Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Bravo, en Encore vir The Taming of the Shrew


Albert Maritz - 2011-01-20

The Taming of the Shrew

deur William Shakespeare

Rolverdeling: Adrian Galley, Anthea Thompson, Grant Swanby, Juliet Jenkin, Mark Hoeben, Francis Chouler, Darron Araujo, Johann Vermaak, Peter Krummeck, Jeroen Kranenburg, John Caviggia, Daniel Barnett, Richard Lothian, James MacGregor, Michael Inglis, Robyn McHarry, Chi Mhende, Gabriel Hoffman, Alexander Tops en Dewald van Zyl.
Regie:
Roy Sargeant.

’n Kunstekaap-produksie in Maynardville-opelugteater, Wynberg. Tot 19 Februarie.

My verwysingsraamwerk ten opsigte van Shakespeare is tweërlei – ’n dosent in die 1980’s op Stellenbosch wat literatuur aanbid het en toe-oë na toneel kon kyk. Haar beoordeling van toneel het berus op die aanhoor van die woord. Sy het die aakligste teater soms met lof besing.

Dan het ek die voorreg gesmaak om, vir ’n paar jaar in ’n ry, die Universiteit van Kaapstad se oudisieprogramme vir finalejaarstudente by te woon. Ek was verbyster oor hoe studente aan die moeilikste tekste lewe kon gee. Shakespeare is geïnterpreteer asof dit die woorde van Jan Alleman was. Dit is verstaanbaar en hoogs vermaaklik aangebied. Akteurs het klaarblyklik tegnieke geleer om, wanneer hulle die teks begryp, ook met gemak daarmee om te gaan soos hulle met alledaagse taal sou.

Soveel van Shakespeare se ryk inkleding, soos rym, vloei, ritme, kom sodoende tot sy reg. Gereeld is dit juis weens die respek wat die akteur vir bogenoemde het dat die verstaanbaarheid van Shakespeare seëvier.

Dis uiters skaars dat gehore trakteer word op die UK se soort Shakespeare. En hierin – in die hantering van die taal, en die teks – lê die sukses van Shakespeare altyd opgesluit.

Groot was die genoegdoening waarmee ek en medeteatergangers dus die Maynardville-opvoering van The Taming of the Shrew geniet het.

Anders as in vorige opvoerings is die eie natuurskoon tydens hierdie produksie nie verberg, of verdwerg, deur groot verhoogstelle, balkonne en dakke nie. Met keurige beligting dra die bosse en bome by tot die skouspel van kleur, fees van kostuums, grimering, en die groot hoogtes van liggaam, klank en taal.

Tussen armsvol hoogtepunte van spel en regie is dit dalk onregverdig om optredes uit te sonder, maar wanneer jy hier sit en jou verlustig in Shakespeare soos hy gepraat moet word, kyk of jy net so lekkerkry met die krag en gemak van die bewese Anthea Thompson, of die aktrise Juliet Jenkin net so diep onder jou vel inkruip, of Darron Araujo ook jou mond laat oophang van vreugde, en Johann Vermaak jou ook laat kriewel van vreugde.

Daar is sekerlik wyshede kwyt te raak oor die getrouheid aan die teks, die vroueregtekwessie ... maar vir my, en ek is seker ook vir die mense wat om my heen gesit het, was die louter vreugde van ’n aand se teater – Shakespeare nogal – genoeg om net te sê: Bravo, en Encore!