Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

127 Hours: Kan jy die klimaks hanteer?


André Crous - 2011-02-15

Regisseur: Danny Boyle
Kamerawerk: Anthony Dod Mantle & Enrique Chediak
Rolverdeling: James Franco
Looptyd: 95 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 18 Februarie 2011

In 2003 het Aron Ralston, ’n jong, spontane, avontuurlustige adrenalienjunkie, in Utah die Wilde Weste en sy klowe gaan verken. Hy het gegly en ’n groot rots het op sy arm geland – ’n rots wat hy nie kon beweeg nie. Vyf dae later het hy daar uitgeloop, lewendig, maar met net een arm oor.

127 Hours is die uitbeelding van Ralston se ontberings, die gedagtes in sy kop oor hierdie fisies en emosioneel uitputtende tydperk waartydens hy seker was hy sal doodgaan. Wat alles natuurlik soveel erger maak, is die feit dat dit werklik gebeur het: Die regte Aron Ralston verskyn teen die einde van die film.

Tydens die openingskrediete word ons aandag daarop gefokus dat Ralston nie sy rooi Switserse knipmes kan opspoor nie en dat hy op die ou end daarsonder vertrek. By die Blue John Canyon aangekom, ontmoet hy twee meisies en stel hy hulle bekend aan ’n unieke ervaring in ’n rotspoel. Vyftien minute nadat die film begin het, wanneer hy heeltemal op sy eie in die bergskeure rondklouter, gly hy en beland die rots op sy arm. Die verbasing op sy gesig is eintlik scary wanneer hy sien wat die situasie is.

Vir die res van die film sal die film hier afspeel, maar regisseur Danny Boyle (wat ook verantwoordelik was vir 2009 se lokettreffer, Slumdog Millionaire), sy kameraspan en veral sy redigeerder verdien hoë lof vir hul boeiende uitbeelding van Ralston se onbeweeglikheid.

Een soortgelyke film waaraan ek kan dink, met ’n enkele hoofkarakter wat homself moet vermaak ten spyte van sy omstandighede, is die 2001-film Castaway, waarin Tom Hanks alleen op ’n eiland vasgevang is met geen hoop om te ontsnap nie. Castaway bevat ’n middelste gedeelte van byna ’n uur waarin dit net Hanks se karakter is wat gebeure op die skerm animeer. Ten minste het hy ’n hele eiland gehad – Ralston is in ’n rotsskeur en kan nie beweeg nie.


Ek wonder dikwels van hoeveel kante af ’n mens in so ’n situasie een enkele akteur kan verfilm sonder dat dit eentonig raak. Boyle en sy kameramanne weet hoe om ons aandag te hou, waarop om te fokus en hoe om ons aandag te vestig op die kleinste hoogtepunte en laagtepunte van Ralston se lewe binne-in sy tydelike tuiste.

Ralston het nooit vir enigiemand gesê presies waarheen hy op pad is vir sy naweek in die buitelug nie en hierdie onwilligheid om sy lewe met enigiemand te deel, het byna tragiese gevolge vir hom gehad. Niemand sou hom opspoor nie en die min mense in sy lewe wat geweet het hy is weg, sou nie weet waar om hom te soek nie. Dit is die een groot sekerte in Ralston se kop – en in ons koppe – regdeur die film.

Soveel as wat Ralston stamp en stoot aan die klip, wil dit net nie beweeg nie. Hy gebruik ’n stomp knipmes om die klip greintjie vir greintjie weg te kerf, maar kort voor lank besef hy dat dit, ironies genoeg, dinge net vererger.

Ralston het twee maniere om homself (en, nog belangriker: óns, die kykers) te vermaak. Hy het sy videokamera, waarmee hy solank boodskappe stuur vir sy ouers vir wanneer sy liggaam opgespoor sou word, en hy het sy herinneringe en fantasieë. Die videokamera werk baie goed, veral danksy Franco se innemendheid en die byna kinderlike energie waarmee hy die lewe aangryp.

Sy herinneringe en fantasieë, aan die ander kant, is ’n mengelmoes van sterk beelde en middelmatige storielyne. Aangesien die fantasieë mettertyd sterker word en ontaard in volwaardige hallusinasies, grotendeels weens sy gebrek aan genoeg water, is die film se ontknoping uiteindelik soveel minder effektief, want ons het vroeër in die film al soortgelyke beelde gesien, net om dan herinner te word dat dit nie werklik is nie.

My werk as resensent is om vir jou in breë trekke ’n prentjie van die film te skets, gewoonlik sonder om die einde weg te gee, sodat jy self kan besluit of dit klink na die soort film wat jy sal wil sien. Ek skaar my hier by die meeste resensente en gee die einde weg om twee redes.

Eerstens is die storie reeds geskryf in regte bloedspatsels en gebreekte stukke been. ’n Vergelyking met (die) Titanic is nie vergesog nie en jy sal ver moet soek om ’n resensie te kry wat nie verklap dat die boot gaan sink nie. Hoewel Ralston se storie voorheen nie heeltemal so bekend was nie, het hy tog al op Ellen Degeneres se televisieprogram verskyn, so ek dink tog hy het ’n mate van beroemdheid.

Tweedens, as jy ’n sensitiewe kyker is, moet jy weet waarvoor jy in is. Baie mense het al flou geval tydens die grusame toneel waarin Ralston sy eie arm afsny. Dis nie ’n vreeslik bloedige toneel nie, maar daar is oomblikke en klanke wat die kyker se ervaring ’n noemenswaardige ene sal maak.




127 Hours is ’n veel meer kykbare film as iets soos Into the Wild, omdat ons hier regtig van die hoofkarakter hou, die kamera goed gebruik word om ons aandag te trek en die manier hoe die film gemaak is, in terme van redigering, klanke en musiek (veral Sigur Rós in die laaste toneel), baie goed is. Die hallusinasies kan dalk pla, maar alles bly tog grotendeels geloofwaardig omdat die arme man stelselmatig dehidreer. As jy dink jy kan die klimaks hanteer, gaan kyk dit verseker.

Een tegniese punt is miskien dat die 127 uur (5 dae en 7 uur) van die titel nie heeltemal sin maak as hy drie-uur die Satermiddag onder die rots beland het nie. Gaan kyk die film en besluit self.