Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Uitgewer Annari van der Merwe oor die geskiedenis van Richmond, Karoo. Die goeie, die slegte en die snaakse


Annari van der Merwe - 2011-01-11

Titel: Richmond, Karoo. Die goeie, die slegte en die snaakse
Skrywer: Paul Viljoen
Uitgewer: Quincunx-Uitgewers
Beskikbaar by: The Book Lounge in Kaapstad en Protea Boekhuis
Vir pos­bestellings skakel 021 882 9100

 

 

Toe Paul Viljoen my verlede jaar bel, het my moed so ’n bietjie in my skoene gesak. As uitgewer was ek alte goed vertroud met die situasie waar mense hul jeugherinneringe opteken, eintlik vir hul familie, maar dan nie weet hoe om verder te werk te gaan nie en die manuskrip dan by ’n algemene uitgewer voorlê. Ek was nie meer ’n uitgewer nie, maar ek het nie geweet of hy dit weet nie.

Dat die manuskrip oor ons albei se geboorteplek, Richmond in die Karoo, gegaan het, het my wel nuuskierig gemaak en ek het aangebied om ten minste die manuskrip te lees. Maar ek het oom Paul, soos hy hom aanvanklik voorgestel het, sommer vroegtydig al gewaarsku dat hy waarskynlik self sal moet opdok vir die druk van die boek, want gewoonlik spreek dié soort outobiografiese vertellings ’n te beperkte gehoor aan om die uitgee daarvan vir ’n algemene uitgewer die moeite werd te maak.

As volwassene het ek Paul Viljoen nog maar een keer gesien, en dit was goed twintig, vyf-en-twintig jaar gelede toe ek aan Tafelberg-uitgewers verbonde was en hom en sy vrou Mattie op ’n dag onverwags in die omgewing van die Groote Kerk sien stap het. Omdat Karoomense soos deur ’n magneet na mekaar aangetrek word, het ek my sommer self gaan voorstel en uitgelê wie my ouers is, want dit is wat jou in daardie wêrelddeel identiteit gee, en toe saam met hulle tee gaan drink by De Rode Kat.

Paul was al uit die skool uit toe ek in Richmond se nursing home in Pienaarstraat gebore is, en buite die familiekonteks was hy was salig onbewus van my bestaan. Ek het hom egter wel onmiddellik herken. Toe ek in standerd sewe of agt was, het hy en Mattie op die hoekerf ingetrek waar die ou polisiekantoor eers was, net ’n grondstraatjie se breedte van ons tuishuis af. Ek en my jonger suster het nie, soos gebruiklik, net nagmaalsnaweke saam met ons ouers in die tuishuis oorgebly nie; ons het tydens die skoolweek daar gebly onder toesig van ’n aangetroude tante. Van oorkant die straat het ek en Christa ons verkyk aan die jong oom en sy blonde vrou en hul spannetjie kinders se kom en gaan.

Mettertyd het die erf oorkant die straat ’n gedaanteverwisseling ondergaan – die byderwetsste huis op die dorp het daar verrys (buiten miskien Nils die prokureur s’n bo op die koppie agter die kerk, maar dit het uit die oog gelê) en ’n pragtige tuin is op die walle van die rivier aangelê, want die erf het tot op die oewer van die Ongers gestrek. Maar toe was ek al weg uit die dorp en op kosskool in die Kaap. En vyf jaar later het die Viljoens ook verhuis, na Stellenbosch, waar Paul hom op nege-en-dertig as prokureur kom bekwaam het.

Die manuskrip daag op, en sewe foto’s: Paul op vyf met sy hond Tieties; sy oupa en ouma; sy oupagrootjie met ’n perdekar wat deur osse getrek word tydens die Anglo-Boereoorlog, toe alle perde opgekommandeer is; sy oupagrootjie se pa, die eerste eienaar van Kouwenburg, die familieplaas; twee foto’s van hom as jong boer en een van ’n befaamde vroueperderuiter op Richmond se skouterrein van weleer. Daar was ook twee koerantknipsels in die pakkie: ’n advertensie van sy Perdefontein-Merinostoet en ’n sleg-afgedrukte foto van ’n 1927-Chevrolet, om te wys hoe sy pa se eerste motor gelyk het.

Ek begin lees. En daar staan dit, nes ek gevrees het: hy het sy wedervaringe opgeteken sodat “My kleinkinders met hul Play Stations moet kan sien dat hul oupa nie altyd so groot en oud was soos nou nie.” Ek sug so ’n bietjie, want ek sien die storie begin by die dorp se ontstaan in 1843. Fair enough, dink ek, ’n storie het ’n begin, ’n middel en ’n einde, en Paul hét in die vyfde paragraaf gewaarsku: “Ek wil so baie dinge vasmaak, nou is ek soos ’n muskiet in ’n nudistekamp. Ek weet wat om te doen maar ek weet nie waar om te begin nie. Om dinge so ’n bietjie in perspektief te plaas, dink ek moet ek maar eers vertel van die geboorte van my ou Karoodorpie.”

Dit gaan aanvanklik so-so, want die verteller was natuurlik nie teenwoordig by die opstel van die versoekskrif wat die 67 lidmate in sy oupagrootjie se buurt aan die ring van Graaff-Reinet gerig het om ’n dorp te stig op die toenmalige Driefontein nie. Dis wel insiggewend om oor die lewensomstandighede in die negentiende eeu in die Groot Karoo te lees, maar vanaf die tiende van die 68 onderafdelings in die boek – “Ek maak my opwagting” – kry die vertelling ’n vaart en ’n sprankel wat my laat skaam kry oor my aanvanklike teësinnigheid om by die manuskrip betrokke te raak. Teen die tyd dat ek hom enduit gelees het, voel ek so bietjie jaloers oor ek self nooit so ’n boek sal kan skryf nie. Al die bestanddele is daar: die historiese konteks, tekens van deeglike navorsing, die perfekte balans tussen die eie storie en die storie van die dorp en die distrik en hul mense. Maar die verstommendste is die vertelling self: die man se merkwaardige geheue en waarnemingsvermoë, selfs as klein seuntjie, sy aanvoeling vir mense en sy gevoeligheid vir taal, sy vermoë om nét genoeg te sê, nooit te veel nie en selde te min. En dan die verkwiklike humor. Veral die humor.

So met die lees het ’n kleurryke kaleidoskoop van vergange gewoontes, dinge en gebruike ontvou, aangevul met staaltjies oor onvergeetlike karakters en voorvalle, tot daar ’n hele gemeenskap, wat jy met ’n skok herken, in al sy sosiale skakerings voor jou staan. Toe ek die manuskrip opsy sit, dink ek by myself: dis nou ’n boek wat my twee broers sal lees geniet. Dit was die grootste toets.

My vrese dat die manuskrip te lokaal, te beperk sou wees vir ’n algemene uitgewery was ongegrond, maar toe gee ons tog die boek privaat uit. Om verskeie redes: die skrywer is skuins duskant tagtig en sy gesondheid is nie te waffers nie. Daar was ook haas by, omdat hy graag die boek by die klein boekefees wat nou jaarliks in Oktober op Richmond aangebied word, bekend wou stel. Ek het besef dat as die manuskrip op die normale wyse deur al die prosesse van die uitgewersmeule moes gaan, ons nooit die boek teen die laat lente sou hê nie. Nog ’n oorweging was dat ons, as ons self die boek uitgee, volkome beheer oor die inhoud sou hê, sowel wat die redigering as die visuele aanbieding betref. Daar moes nie te veel aan die teks getorring word nie, die dorp en distrik se mense moes met hul vratjies en moesies en mankemente net sobly staan. En Paul se paar prente moes aangevul word met nog veel, veel meer foto’s. Ons het by 89 gaan draai.

Die boekefees op Richmond was eintlik deurslaggewend vir die uitgeebesluit in dié opsig dat dit ’n geleentheid sou bied om die boek wyd bekend te stel onder die eintlike teikengroep. Is Richmond dan nie die selfverklaarde “boekedorp” van Suid-Afrika nie? Die grootste risiko van selfpublikasie is dat jy met die gedrukte boeke sit en hulle nie van die hand gesit kan kry nie, want die boekhandel loop deesdae op sulke glad-geoliede sisteme dat hulle nie enkelboeke van buitestanders kan of wil aankoop nie, en die groot boekverspreiders wil eweneens nie aan enkelboeke raak nie.

Paul was heeltemal geneë dat ons self uitgee, ek moes net vooraf sê wat dit hom uit die sak gaan jaag. Om ’n boek goed en mooi uit te gee is ’n duur transaksie. Ek het dus net ’n kwotasie vir die drukkoste gekry. Dit gaan my en Paul Viljoen se ode aan die Karoo wees, het ek besluit. Hy het die boek geskryf, die teksversorging en die bymekaarbring van die beeldmateriaal sal my bydrae wees. En dan het ek mos darem as uitgewer met van die beste boekontwerpers in die buurt gewerk. Ek het dadelik aan William Dicey gedink vir die binnekant van die boek, en aan Michiel Botha vir die buiteblad. Ek kom al van Kwela se dae af met hulle saam, maar het veral by Umuzi nou met hulle saamgespan. Toe bel ek, eers vir William en daarna vir Michael. “Komaan boys,” sê ek, “pay-up time”. Hulle het ’n pragtige boek gemaak en geen betaling gevra nie. Ek het vantevore al ervaar dat as jy iets vir die liefde van die saak doen, ander mense dit raaksien en ook ’n liefdegawe gee.

Die bekendstelling op Richmond was ’n reusesukses. Dit was die grootste trekpleister op die hele fees. Nou is die boek by al die gastehuise op die dorp te koop. Marlene Cerff van die Victoria Gastehuis hou ’n ogie oor die verkope, want ’n derde van die opbrengs gaan na die dorpsmuseum. Protea Boekhuis op Stellenbosch hou ook die boek aan en voer met graagte posbestellings uit (ls.protea@mweb.co.za of 021 882 9100 ), en in die Kaap is hy by The Book Lounge beskikbaar. Richmond, Karoo is ook op Facebook.