Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The King’s Speech is ’n soliede stuk werk


André Crous - 2011-02-09

Regisseur: Tom Hooper
Kamerawerk: Danny Cohen
Rolverdeling: Colin Firth, Geoffrey Rush, Helena Bonham Carter, Guy Pearce, Derek Jacobi
Looptyd: 120 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 11 Februarie 2011

The King’s Speech sal vanjaar ’n waardige Oscar-wenner vir beste film wees. Dit is ’n fassinerende prent waarvan die genot nie beperk sal wees tot een kultuur of een groep mense met ’n belangstelling in die geskiedenis nie – hierdie is ’n soliede stuk werk wat, sonder onnodige sentiment of oordrewe uitbeeldings van teenspoed, die volharding wys van die man wat nie veronderstel was om koning te wees nie.

Prins Albert se hakkel ondermyn sy selfvertroue en takel hom emosioneel af. Wanneer hy in die film se baie slim openingstoneel ’n groot horde toeskouers moet toespreek by die afsluitingseremonie van die “Empire Exhibition”, kan hy skaars ’n woord uitkry. Dit is 1925, en Brittanje en die res van die gekoloniseerde wêreld hoor hul prins se stem vir die eerste keer op radio. Die kolonies en gebiede van die Britse Koninkryk, waaroor sy pa, koning George V, regeer, het aan hierdie “Empire Exhibition” deelgeneem en dit is uiteraard belangrik dat Albert ’n goeie indruk skep; ’n stuk teks aan die begin van die film lig ons in dat die Koninkryk ’n kwart van die wêreld se bevolking bevat. En almal hoor hoe die prins sukkel.

Die mees onlangse voorval van hakkel in die openbaar was met die popsanger Gareth Gates, die opvolgwenner van die eerste seisoen van die Britse realiteitsreeks Pop Idol. Onderhoude is dikwels met hom gevoer – en regstreeks uitgesaai – en wanneer hy sy woorde op die verhoog probeer uitkry het en daar net ’n beweging van sy mond was, en geen woorde nie, het dit hom selfbewus en almal in die gehoor ongemaklik gemaak.

Ek het self baie gehakkel toe ek ’n kind was en in my kop is daar nog tekens daarvan: Wanneer ek ’n sin begin sê, het ek gewoonlik ’n goeie idee van waar ek sou vashaak. Wat The King’s Speech vir my wonderlik gemaak het, is dat prins Albert se spraak op presies die manier geaffekteer is soos ek dit sou verwag: Hy haak min of meer op die regte plekke vas en sy toestand word op baie geloofwaardige wyse deur spesifieke omstandighede vererger. Die gevoel dat alle suurstof skielik uit die kamer ontsnap het, is een wat sterk oorgebring word.


Sy spraakterapeut, die man met wie hy ’n lewenslange vriendskap sou aanknoop, is Lionel Logue, wat uit ervaring weet dat ’n spraakgebrek nie eenvoudig ’n meganiese probleem is nie, maar ’n manifestasie van dieper sielkundige kwellings is. Logue se benadering is uitstekend en vir my persoonlik was dit ’n groot vreugde om te sien hoe sommige tegnieke met sukses gebruik word. Die “dieper sielkundige kwellings” maak ook baie sin en hoewel alles nie heeltemal toegelig word nie, is ons bewustheid daarvan genoeg om die prosedure gewig te gee.

Die feit dat hierdie gevoelens nie vroeër aangespreek is nie, maak ook ons begrip van en simpatie vir Albert se frustrasie soveel makliker. Een bykomende toneel tussen hom en sy pa, koning George V, sou wel ’n bietjie meer gewig gegee het aan ons vermoede dat die neerdrukkende verhouding waarskynlik gedeeltelik verantwoordelik was vir sy spraak.

Die verhouding tussen Albert en Logue is egter die kernfokus van die film en in hierdie opsig gee die film ’n uitmuntende prentjie van die Britse klassestelsel, asook ’n baie persoonlike blik op Albert se eie onvoorsiene paadjie tot by die Britse troon en die struwelings wat daarmee gepaardgaan.
Logue verkies ’n atmosfeer van gelykheid wanneer hy en enige pasiënt met mekaar gesels, sodat daar nie enige druk hoef te wees om volgens vasgestelde konvensies op te tree nie. Maar dit val heeltemal buite die raamwerk van Albert se kultuur en tog kan ons albei se posisies in hierdie saak, wat die hele film lank ontwikkel, goed verstaan.

Die toneelspel is uit die boonste rakke. ’n Mens wonder dikwels of die Oscar-wenner nou regtig die beeldjie verdien of nie; gewoonlik is daar ’n gunsteling en ’n ewe waardige teenstander. Nie vanjaar nie. Ander akteurs wat genomineer is, is wel heel goed, maar Firth lewer ’n reusekragtoer – nie net omdat hy ’n koning vertolk nie, maar omdat sy karakter ’n ingewikkelde massa sosiale, historiese en sielkundige laste dra en nogtans ’n mens bly wat volhard in sy strewe om die beste moontlike persoon en koning vir sy volk te wees.


Geoffrey Rush was ’n puik keuse as Logue, die Australiese terapeut met die effens onkonvensionele benadering tot terapie, wat egter die spraakvermoë binne-in sy kliënte kan raaksien en poog om hulle selfvertroue op te bou en hulle in staat te stel om bo die situasies uit te styg wat hulle spraak so negatief beïnvloed. Soos te verwagte, is Rush ook verantwoordelik vir die meeste van die film se ligter oomblikke.

Die kamerawerk, hoewel dit nie juis mooi beelde lewer nie, is lewendig en hou ons betrokke by die aksie. Van tyd tot tyd volg die kamera Albert deur groot vertrekke en bied dit aan ons ’n perspektief van gesamentlike teenwoordigheid. Ongelukkig is dit jammer dat regisseur Tom Hooper al sy buitetonele met mis vul, want dit voel soos ’n goedkoop manier om ’n historiese film te maak.

Die titel, inhoud, karakters, akteurs en algemene vloei lewer saam ’n wonder om te koester en The King’s Speech sal beslis een van die jaar se beste films wees.