Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel

Trek


Egon - 2011-02-10

Na ons heerlike rondloopsomer in Europa kom ons tuis en Judy sê so half uit die bloute: “Ek wil nie soos my ma oud word nie – omring deur eindelose stukkies papier wat ek nie eens meer onthou hoekom ek dit nie wou weggooi nie.”

Sy begin sakke en dose vol ou papiere, notas, klasbeplannings en studente-naamlyste van die tagtiger- en negentigerjare deur die snippermasjien jaag en dra dan die swart sakke vol papierlinte na die herwinningsdrom toe.

“Jou 1 500 boeke en al ons Afrika-hout is erg genoeg as ons ooit moet trek” ... en nog ’n sak verdwyn by die deur uit.

Toe November aanbreek, nooi ons woonsteleienaar ons oudergewoonte om die huurkontrak vir 2011 te kom hernu. Met die intrapslag kondig sy aan dat die huur met 20 persent verhoog gaan word.

“Tov,” sê ek. “Kom ons loop.” (Tov in moderne Hebreeus beteken enigiets tussen die Engelse “okay” of “puik” en Martin Luther se “tot hiertoe en nie verder nie!”.)

“Nou hoef jy nie meer snags te luister na die buurman wat op jou kop piepie nie!” probeer ek Judy troos op pad na ons (nou gewese) woonstel.

“Jy sal jou Argentyne mis,” antwoord sy.

In die woonstel oorkant die straat woon twee Argentynse susters en hul broer – so bietjie Triomf-agtig, dink ek altyd. Die drie stry gereeld so hard dat ek elke Spaanse woord in my bed kan hoor. Ek het al gedreig om Spaans te leer, net om die geskree te kan verstaan. Die argument word gevolg deur een wat skielik stoep toe storm en genadeloos aan ’n sigaret begin suig. Die harmonie in die buurt is weer herstel.

“Ek wonder wat die Goeie Vader vir ons in gedagte het,” sê ek een aand oor ’n glasie Kaya Pinotage, wat ons gereeld by ons Russiese supermark koop.

“Hmmm,” sê my vrou. Sy het al ’n paar huisagente gekontak, maar hulle meen dat ’n mens nie drie maande voor jy trek ’n woonstel begin soek nie. Hier in Nahariya wag jy tot ’n maand voor jou kontrak verstryk en hoop maar jy kry iets. Dit staan my Judy glad nie aan nie. Ons begin boeke pak en ons besittings uitsorteer.

’n Paar dae later sien ons ’n kennisgewing teen die balkonmuur van ’n woonstel waar ons gereeld verby loop: “Te Huur”.

“Van daardie balkon af sal ons ’n goeie uitsig oor die see hê,” meen ek.

“Dalk,” sê Judy en skakel die nommer op die bord.

Ons kan twee aande later die woonstel besigtig. Intussen soek ek my Koos Kombuis-CD en speel dit konstant in die motor. “Almal wil ’n huisie by die see hê, almal sê die struggle is verby ...”

Nog nie heeltemal nie.

Die aand wat ons die woonstel gaan besigtig, breek die eerste groot winterstorm los. Die weerlig hang bo ’n onstuimige Middellandse See, die donder dreun en die reën val. Dit val dwarsdeur die plafon in ’n perfekte reghoekige waterval op die sitkamervloer van ons “nuwe” woonstel.

Dit reën.

“Die eienaar sal alles regmaak,” sê die agente. “Wat weet twee meisies nou van sulke goed?” (Hy gebruik die Hebreeuse word banot, wat eintlik “dogters” beteken.)

Ons sê niks; natúúrlik moet die eienaar vir dit alles sorg. Die woonstel is duurder as wat ons wil betaal en het een kamer minder. Dis vuil, van die deure is stukkend en lyk ingeskop. Die sitkamer se mure getuig daarvan dat die vorige huurders se kind lief was vir verf en teken, terwyl die badkamers se mure en plafonne met swart mufkolle bedek is, ten spyte van die vensters wat wel na buite oopmaak. In die een badkamer is die teëls vol gate. “Die eienaar en die vorige huurders het stry gekry, toe ruk hulle die stortmure uit en gooi dit in die pach,” verduidelik die agent. (’n Pach is enigiets van ’n klein vuilgoeddrommetjie in die kamer tot ’n enorme Wasteman.)

“Wie was die huurders?” vra ek nuuskierig.

“Arab doctor,” mompel die agent en weet dis polities inkorrek bewoord.

“Herinner my ek wil nie siek word nie,” fluister ek vir Judy.

Ongeag die probleme, en met die eienaar wat instem tot al ons eise, teken ons die kontrak, want “almal wil ’n huisie by die see hê”, en as dít nie moontlik is nie, sal ’n woonstel met ’n see-uitsig vir eers voldoende wees.

Die son breek deur die stormwolke.

 

Die dag van die trek breek helder, sonnig en windstil aan. Die hele woonstel is vol stapels bokse en ons is reg. Genadie, ons vriendelike Russiese trek-oom wat al twee maal vantevore ons trek behartig het, staan stiptelik 8 vm in die deur en die Groot Trek begin.

Na weke van uitgooi, opvou en inpak begewe my kragte my halfpad deur die oggend en ek verlang na my groot sterk seuns. “Wens julle was hier, kan nie meer nie,” sms ek hulle benoud. My oudste antwoord summier: “Onthou die Afrikaner-vrouens het kaalvoet oor die Drakensberge getrek. Ma kan ook! Lief vir Ma! Mwah!” Ek kry sommer krag en hou aan werk.

Skielik wink Judy my nader met ’n groot glimlag. “Net toe ek op die leer besig is om die muurboekrakke af te haal, kom Genadie in. Hy hou dop hoe ek die skroewe met my masjienetjie losmaak en na ’n ruk sê hy: ‘’n mens kan sien wie die man in hierdie huis is!’” vertel sy my. “Hy vra my toe uit oor hoe ek so baie van dit alles weet en ek vertel hom van my pa met sy twee linkerhande. Die heeltyd werk ek voort en hy hou dop. Uiteindelik sê hy: ‘Ag nou ja, wie het nou eintlik ’n man nodig? Die meeste van ons sit in elk geval net saans voor die TV,’ en hy loop uit die kamer.”

Ek kan sien dat my vrou sommer nuwe krag het en dit inspireer my ook. Ek lees Ben se teksboodskap vir haar en sy glimlag. “Oulike seun daai!”

’n Week nadat ons ingetrek het, het ons Oujaarsaand saam met veertien vriende hier in ons nuwe woonstel gevier. Die sitkamer het pragtig gelyk – die ekstra slaapkamer/kantoor is van kant tot wal, bo tot onder vol bokse, maar dit het ons gaste nie gesien nie.

Van waar ek sit en skryf

Nou, ’n maand later, is dit steeds nie alles uitgepak nie, maar ek sit en skryf met die Middellandse See wat honderd meter voor my vanoggend rustig wieg. Ons is gelukkig in ons nuwe woonstel – die dak lek nie meer nie, die mure is skoonwit geverf. Ons nuwe huisbaas was verras om te sien hoe Judy ons boekrakke teen die mure monteer en het dadelik gevra of ons nie die kontrak na ’n tienjaar-kontrak wil verander nie.

Hulle seil voor ons verby.   
                  

 

Hoepoe voor die venster

 

“Met so ’n handige banot kan ek ’n ver pad loop! Kyk hoe hanteer sy daai dril – jirre vrou, waar’t jy so iets gesien?!” sê hy. Sy vrou vat hom ferm aan die hand en stel voor hulle gaan nou huis toe – die woonstel is veilig in die banot se hande.

Die struggle is dalk nog nie verby nie, maar ons het ons woonstelletjie by die see. Kom kuier gerus!

Maan oor die see