Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Madri Victor op die spoor van Deon Meyer se jongste trefferboek


Madri Victor - 2011-01-26

Spoor
Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152501
Prys: R215.00

Klik hier en koop Spoor nou van Kalahari.net!

 

Resensie deur Madri Victor

Deon Meyer. Die naam sê al meer as wat enige inleiding kan doen. Want Deon is nie net een van die bekendste en mees suksesvolle skrywers in Suid-Afrika nie, hy is ook internasionaal bekend – en geliefd – met ’n ellelange lys toekennings agter sy naam. Hy het groupies, fans wat erg gespanne wag vir die volgende boek en soms die uitgewers bel om te hoor presies wanneer die publikasiedatum is. En hy stel hulle nooit teleur nie. Soos een aanhanger op ’n blog verklaar: Deon skryf elke keer ’n boek wat jy nie kan neersit nie.

Deon se jongste boek is Spoor. En lesers is vooraf al goed lusgemaak vir hierdie een – daar is immers ’n kort lokprent vir die boek gemaak. (Gaan volg ook gerus ’n fotospoor van die verhaal op Deon se webwerf, www.deonmeyer.com.)

Wat dadelik opval van Spoor, is die onkonvensionele struktuur: dit bestaan uit drie boeke wat losweg aan mekaar gekoppel is. Daar word van die leser verwag om die spoor wat regdeur loop, te volg. Die titel is nie om dowe neute nie. Deon verwag ook van die leser om spoorsnyer te raak, om die tekens te lees, deel van die jag te word. Daar is ’n magdom feite en inligting, daar is red herrings en misleidende afdraaie, en sommige lesers sal beslis beter kophou as ander. Jy word immers via The Art of Tracking gewaarsku: “While basic tracking skills can be trained in a short period, the more sophisticated aspects of tracking could take many years to develop. Furthermore, the intuitive and creative aspects require an inherent aptitude, so only some people have the potential to become expert trackers” (185).

Boek een vertel die verhaal van Milla Strachan, ’n gefrustreerde huisvrou van Durbanville wat uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap om uit te loop op haar man wat haar gereeld verneuk en haar manipulerende, selfsugtige tienerseun. In Kaapstad trek sy in haar nuwe woonstel in, kry werk by die Presidensiële Intelligensie-agentskap, waar sy verslae moet skryf, en begin stadig haar lewe van voor af opbou. Want van haar “ou” lewe het Milla genoeg gehad. Sy soek opwinding en ’n uitdaging, sy wil haar selfvertroue en haar vreesloosheid terugkry. Die spreekwoord sê egter nie verniet jy moet versigtig wees waarvoor jy wens nie. Wanneer Milla by haar dansskool vir Lukas ontmoet, word haar nuwe lewe totaal op sy kop gekeer. Want sy ken vir Lukas, so soort van – sy moes ’n verslag oor hom skryf. Lukas word, soos die Moslem Supreme Committee, baie goed deur die PIA dopgehou. En sy sogenaamde betrokkenheid by die Moslem Supreme Committee se plan lyk al meer verdag.

Indien jy, soos vele ander, ’n Lemmer-aanhanger is, sal Boek twee jou kos wees. Dáár sal jy nou eers begin lekker lees. Want Lemmer is terug en soos gewoonlik soek hy nie moeilikheid nie, maar volg dit hom nietemin. Lemmer word deur Diederik gevra om as back-up saam met Laurens te ry wanneer hy ’n renosterpaar by die Zimbabwiese grens gaan optel. En hier kom Vlooi by, spoorsnyer sonder weerga en ’n katjie wat jy beslis nie sonder handskoene wil aanpak nie. Dinge verloop nie heeltemal volgens plan nie en voor hy hom kom kry, oortree Lemmer alweer sy Eerste Wet. Want hy vat soos ’n bloedhond daai spoor ...

In Boek drie is Mat Joubert weer in die prentjie. Hy het bedank uit die polisiediens en begin as senior konsultant, of gewoon gestel privaat speurder, by Jack Fischer werk. Vir sy eerste saak moet hy die raaiselagtige verdwyning van Danie Flint ondersoek. Maar die tyd vir ondersoek is min, want Tanja Flint se geld raak vinnig op en Jack Fisher is ’n man wat sy pond vleis eis.

Of jy van die begin af onstuitbaar deur die inligting en verwysings spoorhou en of jy ’n paar keer moet terugblaai en naslaan, een ding bly seker: Deon neem jou weer eens op ’n jagtog wat jou teen die einde van die verhaal na meer sal laat vra. En dan wag jy ook, soos ’n verslaafde, saam met al die ander fans vir die volgende boek.



Madri gesels met Deon Meyer

 

Deon, Spoor is ’n ambisieuse boek wat jy na kinderspeletjies laat lyk. Soos in die geval met Onsigbaar se eerstepersoon-verteller het jy hier weer eens die grense getoets en verskuif. Waarom die onkonvensionele struktuur?

Baie dankie vir jou ruimhartige kommentaar.

Die struktuur het gebeur as gevolg van ’n hele reeks faktore. Die eerste is my vaste voorneme om met elke boek ’n nuwe uitdaging te probeer stel (ek bly maar doodbang vir stagnasie en die gevaar om my te begin herhaal).

Die tweede was my eie geboeidheid met die invloed wat struktuur het op enige storie in die breë speur-/spanningsgenre, op die skryfproses en die spanningslyn. Hoe die genre se struktuur subtiel verskil van dié van ander, hoe dit dekades lank al relatief onveranderd gebly het (terwyl die genre op ander gebiede – byvoorbeeld onderwerpmateriaal – voortdurend skuiwe maak). Ek het aanhou met wonder: Kan ’n mens met dié ingegreinde struktuur gaan lol, kan jy daarmee wegkom? En as jy lol: Hoe?

Die derde faktor is my fassinasie met hoe gebeure mense se lewens raak. Meer nog, hoe dieselfde gebeurtenis verskillende mense op verskillende maniere kan raak – veral gewone mense, soos die huisvrou Milla Strachan en die sakevrou Tanja Flint. (En, natuurlik, hoe ’n mens die uiteenlopende lewens en invloede in ’n enkele roman kan insluit.) Dit het op ’n manier ook te make met Mikhail Bakhtin se konsep van heteroglossia – om meerstemmigheid te bewerkstellig.

Sommige lesers mag dalk dink dat drie verskillende stories die spanningslyn onderbreek en ondermynend kan werk. Die hoofkarakters verskil, die fokus van die verhale is telkens anders, trouens al drie boeke kan byna afsonderlik ook funksioneer – al bly die raaisel tot aan die einde onopgelos. Was dit ’n doelbewuste strategie of het die storie sigself so by jou aangemeld?

Dalk ’n kombinasie van ’n doelbewuste strategie én die stories wat hulle so kom aanmeld het. Ek het van meet af aan geweet die struktuur gaan hoër eise aan lesers stel (maar ook deur die jare geleer ’n mens onderskat jou lesers se intelligensie en vermoëns tot jou nadeel), veral wat die onderbreking van die spanningslyn betref. Dit was erg onkonvensioneel, maar hierin het juis die lekker vir my gelê: om die konvensionele verwagting van die leser te verras ...

Elke boek stel sy eie uitdagings aan die skrywer (en soms ook die leser). Struktureel is Spoor anders as jou vorige boeke. Wat was vir jou die moeilikste van Spoor se skryfproses?

Die heel moeilikste was ongetwyfeld die lengte – en die baie onderbrekings van boektoere. Om vir 18 maande se heeltyds skryf met ’n manuskrip besig te wees, was vir my ’n nuwe ervaring. Ek het in ’n stadium begin wonder of ek dit ooit gaan klaarkry.

Die boek het ’n ingewikkelde intrige, daar is baie feite, baie karakters, ’n magdom inligting om te verwerk. Wat was die inspirasie agter die verhaal?

Ek moet bieg en sê ek glo nie in inspirasie nie – om ’n boek te skryf is feitlik uitsluitlik perspirasie. Die elemente van die storie het uit vele oorde gekom – die interessantheid van Durbanville (ek woon vir die eerste keer in 22 jaar weer in wat beskou kan word as ’n “Afrikaanse” voorstad), die verstommende tegnologie van die Golden Arrow-busmaatskappy waarvan my broer Francois my vertel het, die slagting onder renosters, Mike Nicol se boek Payback ...

Deon, jy doen kennelik baie navorsing; Spoor is soos ’n lekkerlees Wiki. ’n Mens kan hier enigiets leer, van renostersiektes en -invoerprosedures tot hoe skepe per satelliet opgespoor word. Geniet jy die navorsingsdeel van skryf? En hoe op dese aarde kom jy by al die interessante brokkies uit?

Die navorsing is sekerlik die lekkerste deel van ’n boek skryf, juis omdat dit nie soos werk voel nie: om hoogs interessante dinge waaroor ek vrek nuuskierig is, te gaan uitsnuffel, en boonop wonderlike mense in die proses te leer ken, is ’n geweldige voorreg.

Ek verkies om die meeste inligting by kenners op elke gebied te gaan bedel deur persoonlike onderhoude – soms in die persoon, soms per telefoon of e-pos. Daarby probeer ek soveel oor ’n onderwerp lees as wat ek kan.

Jou bekende karakters, soos Bennie Griessel, Mat Joubert en Lemmer, is al byna volksbesit. Ek weet van mense wat hulle soms verkeerdelik as kennisse eerder as fiktiewe karakters onthou. Hoeveel van hierdie tipe karakters het ’n skrywer in hom? Kan ’n skrywer oor en oor sulke interessante karakters skep of gebruik jy hulle juis weer omdat dit die karakter diepte gee?

Ek glo (en hoop regtig) daar is nie ’n beperking op die aantal karakters wat ’n skrywer kan skep nie – solank ’n skrywer met dieselfde sorgsaamheid, deernis en deeglikheid ’n karakter skep, behoort hulle almal in teorie interessant te kan wees. Die probleem begin wanneer ’n mens só geheg raak aan jou karakters dat jy jou oor hulle bekommer wanneer jy nie ’n storie oor hulle skryf nie. En dan verhale opmaak om hul welstand te verseker – en daardie verhale word weer nuwe boeke ...

Het jy ’n gunsteling-karakter, een met wie jy meer identifiseer as ander?

Dit is so goed jy vra vir ’n ouer vir watter kind hy die liefste is. My gunsteling-karakter is gewoonlik die een in die boek waarmee ek besig is.

In ’n onderhoud op Crime Beat het jy genoem dat jy reeds aan ’n nuwe boek werk – en dit was kort voordat Spoor die lig gesien het. Werk jy dikwels reeds aan ’n volgende manuskrip terwyl ’n boek in die publikasieproses is?

Danksy my briljante redakteur, Etienne Bloemhof, is die publikasieproses pynloos en seepglad, wat my in staat stel om feitlik onmiddellik nadat ’n boek klaar is, met navorsing vir die volgende een te begin.

Hierdie vraag sluit aan by die vorige een: Hoe hanteer jy die mediabelangstelling en -verpligtinge van ’n boek terwyl jy aan die skryf is met die volgende een? Voel dit nie soms asof jy nog so half met ’n voet in die een storie bly staan nie?

Mens raak daaraan gewoond. Ek moes verlede jaar onderhoude oor vyf verskillende boeke doen (Spanje het byvoorbeeld Proteus gepubliseer, Swede vir Infanta, Noorweë vir Onsigbaar, die VSA, Kanada en Brittanje 13 Uur), terwyl ek Spoor plaaslik moes bemark en reeds aan Sewe Dae begin werk het ...

Dit help darem baie dat ’n mens al die vrae oor vorige boeke reeds moes beantwoord het.

Jy is ’n skrywer met internasionale statuur. Jou boeke wen internasionaal pryse en is beskikbaar in Engels, Duits, Sweeds en Japannees, om maar net ’n paar te noem. Het hierdie blootstelling en sukses verander hoe jy na die skryfproses kyk, en hoe of wat jy skryf?

Dit is ’n besluit wat ek jare gelede geneem het: om te hou by wat vir my werk. Daar is eenvoudig te veel tale, kulture en markte om in gedagte te probeer hou, en dit is kortpad na waansin om te probeer. Daarom het ek niks verander nie.

Jy skryf deesdae ook draaiboeke. Hoe beïnvloed dít hoe jy nou na jou stories kyk?

Die enigste invloed is by die geboorte van die storie-konsep. Sekere idees is geskik vir romans, ander vir draaiboeke of kortverhale. En die verskille tussen al dié media is massief in terme van aanslag, uitvoering, struktuur, lengte ... Kruisbestuiwing is daar nie.

Wat leer jy by jou oorsese uitgewers?

Dat veral Suid-Afrikaanse TV-draaiboekkontrakte basies neerkom op onregmatige arbeidspraktyk, dat Suid-Afrikaanse boekkontrakte nog nie in pas is met internasionale tendense nie.

Ons het baie bekwame en suksesvolle misdaadskrywers in Suid-Afrika – dink maar aan Roger Smith, Mike Nicol, Margie Orford, Chris Karstens, Piet Steyn, Chanette Paul. Hierdie is skrywers wat, soos jy self, belangrike sosiale kommentaar lewer deur hulle boeke. Stem jy saam dat die misdaadverhaal se fokus oor die afgelope tien of twintig jaar verskuif het?

Nee, ek stem nie saam nie. Dit is ’n genre wat nog nooit staties was nie – gaan lees gerus John D MacDonald en Ed McBain se werk uit die sestigs en sewentigs – daar is hope (deurdagte, slim) sosiale kommentaar. En daar was nog altyd tendense, fokusverskuiwings, modes, giere, na gelang van sake van die dag, of dit nou polities, sosiaal of ekonomies is. Wat laasgenoemde betref, het jy byvoorbeeld al Paul E Erdmann of Michael Ridpath gelees?

Daar was egter die afgelope tien jaar ’n interessante verbreding van die genre. Dink maar aan die aweregse Franse Fred Vargas, die Amerikaner Michael Korita en die Kanadees Andrew Pyper se jongste boeke wat keurig spookstorie en misdaad vermeng, die Israeli Assaf Gavron se swart humor, Lynwood Barclay en Harlan Coben se gewone-mens-in-gevaar-misdaad, die opkoms van die Skandinawiese skrywers met hul gestroopte, atmosferiese prosa en wyer-lopende stories (terloops, lees gerus die Sweed Johan Theorin – nog beter as Larsson) ...

Die gewildheid van hierdie genre is aan die toeneem, ook wêreldwyd. Waarom lees mense soveel misdaadfiksie, dink jy?

Vir die lekker, sou ek hoop. My teorie is dat televisie misdaadfiksie ’n groot hupstoot gegee het met onder meer CSI, Dexter, selfs Desperate Housewives, wat altyd ’n misdaad-kinkel het, dat die genre weens die groter verskeidenheid en beter gehalte bloei, maar ook dat lesers eindelik die genre geniet omdat ons almal so ’n ingebore sin vir regverdigheid het, en misdaadfiksie geregtigheid bied in ’n wêreld waar die gewone man dit nie altyd kry nie.

Wat is nou volgende? Kan jy al ’n ietsie vir die aanhangers van jou volgende boek verklap?

Bennie Griessel is terug, hy’t meer moeilikheid as ooit tevore, en die werkstitel is Sewe Dae.