Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Black Swan demonstreer Aronofsky se byna geniale aanleg


André Crous - 2011-01-26

Regisseur: Darren Aronofsky
Kamerawerk: Matthew Libatique
Rolverdeling: Natalie Portman, Mila Kunis, Barbara Hershey, Vincent Cassel
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 4 Februarie 2010

Ek erken: ek is nie ’n aanhanger van balletfilms nie. Robert Altman se 2004-film The Company, en selfs die klassieke The Red Shoes van 1948, so mooi soos wat dit was, het my dood verveel. Daarom het ek nie vreeslik na dié jaar se groot balletfilm, Black Swan, uitgesien nie. Maar ’n mens kan soms lekker verras word, en Black Swan bied ’n meesleurende kykervaring soos min.

Nina Sayers, ’n jong ballerina wat ballet met elke asemteug inadem en duidelik ook net oor ballet droom, kry die geleentheid om in die Swanemeer-balletstuk die hoofrol van die (Wit) Swanekoningin, sowel as haar aartsvyand die Swart Swaan, te vertolk. Haar afrigter, Thomas Leroy, is vas daarvan oortuig dat sy die Wit Swaan sonder enige probleem kan vertolk, maar sê vir haar dat die Swart Swaan ’n minder beheerste benadering vereis. Sy moet haarself toelaat om, in sy woorde, beheer te verloor.

En dit is basies waaroor die film gaan: Nina, met bravade vertolk deur Natalie Portman, se inherente begeerte om perfek te wees is in spanning met haar behoefte om beheer te verloor en sodoende die rol van ’n leeftyd, dié van die Swart Swaan wat meer hart en minder kop vereis, voldoende te kan beliggaam. Duidelik stuur dit alles af op ietwat van ’n identiteitskrisis of ’n gesplete persoonlikheid, maar Aronofsky en sy draaiboekskrywers kies verstommende oudiovisuele middele om ons geheel en al in haar ervaring van hierdie gemoedstoestand te dompel.

Die film se storielyn is glad nie ingewikkeld nie, en so ook nie die eenvoudige, immerteenwoordige simboliek van swart en wit wat regdeur die produksie skitter nie. Aan die ander kant is daar weer potensieel ’n oormaat hallusinasies, maar Aronofksy, vir wie die uitbeelding van donker innerlike wêrelde niks nuuts is nie, en sy redigeerder Andy Weisblum (wat ook The Fantastic Mr Fox geredigeer het) weet presies hoe lank enige truuk moet aanhou en hulle bou stadig aan Nina se effens intimiderende werklikheid totdat dit oor ons breek.


Die innerlike wêreld van die hoofkarakter is die spil waarom die hele film draai en Black Swan sou maklik gestruikel het as hierdie wêreld nie tot op ’n millimeter deur Aronofsky beplan en uitgebeeld is nie. My probleem met ander balletfilms is dikwels dat die filmmakers vergeet hulle maak ’n fliek en veel meer geïnteresseerd is in die meganiese opname van ’n balletproduksie. Aronofsky weet van beter en sy aanbieding van alle balletuitvoerings het altyd Nina en haar indruk van die vertoning as middelpunt. Uiteindelik gee ons om omdat sy omgee, en hierdie empatie word nie onnodig uitgerek nie.

Soos in Aronofsky se vorige film, The Wrestler, is die kamerawerk baie intiem by die aksie betrokke en die kameras word altyd met die hand vasgehou om sulke nabyheid weer te gee. Portman word ook meestal van naby af geskiet, van voor of van agter gevolg, en is in elke liewe toneel teenwoordig.

In teenstelling met die pa-dogter-verhouding van The Wrestler, wat vir ’n paar kykers destyds soetsappig voorgekom het, word die broos ma-dogter-verhouding in Black Swan baie goed hanteer. ’n Mens kan beweer dat die situasies ewe tragies is, maar in Black Swan is daar minder verduideliking en minder trane, want die fokus is op die probleme van die hede.

Ek het vroeër die voorkoms van hallusinasies genoem en daar was tye waar ek gevrees het die film stuur af op ’n “dit was alles net ’n droom”-absurditeit. Die openingstoneel, waarin Nina die Wit Swaan dans voordat ’n donker monster, die towenaar Rothbart, ’n vloek oor haar uitspreek, is ook net ’n droom en is self ’n mooi opsommende beeld van die film oor die algemeen. En tog kan ’n mens nie wegkyk nie. Die film hou jou vaster en vaster, en teen die laaste derde lewer dit intense oomblikke waarby ek werklik na my asem gesnak het.

Die gebruik van klanke wat ongepas voel, soos ’n oomblik op die New Yorkse moltrein wanneer dit klink of ’n swerm voëls voor die trein uiteenvlieg, of onnoembare geluide, meer in die lyn van grilfilms, wanneer iemand onverwags manifesteer, verontrus die kyker en laat jou nooit heeltemal gemaklik voel in hierdie onheilspellende, soms angswekkende, atmosfeer nie. Dinge is nie swart en wit nie en hierdie tikkie onsekerheid van wat presies aan die gang is, sal die kyker net mooi geïnteresseerd hou tot die krediete begin rol.


Die film is nie net ’n lewensles om ons te leer dat jy vir jouself moet opstaan en soms buite jou gemaksone moet beweeg nie. Black Swan is eerder ’n uitbeelding van die donker wêreld waar passie en obsessie met jare se vasgestelde grense vervleg en bots. En Aronofsky is geen vreemdeling wanneer dit kom by die uitbeelding van obsessie nie en hy weet hoe om jou saam te sleep, al is die pad ook hóé donker: sy Requiem for a Dream is sonder twyfel steeds die mees verpletterende dwelmfilm wat al ooit gemaak is.

Die media sal verslag lewer oor Natalie Portman se toegewydheid tot die rol as toneelspeler-ballerina, en ook die kamerawerk sal geprys word – veral die gebruik van spieëls sal enige aspirant-filmmaker sy/haar kop in verwondering laat krap. Maar wat hierdie film so spesiaal maak, is die regisseur Darren Aronofsky se byna geniale aanleg vir die uitbeelding van Nina se werklikheid in terme van ’n swart-wit tema wat nooit verwronge is nie en ons met elke stappie verder intrek.