Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Wys vir my jou selfoon en ek sê jou wie jy is


Jason Lloyd - 2010-12-17

Wys vir my jou selfoon en ek sê jou wie jy is. Die afgelope klompie jare het selfone ’n tipe subkultuur geword; iets waarsonder die moderne mens glad nie kan oorleef nie. Navorsing bewys die eerste selfoon het byna ’n kilogram geweeg en ’n mens kon sowat ’n halfuur praat nadat jy die battery ure lank gelaai het.

Een van die eerste fone te koop was die Motorola DynaTAC 8000X. Met die bekendstelling van dié foon in 1984 het mense letterlik oor hul voete geval om dié “baksteen” te koop.

Vandag het selfone baie verander sodat dit gemaklik in ’n hempsak kan inpas.

Die metamorfose is amper so groot soos die Industriële Revolusie. Boonop verander selfone en selfoontegnologie daagliks – teen ’n tempo wat vir die nagenoeg 1,2 miljard selfoongebruikers ter wêreld moeilik is om mee tred te hou.

Intussen het die selfoon ook ’n statussimbool geword. So, wys vir my jou selfoon en ek sê jou wie jy is.

Die ander dag sit ek en ’n vriendin in ’n eetplek en dié vra my watter soort BlackBerry ek het. Sy was duidelik nie lekker op die gesig toe ek haar vertel dat ek nie een het nie. Die rede: Op my huidige Nokia E71 doen ek alles wat ek met ’n BlackBerry kan doen.

’n Vriend wie se BlackBerry ’n paar maande gelede onseremonieel afgeneem is, het die ander dag met sy eerste betaling nadat hy ’n nuwe werk gekry het, vir hom ’n nuwe BlackBerry gekoop. Wys jou net hoe gewild ’n BlackBerry is.

Saam met die gewildheid kom ook ’n hoë prys. En saam met die hoë prys kom ook ’n maandelikse betaling van R59 vir onbeperkte toegang tot die internet, e-pos, Facebook en Twitter.

Dit blyk egter dat die BlackBerry nou groot kompetisie in die vorm van die iPhone gekry het. Toe dié nuwe fone in September in die land aangekom het, het tegnologievrate ure lank tougestaan in die hoop om een van die beperkte oplaag iPhones in die hande te kry. Die ergste is dat dit peperduur is, al doen dit wat die meeste ander slim fone kan doen.

Die revolusionêre verandering van die selfoon moenie noodwendig iets te doen hê met die mens se status nie. Wat belangrik moet wees, is hoe die ontwikkeling van die selfoon tot die verbetering van die opvoeding en kennis van die moderne mens kan bydra.

Die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings besit nie ’n enkele boek nie, het navorsing deur TNS getoon. Daarenteen, sê die Internasionale Telekommunikasie-unie, het 90% van alle Suid-Afrikaners selfone.

As dié twee bymekaargebring word, dan kry ons ’n selfoon- of m-boek. Navorsing het getoon dat dit ’n leeskultuur en geletterdheid onder veral jong mense bevorder. Dat jong mense, as hul stories op hul selfone kry, al hoe minder weerstand teen die lees van boeke het.

Selfone moet dus nie net bydra tot jou status nie, maar ook tot jou intellektuele ontwikkeling.