Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Winter’s Bone goed, maar nie genotvol


André Crous - 2011-01-18

Regisseur: Debra Granik
Kamerawerk: Michael McDonough
Rolverdeling: Jennifer Lawrence, John Hawkes, Dale Dickey
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 14 Januarie 2010

Winter’s Bone wys ’n jong meisie se soektog na haar pa in die hartseer, bebosde agterland van middel-Amerika – die deelstaat Missouri, om presies te wees. Die film is deurtrek met ’n gevoel van jare se leed en worsteling om kop bo water te hou en hierdie gevoel word onderstreep deur die film se kamerawerk: Alles is skakerings van bruin en grys en word afgeneem met ’n kamera wat stewig met die hand vasgehou word, en die beelde is nie opmerklik onstabiel nie.

Die film is nie maklik om te kyk nie. Jy gaan nooit eens daaraan dink om te glimlag nie, want die atmosfeer is desperaat en klaarblyklik al hopeloos reg van die begin af. ’n Polisieman daag op en lig die Dolly-gesin in dat Jessup, die pa, onlangs uit die tronk vrygelaat is. Tensy hy die volgende week by sy verhoor opdaag, verloor die gesin die huis, wat Jessup as onderpand geteken het in ’n ooreenkoms met die staat.

Ree, die sewentienjarige dogter van Jessup, wat ’n huis deel met haar ma (wat nooit ’n woord sê nie) en haar heelwat jonger broer en suster, neem dit op haarself om Jessup op te spoor en sodoende die gesin van haweloosheid te red. Sy is glad nie ’n soort heldin nie, maar sy doen haar bes om doelgerig rond te gaan en te gesels met mense wat aan Jessup verwant is of met hom besigheid gedoen het. 

Nou, hierdie “besigheid” is die rede waarom hy oorspronklik in die tronk opgesluit is en sluit die vervaardiging van dwelms in. Dit is vir hierdie gemeenskap een manier om ’n bietjie geld te bekom en dit blyk vinnig dat niemand Ree wil uithelp nie en glad vyandig teenoor haar optree.
 
Hulle is vol geheime en het almal hul kwellings en hul breekpunte met erg persoonlike drempels. Hulle openbaar ook ’n onwilligheid om betrokke te raak, dalk weens vrees dat hul lewens nog slegter kan word, en probeer Ree intimideer met hul ouderdom, maar al die jare in haar ouerhuis het haar vel al hard gemaak.


Behalwe vir hierdie soektog, wat nie juis veel verskillende vorme kan aanneem in ’n verhaal nie, is daar nie veel om van die storie self te sê nie. Ek kan nie oor enigiets kla wat beter gedoen kon gewees het nie, maar dit is net nie ’n film wat ek graag wil kyk nie. Dit is neerdrukkend en donker. Die hart van die film is Ree, wat die hele ervaring draaglik maak en die kyker darem laat voel dat daar iemand op die skerm is wat ons aandag en medelye verdien. Gelukkig is sy ook in elke toneel.

Een toneel wat ek moet uitlig, is een van die laaste tonele, waar die verhaal ontknoop. Dit slaan jou asem weg omdat jy weet wat gebeur sonder dat jy werklik iets sien en die emosie kan voel sonder dat klank misbruik word. Dikwels is ’n geluidlose snik baie effektiewer as ’n gil. Die toneel is grusaam, maar met kalmte verfilm (die musiek op die klankbaan is wel ’n bietjie skerp) en is werklik ’n uitstekende uitbeelding van die besondere gebeurtenis.




Die film is ook baie minimalisties in sy uitbeelding van die omgewing, met min karakters wat in die film verskyn. ’n Mens kry ook nie werklik ’n behoorlike idee van die uitleg van die omgewing nie en dit kon myns insiens beter bedink word. Niks in die film voel uit plek uit nie, maar ek kan eerlikwaar nie insien hoekom dit deur soveel resensente geloof word nie: Dit het die jurieprys by die Sundance-filmfees gewen en was Tom Brook, die BBC se filmresensent en aanbieder van Talking Movies, se nommervyf-film van 2010.

Dit beeld die spanning in ’n klein gemeenskap goed uit sonder om kommentaar te lewer en is sekerlik ’n eerlike blik op soortgelyke individue in die Amerikaanse binneland, maar is dit ’n ervaring wat vele kykers sal geniet? Waarskynlik nie