Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

You Will Meet a Tall Dark Stranger laag op die rangorde van Allen-films


André Crous - 2011-01-18

Regisseur: Woody Allen
Kamerawerk: Vilmos Zsigmond
Rolverdeling: Naomi Watts, Josh Brolin, Anthony Hopkins, Antonio Banderas
Looptyd: 95 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 31 Desember 2010

Hoewel Woody Allen een van vandag se produktiefste regisseurs is in terme van sy uitsette (hy het die afgelope tien jaar tien films geregisseer en vrygestel), moet ’n mens dikwels maar net duim vashou en hoop vir die beste. Die man weet hoe om te skryf en hy weet veral hoe om mense te laat praat, maar hoewel sy stories ’n oorvloed aan beide komedie en tragedie het, is hulle dikwels so oppervlakkig dat jy die verhaal vergeet die oomblik wanneer jy die teater verlaat.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: As jy iets soek om jou tyd mee te verwyl in die winkelsentrum, dan gaan Allen jou sonder twyfel vermaak. Die storie(s) is maklik om te volg, die karakters het almal hul eiesoortige kranksinnighede, en die film voel nie lank nie. As jy egter al heelwat van Allen se films gesien het, dan is hierdie een taamlik ver ondertoe op die rangorde.

Soos gewoonlik is groot name betrokke by die produksie. Nie net die rolspelers nie – en hier het ons onder andere Naomi Watts, Anthony Hopkins, Josh Brolin en Antonio Banderas – maar ook die kameraman, Vilmos Zsigmond, wat een van die voorste figure was tydens die oplewing van die Amerikaanse filmbedryf in die 1960’s en 1970’s. Dit is hy wat Deliverance, Close Encounters of the Third Kind en Deer Hunter verfilm het.

Maar, anders as Penelope Crúz in Allen se heerlike Vicky Cristina Barcelona, steek geeneen van die karakters werklik by ’n mens vas nie, en ten spyte van Zsigmond se ervaring lyk dit maar grotendeels soos enige ander Allen-film. Dit was wel ’n goeie benadering om die kamera net-net ver genoeg van die meisie –  wat Roy (Josh Brolin), ’n skrywer wat aan ’n gebrek aan inspirasie ly, lank deur sy woonstelvenster afloer voordat hulle eindelik ontmoet – te plaas om haar identiteit ’n dun lagie van geheimsinnigheid te gee.

Ek het hier byna niks van die stories vertel nie, maar dit maak nie saak nie. Soos die verteller self deur ’n oppervlakkige verwysing na Shakespeare erken, is hierdie inderdaad “a tale full of sound and fury, signifying nothing”.