Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Portretjie


Marius Ackermann - 2011-02-09

Hulle aankoms is vol klank en kleur, heeltemal uit pas met die vaal voorstedelikheid van ons buurt. Die woonplek staan al lank leeg, en ten einde raad het die eienaar besluit om maar te verhuur.

Dis Saterdagoggend, en ek is in die tuin besig. ’n Rokerige lorrietjie het pas die buurhuis se oprit binnegevaar – ’n oorbelaaide slagskip met stoel- en tafelpote wat soos kanonlope alkante toe wys. Die res van die huisraad volg in ’n selfgemaakte treiler, en ’n brullende, pers motortjie vorm die agterhoede. Die vragmotor het ’n naam, sien ek. In sierletters tussen die Manny’s Motor Spares-plakker en die uitlaatpyp: Ruiter van die Windjie. Bles se song.

Mevrou seil ruglangs uit die vragmotor se passasiersitplek totdat sy vastigheid onder haar polvye voel. Oë op skrefies, sigaret tussen twee reguit vingers, poedel onder die arm. One small step for man; one giant leap for neighbourly peace. Ek wuif goeiemôre, maar sy beduie iets van nee, nie nou nie – later. Die res van die gesin tree sommer dadelik aan vir die afpakkery: pa, ouboet, middelkind (’n seun) en ’n opgeskote dogter. 

Na ’n paar weke neem die familieportret gaandeweg vorm aan, al lyk en klink dit na ’n gesinnetjie wat kwalik binne ’n kiekie pas, om van ’n raam nie eens te praat nie.

Voorste ry: Ma en matriarg, hare rooi en opstandig, ewe vroom met die poedel liefderyk op haar skoot. ’n Kettingrokende tuisteskepper met ’n besondere voorliefde vir 7de Laan – ’n kykerskeuse wat sy elke aand in volsterkte oudio aan die buurt opdwing. Smiddae bel sy Niekie van den Berg, maar met elke deurkomslag is die oomblik te groot, en al wat gans Suid-Afrika hoor, is ’n asmatiese gehyg met ’n ligte spoor van nikotien. Minute later kla sy by my vrou, sommer so oor die tuinmuur: “Daai Niekie is ôk maar lekker ongeskik. Gooi elke keer die foon in my oor neer.”

Die foto: Pa sit suutjies-suutjies langs Ma. ’n Klein bleskopmannetjie wat hom met los karweiwerk besig hou. Ongelukkig is Ruiter van die Windjie nie ’n entoesiastiese sakevennoot nie. Eers die gekarring-karring-karring voordat die lorrietjie vat. Dan ’n gebrul en gebewe asof die enjin elke skroef, bout en moer soebat om liewer tuis te bly. Terselfdertyd verbreek die vragmotortjie iedere internasionale protokol en verdrag insake aardverwarmende gasse en besoedeling. Ruiter van die Windjie se rookwolke laat jou na die Vaaldriehoek se vars lug verlang.

Die agterste ry op die kiekie bevat die potensiaal van ’n Guy Fawkes-nag.

Anders as sy meer aantreklike naamgenoot van Orkney, koester Ouboet aspirasies om ’n rock star te word. Die muse klop op ongereelde tye aan sy kamervenster, want woorde soos “baby”, “you”, “drive”, “me” en “crazy” kom dag en nag in losse formasie oor die grensmuur aangevlieg, gerugsteun deur die rou rasperklanke van ’n elektriese kitaar.

Ten spyte van haar hoë roksoom en aggressiewe haarstyl, is Kleinsus nog op skool. Tog doen sy ’n paar dinge reg, vandaar die stringe mansvriende, waaronder enkele lede van die Hell’s Bells-motorfietsklub.

Middelkind is ’n broeier. Maak nooit ’n geluid nie, maar die manier waarop hy ons dophou terwyl hy sy naels girts-girts met ’n mes sit en skoonmaak, is nie gerusstellend nie.

Die poedelbrak slaap meesal binne, maar dien soms buitestraf uit, seker maar omdat hy in die huurhuis gedoen het wat hy nie veronderstel is om in enige huis te doen nie. Op daardie aande kerf-kerf-kerf hy aan die nagstilte totdat sy miesies ’n venster oopruk en hom binne die bestek van ’n paar lettergrepe aansê om stil te bly en vinnig pad te gee. Na so ’n uitbarsting lê ek opnuut wakker. Die gekerf-kerf-kerf is genadiglik stil, maar die “sjarrap!” en wat daarop volg, hang nog in die lug.

Party aande klink dit langsaan na die VVO in die heyday van apartheid. Pa mag ’n stil bleskopmannetjie wees, maar hy speel die hoofrol in ’n helse kabaal: Eers verskree Ma hom oor hoe vervelig haar lewe is. Boonop vermoed sy dat hy perde speel, en die duiwel haal hom as sy bewyse kry. Hierna jammerklaag Ouboet diep uit sy binneste omdat niemand (Pa inkluis) hom, sy musiek of sy drome verstaan nie. Dan gooi Kleinsus ’n tantrum omdat hierdie of daardie biker-boyfriend ná elf saans nie welkom voel nie, waarop Ma (waarskynlik hand in die heup) ’n inventaris aan die vergadering voorhou van wat sy nou die dag agter die rusbank gekry het, om van die pers karretjie se cubbyhole nie eens te praat nie. Nou word Pa opnuut gegesel, hierdie keer omdat hy absoluut niks in verband met die kinders se booshede doen nie. Middelkind hoor jy nie. Sit vermoedelik die vulkaan girts-girts en dophou.  

Een aand gaan dit besonder rof daaraan toe, en ek besluit om die polisie te bel. Die foon lui en lui en lui. Uiteindelik tel ’n konstabel op, hoorbaar geïrriteerd. Hy wil weet wat die klagte is, en voeg by voorbaat by dat daar net een patrollievoertuig beskikbaar is.

Ek huiwer. Tussen moord en gewapende roof klink iets soos “rusverstoring” darem te gewoon. “Kakofonie,” sê ek op die ingewing van die oomblik. 

Eers ’n oomblik se stilte. Ek hoor hom rondblaai, seker in die een of ander amptelike handleiding oor gemeenregtelike misdrywe. Hy vra my om dit te spel, en ek maak so.

“Groot of klein?” wil hy weet.

“Groot,” sê ek sonder om die desibels langsaan te tel.

Binne vyf minute hou ’n patrolliemotor blou-blou-blou voor die huurhuis stil.

Vanmôre is hulle eensklaps weg. Van die orkaan wat vir drie maande ons oordromme geteister het, is niks te sien of te hoor nie. ’n Verwagte besoek van die balju was sekerlik die rede vir die middernagtelike vertrek, want dis slegs ’n bedreiging van gemeenskaplike aard wat die skerwe-gesinnetjie in een rigting sou laat skrum: Eers moes hulle in pikdonkerte vir Ruiter van die Windjie en die treiler gelaai het totdat die kanonlope wys; terselfdertyd vir poedel die snoet snoer sodat hy nie die buurt wakker blaf nie; daarna los items soos Ouboet se kitaar en Kleinsus se haardroër, klerekas en makeup in die pers karretjie prop; en laastens vir Ruiter van die Windjie, die treiler en die pers karretjie in omgekeerde senioriteitsvolgorde met die hand tot in die straat stoot voordat vuurkrag kon inskop. Alles in doodse stilte, sonder skree of verwyt. 

Opeens is die buurt weer voorstedelik en vreedsaam, en maak die familieportretjie vir die eerste keer sin. Almal op een kiekie, ewe grênd met ’n raam om.

Girts-girts.