Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Hond


Mercia S Burger - 2011-02-03

Mense behandel my anders sedert ek uit die kliniek ontslaan is. Met jammerte, met versigtigheid, met verdraagsaamheid. Asof ek nie meer dieselfde mens is nie. Soms asof hulle bang is vir my en ja, dit is waar, kan ek met sekerheid sê – ’n mens kan vrees ruik. So ’n soeterigheid wat deur sweet en riool breek.  

Mense praat ook harder met my, stadiger, asof ek doof of dom is. Ek probeer om my nie te veel daaraan te steur nie. Solank as wat ek veilig voel. En ek het mos nou my hond.

Ek weet nie of ek regtig beter is nie, maar my lewe is tog makliker. Dalk is ek tog sterker. Definitief versigtiger. Georganiseerd. Ek staan betyds op vir werk, ek slaap genoeg, ek eet, ek oefen. Ek en my sterk hond. Al die netjiese roetines en reëls wat deel van my lewe geword het, skep orde en maak dit vir my makliker. En as my telefoon laatnag lui, antwoord ek nie. Dit doen ek alles om myself te beskerm.

Daar gaan my wekker nou net af. 

Die koffiekoppie het ek gisteraand reeds reggesit. Ek kan nie meer parfuum of deodorant gebruik nie. Dit laat my vel jeuk en rooi en droog uitslaan. My kopvel is beter vandat ek ’n mediese sjampoe gebruik, maar skilfertjies sit soms nog wit onder my vingernaels as ek te veel krap.

Ek maak seker dat ek die voordeur sluit. Vanoggend stap ek werk toe. Ek hou van die oefening, en die stappie doen my hond ook goed. Om my kop besig te hou, tel ek my treë, maar raak gou deurmekaar. My geheue is nie meer so goed nie. Ongeveer driehonderd treë per blok. Warm vleis, aneurismes en beroertes soos geslagte skape, vlieë en petroldampe. Agt blokke van vaal en lomp oggendverkeer soos ’n reënerige landskap deur ’n treinvenster, lug soos nat sement, ’n industriële area vroeg in die oggend. Metaal wat skuur en tril. Deur die middestad stoot gisteraand se olierige kos en koue vet deur kombuisvensters wat oopgemaak word om van die nag ontslae te raak. Soet dwelms en alkohol spat in toiletbakke af; nat vadoeke word buitekant gehang. Selfmoord ruik anders as gewone dood. Skerper. Seker omdat jy wil doodgaan.  

Gelukkig sien ons nie vanoggend die straatkatte wat gewoonlik om die vrot-vol asblikke langs die pad rondkerm nie. Ek is altyd bedag op die katte, want ek maak deesdae van alles seker. My hond raak mal as sy hulle sien. Kwyl vlok soos sy haar lip optrek en knor, stywe oë en ’n rifrug. My kopvel strek en hummm gewoonlik as die moedswillige katte, sissende bolletjies met sleepoë, my hond so treiter totdat sy whaf-whaf-whaf-whaf begin blaf en dan moet ek my hond éérs aan haar leiband inrem. Maar vanoggend is daar geen katte nie. 

Aanvanklik het ek gedink om my hond by die huis te laat as ek gaan werk, maar het toe later besluit om haar tog saam te neem. Dit is veiliger. En niemand gee om dat ek my hond saambring nie.

Hier is ons nou by my werk. Die sekuriteitswag het vroeër vanoggend dagga gerook, gemeng met een of ander perdekak. Moenie eens probeer om sulke flou goed aan my te verkoop nie. Ek sal dadelik weet. Dadelik.

Ek druk die knoppie en die hysbak suis op na die vyftiende verdieping. My ore dreun en kraak. Ek stap verby mense in hul afgeskorte hokkies, mense, baie mense, die vertrekke beweeg en mor van stemme. Uit die hoek van my oog tel ek alles op en sorteer dit versigtig uit. Rustig nou, rustig, maan ek my hond, haal diep deur my neus asem en probeer om die lug vir ’n oomblik vas te hou, heel agter in my neus, waar dit sensitief is, waar molekules oplos en dan sin maak. Sleutels, kopermunte, kookwater en gestrykte klere. Kougom en naelpolitoer.

Meneer Du Preez is weer hardlywig, weet ek toe hy my groet. Ou Stront-asem is die leier van die bidgroep wat oor middagete sit en kerm dat hulle Here Jesus Christus hul vir altyd en ewig genadig moet wees, asseblief. Dalk sien ons jou nog eendag daar, het hy my aanvanklik genooi, maar my hond het vir hom gegrom en hy het nie weer gevra nie. Thys het reeds vanoggend in die toilet draad getrek en Kotie het pas haar ginbotteltjie oopgemaak. Alles hou ek agter in my neus. Gister se smeersels op ’n onderbroek. Muf en yster. Spek en eiers, ’n paar dae oud. Maak my honger. Muskus. ’n Ou tampon en sweet. Sweet sê tog soveel. Angs, aggressie, onsekerheid, depressie. ’n Mens sweet dit alles uit. Jou lyf se chemiese oerkommunikasie kan jy nooit heeltemal met parfuum verdoesel nie. Die vrou wat by die lessenaar oorkant my sit, het vandag begin menstrueer. Vier ander vroue in die kantoor menstrueer ook. ’n Wonderlike, primitiewe reuk waarvan ek nie genoeg kan kry nie. En Elna het vanoggend op die bus op pad werk toe gehuil. Petroldampe en ’n souterigheid. 

O ja, ek weet alles van almal af. Nie dat ek belangstel nie. Dit is net veiliger vir my.

Gisteraand was blykbaar ’n goeie aand. Heelwat spermasems. Pieter het definitief ietsie opgetel wat reeds woelig tussen sy bene brom. ’n Mens kan ’n jagse man net so goed en sterk uitruik soos ’n broeise vrou. Feromone sal jou altyd verraai. Maar Here tog, moet mans altyd so na pis ruik? Kan hulle nie net hulself versigtiger afskud nie? Pis kan jou die hele week se geskiedenis vertel. Alles gemeng met ’n siniese naskeermiddel.

Telefone.

Ou mense het ’n ander reuk. Rou vleis met ’n chemiese naklank. Kaas en ou boeke. Medisyne. Droë stront, uitgeswete asyn, ’n paar kankerasems.

Telefone, telefone.

Die reuke is nie altyd so intens nie. As ek dit wil laat ophou, moet ek net vlakker asemhaal. Die lug nie so diep intrek nie. Geluide, egter, skakel ’n mens nie so maklik af nie. ’n Hele dag en twintig verdiepings vol kantoorgeluide. Veral telefone. Ook die humm van rekenaars en die swaar, geforseerde asemhaling van ’n fotostaatmasjien. Ek moet konsentreer om nie te luister nie. Vliegtuie en sekere musiek en donderstorms en sirenes draai en zing en spiraal in my oorskulp, fluit dan al in die rondte en skiet deur my kop, oor en oor, rat-tat-tat. En fokken telefone kan jou mal maak. Prrt-prrt en kier en trieng en na-di-da-da-na-di-da-da. Soms wens ek dat ek, soos my hond, net my ore kan plattrek om die geluide te demp.

Wanneer ek my naam hoor, luister ek altyd versigtig. Mense weet nie hoe vinnig en hard hulle stemme in so ’n geslote omgewing dra nie. Skinder hulle hees, hyg soos ganse – al wat ek moet doen, is om my kop in daardie rigting te draai en te fokus. Niemand kan iets oor my sê sonder dat ek dit weet nie, en ek lag lekker vir hulle fokken onnoselheid. 

Hier is ek nou by my lessenaar. Netjies. Mense moet wegbly van my lessenaar af, my goed uitlos. Ek sal onmiddellik weet. Selfs al het hulle net op my stoel gesit.  

Ek jaag die duiwe voor die venster weg voordat my hond opgewonde raak. Siektes. Ek ruik dit aan hul warm donse en stowwerige vere. Flp-flp-flp-flp-flp-flp.

Ek en my hond hou van die fladderbewegings.

Flp-flp-flp-flp. 

Telefone, telefone.

Teetrollie. Enige burokrasie se hoogtepunt. Die wieletjies tjier-tjier in my rugmurg af, laat my hare ritsel. Ek hou van tee. Dit ruik soos herfs. My hond hou ook daarvan. 

Om badkamer toe te gaan, is altyd interessant. Ek gaan dikwels badkamer toe omdat my hond daarvan hou. Sy is so opgewonde dat sy gewoonlik sommer vooruit hardloop. Ou water wat deur die pype steun. Gisteraand se galsige kos. Donkergeel pis. Bloed. Ou vis, vars vis, rou vis, vrot vis. Klewerige lugverfrisser en ammoniak.

Nou is dit middagete en ek en my hond gaan stap. Dit is nie maklik vir ’n hond om heeldag so stil te lê nie. Ek soek die blinde bedelaar wat gewoonlik op die hoek van Andries-en-Proesstraat ’n trekkerige Bob Dylan speel, maar hy is nie hier nie. Ek tel maklik sy reuk op, volg hom ’n blok met Kerkstraat af tot ek Mr Tambourine Man hoor. Baie van die mense wat in hierdie deel van die stad koop, ruik anders. Skerper. Na vuur en rook, gebrande hout en kerswas, stof, goedkoop Chinese plastiek. My hond hou nie van hierdie mense nie en grom. Ek tik haar oor haar snoet. Sy moet leer om haar te gedra.

Ek hou van al die reuke wat die son uit die stad bak. Elke merk op die sypaadjie het ’n lewe, elke spoegkol sy eie siekte. Afvoerslote is nog swaar gelaai met die vorige nag se gemors, en ondergronds pyn ’n stink spysverteringstelsel van oordadigheid. Taxi’s en toeters, harde musiek, stemme met harde klik-klak-klanke. Na ’n ruk maak dit my senuweeagtig.    Terug kantoor toe.

Die reuk van alkohol hang lekker sterk in die kantoor. Ook sigarette en seks. En dit is nou behoorlik sardientjietyd hier. My hond krul by my voete op. Laatmiddag begin dit soos ’n slaghuis ruik. Warm, gefermenteerde lug deurtrek met bakterieë, gasse, ’n laatmiddagstorm van goed geswawelde poepe, geelstink.  

Ek sien elke beweging, soms amper nog voordat mense beweeg. Daardie dooie deel in die hoek van jou oog wat gewoonlik nooit sien nie, daar registreer dit. ’n Flikkering, ’n swart kol, ’n wolkie, iets wat val. Sarie. 

Lank voordat Sarie voor my lessenaar staan, weet ek al dat sy weer kollekteer. Tik-tak-skoene oor ’n grys teëlvloer. Haarsproei wat gommerig om haar kop draai. My hond knip-knip-knip haar oë. Sykouse wat soos fyn skuurpapier oor hout tussen haar bene brand en sjjjjrr. Sy kollekteer vir Susan se kombuistee, deel Sarie my mee, stywe glimlag en klein ogies. Ha, net ek weet dat daardie reuk wat Susan vir ’n paar maande voor haar swangerskap saam met haar gedra het, beslis nie haar man s’n was nie. Ek gee tien rand voordat my hond in die haarsproei verstik.

Nou is dit net so voor vyf. Verkeer dreun meer knaend deur die getinte vensters. Onthou om nie na alles te luister nie. Handpalms klam van opgewondenheid en verligting. Ons gaan huis toe. My hond is bly, waai haar sagte stert. Die gebou hyg, maak skoon en met ’n ou asem burp sy ons almal uit.

Ek word deesdae gouer moeg. Al die reuke, geluide, bewegings. Dit wurg die energie uit jou uit. Daarom kuier ek net vir ’n kort rukkie in ’n kroeg saam met my vriende. Hulle gee ook nie om dat ek my hond saambring nie. Hulle is versigtig om te veel te vra, dit weet ek. Maar dit maak nie saak nie. Ek sê vir die kroegman dat hy moet ophou om vir ons van die verdunde rum te skink. Hy haal ’n nuwe bottel rum onder die toonbank uit. My vriende verstaan nie hoe ek dit weet nie, en lag.

Terug by my woonstel luister ek eers, snuf die lug versigtig. Meestal slaapgeluide en televisies, skottelgoed en ligte musiek, telefone. Verbrande kos en olie. Ek weet dat my hond my sal waarsku as daar enige iets vreemds is. ’n Groot whaf-whaf-blaf. Sy het ’n gevaarlike blaf, en sy sal byt as sy moet. Ek weet dit, want sy beskerm my. Maar daar is geen gevaartekens nie, geen geskree, harde stemme of histerie nie, geen sweem van geweerolie, angssweet, kortsluitings, geen kruit, kordiet of katte nie. Veraf snou polisiesirenes en ’n paar ambulanse, maar dit is nie naby genoeg nie. Ek en my hond kan ontspan.

Ek sluit my woonsteldeur oop en soen my hond op haar snoet. Haar stert waai geluidloos, soos ’n uil se vlerke. Ek knip my oë om aan die kombuislig gewoond te raak. My hond sit by my terwyl ek kos maak. Sy begin haarself lek, loer tussendeur vir my, glimlag. Ek glimlag terug.

Ek weet dat my hond soms, as ek slaap, alleen uitgaan. Sy het dit nodig. Soos alle honde. By steil donker trappe af die nag in. As sy terugkom, is sy gehawend, deurtrek van die reuke van ander honde en hardhandige seks. Partykeer het sy ’n wond wat sy vir dae dan gesond lek. Maar sy gaan vanaand nêrens heen nie, dit kan ek sien.

Na ete gaan ons bed toe en my hond lê agter my. My hond is mooi en groot en sterk. Sy hou my vas. Dit is gedurende sulke oomblikke wat ek my hond saggies kan hoor praat.

Ek is lief vir jou, sê my hond. Ek sal jou beskerm.

Ek voel veilig en warm.

Iewers deur die nag, weet ek, sal sy in my nek snuffel. Dan met ’n vlesige tong in my oor lek. Haar snoet wat por en soebat. Hondegeluidjies. Tot ek omrol. Op my rug. My bene oopmaak sodat sy eers kan snuffel-snuffel voordat sy begin lek. Dan maak ek nog wyer oop. Haar snorre kielie my bo-bene. Sy lek en sy lek my en as ek reg is, gaan haar tong lekker diep in.    

Later, wanneer ons klaar is, sal ek my stert tevrede om my krul en agter my hond se rug, waar ek haar honde-hart kan hoor klop, aan die slaap raak.