Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Die goue voël


Sara Taylor - 2011-01-18

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Die sfinks lê geborge tussen die piramides en die sand soos ’n genotknoppie tussen die voue van skaamlippe. Dis veertig grade in die skaduwee en ons is besig om ’n goedkoop dokumentêre film vir ’n Afrikaanse betaalkanaal te maak. Michael, my kameraman, aantreklik en fris gebou, hanteer sy Sony digitale kamera met gemak. Ons gee voor ons is toeriste om betaling aan die owerhede te vermy. Hy lyk sexy met sy designer Calvin Klein-kortbroek en wit T-hemp, en ek gewaagd in my kakie kortbroek en groen kamisole – sonder bra. Ons het albei Timberlandstewels aan om die woestynsand van ons voete weg te hou.

Sonder ons gids dwaal ons dieper die piramide in, tussen die koel tonnels tot by een van die kamers waar die hiërogliewe die ontslape koning se verhaal vertel. Ons is alleen. Michael beweeg nader. Sy T-hemp is sopnat en ek snak na my asem toe ek sy gespierde bors en gerimpelde maag sien deurslaan. Ek wil aan hom vat, hom soen en daardie uitdagende broek afruk. Ek wil ...

’n Groep toeriste kom lawaaierig die vertrek binne. Michael gaan voort met die skiet. Ek probeer die nat kamisole van my borste kry om my stywe tepels minder opsigtelik te maak. Hy sien dit en glimlag. Sy wit tande laat my bene smelt en maak my poesie nog klammer. Ons beweeg na die volgende kamer, weg van die nuuskieriges. Uiteindelik kry my wellus die oorhand.

Ons is nou al vyf dae saam in Kaïro, en om geld te spaar deel ons ’n hotelkamer. Aanvanklik het ons mekaar se privaatheid gerespekteer, maar nadat die handdoek om my lyf per ongeluk afgeval het, het dekorum verdwyn. Nou sien ons mekaar gereeld kaal. Ek het nie meer ’n skaamhaar op my lyf nie, letterlik en figuurlik. Soms lê ons tydens siësta nakend op ons beddens. Laatmiddag speel die wind deur die oop venster met koel vingers oor ons nat liggame. Ek loer dikwels ongemerk na die swelling van sy penis waar dit uitdagend teen sy bobeen lê. Dan gaan staan Michael voor die oop venster en staar verby die vuil, kronkelende Nylrivier na skimme wat hardloop oor die warm woestynsand. Sy ferm boude vorm ’n voor waardeur die sweet met gemak kan afgly. Soms gril hy as die klammigheid oor sy anus en dan teen sy bene afloop.

Gister het ek my moed bymekaar geskraap en ook opgestaan. Ek het agter hom stelling ingeneem en met my vingers saggies oor sy rug die souterige sweet tot tussen sy boude gevolg. Hy het sy bene verskuif om plek te maak vir my hand. My hand het eers saggies oor sy boude, tussen sy bene, rakelings oor sy anus gegly voordat ek stadig sy warm skrotum kon vertroetel. Ek het gevoel hoe sy piel lewe kry.

Ek het probeer om met selfbeheersing om te draai en weer op die bed te gaan lê, maar die nattigheid in my poesie het my soos ’n magneet nader aan Michael se genotspier getrek. Ek het my arm om sy lyf geslaan, en sy stywe voël met my soekende hand omhels. Die manlike sweetreuk gemeng met Aramis het lêplek in my neus gekry. Ek het my borste plat teen sy gladde rug gedruk en my hand stadig op en af oor sy warm voël beweeg. My heupe het ritmies gevolg. Ons nat liggame het glad teen mekaar geskuur en my harde tepels het paaie oor sy rug getrek. Michael het met uitgespreide arms aan die vensterkosyn vasgeklou, en diep gesug asof Atlas die wêreld van sy skouers afgehaal het.

’n Klop aan die deur het die verlange net langer uitgerek.

“One moment, please.” Ons het gou iets aangetrek. Dit was ons gids, Gammal. Hy het bekommerd ingestorm, die deur vinnig toegemaak en ’n langwerpige toegedraaide pakkie in my hand gestop.

“Thank goodness, you’re here, Christine. Hide this, please.” Voordat hy by die deur kon uitglip, het ek hom gekeer.

“What’s this about? Will you be at the pyramids tomorrow?”

Sonder om te antwoord is hy daar weg, en so ook ons intieme oomblik.

Ek onthou nou eers weer van die pakkie. Ek vroetel in my rugsak en maak seker dat dit nog daar is. Gammal het nooit opgedaag nie. Eers het ons gereken dat hy probleme by die huis opgetel het, maar nou is ek nie so seker nie.

“Christine!” kom ’n gesmoorde gil van Michael. In ’n donker hoek sit ’n figuur plat op die klipvloer. Dis Gammal. Sy gesig is opgeswel en droë bloed is om sy linkeroor gekoek. ’n Klein blou gaatjie in sy voorkop laat geen twyfel oor sy toestand nie. Sy vasgebinde hande klem sy enorme voël vas.

Michael gryp my hand en hardloop in ’n ander gang af. Ons storm verby ’n groep toeriste, die trappe op, by die hek uit tot ons uitasem buite kom.

“Ons moes hom gehelp het,” hyg ek na asem.

“Om wat te doen?” vra Michael. “Gammal is dood.”

“Die polisie?” Die warm son wurg nog meer lug uit my longe. Terwyl ons verder weg strompel haal ek twee bottels mineraalwater uit die rugsak. Ons slaan dit weg. Water spat op my klere en koel my af. Dit gee my ook die geleentheid om nugter oor die saak te dink. Michael se oë op my bors maak my egter bewus van my tepels wat die opwinding van die oomblik ook geniet.

“Ons moet by ’n ander hotel gaan bly,” sê ek en beduie vir die bestuurder van ’n swart en wit skedonk-taxi om nader te kom. Daar aangekom, pak ons gou ons goed, betaal die verblyf, en terwyl die loeiende sirenes al nader kom, maak ons spore. Ons boek in by die Olympic Hotel, aan die gatkant van Kaïro, as mnr en mev Michaels.

Terwyl Michael stort, maak ek my nakend tuis op die bed en plaas Gammal se pakkie voor my gekruisde bene. Die lang voorwerp is toegedraai in baie ou leer en vasgebind met stroke papirus. Gammal is dood as gevolg van hierdie pakkie en ek wil weet hoekom. Wat kan so belangrik wees dat mense bereid is om te moor vir vyf-en-twintig sentimeter? Die papirus kom moeilik los en na ’n gesukkel val die leer van die voorwerp af.

Michael kom uit die badkamer, sy hare nog nat en sy lyf klammerig. Hy wend geen poging aan om sy penis weg te steek nie. Tussen die voue van sy onbesnede vel loer ’n spleetoog.

“Wat het jy daar?” vra hy.

Dan sien ek die goue voorwerp vir die eerste keer. Dit is ’n lewensgetroue erekte piel met die skrotum as voetstuk.

“Ei-na.” Dit lyk asof iemand die penis afgekap het. Dit is ’n pragtige voorbeeld van goudsneewerk van Antieke Egipte. Hierdie fallus is egter nie sommer ’n goedkoop instrument vir enige vrou se plesier nie. Die goud is oud en glad van baie hantering. Dit het seker baie prinsesse se leë aande draaglik gemaak. Dit behoort ook miljoene werd te wees.

Michael kom val voor my op die bed neer en tel die voorwerp op. My gapende sekslippe is alreeds opgeswel en ek kan die nattigheid voel. Die goue dildo trek ons nader totdat ons albei se lippe aan die peniskop raak. Michael glip dit tussen ons lippe deur en soen my vuriglik op die mond. My tong soek naarstiglik na syne. Ek val agteroor met Michael bo-op my. Sy ereksie stamp teen my bobeen asof hy toestemming vra om in te kom.

Ek probeer om Gammal se dooie oë te vergeet, sy hande om sy voël te ignoreer en net op hierdie oomblik van wellus te konsentreer. Ek het lank genoeg vir ’n bietjie plesier gewag. Alhoewel die goue fallus beslis iets met Gammal se dood te make het, wil ek eers my jagsheid bevredig.

Ek sprei my bene nog wyer en lig my boude op om Michael se ereksie in te laat. Maar hy het ander idees. Hy wikkel sy mond los van my soekende tong en ek voel hoe hy klein nat soentjies plant op my nek, oor my bors, aan my tepels suig en ’n nat streep oor my maag trek. Hy weifel ’n oomblik voor my kaalgeskeerde vulva. Ek maak my oë in afwagting toe.

In plaas van ’n nat tong voel ek die koue kop van die goue fallus. Michael vryf dit liggies op en af deur my spleet, en speel met my genotknoppie. My hele liggaam verstyf en ek voel hoe die harde voël my binnedring. Dit bly egter nie lank net ’n goue dildo nie, maar verander in ’n warm, polsende piel wat my met nuwe lewe vul. Deur die vallei tussen my borste sien ek hoe Michael skielik orent kom.

“Hier’s iets snaaks aan die gang,” sê hy terwyl hy sy hande in die lug gooi, sy penis penorent. Wie is dan besig om my te naai? Ek voel hoe die lewe in my skede in en uit beweeg, sonder enige hulp. ’n Bonatuurlike vibrator is besig om die orgasme van my lewe in my binneste op te bou. Ek probeer teen die oorname veg, maar tog wil ek dit nie mis nie.

“Ek gaan kommmm!” gil ek terwyl my binneste oopbars van genot en ek ruk van lekkerkry. Vir die eerste keer in my lewe gee ek my oor aan die plesier van seks. Dit is asof ek met my ledemate uitgesprei deur die lug sweef en my sintuie elke beweging, geluid, reuk, smaak en tekstuur intens waarneem. Ek sien die fyn wimpers op Michael se ooglede bewe, die aar teen sy nek klop van opwinding en die nattigheid van sy lippe opdroog. Sy hart klop in my bors en myne in syne. Ek proe die wellus op die punt van sy piel terwyl hy homself probeer bevredig.

’n Verblindende wit lig oorweldig my terwyl die plesierspier in my binneste omdraai en my van agter naai. Ek voel hoe ek saggies gesig ondertoe op die bed neersak. Ek droom van Set wat sy broer Osiris vermoor en in stukke opkap. Ek sien hoe hy die veertien dele oor die wêreld versprei en hoe die pragtige, bostuklose Isis, suster en eggenote van Osiris, oor die verraad treur. Sy lyk net soos ek, met kort, gitswart hare, helder oë en ’n klein lappie voor haar poesie. Haar borste is ferm en uitdagend. Horus, die seun van Osiris en Isis, wreek sy pa se dood. Saam met die Egiptiese liefdesgodin Isis versamel ons al die liggaamsdele om Osiris uit die dood op te wek.

Net een liggaamsdeel kon Isis nie kry nie. Sy kyk na my met pleitende donker oë, gee my ’n hemelse kus en vroetel aan my klit voordat haar vingers in my poesie verdwyn. Ek is besig om myself te naai. Dan besef ek die betekenis van alles. Ek word wakker en vind ’n bekommerde Michael wat langs my op die bed sit.

“Kom,” sê ek. Ek gooi ’n Egiptiese kaftan oor my en draai my kop in ’n tulband toe. Michael trek sy Arabiese drag aan en ons haas ons na die Egiptiese Museum. Hopelik sal ons vermomming ons agtervolgers en die wagte by ons bestemming flous. Ek loop ietwat ongemaklik met die fallus nog steeds polsend in my poesie.

By die hek betaal ons die twintig Egiptiese ponde en stap verby die Rosetta-steen, deur die Tutenkamen-uitstalling tot agter na ’n geslote gedeelte. Michael wil weet wat aangaan, maar ek het nie tyd om te verduidelik nie. Versteek in ’n donker kamer, onder ’n wit seil wag hy al millennia op die oomblik. Ek pluk my kaftan af terwyl Michael die seil afstroop. Lewensgroot staan die beeld van Osiris voor ons, sonder sy manlikheid.

Ek draai om en beweeg agteruit na die beeld. Michael snap die doel van my aksies en met sy sterk hande op my naakte heupe lei hy my na die gaping in Osiris se lendene. Toe die fallus in my vagina kontak maak met die beeld voel ek hoe die lewe uit die penis deur die beeld opgesuig word. Die sagte materiaal van Michael se klere skuur teen my tepels toe ek hom nader trek. Sy warm hande op my rug is gerusstellend terwyl my bene swik onder nog ’n orgasmiese opwelling. Ek verander in Isis en Isis maak my lewe haar eie. Ek klou aan Michael vas en pluk sy stywe voël onder sy klere uit en suig vir lewe en dood. Michael se piel is my konneksie met hierdie werklikheid. Ons, Osiris, Isis, ek en Michael vind gou ’n naairitme wat ’n ewigheid duur. En toe skiet Osiris, ons geliefde, sy antieke saad my binneste in terwyl Michael in my mond sy warm jis  inpomp.

Nadat Osiris hom onttrek uit my naaidosie en ek Michael se piel aflek, beleef ek ’n oomblik van intense leegheid. Gelukkig is die gevoel van korte duur voordat ek gevul word met die liefde van die gode. Osiris en Isis lewe weer in ons.

Indien julle ooit by die Egiptiese Museum kom, gaan soek na Osiris. Sy fallus is waar dit hoort en nie in ’n veroordeelde moordenaar se glaskas nie.