Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

’n Song vir Afrikaans


Jason Lloyd - 2011-01-05

Die debat in en om Afrikaans se voortbestaan, veral in die bruin gemeenskap, verdien ’n paradigma-skuif. Ek het in die verlede soos volg oor dié debat geskryf: "Afrikaanssprekendes is tans almal benewel deur emosies en pyn wat nie gedelg kan word nie. Die gekerm oor Afrikaans se voortbestaan is kompleks ..." En ook: "[D]ie laaste skote oor Afrikaans is nog nie geskiet nie."

By die KKNK in Oudtshoorn in 2010 tydens Die Burger se lesingreeks oor Afrikaans, Regs, links of stadig op pad na nêrens, was dit baie duidelik dat die skeidslyne tussen veral wit en bruin oor die Afrikaanse issue nog duidelik sigbaar is.

Histories gesproke is dit te verstane dat bruines kwaad vir Afrikaners is, omdat hulle Afrikaans behoorlik verpolitiseer het; Afrikaners het met apartheid lelik aangejaag. Bruines is stelselmatig op die periferie gestoot en wittes is hoofsaaklik deur en in Afrikaans ekonomies bemagtig; soos vandag nog. Bruines is tot randfigure gereduseer en het geen seggenskap gehad oor die taal waaraan hulle die lewe geskenk het nie.

Die foute van Afrikaners behoort nie vir jare tussen hulle en bruines te staan nie. Ons moet aanbeweeg. Afrikaners en bruines moet ’n kopskuif maak. Bruines moet Afrikaans begin opeis as ’n belangrike deel van hul erfenis; die taal onbeskaamd opeis en besit neem daarvan. Afrikaners moet nederig word en erken hulle het aangejaag, verskoning vra en begin aanvaar bruines is eintlik hul gelyke taalgenote.

’n Kwessie wat veral seermaak, is die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor die stand van plaaswerkers in die land, waarvolgens die stand van plaaswerkers op plase nog nie verander het nie. Die baas-en-Klaas-verhouding tussen plaaseienaar en werker bestaan steeds; veral tussen die Afrikaanse boer en sy of haar Afrikaanse "boys". Dit maak seer en soms wil ’n mens skreeu.

"Hoekom gaan vat die regering nie net Afrikaners se plase nie en gee dit vir die werkers nie?" Dit is ’n uitweg, ja, maar dit gaan nie die onreg, pyn en lyding wat die Afrikaner veroorsaak, laat verdwyn nie.

’n Madiba-uitweg moet gevolg word. Gelukkig het die swart meerderheid oor die afgelope 20 jaar gewys dat hulle eintlik nie so sleg is nie. Dat swartes menslik kan optree en dat hulle die versoeningspad, met of sonder of min wit ondersteuning, slaafs navolg.

Bruines moet ophou om Afrikaners te beskuldig dat hulle die Afrikaanse debat gekaap het en iets vir hulself en ook vir Afrikaans doen. Begin nuwe inisiatiewe en hou op om aan Afrikaner-organisasies of universiteite as randfigure gehaak te word. Hou op om gekoöpteer te word in Afrikaanse organisasies se direksies. Hou op jul togas elke keer na die wind te swaai.

Steek hand in eie boesem en doen iets vir Afrikaans en help die arme bruinsiele wat dink Engels is die begin en einde van alles. Staan op en leer bruines dat moedertaalonderrig belangriker en voordeliger vir jou kind is.

Dóén iets vir Afrikaans. Die taal van ons erfenis en toekoms. "Kô lat ons ’n song sing virrie taal", soos Adam Small sou gesê het.