Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Janie du Plessis: ’n Keuse vir die lewe met duidelike vaardigheid geskryf


Ronel Nel - 2011-02-02

Janie du Plessis: ’n Keuse vir die lewe
Martie Retief-Meiring
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151139
Prys: R128.00

Klik hier en koop Janie du Plessis: ’n Keuse vir die lewe nou van Kalahari.net!


Ons het grootgeword met Janie du Plessis se gesig voor ons. Op televisie (as die funky, borselkop-aanbieder van die tienerprogram Teletien); op tydskrif-voorblaaie; as mode-model; later jare in glansblaaie as sosiale vlinder en rykmansvrou; met kort tussenspele as verhoogakteur en filmster; en selfs as rubriekskrywer vir Huisgenoot.
Maar hier teen die einde, na haar opspraakwekkende egskeiding met die Italiaanse magnaat Massimo Beltrami, het sy in ’n ander rol na vore begin tree: as kanker-ondersteuningspreker en -aktivis. Janie is deesdae ma en eiendomsontwikkelaar, en permanent terug in Suid-Afrika. En sy is steeds besig met die kankeraktivisme.

Martie Retief-Meiring se oorsig oor die lewe van die kollig-Du Plessis (wat nog nie eens 50 is nie) werp effens meer lig op die lewe van iemand wat oënskynlik in die skoot van die luuksueuse gebore is.

Retief-Meiring skets Janie se grootwordjare in die ‘60’s en ‘70’s teen die agtergrond van ’n politieke bestel wat al hoe onrustiger begin word, maar tog nie ’n impak het op die jong Afrikaanse kinders wat in die sonskyn speel en voortstu nie. Die voorstad in Johannesburg waar sy grootgeword het, Parkhurst, was saam met die omliggende Parkview, Sandton en Bryanston die speel- en blyplek van ander groot name (in die politiek en elders), soos die latere president FW de Klerk, Frederik Van Zyl Slabbert, en ook die invloedryke denker-teoloog Johann Symington.

Hulle het hulself later die Parkview Crowd genoem, en haar maats sou Diane Kriegler (dogter van regter Johann Kriegler), Bert Wessels en die aktrise Suanne Browne insluit.

Later jare het Janie gaan regte studeer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (anders as haar broer en suster wat in Stellenbosch gaan studeer het), maar het haar studies opgeskop nadat sy deur Verna Vels “ontdek” is. Toe het haar veelbesproke lewe as televisie-aanbieder (vir Teletien) en as jong model en A-lys-kandidaat begin.

Verreweg die interessantste deel van die hele boek is die skrywer se realistiese uitbeelding van die politieke en sosiale agtergrond waarteen Janie se eskapades afgespeel het. Retief-Meiring se ervaring as joernalis in daardie tye staan volskoene in diens van die boek. Sy verlewendig die sosiopolitieke palet van die dag, terwyl die hooffokus van die boek, Janie, saliglik onbewus voortskyn in haar nuwe lewe van duur karre, celebrities en reisavonture.

Janie se ontmoeting met Beltrami word in besonderhede beskryf, vanaf die onmiddellike vonk wat daar tussen hulle was toe hulle omtrent veertig sekondes net in mekaar se oë gestaar het. Sy het tydens die eerste ontmoeting (‘n ete aan huis van haar ouers) al aan haar ma gesê dat “sy met hierdie man gaan trou”. Hoewel Beltrami se Engels nie waffers was nie, en sy nie op daardie stadium eintlik Portugees óf Italiaans magtig was nie, het dit die romanse klaarblyklik nie gehinder nie.

Kort voor lank was sy in Portugal, waar Beltrami se hoofwoning was, om vir hom te kuier – en kort daarna het hulle halsoorkop getrou.

Die grootste deel van die boek word gewy aan hulle stormagtige huwelik en die grootskaalse vergrype van dié superryk glanspaartjie. Nie lank na hulle trou nie, het Beltrami se dwelmmisbruik reeds begin, maar aanvanklik was dit onder beheer en het dit nie hul verhouding belemmer nie.

Dit laat helaas en ongelukkig ’n bietjie van ’n wrang smaak in die mond om te moet lees hoe twee volwasse, dog onverantwoordelike, mense hul lewens deurgebring het op seilbote, in vliegtuie, in Afrika op grootwildjagsafari’s en in die duurste klubs en restaurante terwyl die res van die land – en, trouens, die wêreld – in ’n greep van verandering en onrus geklem was.

Aan die ander kant, moet mens egter ook erken, is Janie openlik en eerlik oor dié tyd wat sy só in haar eie woorde beskryf: “Ons was soos twee stout kinders, en ons het net aan onsself gedink.” Nie lekker om te lees nie, maar dit vat moed om met so ’n mate van eerlikheid terug te kyk en te erken.

Janie se lewe het mettertyd effe kalmeer, veral na die koms van haar eerste seun. Met die tweede een het sy nog meer huislik begin word en al hoe meer aandag aan haar familie en hul villa begin skenk.

Teen hierdie tyd het Beltrami se dwelgebruik al hoe meer gereeld en intens begin word. Hy het ook sy besighede – en daar was etlikes – begin afskeep. Van ’n verarming van die Beltrami-leefstyl was daar egter steeds nie sprake nie.

Die keerpunt in Janie se lewe was ongetwyfeld die diagnose van borskanker by haar. In dié moeilike fase van haar lewe het haar ouers en haar familie die grootste ondersteunende rol gespeel. Met fakse heen en weer na en uit Suid-Afrika het sy in kontak gebly – sy was ongekend openlik in haar skrywes, veral aan haar ma, oor haar situasie in Portugal en in haar huwelik, wat al hoe meer benard geword het.

Die klimaks het gekom na die soveelste dwelmvergrype van Beltrami, en sy het hom voor ’n ultimatum gestel: óf hy verander, óf sy vat die kinders en keer terug na Suid-Afrika. Hy was nie bereid om aan te pas nie, en sy het letterlik die dag daarna met die twee seuntjies op die vliegtuig geklim, terug na haar ouerhuis. Dit was in 1999. Hulle is in 2004 geskei.

Die res van die boek vertel in breë trekke hoe sy weer hier haar voete moes kom vind: skielik was sy sonder huis, sonder werk en sonder geld. Beltrami het die kraantjie toegedraai.

Met Beltrami se dood in 2007 (hy’t verstik aan ’n toebroodjie in ’n restaurant) is ’n moeilike fase in haar lewe beëindig.

Van toe tot nou het Janie volstoom by borskankerbewussyn-aktiwiteite betrokke gebly, en sy het ook begin uitstyg in die eiendomsbedryf – aanvanklik as agent, en deesdae as ontwikkelaar. Haar deursettingsvermoë om terug te bons en iets van haar lewe te maak, is wel bewonderenswaardig, veral gesien teen die feit dat sy werklik in die skoot van voorspoed grootgeword het en as volwassene ongekende voordele en rykdom gesmaak het.

Benewens die duidelike vaardigheid waarmee die boek geskryf is, het ek wel na die tyd ’n bietjie van ’n “so what?”-gevoel gehad. Retief-Meiring laat Du Plessis die grootste deel van haar lewe in haar eie woorde vertel, en dit onderstreep dan ook net die ligtheid van dié bevoorregte se lewe.

Maar laat my sinisme niemand keer wat in Janie du Plessis se lewe en die lewens van celebrities belangstel nie. ’n Vriendin het die boek geleen en sy kon dit nie neersit nie.