Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Dames en here, Tittewyt Kweelkous!
’n Storie vir Kinders (Deel I)


Johann Schutte - 2011-01-06

Die sangeressie in die bos

Diep in die hartjie van ’n groot bos, langs die silwer stroompie net anderkant die miershoop, was die huisie van mejuffrou Tittewyt Kweelkous. Sy was eens op ’n tyd die mees bekende sangeres in die hele bos. Diere en kabouters en feetjies en allerhande goggas het van heinde en verre gekom om na haar pragtige sopraanstem te luister, maar dit was voordat iets verskrikliks gebeur het.

Wie is Tittewyt Kweelkous? Nou, kom ek verduidelik: Kyk, Tittewyt Kweelkous is die kleindogter van Olga Kweelkous, die wệreldberoemde orepa ... apero ... opera, daar’s hy: opera-sangeres. En sy wat Tittewyt is, het haar ouma se sangstem geërf. Verder het sy haar pa se familie se mooi kleure geërf, en ongelukkig haar ma se snawel. Kyk, die Kweelkouse het mos sulke verskriklike snawels gehad, amper soos ’n papegaai. Foeitog, sy was maar nog altyd skaam vir die verskriklike groot gekromde snawel, maar wat het dit nou eintlik saak gemaak. Sy kon mooi sing en sy het die mooiste veredos gehad wat jy in jou lewe gesien het. Haar rugvere en vlerke was blou, lugblou. Haar ondervere was bruin met so ’n pers glinster daarby (party sê dit was ook maar ’n bietjie p-l-a-s-t-i-c s-u-r-g-e-r-y wat dit so gekry het, maar daaroor sal ons nie uitvra nie); dan was die punte van haar vlerke groen, grasgroen maats, grasgroen. Op haar kop het sy ’n bloedrooi kuif gehad met so ’n parmantige wegstaanveertjie wat die mooi geel van haar oë uitgebring het. Sy het nog altyd gedink haar oë is haar beste bate. En kon sy hulle flikker! (Fluit hier en maak ogies vir ’n bietjie effek, Mamma). Mooi, hè?

Haai, maatjies, wat is ’n sopraanstem? Gaan vra gou vir Mamma. Pappa sal net maak of hy weet. Sussie, vra vir Boetie (of Sussie as jy so gelukkig is om een te hệ) om vir jou iets blou in die kamer te wys. Oukei, nou iets geel, iets groen, iets pers, iets bruin. As hy nie almal regkry nie, kan jy vir hom ’n gesig trek.


Nou kyk, Tittewyt Kweelkous kon sing, dis nou nie altemit nie. As sy eers haar koppie gedraai het dat daai wegstaanveertjie so oor haar voorkoppie val, en sy knip-knip daai groot geel oë van haar, dan moet jy weet: dis nou sulke tyd. En sy kon sing van enigiets. Sy kon sing van die liefde en die lewe soos geen ander dier of kabouter of gogga nie. Selfs die miskruiers en kakkerlakke het trane in hulle oë gekry as mejuffrou Tittewyt Kweelkous die dag op haar uitgeholde boomstomp, wat ook haar huisie was, gaan staan het en een van haar bekende liedjies sing oor die lief en leed van die boslewe. Sy het haar oë toegemaak en haar koppie heen en weer gedraai terwyl sy sing van die diere wat so hard werk in die bos, en die son se strale wat met dagbreek so glinster deur die lower. Partykeer het sy sommer liedjies opgemaak, sommer so terwyl sy op haar stomp staan en al die diere vir haar kyk. Mejuffrou Tittewyt Kweelkous het dan gesing van elke dier se goeie en mooi eienskappe: die voëltjies wat so hoog kan vlieg, die miere wat so hard werk en die hasies met hulle mooi kinders. Partykeer het sy weer liedjies opgemaak oor al die kleure van die diere: die geel van die geelvinke, die blou van die poue en die wit-en-swart van die ratels. Dit was natuurlik moeiliker om van die goggas te sing, want hulle is mos maar ’n bontspul met vreeslik baie kleure op hulle vlerke en doppe, maar sy wat Tittewyt is, het van almal gesing.

“Sing van ons! Sing van ons!” het al die diere en kabouters en feetjies en goggas uitgeroep. “Ag, toe, sing van ons ook, mejuffrou Tittewyt Kweelkous!”

Dan het sy haar skuins gedraai en onder deur haar oogwimpers vir die diere geloer oor wie sy volgende sou sing, en dan met ’n knipoog losgetrek met haar pragtige sopraanstem en gesing. Sy het gesing van die miskruiers, meneer en mejuffrou Miskruier wat so hard werk aan hulle misbolle wat so groot en swaar is en hoe moeilik dit is om hulle so koeëlrond te kry. Meneer en mejuffrou Miskruier het skoon bewoë met hulle voorpote op mekaar se doppe gestaan en begin huil, want dit was so waar. Dag en nag werk hulle aan hulle misbolle. Ag die ou lewe darem! Volgende was dit die krieke en daarna die kakkerlakke. Mejuffrou Tittewyt Kweelkous was voorwaar die geliefdste van al die boswesens.


Die iets verskrikliks

Niemand het ooit kon dink dat iets verskrikliks ooit sou gebeur in die wonderlike bos nie, maar o wee, o aarde, o jinne, o toggie tog. Ag jissie! Daar gebeur dit! Die verskriklike iets gebeur in die bos. Een aand kom daar ’n verskriklike donderstorm. Die wind waai dat die ou bome kreun soos ’n oupa wat uit sy stoel uit opstaan en die blare begin te raas soos ’n juffrou wat kwaad is vir die klas, en toe reën dit. Eers was dit ’n paar groot druppels wat neerplof soos ’n krokodil se trane, en toe sous dit. Die diere kon hulleself nie eers hoor dink nie, wat nog te sê mekaar hoor praat. Almal het in hulle gate – ekskuus, huise – ingeskarrel, en tjoepstil gesit en wag vir die verskriklike storm om uit te woed. Dit het gereën en gereën tot al die bospaadjies gelyk het soos waterpaadjies. En al die water het in die stroompie gespoel wat anderkant die miershoop langs mejuffrou Tittewyt Kweelkous se huis verby gevloei het. Die stroompie het groter en groter geword tot dit later ’n stroom geword het, en nog het dit nie opgehou sous nie. Dit het gereën en gereën tot al die grassies en blomme toe was onder die water, en al die water het in die stroompie gespoel wat anderkant die miershoop langs mejuffrou Tittewyt Kweelkous se huis gevloei het. Die stroompie het voller en voller geword, amper soos Pa se maag as hy die dag lekker geëet het. En nog het dit nie opgehou sous nie. Die water het oor die miershoop gestoot en tot by mejuffrou Tittewyt Kweelkous se huis gekom.

Eers toe die water in haar huisie instroom en haar tone natmaak waar hulle onder die geel en rooi kombersie uitsteek wat haar ouma nog vir haar gemaak het, het sy besef wat aangaan.

“O wee, o aarde, o jinne, o toggie tog. Ag jissie!” het sy uitgeroep. “My huisie verdrink!”
“Help, Help!” het sy uitgeroep. “Help, my huisie verdrink!” Mejuffrou Tittewyt Kweelkous het geroep en geroep, maar niemand kon haar hoor bo die geraas van die reën nie. En die water bly by haar boomstomphuisie instroom. En daar dryf haar tafeltjie by die deur uit!

“O wee, o aarde, o jinne, o toggie tog. Ag jissie!” het sy uitgeroep. “Daar gaan my tafeltjie!”

Net toe kry sy ’n idee wat teen haar kop ophardloop soos ’n eekhorinkie met ’n akker en woeps by haar oor inspring. Sy gaan staan op haar drywende bedjie en begin sing. Sy sing van die diere en die kabouters en die feetjies en al die goggas wat so hard werk in die bos. Sy sing van hulle mooi kleure en al die verskillende neusies wat almal het. Toe sy klaar gesing het, dryf sy op haar bedjie net-net by die deur uit. “Ag, asseblief tog help my,” fluister sy en knyp haar ogies styf toe.

• Deel II sal volgende week verskyn. Hou die nuusbrief dop!