Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 07/01/2011: Vrye Woord-seminaar – Wat mag en moet oor rassisme gesê word?


2011-01-13

07.01.2011


Agtergrond
Deur Charles Malan

In Vrye Woord se missie om spraakvryheid met mag en mening te verdedig en bevorder is dit noodsaaklik dat daar openhartig na alle kante van die saak gekyk word. Op die oomblik is die ANC se pogings om die pers en inligtingverspreiding vas te vat uiteraard die belangrikste fokuspunt. Hulle onheilige planne vir 2011 sal duideliker word wanneer die parlement weer op dreef is.

’n Belangrike saak van spraakonderdrukking is egter in veral Afrikaanse kringe deur die Annelie Botes-sage na vore geruk. Die ANC gebruik maar te graag “Afrikaner-rassisme”, steeds gekoppel aan apartheid, om hulle eie rassistiese swart-teenoor-wit-nasionalisme aan te vuur. Ingrid Jonker se “Die kind” is versoenend deur Nelson Mandela in sy inhuldigingstoespraak aangehaal. Bewaar ons as iemand soos Julius Malema genoeg Afrikaans verstaan om koerante te begin lees en selektief uit Botes se onderhoud (juis nie haar boeke nie!) aanhaal – vir presies die teenoorgestelde doeleindes as versoening.

Die kabaal rondom Botes is nog steeds nie afgesluit nie, maar Vrye Woord sal graag groter vrae in die debat wil aanspreek. Wat kan en moet (selfs mag) oor die uiters sensitiewe saak van rassisme gesê word? Is die uitweer van haatspraak en die minagting van ander rasse ook maar onderdrukking van spraakvryheid? Is ons oneerlik en eensydig as ons nie die werklikheid in die gesig staar watter rasse verreweg die meeste misdade pleeg nie?

In die vorige nuusbriewe is die menings van Vrye Woord-redaksielede in die pers opgeneem. Charl-Pierre Naudé het gewaarsku teen ’n hoogheilige moralisme by antirassiste, en ook geskryf:


Maar terselfdertyd weet ons mos dat terme soos “swartes” en wittes” deur die gewone man en vrou (en die effe lompsprakige Botes is weliswaar een) as vlugskrif gebruik word vir vele ander betekenisse. Die raskategorie word as vlugskrif ingespan vir ander, swaarder gevoelde verskille. Overgeset synde, as die ANC-staat die term “swart mense” op growwe wyse gebruik as vlugskrif vir “ware Suid-Afrikaners” en “ontmagtigdes”, waarom so gal afgaan as die arme Botes dieselfde doen in verwysing na misdadigers?


Charles Malan het toegegee dat die verwikkeldheid van rassisme en die wortels daarvan wel deeglik aandag moet kry. Hy het egter volgehou dat dit nie verskonende rassistiese praatjies in die openbaar, veral deur bekendes, regverdig nie:

Skrywers het hulle skryfwerk om te nuanseer en agter wortels aan te grawe. As ek in die openbaar sê alle rassisme is veragtelik en vernietigend, wil ek egter in die Alice in Wonderland-woorde hê dit moet presies beteken wat ek bedoel. Punt.

Jeanette Ferreira het in ’n ope brief aan Annelie Botes ook op die gruwel van etikette en die aandeel van die ANC gewys:

Ek wil nie ook jou kop was nie maar eerder met jou in gesprek tree. Voor ek dit doen, wil ek net sê: Ek wil ook graag die etiket afskud wat my velkleur aan my gee. In hierdie skrywe verwys ek na wit en swart in die wete dat ons dalk al hierdie etiket kon afgeskud het as dit nie enersyds op ons afgedwing word deur ’n stompsinnige regering wat andersyds versoening predik nie.

Baie wittes voel soos jy; die baie briewe en SMS’e waarin jou woorde aangegryp word deur onnadenkende en oningeligte mense, getuig daarvan. Nou sal jy reeds begryp dat jou woorde gesaai het wat jy nie wou maai nie – dit is altans hoe ek jou reaksie op hierdie storm verstaan het.

Hier onder is verdere bydraes deur die Vrye Woord-redaksie.


Word skrywers werklik van hulle werke geskei?

Jeanette Ferreira

Wanneer literatore die skrywer en die mens wat uitsprake in die openbaar maak, skei, is die doel daarvan om studente ’n greep op literêre analise te gee. Ook wanneer navorsers van biografiese gegewe gebruik maak, maak hulle nie daarop aanspraak dat biografiese gegewe die teks(te) kan verklaar nie. Buite die akademie werk dit egter nie altyd so nie, soos ons gesien het in (onder andere) Botes se geval. Lesers wat haar onsensitiewe openbare uitspraak oor swart mense ondersteun, het hulle voorneme bekend gemaak om soveel as moontlik van haar boeke te koop. Dit is goed, want in haar boeke sal hulle nie rassisme vind nie.  Kom ons laat dit daar.


Die staat is deel van die rassisme-probleem en is nie die arbiter nie

Charl-Pierre Naudé

Ek dink beslis ons moet afstap van die Annelie-saak. Maar laat ek kortliks aantoon wat ek dink die allerbelangrike verband tussen die Annelie-stofstorm en die beskerming van spraakvryheid (ons missie) is.

Die Annelie-debakel het weliswaar die rassisme van ’n skrywer opgewys. Maar wat swyend gebly het, tot met my eie en enkele ander skrywes, is die totaal onbewuste rassisme van die regeringsinstelling SALA, in navolging van die staat.

Daar is te veel dinge wat "rassisme" genoem word terwyl dit eintlik ander dinge is: legitieme bewuswording van ’n rewolusionere burgerstryd tussen twee nasionalismes (wit, in sy afloopfase en swart, in sy oploopfase), die onhoudbaarheid van ’n eensydig gedefinieerde ideaal soos "nasiebou", en so meer.

Nie net het ons tans swart nasionalisme wat as neutrale demokrasie paradeer nie, ons het toenemend swart fascisme.
  
Ons gaan nooit vrede in hierdie land hê nie solank ons ’n staat het wat predik dat wittes hand in eie boesem moet steek, maar hy doen nie dieselfde nie. Dis tyd vir selfondersoek!

En, om hierdie uiters onwelkome dinge te sê, pront, is nou belangrik: Die  Suid-Afrikaanse staat - en al sy satelliete - is deel van die rassisme-probleem, en nie ’n neutrale en wyse arbiter nie. Om dit aan te toon is spraakvryheid in aksie.

En die beskerming - sowel as die uitbouing - daarvan is tog waarvoor Vrye Woord staan?  


Is Vrye Woord rassisties?

Pieter Haasbroek

Ons monster ons kragte onder die vaandel van Vrye Woord teen die onderdrukking van spraakvryheid saam. Dit bring ons te staan teen die ANC-regering se nuwe beleidsinisiatief om die vloei van inligting te beheer en die pers te muilband.

Dit is maklik om die ANC se motivering vir die beoogde wetgewing vol gate te slaan. Dit is ongrondwetlik en hul eie geskiedenis van stryd teen sensuur tel daarteen. Daarom probeer hulle die kritiek teen hul voornemens – maar veral komende van uit die geledere van die wit minderheid – met die teerkwas van “rassisties” afweer.

Hulle gebruik dikwels hierdie verweer. Boere wat kla oor grondhervorming, of belastingbetalers wat beswaar maak oor swak dienste, noem hulle rassiste. Soveel te meer voel hulle dit is rassisties om te hamer op die korrupsie van ANC-leiers, of die onbeholpenheid van hul administrasie. Ons aandrang op die vryheid van spraak, vermoed hulle, spruit uit ons rassistiese begeerte om die werking van die demokrasie te ontwrig.

Sonder om dit ooit uit te spel, spruit hierdie gevoel uit hul interpretasie van die ondersteuning wat hulle in die vorige verkiesing geniet het. ’n Etniese verkiesing, soos al die ander sedert 1994, waarin die wegbly-teenstand geïgnoreer  is. Die ANC-regering wéét wie hulle in die politiek opponeer, en wie hulle ondersteun.

Hierbenewens lyk dit of die meerderheid swartes geredelik aanvaar dat hul leiers (Malema ingesluit) geregtig is op winsgewende tenders, bemagtigingsaandele, hoë salarisse, bonusse, luukse motors, en uitspattige verblyf. Dié opsigtelike verbruik – soos hul lyfwagte en die loeiende sirenes wanneer hulle in aantog is – wys immers hul leiers se status, dat hulle nou aan bewind is! Die ANC-aanhangers sê dis onregverdig en arrogant om hul leiers hierdie vertoon te ontsê.

Ondanks hierdie rugsteun, is openbare kritiek vir die regering ’n verleentheid en ongemaklik vir almal wat beskuldig word. Hulle besef dat die begrip “entitlement” ook net só ver gerek kan word, en nie verder nie. Dan verskerp die burgerlike protes.

Van die ANC-regering se tekortkominge is al deur die media aan die groot klok gehang. Maar moontlik wag daar nog erger onthullings op ons, nog skadeliker vir die regering as die skandale wat reeds aan die lig gekom het.    
 
Daarom wil die ANC-regering wittes se spraakvryheid inperk en hul kritiek hokslaan. Wittes, omdat dié minderheid te luidrugtig en krities na hulle smaak is, nasionaal en internasionaal: die gevolg van hul ideologiese uitgangspunt en hul begrip van die kronkelgange wat die korrupte politici na die vreetkrippe volg. Maar die ANC wil ook die enkele kritiese swart joernaliste en akademici bykom, vanweë hul gebrek aan lojaliteit, dankbaarheid en respek vir die dapper stryders teen apartheid. Die aanklag van rassisme word gevolglik uitgebrei deur swart kritici “coconuts” te noem, donker van buite, maar met wit gesindhede.

Is hierdie beskouing rassisties, of bloot feitelik?

Hierdie vraag hang ook oor ons beskouing van misdaad in Suid-Afrika.

Soos die onlangse geskiedenis Suid-Afrika geleer het, lê misdaad en korrupsie lepel langs die trog van staatsbesteding. Die koerante se voorblaaie  berig oor amptenare wat pensioengeld verduister of tenderprosedures bekook en van ministers wat gunslone ontvang van kontrakteurs. Ons vermoed dat kommissaris Selebi sy dwelmbaasvriend gewaarsku het teen polisieklopjagte. Van die politici en hul kriminele trawante het inderdaad kortstondig in die tronk geland. Dit spoor die fluitjieblasers aan om koerante toe te gaan. 

In Hongarye word die spasie wat koerante aan misdaad afstaan, deesdae beperk. Dit is moontlik dat die ANC-regering ook oorweeg om beriggewing oor misdaad in Suid-Afrika te verminder, soos hulle al die misdaadstatistiek probeer verdoesel het. Waarom?

Die meeste misdaad word in Suid-Afrika deur swartes gepleeg; teen wittes, maar nog meer teen hulle eie mense. Hulle is gruwelik gewelddadig teenoor hul slagoffers. Van die misdadigers is wit en gewelddadig, maar hulle is ’n klein minderheid in ons tronke. (Soos in die VSA, waar 85 persent van die tronkinwoners uit die swart minderheid kom.) Beriggewing oor misdaad sal hierdie omstandighede weerspieël. Die beeld van die misdadiger hier is gevolglik onvermydelik die meeste van die tyd swart. Wil die regering dit dalk ook teenwerk?

Ons protes teen die ANC-regering se voornemens om beriggewing oor hul tekortkominge te onderdruk, probeer ’n verkeerde beleidsrigting verhoed. Die besware is nie rassisties net omdat hierdie beleid in ’n swart meerderheidsregering uitgebroei word nie. Dit sal net so geldig wees in Hongarye. 




Ons erken swart haat teenoor wittes – en dan?

Charles Malan

Die hele gesprek rondom rassisme en spraakvryheid kan vorder as ons bepaalde werklikhede erken en dan die implikasies ontleed. Ons moet weet dat “politieke korrektheid” wel ’n rol het, maar dat dit geen teenvoeter vir openbaarmaking mag wees nie. Hier is van die belangrikste werklikhede:

  • Dit is ’n feit dat verreweg die meeste geweldmisdaad deur swart op wit gepleeg word en dat die media die ras van die misdadigers verswyg. Ontleding: Veronderstel die media wil nie meer tot versoening en nierassigheid bydra nie en noem byna elke keer die rasaanduiding “swart”. Bloot volgens demografiese verdelings sal die woord “swart” in ’n misdaadkonteks tot ’n voortdurend gekondisioneerde stereotipering lei. Elke Annelie Botes-tipe sal steeds meer in vrees vir “swartes” lewe.
  • Dit is ’n feit dat topleiers van die ANC swart rassisme teenoor wit kondoneer. Een van die mees blatante voorbeelde is dat Julius Malema die suksesvolste premier in die land, wit en vroulik, voor sy Groot Leier Jacob Zuma ongestraf ’n kokkerot kon noem. Die Leier het boonop die voorbeeld gestel om hoofsaaklik wittes vir dermiljoene vir laster te dagvaar. Spraak- of lastervryheid werk vir die ANC net na een kant. Om sulke anomalieë uit te wys is egter heeltemal anders as om te beweer dat elke ANC-leier rassisme goedpraat, wat kennelik nie waar is nie. Wat wel uiters onrusbarend is, is goedgesinde swart leiers se stilswye oor ANC-vergrype oor rassisme.
  • Dit is ’n feit dat rassisme die manifestasie van dieperliggende vrese, onsekerheid en botsende waardesisteme is. Vir ’n baie groot groep veral jong swartes het demokrasie geen uhuru gebring nie, maar ’n voortgesette spiraal van werkloosheid, armoede, ’n verval van waardes en ’n verswakte selfbeeld. Die welvarende wittes is toenemend die sondebok. Die saad van apartheid sal nog vir geslagte lank voortplant. Vir wit en bruin het “bevryding” naas al die voordele ook die toenemende bedreiging van misdaad, die verlies aan enige mag en omgekeerde rassediskriminasie meegebring.
  • Dit is ’n feit dat rassisme op homself teer. Die kringloop begin met die wyse waarop die binnegroep (bv wit, Afrikaans) homself teenoor die buitegroep (bv swart, Xhosa) waarneem en “hulle” as die “ander” beskryf. ’n Wit Afrikaanse skrywer sê as voorbeeld in die openbaar: Ek ken hulle nie, ek vermy hulle, want ek is bang vir hulle. Hulle moor deesdae, waar hulle voorheen bloot gesteel het. Alles stort oor hulle onbekwaamheid in duie, ek wil so gou moontlik uit die land uit. Tussendeur lag ek darem nog soos ’n kombuismeid. ’n Rits negatiewe kenmerke word dus as vooroordele aan die ander toegeskryf, dikwels in sekere gevalle met goeie gronde (lees hier bo veralgemenings oor “die ANC”), en volledige stereotipering vind plaas. Nou is dit nie verder in die kringloop nodig om ons as slagoffers/meerderes teenoor die ander te verduidelik nie en ons kan bloot in kitsboodskappe op die internet bevestig hoe “hulle” eintlik maar weer as barbare/misdadigers/onbekwames/ongekultiveerdes optree.

Wat nou nadat ons eerlik teenoor mekaar by die braaivuur die ding by die naam genoem het, miskien selfs gemoedelik saam met kamerade Zuma en Steve? Mag ons in die naam van spraakvryheid en dus die vrye woord nie in die openbaar ook “die waarheid” blatant verwoord nie?

Die antwoord is onomwonde: Nee! Laat ons saam met die Nederlandse digter met die simboliese naam Jacques Perk sê: Die ware vryheid luister na die wette. Dit het perke. Laat ons juis nie in die naam van spraakvryheid verder aan die bose kringloop van stereotipering, verdagmaking, opsweping en haatspraak deelneem nie.

As dit dan “politieke korrektheid” is dat die media nie die heeltyd die woord “swart” rondom misdadigheid noem nie, is dit nogtans presies die soort perke wat in landsbelang nodig is. Almal wat in die openbaar uitsprake maak, is meningsvormers. Geen wit of bruin waarnemer moet gekondisioneer word dat misdadigheid gelyk aan swart is nie.  

Die eerlikheid van die vrye woord behels dat mens sonder vrese openhartig in diens van openbaarmaking en ’n ope gesprek moet wees. As dit sou beteken dat almal wil sê wat hulle wil (soos hulle gelukkig hoofsaaklik slegs op die internet in beperkte kring doen), sou dit egter ook impliseer dat Vrye Woord nie beswaar sal hê as die Malemas van die land met liedjies aanhits dat die Boere/boere geskiet moet word nie. Of dat die land se president vir sy masjiengeweer vra nie, met die duidelike implikasie teen wie dit gebruik moet word.

Vrye Woord is uitgesproke ten gunste van openbaarmaking sonder aansien des persoons waar dit dinge soos rassisme, korrupsie, magsmisbruik, toesmeerdery, ’n gekonkel en die muilband van die media en inligting aangaan. Daarvoor is die verlengstuk van ons nuusbrief, WikiLigni, volgens die model van WikiLeaks gestig.

Mag ons nooit tydens veral die ANC se voortgesette aanslag vir teenstand skrik nie. Mag hulle ons nooit kan intimideer om liefs nie te waag om te onthul nie. Maar mag hulle met hulle blatante rassisme ook nie ons verlei om rassisties vinger te wys nie. Mag ons dus ook nooit die grens na onverantwoordelike “spraakvryheid” oorsteek nie.





 

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index