Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Die Kaptein se Tier is duidelik ’n sukses, maar ...


Albert Maritz - 2011-02-02

Daar word algemeen aanvaar dat Die Kaptein se Tier ’n sukses is. Dit maak sin, wanneer jy die formidabele kragte saamsnoer van Neels van Jaarsveld, Erica Wessels, Owen Sejake, Graham Weir, ’n Fugard-teks, en die regisseur.

Athol Fugard is glo die mees opgevoerde lewende dramaturg ter wêreld. Mense beskryf hom as ’n ware lewende legende.

Janice Honeyman is befaamd vir haar briljante blyspele – veral oor Kerstyd in Johannesburg, en ook vir haar samewerking met die Baxter, tydens die bestuur van Mannie Mannim, aan teater. Verrassenderwys regisseer sy die afgelope paar jaar hul Afrikaanse stukke ook. Mens kan net aanneem – omdat Mannim by die Fugard-teater betrokke was – dat dit ’n voortsetting is van haar en Mannim se verhouding by die Baxter.

Maar dalk sluimer hier ’n probleem. Die probleem steek kop uit in van die publisiteitsmateriaal, deurspek van Afrikaanse taalfoute, tot die webwerf se foute, tot twee omgewings op die verhoog.

Eerstens: die Fugard maak gebruik van “surtitles”, oftewel boskrifte – die Engelse teks wat bo die verhoog verby loop. Hoe daar foute by insluip, komende van die oorspronklike Fugard-teks af, is ’n ope vraag.

Wat my bring by die produksie self – die tweede omgewing. Die hoofrol word gespeel deur die briljante akteur Neels van Jaarsveld. Saam met hom op die verhoog is oënskynlik die ouer weergawe van sy eie karakter. Die karakter word gespeel deur die ewe briljante Graham Weir. Weir is ooglopend ongemaklik met die Afrikaans. Mens sou hom as goed tweetalig kon opsom, maar die twee sprekers van die taal op die verhoog is nie naastenby dieselfde mens nie.

Die gehoor snap hoe die hef in die vurk steek; bring die spreekwoordelike skrywer- (Fugard-) kloutjie by die ouer (Fugard-) waarnemer-oor. En behalwe vir die aksent werk die verhouding van die twee akteurs goed. Die waarnemer (Weir) is op die kante van die verhoog - soms agter, soms aan die een kant, soms aan die ander. Dit maak sin. Die hoofkarakter (Van Jaarsveld) is dus in die speelarea van die skip, en sy ouer weergawe (Weir) kyk vanaf die periferie toe op gebeure. Maar wanneer die Weir-karakter die hoofverhoog betree, word die konvensie verbreek. Dis debatteerbaar hoeveel gehoorlede dit sou pla. Maar op ’n verhoog is die gegewe – wat die gehoor sien, en wat die gehoor hoor; al waarop hulle hul kan verlaat om sin te maak uit wat voor hulle gebeur. Ook oor hoe dit hulle tref.

Met hoofsaaklik hierdie twee knelpunte – die ongemak in Afrikaans by Weir, en die instap in tonele van die ouer karakter – uitgesorteer, sou die stuk ’n veel sterker impak hê.

Nog klein jakkalsies kan uitgestryk word. Vir die fynproewer sal Van Jaarsveld, wanneer hy die keuse het, meer gereeld eerder ’n genuanseerde, sagter aanslag kon hê as aggressie – die heel maklikste uiting op ’n verhoog. Kontras is, soos in enige kuns, goud werd, en aan herhaling raak ’n mens gou gewoond.

By enkele geleenthede was dit juis opvallend dat beide Wessels (in ’n mindere mate) en Van Jaarsveld gedurende uitbarstings nie hul stem buite die gevaarsone van onbeheerstheid hou nie. Enersyds skep dit ’n lekker illusie van rouheid, wat interessant is. Andersyds wyk dit af van die tradisionele stembeheer van die akteur op ’n verhoog. Laasgenoemde bestaan om verskeie redes: eerstens omdat die akteur sy stem maklik kan beskadig wanneer dit nie beheer word nie, en tweedens omdat ’n beheerste stem meer effek op ’n gehoor het as die rouheid van die ware Jakob – die uitbarsting. Die redes hiervoor is dat die ware emosie, ongetemper, teenproduktief kan wees - selfs die aandag van die gehoor na verkeerde terreine lei.

Die “proof of the pudding” lê sekerlik in die feit dat die gehoor toenemend sit en luister na ’n lang teks, hulle verkneukel in die verskillende speelareas en beligtingstadia, en die stuk enduit volg en geniet.

Waaroor gaan bogemelde kritiek dan?

Omdat goed goed is totdat dit nog beter is en elke element reg laat geskied aan ’n teks wat oor die vermoë beskik om gehore in hul stoele vas te nael, soos ’n vliegtuig wat opstyg – juis met hierdie formidabele kragte byeen.

Die gehoor spandeer dus ’n wyle aan die begin om gewoond te raak, en word later, wanneer hulle die illusie begin aanvaar, ongelukkig teruggeruk na die huidige hier en nou, wanneer ’n akteur se stem te realisties aangewend word, of ’n woord soos die Kaapse slang-­woord “Awhe” gesê word. Nog gehoorlede onthou ander hedendaagse Kaapse woorde. Wanneer die skrywer, wat die hoofkarakter eggo, die speelarea binnestap, word die gehoor eweneens weer teruggewek na die hier en nou.

Die Kaptein se Tier is duidelik ’n sukses. ’n Betekenisvolle storie, geskryf deur ’n meester, en gespeel en opgevoer deur bewese kragte. Maar die produksie kom nie heeltemal tot sy reg nie. Dit verklaar seker die 4 uit 5 sterre by die kritiek van ander publikasies.