Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Saartjie Baartman as Venus Noir


Carina van der Walt - 2011-02-02

Die film Venus Noir / Black Venus van die Frans-Tunisiese regisseur Abdellatif Kechiche was ’n terloopse kennismaking. Ek was op soek na Afrikaanse films op die 40ste Internasionale Filmfees Rotterdam (IFFR) – tans aan die gang vanaf 26 Januarie tot 6 Februarie 2011.

Venus Noir is in die randprogram. Dit vertel egter niks van die kwaliteit van hierdie film oor die lewensgeskiedenis van Saartjie Baartman nie. Venus Noir word in drie tale vertel: Frans, Engels en Afrikaans. Die speeltyd is lank: twee en ’n half uur. Gedurende hierdie tyd word die kyker meegesleep in ’n afwaartse spiraal van uitgerekte, mens-onterende tonele in die lewe van Baartman. Dis ’n verwoestende geskiedenis van rassisme, seksisme en voyeurisme.

Die film begin en eindig met ’n wetenskaplike lesing aan Franse akademici oor die uitsonderlike liggaamsbou van Saartjie Baarman, die Hottentot Venus. Eenkant staan ’n lewensgrootte beeld van haar. Haar brein en vagina word op versterkwater van hand tot hand aangegee.

Die toneel verplaas daarvandaan na Londen, 1810. Sy word in die sirkus tentoongestel deur haar werkgewer en baas uit die Kaap, Hendrick Caezar, vertolk deur André Jacobs. Wanneer die kameelperdvel van haar hok geruk word, blaas sy en wys tande. Caezar lei haar aan ’n halsband uit die hok. Sweep in die hand blaf hy bevele, verduidelik hy aan die Engelse gehoor. Kechiche slaag daarin om met nabyskote gelyktydig skok en nuuskierigheid op die gesigte van die volkse publiek te verfilm. Hulle gil van plesier, gril uit afgryse en sweep mekaar op – waarde vir hulle geld! Baartman word gespeel deur die Kubaanse aktrise Yamina Torrès. Sy maak van Saartjie Baartman ’n gekompliseerde karakter. Sy is lydensobjek deur haar slagofferskap. Dis ’n baie sterk debuut.

Baartman dans op uitspattige privaatpartytjies in Parys

Tydens de vertoning moet Baartman in ’n dun lyfkous haar sitvlak vertoon; “walk like a lady”; dans op trommelgeroffel en uiteindelik stilstaan sodat die publiek aan haar boude kan voel of dit eg is. Dit is vir haar die vernederendste oomblik. Sy keer aggressief, terwyl Caezar haar vashou. Na die vertoning is sy uitgeput en maak beswaar. Sy wil nie meer in die hok wees nie, die halsband moet af en die gevattery aan haar boude is één stap te ver. Caezar troos haar en oorreed haar in die gladste Afrikaans dat sy goed is, mooi is en dat juis dít die hoogtepunt van haar vertonings is. Hulle is saam in Londen om báie geld te maak. Dis ’n genuanseerde beeld deur die kamera van Kechiche. Caezar gebruik haar, maar gee ook vir haar om. In ’n regsaak teen Caezar deur die Afrikaanse Intituut in Londen getuig Baartman dat sy aktrise is en toneelspeel en dat hulle die wins deel. Caezar word vrygespreek, maar hy besef dat hy met vuur speel.

Hulle vertrek saam met die Franse beretemmer Réaux (gespeel deur Olivier Gourmet) en sy suipende vriendin, Jeanne (Elina Löwensohn), na Parys. Hier begin Baartman se ellende éérs, want Réaux neem stelselmatig haar vertonings oor in die chic salons van genotsugtige Parysenaars. Sy word lusobjek. Haar trane van vernedering maak Réaux af as trane van genot. Ook in hierdie tonele toon Kechiche dat die kenmerk van die skandaal in die intieme oogopslag lê, nie net van die partytjiegangers nie, maar ook van die filmteatergangers. Jy sien iets waarvan jy weet dis verkeerd, maar jy lag half geskok saam daaroor. Dis baie konfronterend.

Baartman word deur Franse wetenskaplike opgemeet en gedokumenteer.

Baartman weier botweg om haar skort af te haal vir ’n groep Franse wetenskaplikes wat haar volledig wil opmeet en bestudeer. Sy is trots en halsstarrig. Daardeur verbeur Caezar ’n groot som geld. Woedend verkoop hy haar aan Réaux, maar ook Réaux verdra nie enkele tekens van eiewaarde by haar nie en onttrek. Jeanne en Baartman verval saam onder die hoere van Parys. Baartman word siek. Sy laat alles nou maar oor haar heen kom. Ontnugter, gebroke, verslae val sy uiteindelik dood neer, net 25 jaar oud.

Réaux verkoop haar liggaam aan dieselfde groep Franse wetenskaplikes van eerder. Sy word postmortaal nog verder verneder met skalpel en maatband. Gipsvorme word van haar liggaam gegiet vir die beeld wat in die openingstoneel staan. Hierdie beeld het ook tot 1976 in die Musée de l’Homme in Parys gestaan.

Dis geen troos wanneer daar aan die einde van die film aangekondig word dat haar stoflike oorskot in 2002 terugvervoer is na Suid-Afrika en dat sy daar herbegrawe is nie. Die skande van die sogenaamde Westerse beskawing is te groot. In Venus Noir verslyt die dun lagie wat die gekultiveerde mens homself oplê, baie vinnig. Hy vertoon brutale dierlike gedrag in die teenwoordigheid van iemand so anders soos Saartjie Baartman. Dit het niks te make met ras of geslag nie, maar lê opgesluit in die ongeneeslike, voyeuristiese blik van haar publiek.

Ek verlaat saam met die publiek die filmteater in ’n geskokte stilte. Daar was geen filmmusiek nie. Deur Kechiche se intieme filmskote word die kyker medepligtige aan hierdie verskriklike geskiedenis. Dit is ’n uitstekende film wat die nageslag van Baartman en alle Suid-Afrikaners behoort te sien, maar sal dit gebeur? Hoeveel kontroversie laat filmteaters in Suid-Afrika toe?

Ek is nie die enigste kyker wat lowend hierop reageer nie.

VPRO Gids
“Een meesterwerk. Zonder twijfel zal het over een jaar een van de beste films van 2011 blijken te zijn.”

De Volkskrant
“Fenomenaal debuut Yahima Torrès.”

NRC Handelsblad
“Een grootse film van een van de belangrijkste regisseurs van dit moment.”