Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Pastoor Galtrol


Jason Lloyd - 2011-02-16

Hy sit skielik die draadloos af. Die gesalfde van God kan nie lekker lees nie. Die musiek irriteer hom – al sing die dame so roerend en aangrypend mooi. Hy sit orent en bring die koerant nader aan sy gesig. Met sy dikraambril wil hy beter lees, want die storie gryp sy aandag. Dit gryp hom aan die bors.

Binne-in die huis is dit nou doodstil, so stil soos dit gewoonlik op ’n Sondagoggend is. Dit was na die oggendkerkdiens. Buite was daar ’n ligte windjie uit die suide. Die lug was besaai met wit wolkvliese en die son het nou en dan onder die wolke uitgeloer.

Die volksopstande in Tunisië en Egipte teen die regering laat pastoor Galtrol glimlag. Mooi so, nou net ou Robert uit die kussings lig, dink hy. Die dood is egter ’n nare ding. Vroue word gedood en kinders dwaal wees rond. Die doodslag moet gestop word.

Vir pastoor Galtrol is die Here nog baie goed. En aan Sy liefde is daar geen einde nie. Hy leef nog alte lekker en preek nou en dan die kinders en die se ma’s aan die huil. Vir die tweede kans op aarde is hy baie dankbaar. Die spesifieke aand was hy skoon uitasem nadat hy die doodsengel in sy spore gestuit het.

“Hoe nou, pastoor Galtrol? Hoekom sit en dink jy nou so ingedagte?” vra oom Kallie.

Oom Kallie, die buurman, kry sy sit oorkant die pastoor langs die ou denneboomtafel met sy twaalf stoele.

“Jy weet, oom Kallie, as die tafel en die klompie stoele kon gepraat het, sou hulle nou die storie vir jou vertel het. Die tafel ken per slot van rekening te veel stories; heeltemal te veel. Die tafel het geluister toe ek vir die vrou vertel het.”

Oom Kallie sit gereed in afwagting op die storie.

“Ek het eers vir die vrou vertel toe ons hier in Riversdal kom nes skop het,” vertel die pastoor. Sy stem vertel waarvandaan die Galtrolle kom. Aan sy praat kan jy dit hoor: hy is van “Kaka-maas” se mense; die Noord-Kaapse geaardheid loop en galop in sy bloed. “Ja, ek en dr Boesak is van een plek afkomstig; dié dat die mense sê ek en hy preek so mooi dieselfde.

“Die oggend in die hospitaal het ek alles met die vrou bespreek; die testament en in trane vir haar en die kinders gegroet. My horlosie in my borskas was klaar, het die dokter gesê.

“Die aand was die doodsengel daar. Toe kyk hy vir my en wys vinger. Toe sy doodstraal my kooi tref, was ek weg. Soos ’n resiesperd het ek oor ses siekes in die saal uit by die deur gespring.

“Met my terugkeer was al ses die pasiënte dood. Ek het die dood vir ’n wyle oorwin.”

“Pastoor, jy is mos ’n moordenaar,” sê oom Kallie. Nou gaan jy reguit na Stortkop se kunsmatige hemel.