Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Moedertaalonderrig bevorder leerderprestasie en kulturele diversiteit


Michael le Cordeur - 2011-01-18

Met die afskaffing van apartheid het die nuwe regering die edele beginsel van ’n veeltaligheidsbeleid aanvaar wat erkenning aan 11 amptelike tale gegee het. Daarmee is die grondslag gelê vir twee belangrike ontwikkelingsinisiatiewe wat as meganismes kon dien in die proses van nasiebou in ons jong demokrasie: kulturele diversiteit en moedertaalonderrig.

Volgens ’n wêreldverslag van UNESCO het kulturele diversiteit met die draai van die eeu as ’n sleutelbegrip na vore getree. Hiervolgens is taal een van die belangrikste aspekte om gestalte aan kulturele diversiteit te gee. Taal is nie net ’n middel tot kommunikasie is nie; dit verteenwoordig ’n rykdom aan kultuurgoedere, en is ’n draer van identiteit en waardes. Taal fasiliteer ons intellektuele en kulturele interaksies met ander mense. Taal is dus ’n belangrike instrument vir nasiebou.

Wannie Carstens beklemtoon dat Afrikaans in die hoogs gepolitiseerde omgewing van die nuwe Suid-Afrika die stigma dra (gedra het?) van die onderdrukkende taal. En Christo van Rensburg het reeds in 1989 uitgewys dat ’n taal nie die gevolge kan dra vir die foute van sy sprekers nie. ’n Taal kies nie sy sprekers nie, maar die mense wat dit gebruik, kies die taal, omdat daar kommunikasie moet wees. Ons weet almal dat daar in die verlede afskuwelike dinge in Afrikaans gesê is. Maar dit was nie Afrikaans, die taal self, wat dit gedoen het nie. As Afrikaans gesien is as die taal van die onderdrukker, dan is Engels, Duits, Frans en Russies selfs in ’n groter mate tale van onderdrukking.

Vyftien jaar nadat die beleid amptelik in die land se nuwe grondwet beslag gekry het, is daar nog geen noemenswaardige vordering gemaak om ons inheemse tale as medium van onderrig en leer te vestig nie. Daarom huldig die internasionale taalkundige Fernand de Varennes die mening dat slegs een taal, ten beste een en ’n halwe taal, op nasionale vlak amptelike status in die ware sin van die woord geniet.

Waarom is moedertaalonderrig so noodsaaklik?
Nasionale integrasie is een van die ideale van post-1994-Suid-Afrika. Dit kan bewerkstellig word deur onder andere die beskerming van die land se diversiteit, die vestiging van ’n demokrasie en die bevordering van gelykheid en menseregte. Hierdie ideaal kan natuurlik op verskillende domeine nagestreef word. Een daarvan is taal, meer spesifiek die beskerming van diversiteit, die bevordering van meertaligheid, die bemagtiging van sprekers (leerders) se vaardighede in hul huistale, die aanleer van addisionele tale, en die ontwikkeling van respek vir ander tale en die regte van hul sprekers. Let op na die “doen”-woorde: beskerm, bevorder en bemagtig (die leuse van die Afrikaanse Taalraad).

Verband tussen moedertaalonderrig en prestasie
UNESCO definieer moedertaalonderrig as “education which uses as its medium of instruction a person’s mother tongue, that is, the language which a person has acquired in early years and which normally has become his natural instrument of thought and communication”.

Dus behels moedertaalonderrig dat leerders die fundamentele konsepte van ’n onderwerp in hulle moedertaal geleer word. Sodra hulle hierdie konsepte begryp, kan hulle dit toepas tydens die aanleer van ’n tweede taal. Kinders verstaan konsepte makliker in ’n taal wat aan hulle bekend is, maar in ’n tweede taal word dit dooie woorde wat net gememoriseer, maar nie geïnternaliseer word nie.

Die probleem is dat baie min leerders moedertaalonderrig ontvang – wat ’n reuse-uitwerking het op hulle vermoë om die kurrikulum baas te raak. Prestasiepatrone dui byvoorbeeld daarop dat leerlinge swak vaar in gesyferdheid omdat hulle nie uitdrukkings soos verdubbel en halveer verstaan nie. Daar is oorweldigende bewyse nasionaal en internasionaal dat leer deur die moedertaal vir minstens die eerste ses jaar van ’n kind se lewe help om leer te bevorder.

Hoe verander ons mense se persepsies?
Suid-Afrika hoef nie ver te soek na voorbeelde van bemarkingstrategieë om inheemse tale as onderrigtale te bemark nie. Afrikaans, eens geëtiketteer as ’n kombuistaal, is vandag ’n wêreldtaal, ’n taal van onderwys, wetenskap en ekonomie. Daar is vir almal baie lesse te leer by Afrikaans, en Afrikaans het baie om te deel. Wat het Afrikaans gedoen om tot satelliettaal te vorder? Die regering sal moet besef dat taal en taalontwikkeling ook vir die bewindhebbers voordele inhou. Daarom sal dit die burgerregtelike samelewing loon om te mobiliseer rondom taalregte en die praktiese voordele daarvan.

Ons benodig ’n doelgerigte bemarkingsveldtog om Suid-Afrikaners bewus te maak van die voordele verbonde aan moedertaalonderrig. Dit moet begin by die president en sy kabinet. Ons benodig liggame wat die gebruik daarvan aanmoedig; kurrikulummateriaal moet ontwikkel word; onderwysers moet opgelei word; en navorsers moet aangemoedig word om Afrikatale te bestudeer. Gesertifiseerde opleiding in ’n Afrikataal moet ’n vereiste wees vir ’n pos in die staatsdiens.

Ons tale moet as bates bestuur word en die nodige taalinfrastruktuur moet uitgebou word sodat die grondslag vir ’n taalekonomie gelê kan word ten einde die ekonomiese voordele van ons diversiteit te ontgin. Elke leerder moet weet dat ’n deeglike kennis van sy of haar moedertaal, naas ’n grondige kennis van Engels, ’n ekonomiese bate is wat vir hulle werksgeleenthede kan ontsluit.

Wanopvattings
Talle Afrikaanssprekende ouers meen, op grond van wanopvattings soos dié hier onder, dat Engels die enigste keuse is. Die feite weerspreek egter dié (drog)redenasies.

  • Dis tot my kind se voordeel om deur middel van Engels onderrig te word. ’n Sesjarige kind het al ’n woordeskat van sowat 2 500 woorde in sy huistaal, maar slegs ’n geringe woordeskat in Engels waarmee hy verdere kennis moet verwerf. In ’n Engelse skool sal hy dus met ’n agterstand begin.
  • Die meeste handboeke vir verdere studie is in Engels. Afrikaanssprekendes se prestasies vergelyk besonder gunstig met dié van hul Engelssprekende eweknieë en hulle gee op verskeie terreine die toon aan. Een van die redes is, soos reeds genoem, is dat ’n grondige kennis van jou huistaal ook help om ’n tweede taal te bemeester. Teen die tyd dat kinders op universiteit kom, is hulle ewe vaardig in Engels as in hul huistaal. My dogter was in ’n Afrikaanse skool en het in matriek onderskeidings in Afrikaans én Engels behaal, en het intussen haar BComm voltooi.
  • Engels is die wêreldtaal. Dit is gewis so, maar in lande onder andere Nederland, Duitsland, Frankryk, Japan, China en Indië kry kinders onderrig in hul moedertaal en dié lande beskik tans oor die grootste ekonomieë in die wêreld.

Hoe los ons die onderwysprobleem op?
Onderwys vervul ’n uiters belangrike rol in die ontwikkeling en sukses van ’n land. Daarom is sterk leierskap nodig om die kwessie van moedertaalonderrig as ’n saak van openbare belang aanhangig te maak. Suid-Afrika benodig ’n duidelike onderneming dat die regering die stadige dood van ons inheemse tale sal stopsit.

Mamphele Ramphele is van mening dat hierdie neiging uiteindelik daartoe lei dat ons kinders ’n duur prys betaal: “If language is not only the medium of communication, but also a means of cultural heritage transmission between generations, how are our children to know who they are and what heritage they bring to South Africa's diversity?”

Hopelik sal ouers dit onthou as hulle ’n besluit moet neem oor waar hulle hul kinders moet inskryf.