Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 12/12/2010: Plaaslike skrywers verafsku Liu Xiaobo se gevangenskap


2010-12-15

12.12.2010

Vrye Woord wil as ’n skrywersdrukgroep saam met die internasionale gemeenskap die sterkste protes en afsku uitspreek dat die wyd gerespekteerde skrywer en aktivis Liu Xiaobo deur Sjina verhoed is om sy welverdiende Nobelprys vir Vrede te ontvang. Hy is in die tronk gestop en sy vrou, Liu Xia, is onder huisarres.  

Ons eis, soos die grootste deel van die wêreld, sy vrylating en die opheffing van alle beperkings van spraakvryheid op hom en in Sjina.

Suid-Afrika het ’n trotse tradisie van leiers wat dié prys ontvang het: Albert Luthuli, Desmond Tutu, Nelson Mandela en FW de Klerk. Almal het teen onreg en vir vrede geveg. Dit was ondenkbaar dat selfs die apartheidsregering die hoogste erkenning van die ontvangers sou weerhou.

Die land het boonop die Nobelpryswenners vir Letterkunde Nadine Gordimer en JM Coetzee opgelewer. Hulle het albei die skrywerspetisie teen die ANC-regering se beoogde muilbandwetgewing onderskryf. 

Teen hierdie agtergrond, insluitend die tirannie van apartheid, het Vrye Woord die reg om namens Suid-Afrikaanse skrywers en vegters teen beperkings die Sjinese regering se verkragting van menseregte en veral vryheid van spraak ten sterkste te verdoem. Dieselfde land is boonop besig om Afrika se hulpbronne onbeskaamd te plunder.  

Liu Xiaobo was die voorsitter van die internasionale skrywersgroep PEN en is in 2009 tot 11 jaar gevangenisstraf gevonnis weens “staatsondermyning”. Sedert sy betrokkenheid by die Tiananmen-opstand in 1989 is hy voortdurend vervolg. Al sy werke is in Sjina verbied.  

Hy is die eerste PEN-skrywer wat die prys juis vir vrede ontvang, wat ’n aanduiding is van sy enorme invloed. Hy bly nogtans lojaal teenoor sy land en skryf: “I have no enemies and no hatred … for hatred is corrosive of a person’s wisdom and conscience; the mentality of enmity can poison a nation’s spirit, instigate brutal life and death struggles, destroy a society’s tolerance and humanity, and block a nation’s progress to freedom and democracy.” 

Suid-Afrika, wat so worstel met verdraagsaamheid, spraakvryheid en demokrasie, het Liu se soort lojale verset baie nodig. Selfs in die tronk sal hy ’n helder baken vir vryheid bly.


Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index