Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Nie overwhelmed, nie underwhelmed, net whelmed


Leon-Ben Lamprecht - 2010-12-17

I am Jax Panik 
Jax Panik

 

In die 1999-tienerfliek 10 Things I Hate About You, ’n verwerking van Shakespeare se The Taming of the Shrew, is daar die volgende stukkie dialoog:
         
Chastity:     I know you can be overwhelmed, and you can be underwhelmed, but can you ever just be whelmed?
Bianca:       I think you can in Europe.

Tiener-ek het altyd gemeen as “whelmed” dan nou iets beteken, is dit daai spasie wat gevul word deur daai woordjie “meh” wat deur die Simpsons gewild gemaak is: ’n gebrek aan opwinding, maar ook nie ’n verdoeming nie. Indifference.

(Kantnota: Daar is wel ’n woord soos “whelmed”. Dit beteken toe nie wat ek gemeen het nie. Vir die doeleindes van dié resensie, egter, bly ons maar by my aanvanklike poging.)

Nou ja, whelmed, in die tiener-ek-definisie van die woord, is hoe ek oor Jax Panik se nuwe album, I am Jax Panik,voel.

Eers die goeie: Die produksie is regtig uitsonderlik. En vir omtrent die helfte van die album behou hulle mooi jou aandag met ’n paar heerlike tong-in-die-kies-nommers.

Sien, ek is ’n fan van Jax Panik se vorige werke. Dit was donker pop. It didn’t take itself too seriously. Maar dit het steeds iets gehad om te sê. Dit was ... bedwelmend. En bowenal pret.

Op I am kry Jax Panik met liedjies soos “Dinosaur” (saam met Korianda & Daddy Spencer), “Loser for Love”, “Touch Me Now” en “Sex Me Slowly” (met Neon Don) weer daai gevoel.

In “Loser for Love” word die soeke na ’n konneksie met ’n ander toegedraai in ’n mooi melodie: “What kind of love do you want from me? ... I don’t mind being second best; I’ll take what you have left.”

“Touch Me Now” raak aan ’n soortgelyke tema, maar voeg verganklikheid by (en ja, die melodie is net so lekker):

I’ve been spending too much time, too much time, on my own
Fragmented baby, more than you would ever know
Coming up for air in this big, big city
Why doesn’t anybody know anything about me?
I won’t be beautiful forever
Touch me now!
I can’t wait much longer

Ek vind egter dat van die ander liedjies vir my bloot vergeetbaar is. En plek-plek is die produksie, puik soos dit is, te oordadig.

Dink gou: Jy het lanklaas van daai vars karamel-mini-donuts geëet wat so gewild is op Hartenbos in Desembermaande. Op jou eerste dag van vakansie oorvreet jy jou heeltemal aan twee dosyn. Dis net ... te veel. En dan eet jy sommer die res van die vakansie nie donuts nie.

Get Up (If You’re Hot)” (saam met HC) is so ene. Aanvanklik hou ek daarvan, maar op die end raak dit te veel vir my en dan skip ek geïrriteerd na die volgende snit. Ook: Vir wat sensor hulle die vloekwoorde op die albumweergawe? Dis mos iets wat jy vir radio doen?

“Ha-Ha-Heartache” is weer bloot by die een oor in en die ander uit, sonder dat enige deel daarvan vashaak by my.

Dis nie vir my ’n slegte album nie, nee, maar dis ook nie ’n vreeslik onvergeetlike een nie. Jou lewe gaan nie leeg wees as jy sterf sonder om dit te hoor nie. Leen hom maar eers by iemand voor jy besluit om hom te koop.