamerpot uit te hou terwyl hy aanhou speel het. Met sy blaas geledig het hy water vir sy hande gevra, dit liggies oor sy vingers gespat en hulle op die kop van ’n jong slaaf afgedroog.

Daar was nie tyd om alles in te neem nie, en ons het by die baddens ingegaan. Die oomblik toe ons begin sweet, het ons na die koue swembad beweeg. Trimalchio, reeds deurweek met parfuum, was besig om afgedroog te word, nie met linne nie, maar met Griekse serpe van die sagste wol. Reg voor hom was drie masseurs besig om hulle aan ’n delikate Falerniese wyn te vergryp. Toe hulle in die geskarrel die meeste van die wyn uitstort, het Trimalchio opgeruimd opgemerk dat dit “’n plengoffer tot sy eer” was.

Hy is voorts in ’n skarlaken kleed toegewikkel en op ’n draagbaar geplaas. Vier draers wat van die versierings gewemel het, het voor hom verby gepronk met ’n waentjie waarop sy gunsteling gery het – ’n seun nie meer in sy fleur nie, met pofferige oë, en selfs nog leliker as sy meester. Toe Trimalchio uitgedra word, het ’n musikant met ’n klein fluit tot langs hom gehardloop en – asof hy ’n geheim in sy oor gefluister het – die hele pad vir hom gespeel!

Heeltemal verstom het ons ’n pad na die deur gebaan met Agamemnon. By die ingang het ons ’n kennisgewing gesien:

ENIGE SLAAF WAT DIE PERSEEL SONDER TOESTEMMING
VAN SY MEESTER VERLAAT,
SAL EEN HONDERD SWEEPSLAE KRY

Binne het ’n deurwag gestaan, volledig in groen geklee, met die uitsondering van ’n kersierooi gordel om sy middel. Hy was besig om ertjies in ’n silwer bak te pel. Bokant die deurkosyn het ’n goue kou gehang met ’n kakelbont ekster wat die gaste met die binnekoms begroet het.

Omdat ek in totale verstomming hierna gestaar het, het ek byna agteroor geval en ’n been gebreek. Want net links van die ingang (nie ver van die portiershokkie nie), was die mees enorme hond aan ’n ketting vasgemaak – op die muur geskilder onder swart letters wat gelees het:

PASOP VIR DIE HOND

My vriende het vir my gelag, maar ek het gou weer my asem teruggekry en na die res van die muur gekyk. Dit het ’n slawemark uitgebeeld, kompleet met prysetikette. Trimalchio was self ook in die skildery: Sy hare is lank en in sy hand hou hy die staf van Mercurius vas. Ons held word deur Minerva Rome binnegelei. ’n Baie puntenerige kunstenaar het met groot sorg die hele gang van Trimalchio se loopbaan uitgebeeld, volledig met onderskrifte: hoe hy vir die eerste keer rekenkunde geleer het en later in beheer van die geld geplaas is. In die laaste toneel van die fresko lig Mercurius hom aan die ken op na ’n verhewe troon. Fortuna met haar horing van oorvloed is aan sy sy, terwyl die drie Skikgodinne besig is om hulle goue drade te spin.

Ek het ook in die nabygeleë kolonnade ’n groepie atlete opgemerk, besig om te oefen saam met hulle afrigter. In die hoek het ’n imposante kabinet gestaan: Daarbinne was ’n klein skryn met beeldjies van die huisgode in silwer, ’n marmerfiguur van Venus, en ’n goue kissie - glad nie so danig klein nie - waarin, so het hulle my vertel, die huisheer se eerste baard bewaar word.

Ek het die kelner gevra wat hulle in die atrium geskilder het.

“Die Iliad en die Odyssee,” het hy gesê, “en die gladiator-skou wat Laenas aangebied het.” Dit was te veel om te kontempleer …

Ons het reeds die eetvertrek bereik. In die ingang was ’n boekhouer besig om rekeninge deur te kyk. Maar wat my oog gevang het, was die roedes en byle op die kosyne gemonteer. Hulle is gemonteer bo-op wat gelyk het na die bronsboeg van ’n skip met die volgende inskripsie daarop:

OORHANDIG AAN C. POMPEIUS TRIMALCHIO
PRIESTER VAN DIE KOLLEGE VAN AUGUSTUS
DEUR CINNAMUS DIE HOFMEESTER

Onderaan hierdie inskripsie was ’n dubbele lamp wat van die plafon gehang het en twee houttablette, een op elke deurkosyn. Ek verbeel my een van hulle het gelees:

ONS GAIUS EET UIT
OP DIE 30ste en 31ste DESEMBER

Op die ander een was die fases van die maan en beelde van die sewe planete geverf; gelukkige en ongelukkige dae is aangedui met stuitpennetjies van verskillende kleure.

Nadat ons genoeg van dié interessanthede gehad het en gereed was om die eetvertrek binne te gaan, het ’n slaaf – kennelik vir dié doel aangestel – “Regtervoet eerste!” uitgeroep. Ons was vir ’n oomblik heeltemal uit die veld geslaan vir ingeval een van ons die een of ander faux pas sou begaan het. Maar net toe ons almal ons regtervoete in gelid vorentoe beweeg, het ’n slaaf – met sy rug kaal gestroop vir ’n geseling – hom voor ons neergewerp en gepleit dat ons hom moet red. Hy was in die moeilikheid oor iets onbenulligs, het hy ons vertel – die rentmeester se klere, kwalik tien sesterces werd, is by die baddens gesteel. Ons het ons regtervoete teruggetrek en ons beroep op die rentmeester waar hy in die voorportaal besig was om goue munte uit te tel.

Hy het sy kop hooghartig gelig: “Dit is nie soseer die verlies wat my grief nie,” het hy gesê, “maar dié hopelose slaaf se nalatigheid. Dit was mý aandklere wat hy verloor het, ’n verjaarsdaggeskenk van ’n kliënt, natuurlik getint met die beste Tireense purper. Ek gee toe dat dit reeds een keer gewas is. Wel, wat kan ek sê? Hy’s julle s’n.”

Dankbaar vir die boekhouer se milddadigheid het ons nou die eetvertrek binnegegaan. Op daardie oomblik het die slaaf wat ons so pas gered het, nader gehardloop, ons met soene oordek en ons bedank vir ons goedheid.

“Luister,” het hy gefluister, “julle sal netnou sien wie dit is wat julle bevriend het: die huisheer se wyn, met komplimente van julle kelner!”

Ten einde laaste het ons ons plekke ingeneem. ’n Klompie slawe van Aleksandrië het gesmelte yswater oor ons hande gestort, terwyl ander na ons voete omgesien het en ingroeitoonnaels met groot bedrewenheid geknip het. Selfs nie eens hierdie onaangename taak is in stilte verrig nie: Hulle het al werkende gesing. Ek wou uitvind of die hele personeel gesing het, en het vir ’n drankie gevra. Byna oombliklik het ’n slaaf in ’n skril sopraanstem reageer. Elke versoek is beantwoord met sang. ’n Mens sou eerder dink dat jy jou in ’n pantomime bevind as ’n formele eetkamer. Hulle het nietemin ’n uitstekende antipasto bedien. Almal het teen dié tyd al hulle plekke ingeneem, met die uitsondering van Trimalchio, wat, na die jongste mode, vir homself die prominentste plek aan die hoof van die tafel gereserveer het.

Op ’n skinkbord met hors d’oeuvres het ’n esel van Korinthiese brons gestaan met twee saalsakke volgestop met olywe, wittes aan die een kant en swartes aan die ander. Aan weerskante van die esel was twee borde; hul gewig in silwer en Trimalchio se naam op die rand gegraveer. Op bruggies aan die borde vasgeheg, was waaierstertmuise besprinkel met heuning en papawersaad. Daar was selfs worsies wat geknetter het op ’n rooster gebuig oor pruime uit Sirië en granaatpitte.

Ons was in die middel van hierdie lekkernye toe Trimalchio self onder trompetbegeleiding ingedra en op ’n fort van styfgestopte kussings neergesit is – ’n gesig wat verbaasde gelag onder die gaste ontlok het. Want sy gladgeskeerde kop het bo ’n skarlakenmantel uitgesteek, en om sy goed toegewikkelde nek het hy ’n serp met ’n breë streep senatoriale purper gedraai met tossels hier en daar. Aan die pinkie van sy linkerhand het hy ’n swaar goue ring gedra, en om die laaste geleding van sy ringvinger ’n kleiner ring wat gelyk het asof dit van soliede goud kon wees, maar in der waarheid met klein ystersterretjies ingebed was. Dié tentoonstelling van sy juwele het egter nie daar geëindig nie; sy ontblote regterarm was versier met ’n goue armring en ’n ivoor-armband wat sluit met ’n blink metaalplaatjie.

Nadat hy sy tande met ’n silwer tandestokkie skoongemaak het, het hy begin: “My vriende, ek was nie lus om nou al na die eetkamer toe te kom nie, maar eerder as om julle langer te laat wag, het ek myself alle genot ontsê. Maar julle sal my ten minste toelaat om my spel te voltooi.”

’n Jong slaaf het kort op sy hakke gevolg met ’n bord van terpentynboomhout en dobbelsteentjies van kristal. Dis toe dat ek die uitspattigste besonderheid nóg opmerk – in stede van die gewone wit en swart telsteentjies het hy goue en silwer munte gebruik. Terwyl hy al kletsende gespeel het, en ons aan die hors d’oeuvres gesmul het, is ’n skinkbord met ’n mandjie daarop ingebring. Daarbinne het ’n hen van hout gesit, haar vlerke in ’n sirkel uitgesprei soos wat henne doen wanneer hulle op eiers broei. Twee slawe het vinnig nader gekom en terwyl die orkes voortspeel, het hulle tussen die strooi begin soek en pouwyfie-eiers uitgegrawe wat hulle onder die gaste uitgedeel het.

Trimalchio het dié toneel gadegeslaan en gesê: “Vriende, ek het pou-eiers onder daardie hen laat sit. Om julle die waarheid te vertel, ek weet nie of hulle alreeds bebroeid is nie. Kom ons kyk nietemin of hulle nog uitgesuig kan word.”

Ons het ons lepels opgeneem – elkeen moes ten minste ’n halwe pond geweeg het – en die eiers, wat deur ’n delikate tertdeeg bedek was, daarmee getik. Ek was op die punt om myne weg te gooi aangesien dit gelyk het of daar reeds ’n kuiken in was. Toe het ek ’n gas wat al ’n ou hand was, hoor sê: “Ek is seker daar’s iets lekkers binne!” Dus het ek my vingers deur die dop gedruk en die plompste klein vy-etertjie gevind, gemarineer in gepeperde eiergeel.

Aangesien sy spel nou onderbreek is, het Trimalchio vir homself dieselfde disse bestel en in ’n luide stem aangekondig dat enigeen wat ’n tweede glas aperatif wou hê, dit kon kry. Toe, skielik, op ’n musikale aanwysing, is ons hors d’oeuvres blitssnel weggeneem deur ’n rei singende slawe. Te midde van al die bedrywigheid is een van die disse per ongeluk op die vloer laat val en vinnig deur ’n slaaf opgeraap. Trimalchio het dit gesien, die slaaf ’n oorveeg of twee laat gee, en hom beveel om dit weer op die vloer neer te gooi. ’n Huisslaaf het verskyn en begin om die silwerware saam met die res van die gemors op te vee. Toe het twee Ethiopiërs met lang hare binnegekom met wynsakkies – soos dié wat gebruik word om die sand in die amfiteater mee klam te maak – en wyn oor ons hande gegiet. Niemand het eens water aangebied nie.

Ná ’n kompliment oor die diens het Trimalchio geantwoord: “Mars hou van ’n gelyke speelvlak. Dus het ek elke gas sy eie tafel toegewys. Op dié manier sal die gewerskaf van hierdie stinkende slawe ons nie soveel hinder nie.”

Wyn in sorgvuldig verseëlde bottels is volgende bedien; geheg aan die nekke was etikette:

FALERNIESE WYN
GEBOTTEL IN DIE KONSULSKAP VAN OPTIMUS
EEN HONDERD JAAR OUD

Terwyl ons besig was om die etikette te bestudeer, het Trimalchio sy hande geklap en uitgeroep: “Hoe jammer tog! Selfs ’n bottel wyn oorleef ’n sterflike mens. Dus, laat ons die dak natmaak, vriende. Wyn is lewe – en hiérdie wyn is egte Opimiaanse wyn! Ek het niks so spoggerigs gister bedien nie, en die gaste was van ’n beter stand.”

Ons was besig om die wyn te drink en al die oordaad van die fees met smaak te geniet toe ’n slaaf ’n silwer skelet ingebring het so los in die litte dat sy ledemate in alle rigtings geswengel het. Hy het dit terstond verskeie kere op die tafel neergegooi. Elke keer het die bengelende ledemate in ’n ander patroon geval. Trimalchio het hierop ’n vers versin:

Helaas! Wee ons! Weldra is ons niks;
kry Hades ons eers beet, is als verby;
so leef jou beurt ten volle, want aanstons is jy kis.

Ons applous is gevolg deur ’n dis wat teleurstellend klein was, maar so aardig dat almal daarna gestaar het. Op ’n ronde silwer skinkbord is die twaalf sterretekens in ’n sirkel gerangskik. Bo-oor elkeen het die chef die soort kos geplaas wat by die aard van die sterreteken pas: oor Aries die ram, ’n vertakkende ertjie; op Taurus die bul, ’n geroosterde kruisstuk; oor Gemini die tweeling, teelballe en niertjies; op die Krap, ’n blommekrans; oor die Leeu, ’n geil Afrika-vy; op Virgo, die baarmoeder van ’n onvrugbare sog; oor Libra, ’n weegskaal met ’n kaaskoek aan die een kant, gebalanseer deur ’n pannekoek aan die ander kant; op Scorpio, die skerpioenvis; op Sagittarius, ’n seeperd; op Capricorn, ’n kreef; op Aquarius, ’n eend; op Pisces, twee snappers. In die middel van dit als was ’n stuk turf, uitgepluk met wortels en al, met ’n heuningkorf bo-op. ’n Jong Egiptiese slaaf het brood in ’n silwer konfoor aangebied … terwyl ons heer en meester kliphard ’n deuntjie uit die gebarespel The North African Quack in ’n aaklige stem gesing het.

Ons het mistroostig na dié skamele maal gekyk toe Trimalchio meteens sê: “Asseblief, laat ons eet. Hierdie is maar net die aanhef tot ons ete.”

Terwyl hy dit sê, het vier dansers op maat van die musiek opgespring en die deksel van die volgende dis afgelig. Binne was ’n klompie pluimvee en sog-uiers en ’n konyn versier met vlerke om te lyk soos Pegasus. By die vier hoeke van die dis was daar vier standbeeldjies van die sater Marsyas; vanuit hulle wynsakke het ’n pepersous oor visse gevloei sodat dit gelyk het of dié in ’n kanaal swem. Ons het almal gedeel in die applous wat van die slawe se kant af gekom het, en ons glimlaggend aan die uitsoek-items gehelp.

En Trimalchio, nes ons geamuseer deur die snaaksighede, het uitgeroep: “Snyman!” ’n Slagter het oombliklik verskyn, en, met arms wuiwend op maat van die musiek, die vleis begin opsny. Dit het mens laat dink aan ’n strydwa-drywer wat veg op die maat van ’n waterorrel. Trimalchio het hom bly aanmoedig, en bly mompel: “Sny-man! Sny-man!” Ek het vermoed dat dit die een of ander soort private grap is, en dus was ek nie skaam om die man langs my daaroor uit te vra nie. ’n Ou hand by dié soort speletjies, het hy gesê: “Sien jy die man wat die vis kerf? Sy van is Snyman. So, elke keer as Trimalchio die woord “Snyman” sê, is hy besig om gelyktydig sy naam te sê én hom bevele te gee!”

Ek was heeltemal versadig. Dus wend ek my na my tafelgenoot en begin hom vir inligting te pols deur te vra wie die vrou is wat heen en weer in die eetvertrek skarrel.

“Trimalchio se vrou,” het hy gesê. “Haar naam is Fortunata, en sy tel haar skatte by die ton! En wat was sy die dag vantevore? Laat ek reguit wees: Jy sou nie eens brood uit haar hand aanvaar het nie. Maar nou – die Here alleen weet hoekom en hoe – is sy soos ’n sog in modder en Trimalchio dink die wêreld van haar. Kyk, as sy sê dag is nag, sal hy dit glo. Trimalchio is self so ryk hy ken nie die einde van sy skatte nie. Maar dié teef weet dit als vooruit; is altyd eerste by die trog. Sy’s ’n taai kalant, koelkop en straatwys – dis goud net waar jy kyk. Maar sy het ’n boosaardige tong – ’n regte feeks. As sy van jou hou, hou sy van jou; as sy nié van jou hou nie, wel, dan’s dit dít. En Trimalchio? Sy eiendomme strek so ver as die kraai vlieg – geld maak geld! Hy het meer silwer wat rondlê in die portiershuis as wat ander ouens in hulle totale besit het. En slawe? Die hemel weet, ek dink nie eens een uit elke tien weet wie sy eienaar is nie. Luister, hy kan enigeen van hierdie jong hot shots verkoop sonder om die verskil agter te kom.

“Nie dat hy enigiets koop nie. Alles word self gekweek: wol, suurlemoene, peper – wat ook al. Soek jy henne-melk, sal jy dit hier kry. Byvoorbeeld, sy eie wol was nie na sy sin nie, toe koop hy ramme uit Suid-Italië en laat hulle los tussen sy ooie. Hy wou op ’n keer tuisgekweekte Attiese heuning hê, dus het hy bye van Athene laat kom; op dié manier het ook die plaaslike bye daarby gebaat. Man, net die ander dag nog het hy ’n bestelling geplaas vir sampioen-spore – uit Indië! Hy sal dit nie eens oorweeg om ’n muil in sy besit te hê tensy dit deur ’n wilde esel verwek is nie. Sien jy hierdie kussings? Selfs die stoffering is purper of skarlaken gekleur! Nou dís wat ek gelukkig noem!

“Maar moenie op hierdie ander eks-slawe neersien nie. Hulle is stinkryk. Sien jy die man aan die punt van die laaste tafel? Hy het agt honderd duisend rand in die bank. Hy’t met niks begin nie. Om die waarheid te sê, hy het vroeër hout op sy rug rondkarwei. In elk geval, hulle sê – ek weet nie, dis wat ek gehóór het – hulle sê hy het ’n dwerg se pet van sy kop afgepluk en sy skat ontdek! Ek gun elkeen sy gelukskoot. Maar noudat hy sy vryheid het, is hy vasberade om sy lewe te geniet. Hy’t ’n kennisgewing op sy ou plek laat aanbring wat sê:

DAKKAMER VAN C POMPEIUS DIOGENES
TE HUUR VANAF DIE EERSTE JULIE:
HY BESIT NOU HIERDIE HUIS

Vir wat dit saakmaak, die ou in die vryburger se stoel daar het dit goed met die heelal getref – nie dat ek hom daarvoor blameer nie. Hy het sy hande op ’n miljoen gehad, maar dit tussen sy vingers laat deurglip. Ek dink hy besit nou nie eens sy eie hare nie! Dis nie sy skuld nie, die vader alleen weet. Jy sal nêrens ’n aangenamer vent raakloop nie. Die een of ander vryburger het ’n slag ten koste van hom geslaan.”

[Vertaal deur Johann de Lange]