Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Ons sterre verskeit (sic): Oor Annie, Liefling en Pride and Prejudice


Albert Maritz - 2010-12-15

“The worst thing about new books is that they keep us from reading the old ones” – Joseph Joubert

Wat ’n vreugde was die Gilbert & Sullivan Society se produksie van Annie nie! Die ongelooflike stelle (ontwerp – Dicky Longhurst), musiek (musiekregisseur – Alastair Cockburn), kostuums (Penny Simpson), beligting (Faheem Bardien), choreografie (Roxy Levy) en klankontwerp (Liam Cookson) sorg vir ’n absoluut verrassende en briljante produksie (regie – Kyla Thorburn).

Die samewerking tussen die G & S Vereniging en Kunstekaap is ’n pluimpie vir beide.

Annie spog met ’n reuse-orkes (dirigent – Alastair Cockburn), kinders, diere en amateurspelers van die G & S Vereniging. En vir geen oomblik sou ’n mens dink enige aspek hiervan kniehalter die gehoor se uiterste vreugde nie.

Veral Daddy Warbucks (Graham Boxall) se vermoë om die hoogste note baas te raak, die gemaklike spel van elke speler op die verhoog, die suksesvolle massatonele en die knus atmosfeer wat geskep word via al wat teater-element is – van die detail van grimering (Guilma van Wyk) tot uitstaande karakteriserings, byvoorbeeld die skelm drieling, Miss Hannigan (Laura Bosman ), Lily (Jennifer Moss), en Rooster (Iain Milne) – maak van Annie een van die blyspelhoogtepunte van die jaar.

Dat mens selfs uit G & S-geledere ’n president Roosevelt-look-alike kan kry, so op ’n haar na! Geluk, G & S! Geluk, Kunstekaap! Geluk aan samewerking en netwerk.

***

Pride and Prejudice, die 2005-fliek wat op SABC was, help om dinge in konteks te plaas.

Ek kan sien hoekom die fliek vier sterre gekry het … want daar is by enkele geleenthede oordadige statements in terme van die visuele. Dáár is een ster gone-ners. Maar dan verstaan ek weer die ander vier sterre so goed.

Die skrywe is een van die tekste wat oor dekades behoue bly weens die kwaliteit daarvan. Dis geskryf in ’n bekrompe samelewing vol oppervlakkige bravade – bo blink en onder stink.

So, behalwe vir die subtiele ondertone en onkarakteristieke wysheid van die hoofkarakter, of juis déúr laasgenoemde, word die skrywe ’n kritiek op die samelewing van die tyd. So, dié Jane Austen is voorgeskrewe by die Universiteit Stellenbosch, Unisa – you name it; lees moet dit gelees word. So wat die teks betref, of dan die filmweergawe, is ons waxed. In 2003 land die boek, ná The Lord of the Rings, in die tweede plek as die Verenigde Koninkryk se gewildste boek ooit. (Internet: Wikipedia)

Terug by die fliek: Die kamerawerk is beeldskoon; soms baie ondernemend, en selfs te ondernemend. In ’n stadium in ’n danssaal met ’n man, irriteer – of beïndruk – die man ons heldin, Elizabeth, só dat die intensiteit tussen hulle beklemtoon word deurdat al die ander mense vir ’n wyle uit die toneel uit verdwyn. Ná oomblikke is hulle weer terug. Hierdie tegniek is pragtig, en ondernemend, maar onsuksesvol wanneer mens meet hoeveel van die verhaal dit ondersteun (onbenullig), of hoeveel dit wegneem van die kyker se konsentrasie op die verhaal self.

Maar wat ander nuanses betref – die delikate kamerawerk, die spel van die akteurs – dis so waardevol dat dit binne die verhaal nóg verhale vertel, wat die verhaal een maak met dimensies – diepte, en lae, en tekstuur.

***

Die beoordeling van films is ’n interessante fenomeen. Smaak verskil, en sommige mense en kwaliteit …?

Laat ek dit só verduidelik. Engelsdrama op Stellenbosch was jarre gelede die terrein van miesies Harvey. En al kyk jy na die swakste produksie van die groot skrywers, soos Sartre, was sy met daai produksie doodgelukkig. Sy kon ’n stuk toe-oë volg, en as ’n sukses verklaar – sommer net omdat die woorde so tot haar sintuie gespreek het. Verbeel jou die Britse lig van die wenkbrou wanneer hierdie jong student haar oordeel bevraagteken het.

So, wat die storie op die oor betref – die vier sterre hier is een ster beter as die plaaslike  Susanna van Biljon. Susanna kry ook een minder as Liefling. Iets soos die plaaslike Izulu Lami, wat vyf sterre gekry het en deesdae talle pryse op talle oorsese feeste wen, stem ooreen met Susanna op een terrein – die teks is ook ontoereikend. Maar dis nie al in Susanna wat ontoereikend is nie. Om die waarheid te sê: Wat gee Egoli een ster, en Susanna drie? Ag, dis so verwarrend; ek laat dit daar. Maar iets … dalk die storie, selfs op die oor, is nie reg nie.

***

Ek raak maklik verlief op excellence. Kritiek op daai stelling kan wees: Wie is ek om te dink wat ek as dit beskou, is dit?! Goed – Liefling is vir my ’n goeie poging tot excellence. Vertaal dit sommer as uitmuntendheid. Liefling sal sy fans én vyande hê! Die mense wat die minste daarvan hou, is mense wat dit nog nie gesien het nie.

In twee opeenvolgende flieks, waarvan ek albei baie gehou het, is skote wat my herinner aan skote wat ons filmlegende Manie van Rensburg wou inspan in Operation Weissdorn (Fourth Reich). Die skote het uiteindelik glo weens die opinie van die geldvoorsieners (vervaardigers) op die redigeringsateljee se vloer beland. Maar hier is die kamera wat om en om die aksie beweeg – in my oë – ter ere van Manie, wie se drome nooit regtig verwesenlik is nie. Ek praat van die Liefling-skoot aan die einde.

Liefling het enkele probleme. Die energie van die akteur‑/sangerstem kom soms nie ooreen met dié van die musiek nie – en dis iets wat my genius klankmanfamilie, Anton, seg: Net die Amerikaners kan dit regkry. Sang-mime op tracks is soms ’n probleem. Vertaal dit sommer na die geld beskikbaar vir backtracks met meer oemf (in sommige gevalle), ’n duur filmklankontwerp, en kanse om iets oor te skiet as mens ontevrede is.

Lika Berning, en spelers soos Bobby van Jaarsveld nogal, slaag baie goed daarin om die energie van die musiek in hul optredes te wys.

Die storie is nie geniaal nie, maar eenvoudig, met al die knope wat bymekaarkom aan die einde. Ons kykergehoor, natuurlik, is simpel. Moet ’n mens aanleer dat van die mooiste dele van die fliek steeds op skerm is ná die eerste credit verskyn? Hoekom dan opstaan en loop?

Ek volstaan deur my spelfout te herhaal. Die sterrestelsel verskeit. Liefling trek die gehore in hulle duisende.

Laat die filmindustrie, en ’n nuwe generasie, dit nou vir ons doen. En laat ons vertrou die  Jurie Els- en Bles Bridges-gehoor, wat oor jare in SA geteel is, beland in Liefling.  Dalk hoor hulle selfs die Koos du Plessis? Wie is Koos du Plessis?

 “As niemand van jou weet nie; kan niemand jou vergeet nie.”