Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf

Om afgegooi te word


Deborah Steinmair - 2011-02-16

My eerste liefde was ’n probleemperd. Sy vaar en moer was skouperde, maar iets het skeefgeloop by sy geboorte. Tellstar het ’n paar skroewe los gehad. As hy ’n kar was, sou ’n mens sê daar was ’n klopgeluid in die enjin. Hy was ’n rooibruin, kleinerige, nukkerige en onafrigbare perdjie. Dus het ons hom vir ’n appel en ’n ei gekoop. En ek het geleer klou soos ’n waagarties in ’n swierige tweedehandse cowboysaal met vashouplek voor en agter. Van waardigheid in die saal was daar min sprake. Die versteurde reun het viervoet vasgesteek voor slote, waterstrome en stompe. Luierig gedrentel en soms met groot geskud aan die draf gegaan. Geskrik vir skaduwees en dramaties op sy agterpote gaan staan, voorpote tastend in die lug. Oë rollend in die kaste. Dan weer kragtig agterop geskop. Draai ons om, het hy sy ore platgetrek en oop- en toegemaak huis toe.

Daar was dae wanneer ek maar met toom in die hand weggestap het van die kampie. Vandag sou daar nie gery word nie. Dan het hy my met waansinnige glinstering in die oog, waarvan daar baie wit sigbaar was, agternagekyk, tande ontbloot, boude agteropskoppend.

Elke rit was ’n wilsbotsing. Sy wil was veel sterker as myne. Boonop het hy meer perdekrag gehad. Ek was die sak patats in die saal. Maar ek het waardevolle lesse geleer wat my nou nog bybly.

Partykeer verander ’n mens se lewe voor jou oë in ’n country ’n western-liedjie, waar die sniksanger se hond doodgaan, hy sy werk, sy vrou en kind en die klere aan sy lyf verloor. Of in die song waar Bobby McFerrin jou maan om jou nie te kwel nie en happy te wees: “The landlord phoned, the rent is late, he may have to litigate …”

Onlangs het Kaapstad my afgeskop. Uit die saal gegooi. Klim onmiddellik weer op die perd wat jou afgegooi het, lui die volkswysheid. Maar dit is nie altyd waar nie. Soms moet mens jou waardigheid afstof en wegstap. Môre is nog ’n dag. Jy trek jou eie ore ook plat en klou soos ’n neet so lank jy kan, maar wanneer die wegholperd jou teen ’n doringstruik afkrap soos ’n roof, gee jy maar bes. Miskien voer die dag iets beter in die mou vir jou. Miskien is die mal perdjie se gemoed môre kalmer. ’n Mens kan nie teen donderweer poep nie.

Nou sit ek in ’n ander provinsie en verlang na die terloopse blou van die see in die hoek van my oog, maar veral na die onverstoorbare teenwoordigheid van Tafelberg. Na skemerige koffiekroë en soesji-toonbanke. Ek het Kaapstad liefgehad, maar sy was min gespin, behalwe deur die Suidooster. Sy is temperamenteel en kort van draad en het ontelbare minnaars; ’n duisend hartstogtelike digters, skrywers en afgelegde joernaliste is haar pryssangers. Nou plak ek in die binneland. Omstandighede vir oorlewing is in hierdie oomblik gunstiger hier. En die donderstorms en die malse reuk van klam grond is ruim kompensasie.

Ek het toe nooit ’n sierruiter in die sirkus geword nie, maar die sigeunerbloed vloei dik. Ek het handomkeer my tentpenne uitgeruk en in die wa geprop. Die Groot Trek herhaal. Ek sien dit as ’n sabbatsjaar.

Ek sit voor die rekenaarskerm en luister na die muse. Terwyl sy keelskoonmaak, speel ek met die linkerhand solitaire. The only game in town. Ek speel tot daar ’n venstertjie opspring: “There are no more possible moves.” Ek was al dikwels in skaakmat, met alle opsies uitgeput. Maar soos ’n kat land ek telkens op my voete en vind ’n agterdeurtjie uit die doodloopsteeg.

My oupa het glo by geleentheid van my ma gesê: “Dingi sal altyd ’n wenperd opsaal.” En so was dit ook. Ek, daarenteen, saal gereeld mal perde op. En wat het ek daarvoor? Die uitsig is lieflik vanaf die ongetrapte pad. Kronkelpaadjies is vol materiaal vir woordsmede.

Ek sal terugklim op die probleemperd. Sy oë sal rustig word in hul kaste en ons sal, perfek gesinchroniseer, die pienk sonsondergang in galop.

Aanhou beweeg en geraas maak, het Jan Rabie gesê. Hou hierdie ruimte dop.