Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 02/01/2011: Wanneer moet ons paniekknoppie druk?


2011-01-10

02.01.2011


Wanneer moet ons paniekknoppie druk?
Dene Smuts


Die bekende voorvegter teen die onderdrukking van spraakvryheid, Dene Smuts, som vandag die aanslag teen spraakvryheid in Rapport Weekliks op. Sy gee besonderhede oor die beoogde wet wat vir ondersteuners van die Vrye Woord van groot belang is. Daarna berig Rapport verder oor die jongste van WikiLeaks. Hier volg uittreksels.

Vandeesmaand moet die parlement se ad hoc-komitee oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting sy werk en sy aanbevelings hervat.

Prof Anthony Butler het in sy rubriek in Business Day geskryf dit is vir hom nog nie duidelik of kommentators “te histeries is of nie histeries genoeg is nie” oor dié wetsontwerp en die voorgestelde media-appèltribunaal.

Butler sê dit sou wel verkeerd wees om die onderlinge verband van die ANC se inisiatiewe oor mediabeheer, staatsgeheimhouding, die finansiering van partye en burgerlike-samelewingsorganisasies te onderskat, omdat baie ANC-leiers hul ou “gewoonte-idees” het.

Hierdie idees het waarskynlik hul oorsprong in die doktrines van die Sowjet-Marxisme se “wetenskaplike begrip” van die samelewing en wat die kennisaansprake van outonome instellings te laag skat.

Butler is, soos die skrywer Jean Kerr (en anders as Rudyard Kipling), duidelik geneig om te glo dat as jy kan kophou terwyl almal om jou hulle s’n verloor, dit dalk net moontlik is dat jy nie die situasie se omvang ten volle begryp nie.

Ek wil aan die hand doen dat die meer geskikte motto vir tye soos dié vervat is in die titel van daardie wonderlike boek waaruit die Jean Kerr-aanhaling geneem is: Keep Calm and Carry On.

Die boek se titel is weer ontleen aan die plakkaat wat die Britse ministerie vir inligting versprei het tydens Hitler se aanslag op die Britse Eilande in 1940, toe erge paniek oor ’n moontlike Duitse inval geheers het. Die slagspreuk was in 2008 opnuut ’n groot treffer onder Britte tydens die ekonomiese insinking.

Maar waarom moet ons kalm bly en voortgaan om te protesteer, maar onsself nie oorgee aan morele paniek nie?

Wel, omdat nog niks wesenlik verander het nie, juis vanweë die ANC se geneigdheid om terug te val op Sowjet-Marxistiese denke, soos Butler dit so raak beskryf.

Die bedreiging vir die drukmedia was nog altyd op die agenda, terwyl ’n wetgewende aanslag op die uitsaaisektor elke paar jaar gebeur.

Wanneer ek sê dinge was nog altyd so, verwys ek spesifiek ook na die beleid oor staatsgeheimhouding sedert 1994. Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting probeer grootliks die status quo in die wetboek skryf. Ons leef reeds onder iets baie soortgelyk aan die voorgestelde klassifikasiestelsel.

Die huidige stelsel staan bekend as die minimum-inligting-sekuriteitstandaarde (MISS) en is reeds in Desember 1996 deur die Mandela-kabinet goedgekeur.

’n Hele aantal aannames in die huidige wetsontwerp is, indien u my woordgebruik sal verskoon, “MISS-konsepsies” van wat die grondwetlike bestel werklik beteken.

Die Grondwet waarborg ons reg op toegang tot inligting in staatshande. Die Grondwet het vereis dat ’n wet teen Februarie 2000 geskryf moet wees wat uitvoering gee aan die reg en enige regverdigbare beperkings op toegang. Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (algemeen bekend as PAIA) was die produk. Enige nuwe inligtingswet moet soos ’n legkaartstuk inpas langs die PAIA.

Maar die MISS waarop die huidige wetsontwerp berus, dateer van die 1990’s, toe die wet wat vandag die PAIA heet, nog as die Konsepwet vir Oop Demokrasie bekend gestaan het.

Min het ons destyds geweet dat die ou en die nuwe bedeling se spioene (hoe naatloos is hulle nie geïntegreer nie?) toe maar by gebrek aan ’n finale wet hul eie interpretasie gevolg het van hoe sake sou werk. Dit was hul mening dat alle inligting wat nie uitgereik moet word nie, outomaties geklassifiseer moet word!

Dit is die heel suiwerste toepassing van die totalitêre beginsel wat ek tot nog toe teëgekom het: Wat nie verbode is nie, is verpligtend.

Die totalitêre beginsel is boonop buitengewoon ontoepaslik op veral inligtingswetgewing, omdat die PAIA se verbod op die bekendmaak van inligting in baie min kategorieë van toepassing is. In die meeste gevalle is dit net van toepassing op derdeparty-inligting wat in staatshande is.

In feitlik elke ander geval waar inligting teen openbaar­making beskerm mag word, is daar uitsonderings, oordele te vel en besluite om te neem, en die wet vereis van amptenare en reguleerders om hul diskresie te gebruik.

Van besonderse belang is die feit dat, onder die PAIA, inligting oor verdediging, sekuriteit (met inbegrip van intelligensie) én internasionale betrekkinge nie onderworpe is aan verpligte weie­ring nie, maar aan dis­kre­sio­nêre, voorwaardelike weiering.

Dit is ons mening dat die Wets­ontwerp op die Beskerming van Staatsinligting – soos hy herdoop gaan word – nie buite hierdie kategorieë van toepassing moet wees nie.

Maar die wetsontwerp soos hy staan, volg die omvang en toepassing van die MISS: Elke ar­tikel 239-staatsorgaan is onderworpe aan die klassifiserings­regime en die reeds bestaande stelsel vir die versorging en beskerming van “waardevolle” inligting.

Dit sluit universiteite, prokureursordes en enige ander liggaam in wat ’n openbare bevoegdheid of funksie kragtens wetgewing uitoefen. Ons intelligensiedienste moniteer, inspekteer en organiseer almal se dokumentasie. Private instellings s’n ook.

Waarom? Hoekom is hulle die liasseerklerke van die nasie?

Die “algemene beginsels van staatsinligting” soos uiteengesit in klousule 6 van die nuwe wetsontwerp vertel die storie: Dit verduidelik baie mooi wat die waarde van toegang tot inligting en spraakvryheid is, maar eindig op ’n amperse kreet van protes dat al die regte aan die veiligheid van die republiek onderworpe is.

Dit is nie hoe die beperkings op die bepalings van ons Handves van Regte werk nie.

Beperkings moet redelik en regverdigbaar wees. Die regte kan nie net ongedaan gemaak word deur ’n variasie van die totalitêre beginsel nie. En omdat ons wette aan die Grondwet se bepalings moet voldoen en omdat ons ons uiteindelik tot die hof kan wend, sal dít nie gebeur nie.

So, bly kalm en hou aan protesteer.

Maar doen dit op ’n rasionele wyse en met ’n koel kop, soos die DA dit doen, en soos dr Dario Milo vir die Drukmedia van Suid-Afrika, Allison Tilley vir Odac en die Right2Know-veldtog dit doen.

Dit werk.

* Dene Smuts is die DA-skaduminister van justisie en dien in die parlement se ad hoc-komitee oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting.


Geld vir Assange se boek ’hoogverraad’
Rapport
, 2011-01-01


’n Debat woed in die VSA oor die besluit van ’n Amerikaanse uit­gewery om ’n memoire van mnr Julian Assange, stigter van Wiki­Leaks, te finansier.

Assange, wat op aanklagte van seksuele aanranding teregstaan, het laat blyk hy sal die geld wat hy deur twee uitgewers as voorskot betaal is, gebruik om die bedryfskoste van WikiLeaks te betaal.

Die Britse uitgewer Canongate Books het reeds sowat $502 000 (R3,3 miljoen) beloof en die Amerikaanse uitgewer Alfred A Knopf $800 000 (sowat R5,3 miljoen) vir die memoire wat Assange met behulp van ’n spookskrywer sal skryf.

In die VSA, waar die regering erg deur WikiLeaks se onthullings in die verleentheid gestel is en party politici Assange selfs as ’n kuberterroris bestempel het, was daar veral ontsteltenis oor die feit dat ’n Amerikaanse uitgewer Assange vir sy boek betaal.

Sommige Amerikaners meen dit is ’n vorm van hoogverraad.

“Assange het dit duidelik gemaak: Die geld gaan gebruik word om sy misdadige onderneming te onderhou,” het die New York Daily News onder meer in ’n hoofartikel geskel.

“Assange kan sy storie vertel; dit is sy reg in ’n vrye samelewing. Maar moet ’n Amerikaanse maatskappy hom daarvoor ryk maak? Beslis nie!” het die koerant verklaar.

’n Hele paar Amerikaanse ondernemings het vroeër hul bande met Assange verbreek.

Amazon.com het WikiLeaks van sy diensverskafferlys afgeskop en Visa, MasterCard en Bank of America het ophou sake doen met hom. Ook Apple het onlangs ’n toestel uit sy iStore verwyder wat mense in staat sou stel om WikiLeaks met Apple-produkte te kan gebruik.

Daarbenewens het Amerikaanse politici soos sen Hillary Clinton, minister van buitelandse sake, hom as ’n bedreiging vir Amerikaanse veiligheid bestempel.

Assange het intussen gesê hy is teensinnig besig om die boek te skryf.

“Ek wou dit nie skryf nie, maar ek moet. Ek moet myself (teen aanklagte van verkragting) verdedig en WikiLeaks aan die gang hou.”

Hy is in aanhouding in Brittanje, van waar hy aan Swede uitgelewer kan word nadat twee vroue in dié land hom van seksuele aanranding beskuldig het.

Intussen het mnr Daniel Domscheit-Berg, WikiLeaks se voormalige woordvoerder, aangekondig hy gaan ook ’n boek publiseer oor sy tyd by die onderneming.

Die boek se titel sal wees WikiLeaks: My Time with Julian Assange at the World’s Most Dangerous Website. – Reuters, Christian Science Monitor


’n Huilresies van heiliges Charl-Pierre Naudé

(Rubriek wat op 29 Desember 2010 in Beeld verskyn het)

Noudat die kollektebord verbygegaan het, wil ek tog my stuiwertjie oor Annelie Botes agterna gooi.

Ek het pas weer die gewraakte onderhoud gelees waarin sy sê sy hou nie van swart mense nie. Ná die uitlating het die Suid-Afrikaanse Letterkundepryse (Sala), onder staatsbeskerming, Botes van ’n prys en R30 000 gestroop.

Die skokkende van die petalje is nie Botes se uitlating nie, maar die gretigheid van die “morele verontwaardiging” wat gevolg het. Want as mens die onderhoud mooi lees, móói geplaas in die konteks van Suid-Afrika vandag, het Botes weinig rassisties kwytgeraak.

Daar is ’n onegtheid aan morele verontwaardiging wat besig is om naasbestaan tussen rasse en mense, besinnende morele denke en morele volwassenheid veel meer skade te berokken as enige rassisme – in navolging van ’n byster staat wat politieke moraliteit so onlosmaaklik aan die eie ego gekoppel het dat daardie moraliteit alle sweem van universaliteit verloor het.

Is dít nie gevaarlik nie?

Die moedswilligheid waarmee geen poging aangewend is om te lees wat Botes waarskýnlik bedoel het nie, terwyl almal – die staat; medeskrywers, swart en wit – heimlik wéét wat sy bedoel, is weersinwekkend.

Elke betraande Jap Rap wou net eerste kom in die huilresies van die allerheiliges.

Wat het geword van die grootsheid van ware morele verontwaardiging? Al gehoor van Jesus en die goeie wedloop? “Vader, vergeef hulle ...”?

Sou ’n bevraagtekenende, maar ferm persverklaring deur Sala waarin repliek deur Botes aangevra word, nie meer gepas gewees het nie? Dan sou Sala hom ook die kans gegun het om seker te maak van sy saak.

Botes het gesê sy hou nie van “swart mense” nie omdat sy “bang is vir hulle”. Ek ontken nie dat ’n gevaarlike mate van rassisme, ook onder wittes, gaande is nie.

Maar terselfdertyd weet ons mos dat terme soos “swartes” en wittes” deur die gewone man en vrou (en die effe lompsprakige Botes is weliswaar een) as vlugskrif gebruik word vir vele ander betekenisse. Die raskategorie word as vlugskrif ingespan vir ander, swaarder gevoelde verskille.

Overgeset synde, as die ANC-staat die term “swart mense” op growwe wyse gebruik as vlugskrif vir “ware Suid-Afrikaners” en “ontmagtigdes”, waarom so gal afgaan as die arme Botes dieselfde doen in verwysing na misdadigers?

Natuurlik is nie slegs swart mense gevaarlike misdadigers nie! Maar in Botes se subjektiewe, gedeeltelike, allermenslike ervaring – miskien wel?

Dit is ’n afskuwelike gewoonte om rasterme te gebruik in verwysings na groeperings wat niks daarmee te doen het nie – stand, oortuiging, politieke affiliasie.

Wat het die staat, beskermheer van Sala, gedoen om hierdie gewoonte, so goed deur Botes ten toon gestel, te verander? Bloedweinig; hy het dit self opnuut hermobiliseer!

Kom ons kyk verder hoe morele verontwaardiging tans die morele sintuie verpletter.

Die verhouding tussen prestasie en beloning word onherkenbaar verwring: beloning volg nie op prestasie nie, maar op “korrekte” prestasie.

Daar is ’n regstreekse verband tussen ongeletterde maatskappydirekteure wat miljoene verdien vir niksdoen en die terugtrek van ’n prys vir ’n goeie boek.

Verder word goeie kuns gelykgestel aan goeie oortuigings. ’n Boek kan sanerende moraliteit tussen rasse tot gevolg hê sonder dat die skrywer self nierassige opinies hoef te hê. ’n Baie goeie voorbeeld is die Amerikaanse Nobelpryswenner William Faulkner.

’n Goeie boek bied ’n driedimensionele ervaring van die wêreld wat alle, en enige, oortuigings oorskry.

Dis juis die sin daarvan.

Egtheid is die grootste eienskap wat deur ’n kunsprys beloon kan word. Sala blyk onbevoeg hiervoor.


Die heiliges se onheilige protes
Charles Malan

(In Beeld, 3 Januarie 2011 gepubliseer)

Ek het groot agting vir ons redaksionele raadgewer by Vrye Woord, Charl-Pierre Naudé, se sienings, maar ek moet hom aanvat oor sy veralgemenings oor “morele verontwaardiging” in sy rubriek in Beeld (30 Desember). Die opskrif sê alles: “’n Huilresies van heiliges” – genade!

Heelwat van sy aandrang op nuansering maak sin, maar is almal van ons wat op ’n beknopte wyse teen die uitlatings van Annelie Botes, Steve Hofmeyr of byvoorbeeld Julius Malema beswaar maak, nou “heiliges” wat bloot op die lawaaiwa spring? Moet ons nou ons woorde tel voordat ons veralgemeen dat ons alle vorme van rassisme verafsku?

Charl-Pierre verwys as enkele voorbeeld na Botes wat “bang is” vir swart mense, asof dit die enigste probleem in die onderhoud was. Derduisende mense in die land is bang vir die onbekende “ander” en dit maak hulle nie rassiste nie. Hulle praat ook nie in die openbaar oor swartes soos die gesoute skrywer Botes nie.

Dit is natuurlik alle skrywers en denkers se plig om te besin oor die onderliggende oorsake van rassisme wat die land steeds verlam. Charl-Pierre se vermaning oor die rondslinger van rasterme is van groot belang.

’n Gesiene skrywer verwys in ’n persoonlike skrywe soos hy na die moontlike moralistiese bevrediging van antirassisme en vra: “Hoe moet mense wat binne die SA geskiedeniskonteks wil en móét dink, uitkom by die vervlegte wortels van ingewikkeldheid?”

Dit sal in die ontleding baat om die prystoekenning deur Sala van die morele beoordeling te skei. Sala het doodgewoon dom opgetree en hulle uitgangspunt dat bekroonde werke “in diens van nasiebou” moet wees, klink na Stalinistiese Kommunisme. Dus word geen “afbrekende” kritiek geduld nie? Dit is ANC-speak.

Laat ons ook volgens Charl-Pierre geensins goeie kuns en goeie oortuigings gelykstel nie. “’n Boek kan sanerende moraliteit tussen rasse tot gevolg hê sonder dat die skrywer self nierassige opinies hoef te hê.”

Mag die rigsnoer vir almal wat oordeel, steeds Charl-Pierre se “ware morele verontwaardiging” wees. Maar wat sal dit rondom rassisme wees? Sal ons met nuansering in ons verontwaardiging begin deur te bevind: “Steve is eintlik ’n ware leier op Kerkplein, net jammer hy sê onversigtig oor die Lindley-moorde ...”

Skrywers het hulle skryfwerk om te nuanseer en agter wortels aan te grawe. As ek in die openbaar sê alle rassisme is veragtelik en vernietigend, wil ek egter in die Alice in Wonderland-woorde hê dit moet presies beteken wat ek bedoel. Punt.

Dit maak my geen heilige nie. En laat ons onthou: elke heilige het ’n verlede, elke sondaar ’n toekoms.



 

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index