Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Amanda laat eerste wintersneeu smelt


Carina van der Walt - 2010-12-14

Op Maandagaand 29 November het Vuur in glas in die Koningstheater van die Noord-Brabantse stad ’s-Hertogenbosch afgeskop. Die saal was uitverkoop. Dit is die begin van Amanda Strydom se vierde konserttoer deur Nederland. Tydens haar veertien komende optredes word haar nuwe CD, Stroomop, vrygestel. Twee voorafgaande CD’s, Briewe uit die suide (2007) en Kerse teen die donker (2008), het daarvoor gesorg dat sy teen hierdie tyd ’n stewige aanhang in die Lae Lande het.

Amanda Strydom tydens die Vuur in glas-vertoning

Aanvanklik lyk dit asof die publiek net uit veertigplussers bestaan as ek met stewelpunte vol sneeu arriveer. Met ’n rondvraery in die klein, intieme foyer klink dit asof almal al een of meer kere in Suid-Afrika was. ’n Groep Vlaminge was in Suid-Afrika betrokke by verskillende projekte: ontwikkelingsamewerking, navorsing en klein beleggingsprojekte. Hulle het twee ure lank gery (stadig in die sneeu, want afstande is regtig nie so groot nie!) om hier te wees. Andere het die Sprinkle-weeshuis vir vigs-weeskinders in die omgewing van Bergville, KwaZulu-Natal, gaan bou. Die kontakpersoon verkoop Strydom se CD’s by die ingang. Sommiges is groot bewonderaars. Hulle het tydens haar drie vorige toere konserte bygewoon. Later stroom groepe jongmense binne. Die balans in die publiek word herstel. Ek vra myself af of dit studente is wat ’n opleiding in kabaret aan die Koningstheateracademie volg?

Dit alles het nie vanself vir Strydom gebeur nie. Die samewerking tussen haar boetie uit die  noorde (Stef Bos) en haarself as die sussie uit die suide het pragtige vrugte afgewerp. Meer as tien jaar terug het alles begin, maar haar eerste optrede in Nederland was in 2007 hier in die einste Koningstheater. Sy het dus ’n spesiale band met die plek. Die rooi verligte kroonkandelaar, saamgestel uit nederige goeters soos leë glasbottels, weerspieël die konsertnaam Vuur in glas. Strydom en haar pianiste, Janine Neethling, is albei teatraal in karmosyn geklee as hulle op die verhoog kom. Die ander twee musikante is Juan Oosthuizen en David Klassen. Die span werk al amper twaalf jaar saam.

In haar eerste nommer gee Strydom ’n opdrag aan die gehoor: “Dra hierdie vlam … dra hom met die hande van jou hart.” In die eerste en tweede nommer wat sy sing, is intertekstuele verwysings na Totius: “Die wêreld is my woning nie … Totius sal verstaan.” Dit was die eerste van baie verwysings gedurende hierdie aand. Ek besef dat ek dit alles herken soos ’n vlermuis vaste voorwerpe uitken, maar hoeveel daarvan herken my ontvanklike en goedbedoelende, nuwe landgenote hier langs my? Uit ervaring weet ek dat die naam Totius niks sê nie. Dit word gewoonlik as ’n eksotiese gegewe ervaar. Totius kon ook ’n trapsuutjies gewees het!

Kandelaar van leë glasbottels

Die eerste nommer wat my werklik hoendervleis gee, is Strydom se a capella uitvoering van A Child in a Faraway Land. Johannes Kerkorrel se Somer en enkele ander nommers wat die Afrikaanse son op hierdie koue aand die teater binnedra, gee vir die gehoor waarvoor hulle gekom het – warmte en hartlikheid. Hulle geniet ook die talle Zoeloe verwysings in nommers soos Ndiyakholelwa en Thula Thandwa.  Dit maak Strydom se optrede doelbewus eksoties. Ander eienskappe wat die ouer publiek waarskynlik aanspreek, is die kombinasie van strydbaarheid  en kwesbaarheid in  Strydom se verhoogpersoonlikheid.

Ná pouse demonstreer sy haar strydlustigheid in ’n diep altstem met ’n mars vir die milieu: “Ons ploeter voort … oor die blou planeet se rug.” Sy sing van die dood van Hector Peterson en die NG-predikant met sy “fyngekose woorde” en “verhewe retoriek” loop deur onder haar kritiek. Intiem persoonlik stel sy haarself kwesbaar op voor die gehoor as sy verwys na haar bipolêre depressie jare gelede. Dan sing sy Strydom / Amandla en steek haar vuis soos van ouds in die lug – dié keer sonder negatiewe gevolge. Dit vind eerder sterk inslag.

Amanda met Pelgrimsgebed as toegif na ’n staande applous

Strydom se genre is moeilik om te definieer. ’n Bietjie Franse chanson, ’n bietjie rock, ’n bietjie luisterlied … kry die kabaretstudente wat hulle kom soek het? Sy sing, dans, fluit, marsjeer, daag uit en bid. Die ouer deel van die gehoor doen entoesiasties mee. 

Dis byna middernag as ek uit die Koningstheater stap. Die sneeu het opgehou en begin al weer smelt. Ek loop die pad op my eie manier deur die stilwit, middeleeuse strate: “Halala, halala, ewig is ons Afrika.”

’n Uitgeputte, maar tevrede musiekspan. Vlnr: Juan Oosthuizen, Amanda Strydom, David Klassen en Janine Neethling