Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Town: deurmekaar gebeure vertel ’n eenvoudige storie


André Crous - 2011-02-01

Regisseur: Ben Affleck
Kamerawerk: Robert Elswit
Rolverdeling: Ben Affleck, Jeremy Renner, Rebecca Hall, Jon Hamm
Looptyd: 125 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 31 Desember 2010

Ben Affleck speel Doug, ’n geharde krimineel in Charlestown, die “town” van die titel, ’n woonbuurt in Boston, wat banke beroof en nogal heel suksesvol is daarmee. Geweld is die lewe wat hy ken: Sy beste vriend, James, is onlangs uit die tronk vrygelaat nadat hy opgesluit is vir manslag (wat in ’n terugflits darem baie soos moord lyk), en sy eie pa sal vir die res van sy lewe agter tralies sit.

Dis ’n harde lewe, maar ná die openingsroof van ’n groot bank en die gyselaar wat hulle neem en dan vrylaat, lyk dit of die lewe dalk tog nie heeltemal hopeloos is nie. Dié gyselaar, ’n meisie genaamd Claire, kan die groep dalk uitken en wanneer sy deur die FBI genader word, besluit Doug om haar te agtervolg en meer uit te vind omtrent haar bedoelings. In die proses steel sy sy hart.

En dit is jammer dat dit gebeur, want dit lewer ’n uiters voorspelbare film. Ek dink aan ten minste twee ander gewelddadige films wat in Boston afgespeel het, The Departed en Boondock Saints, wat telkens die kyker verras het deur kinkels in die storiekabel te plaas. Ons weet dat Doug se geheim van sy werklike identiteit uiteindelik aan Claire bekend gemaak móét word en die hele film lank sit ons en wag vir hierdie oomblik en Claire se heel voorspelbare reaksie.



As Doug is Ben Affleck ’n aangename karakter – ’n nodige eienskap vir die bloeiende verhouding tussen hom en Claire om enigsins geloofwaardig te kan wees; hy lewer ’n uiters bekwame vertoning, as mens in ag neem dat hy terselfdertyd nog agter die kamera ook gestaan het en die hele produksie regisseer het. Op dieselfde vlak wil ek ook graag vir Jeremy Renner prys in sy rol as Doug se beste vriend, James. Renner was verlede jaar die hoofkarakter in die onwaardige Oscar-wenner, The Hurt Locker, maar sy rol in The Town is uitstekend benader en die geweld wat hy onderdruk, kan ons voel sonder dat dit ooit oorgaan tot een of ander oordrewe veruiterliking.

Een karakter wat wel beter geskets kon word, is Krista, die meisie by wie Doug reeds ’n kind het en wat ook ’n rol in die misdaadorganisasie speel. Sy verskyn aan die begin en maak ’n indruk voordat sy heeltemal uit die film verdwyn tot naby die einde, wanneer sy skielik ’n sentrale funksie beklee in die dramatiese opbou tot die film se aksiebelaaide klimaks in ’n voetbalstadion.

Ten spyte van heel knap redigering is hierdie klimaks nie so duidelik uiteengesit soos wat ’n mens sou verwag het nie en ek het my kop op ’n paar plekke gekrap om presies te probeer uitpluis wie nou besig is om op wie te skiet. ’n Soortgelyke probleem is al in die eerste toneel teenwoordig: Omdat die bankrowers maskers dra wat almal dieselfde lyk en daar geen manier is waarop ons uit hul stemme kan aflei wie wat doen nie, het ons as kykers net soveel onsekerheid oor die gang van gebeure soos die kliënte in die bank self. En dit sou vreemd gewees het as dit Affleck se bedoeling was om ons so te verwar, aangesien ons immers vir die res van die film in erg intieme kontak met die groep verkeer (ten minste met Affleck en Renner se karakters) en in ’n mate aan hul kant is.




My kollega Suzette Myburgh beveel al geruime tyd vir my Affleck se eerste film aan, Gone Baby Gone, wat, sover ek kan agterkom, meer berekend omgaan met die ingewikkeldheid van menslike besluite en nie so ’n konvensionele storielyn soos The Town het nie. Ek stel nog steeds daarin belang om dit te sien en sal dit binnekort gaan uitneem; om die waarheid te sê, ek sal in die toekoms met graagte nog van Affleck se werk kyk, solank hy sy karakters almal ewe ingewikkeld voorstel. As ek dink aan ’n bankrooffilm soos Dog Day Afternoon, dan lyk The Town se karakters en hul storie eenvoudig, selfs al is sommige gebeure heeltemal te deurmekaar.