Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Strydbare skrywers … soos Grunberg


Carina van der Walt - 2011-02-15

Arnon Grunberg (1971) dreig om nie meer vir NRC-Handelsblad te werk nie. Dit gebeur nadat ’n kollega ’n negatiewe resensie geskryf het oor sy tweede roman, Figuranten (1997). Blykbaar was daar nie vir hom én resensent Hans Goedkoop plek op dieselfde redaksie nie. Maar hy trek sy dreigement terug.

 

Arnon Grunberg

Tien jaar later beledig Grunberg die skrywer AF Th van der Heijden in ’n oop brief. Gebelgd dreig Van der Heijden met die uitreiking van die AKO-Literatuurprys 2007 om nie die verhoog met Grunberg te deel nie. Daarna onttrek Grunberg hom aan die openbare literêre lewe in Nederland. Tog versorg hy die Albert Verwey-lesing 2008 aan die Universiteit van Leiden, publiseer hy twee romans en skryf hy steeds ononderbroke vir minstens drie Nederlandse dagblaaie vanuit New York, waar hy tans woon.

Hierdie strydbaarheid is deel van sy lewens- en wêreldbeskouing. Dit is ook dadelik herkenbaar in die Afrikaanse literêre wêreld. Het Breyten Breytenbach nie veglus teen apartheid getoon nie? Met Afrikaans het Breytenbach ’n alombekende liefde-haat-verhouding van waar hy ook al in die wêreld skryf, soos byvoorbeeld vanuit Parys. Dis dieselfde tipe liefde-haat-verhouding wat Grunberg met die Nederlandse literêre wêreld het. Hulle is blykbaar albei skrywers wat grense opsoek, dit uitdaag met rusie en getwis en dan tog weer toegee en skryf: Breytenbach met ’n oersheid in sy dreunsang, Grunberg met gewone Hollandse nugterheid.

Blauwe maandagen

Grunberg se internasionale literêre deurbraak was op 23-jarige leeftyd met Blauwe maandagen. Hierdie sterk outobiografiese roman is in agt tale vertaal en word vandag nog as skreeusnaaks opgesom. Die jong hoofkarakter wantrou en minag sy Amsterdamse liefies. Hy ruil hulle sonder ’n oogknip in soos gebruikte plastieksakke. Blauwe maandagen kry twee pryse: die Anton Wachter-prys (1994) vir die beste debuut en die Gouden Ezelsoor (1994) vir die besverkoopte debuut. Mens kan amper dink dat sukses te vinnig gekom het vir Grunberg; dat dit van hom ’n bedorwe brokkie gemaak het. Sy reaksie op die swak resensie, soos hier bo genoem, versterk hierdie vermoede. Maar wie moeite doen om Grunberg beter te leer ken, ontdek dat worsteling, rusie en twis inherent deel is van hom. Aan die einde van sy puberteit sweer hy byvoorbeeld sy geloof af. Dit gebeur nadat sy Joodse ma Auschwitz oorleef het. Maar anders as hy wend sy enigste suster haar tot ’n streng vorm van Joods-Ortodokse geloof. Familietwis galore.

Grunberg se volgende bekroonde boek was die essaybundel De troost van de slapstick (1998). Daarin verken hy die verhouding tussen die aksie om te slaan en hoeveel geluk jy daaruit kan put. In VPRO Boeken word die bundel bekendgestel met:

Een Amerikaanse baseballspeler werd gevraagd hoe het kwam dat hij toch altijd zoveel geluk had. Hij antwoordde: “Hoe harder ik het geluk sla, hoe meer geluk ik heb.” De vraag is dus: moet je het geluk slaan, of juist niet? En als je het al moet slaan, waar moet je het raken? ... Maar (de essays gaan) ook over de vraag wat wij precies van literatuur verwachten, en of dat alleen esthetische of ethische verwachtingen zijn.

Met De troost van de slapstick word ’n humoristiese ondertoon in Grunberg se werk versterk. Hierdie humor dien byna as ’n soort verligting van die strydbaarheid in sy visie. Jaap Goedegebuure verwys byvoorbeeld na die fyn verwewing van erns en humor in sy romans. Humor skep hy deur droë kommentaar en ’n afstandelike vertellersperspektief. Hy gebruik kontras, ironie, herhaling, oordrywing en understatement. Ek kon byvoorbeeld nie anders as om hardop te lag vir hoe die hoofkarakter in Tirsa (2006) met afgryse toelaat dat sy eks, ná ’n afwesigheid van drie jaar, doodluiters op ’n aand sy badkamer binnestap en sy tandeborsel gebruik nie.

De azielzoeker

Die literêre pryse het al behoorlik vir Grunberg ingereën. Die AKO Literatuur-prys is in 2000 toegeken vir Fantoonpijn en in 2004 vir De azielzoeker. De azielzoeker het ook in 2004 die Ferdinand Bordewijk-prys gekry. In 2007 het ’n volgende roman, Tirza, ook twee pryse gekry: die Gouden Uil en die Libris Literatuur-prys. Sy besbekroonde werke is dus Blauwe maandagen, De azielzoeker en Tirza. In 2009 en 2010 kry hy twee oeuvrepryse, waaronder die Constantijn Huygens-prys.

Grunberg speel ook met sy kritici. Hy toets hulle. Vermoedelik is hy een van min skrywers wat twee keer dieselfde debuutprys gewen het, naamlik die Anton Wachter-prys (1994 én 2000). Die tweede maal was dit vir sy roman De geschiedenis van mijn kaalheid onder die skuilnaam Marek van der Jagt. Sy talent het hulle weer eens raakgesien, ’n kenmerkende styl (nog) nie, ses jaar ná sy eerste debuut.

Tirza

Dis mooi as ’n skrywer sy lesers so op hulle tone kan hou. Moet maar liewers nie probeer om ’n etiket om Arnon Grunberg se nek te hang as so en so ’n skrywer nie, al lees sy romans bedrieglik maklik. Hy sal gou-gou vir jou ore aansit. Daarvoor bly hy strydbaar genoeg!

Klik aan op Arnon Grunberg se persoonlike webwerf om meer van hom te lees:

http://www.arnongrunberg.com.

 





Jongste brokkies

  • Arnon Grunberg het op 22 Februarie 40 geword.
  • Sy jongste roman is Huid en haar (Oktober 2010, by uitgewery Nigh & Van Ditmar).

Ik heb, geloof ik, nog geen boek gelezen van Grunberg dat niet wandelt door de donkere spelonken van het leven. En Huid en haar past in dit rijtje. Dat Grunberg prachtig en humorvol kan verhalen over al die duisternis was al bekend, maar nu voegt hij er ook nog af en toe een vleugje filosofische beschouwing aan toe. Ik hoef de Grunbergfans niet te vertellen dat ook nu weer tot mislukken gedoemde relaties in een stoet aan je voorbij trekken. Er ontstaan hilarische en soms tenenkrommende situaties waarbij je in ieder geval een ding niet kunt, het boek wegleggen. (Quiebus op bol.com)

  • In Augustus 2011 word Grunberg ook akteur. Hy sal een van die drie hoofrolle vertolk in die teaterproduksie Am Ziel van die Oostenrykse skrywer Thomas Bernhard. Grunberg gaan die rol van 'n skrywer vertolk. Die rede waarom regisseur Judith de Rijke vir Grunberg gekies het, verduidelik sy so:

In de tekst van Bernard herken ik schrijver Grunberg. Bernard schrijft dat theater nodig is om het leven draaglijk te maken. Voor Grunberg is het schrijven noodzakelijk om het leven te kunnen leven, denk ik. Ik zie een treffende overeenkomst in hun levensfilosofie. (Kester Freriks, NRC-Handelsblad,28 Februarie 2011, p 11)