Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

’n Dag saam met Eben Venter


Rohan Magerman - 2010-12-14

Kom ek wees eerlik: Skrywers is nou nie eintlik celebrities onder ons jongklomp nie. Veral nie Afrikaanse skrywers nie. Niemand word juis opgewonde wanneer hulle hoor dat hierdie of daardie skrywer tans in die stad is om sy nuutste roman te bevorder nie. En die kanse is skraal dat jy ’n lewensgroot plakkaat van byvoorbeeld André P Brink op ’n tienerseun se kamermuur sal sien pryk. As dit by skrywers en hul boeke kom, is jongmense maar bra lugtig. Hiervan kan ek getuig deur te verwys na die reaksie van my universiteitsvriende op Vrydag 1 Oktober toe ek hulle meedeel dat ek daardie aand die bekendstelling van Eben Venter se Brouhaha gaan bywoon in plaas daarvan om saam met hulle in Langstraat te gaan partytjie hou. Hul eerste reaksie was: “Eben wie?” En toe: “Wat op dees aarde gaan jy daar gaan maak?” Ek was glad nie verbaas toe hulle my aankyk asof ek van my lotjie getik is nie toe ek ongeërg antwoord dat ek Afrikaans en Nederlands studeer. Ja, by die Universiteit Kaapstad!  

Nou, as student in hierdie vakrigting (en aspirantjoernalis!) was dit seker my plig om die funksie by te woon. Ek behandel, per slot van rekening, een van Venter se boeke in die klas – daardie briljante Horrelpoot. Venter het juis vroeër dié dag die Departement van Afrikaans en Nederlands by die UK besoek, waar hy ons getrakteer het met ’n voorlesing uit Horrelpoot, ’n roman wat, volgens Venter, eintlik verdien het om ’n WA Hofmeyr-prys te wen.

Ek herhaal: Afrikaanse skrywers geniet nie ’n groot aanhang by ’n generasie wat meer behep is met Stephenie Meyer of JK Rowling nie. Ek self was aanvanklik effens nonchalant oor die nuus dat Venter ons klas gaan besoek – deels omdat ek eintlik nie veel van hom geweet het nie. Nietemin kon ek tog nie help om heimlik ’n gevoel van opgewondenheid te ervaar om in die teenwoordigheid van dié veelbekroonde skrywer te wees nie en ek moes myself omtrent inhou om hom nie met voor-op-die-wa vrae te bestook nie. Jip, ’n paar minute saam met Venter en ek kon nie anders as om die uitnodiging na die bekendstelling van sy pasverskyne Brouhaha te aanvaar nie.

Daardie aand sorg ek dat ek op my heel beste lyk. Ek bedoel, dit sou immers my eerste keer by ’n boekbekendstelling wees, en buitendien gaan die media ook teenwoordig wees. Toe ek en my klasmaats om sesuur by die Book Lounge instap, was ons vir ’n oomblik die middelpunt van aandag, want hier was vier bloedjong studente in ’n skare van veel ouer EV-aanhangers. Ons moes soos ’n inkvlek op spierwit papier uitgestaan het. ’n Middeljarige dame het selfs teenoor haar vriendin opgemerk: “Bly om te sien daar is darem nog ’n porsie van vandag se kinders wat in die Afrikaanse letterkunde belangstel.” Ek kon nie help om van oor tot oor te glimlag nie. Ja mevrou, jong lesers is darem nog nie heeltemal ’n uitgestorwe spesie nie.

Rohan en vriende saam met Eben Venter

Alhoewel ek aan die begin nie geweet het wat om by só ’n funksie te verwag nie, het die bekendstelling heel genotvol verloop. Dit was ’n aand van intelligente gesprekke oor glasies wyn en peuselhappies, ’n aand van blinkgepoleerde skoene en boeke wat vars na drukkersink geruik het, ’n aand van flitsende kameras. Ek kon selfs daarin slaag om daardie wat-op-dees-aarde-maak-ek-hier uitdrukking van my gesig af te hou toe ’n media-verteenwoordiger van NB-Uitgewers my en my klasmaats vra om vir ’n foto te poseer. En gelukkig het niemand my gevra wat my gunsteling‑ Venter-roman is nie, anders sou ek my sekerlik in die verleentheid gestel het.

Die hoofverrigting op die agenda was natuurlik Venter se gesprek met die digter Danie Marais oor die versameling rubrieke (Brouhaha) wat in boekvorm bekendgestel is. Venter het onder meer gesels oor hoedat hy feit en fiksie in sy rubrieke kombineer en het ook op ’n humoristiese noot kommentaar gelewer oor die versameling resepte agterin die boek. ’n Besliste hoogtepunt van die aand was Venter se opstandige uitbarsting oor die feit dat hy nie voortaan ’n weeklikse bydrae in By gaan lewer nie. Teleurstelling was duidelik op sy gesig te lese toe hy die gehoor van sowat dertig gaste meedeel dat ’n artikel van hom, oor alternatiewe erotika, vir die eerste keer afgewys is. Nogtans was daar ’n hele paar mense wat sou belangstel om daaroor te lees, en ek is een van hulle. Toemaar, mnr Venter, jou insigte oor alternatiewe erotika mag dalk nie die lig gesien het nie, maar jy het nogtans ’n mylpaal bereik met die verskyning van Brouhaha.    

Vir my was dit ’n plesier om saam met Venter die verskyning van sy boek te vier. Dit was nou wel nie ’n Locknville-konsert nie, maar nietemin ’n goeie alternatiewe manier om ’n Vrydag af te sluit. Teen die tyd dat ons die Book Lounge verlaat en die nagtelike gewoel van Roelandstraat tegemoetstap, het ek gevoel dat ek tog maar mnr Venter se handtekening moes gevra het.