Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Staan die natuur op die balansstaat? Omgewingsbeskouings van die plaaseienaar in Voetpad na Vergelegen en Verbrande Paradys


Susan Meyer - 2010-12-14

 Opsomming 

In navorsing oor die beskouings van en betekenisgewing aan die natuur in Suider-Afrika, ’n belangrike fokuspunt binne die ontwikkeling van ’n ekologies-georiënteerde literêre kritiek in Afrika, kan die plaaseienaar en sy omgewingsbeskouings as ’n betekenisvolle ondersoekterrein geïdentifiseer word. Hierdie artikel fokus op Chris Barnard se jeugroman Voetpad na Vergelegen (1987) en Verbrande paradys (2009) uit die pen van Hans du Plessis om ondersoek in te stel te stel na die literêre manifestering van omgewingsbewustheid in die karakter van die plaaseienaars en na die vraag in watter mate ekosensitiwiteit in praktyke van bewaringsboerdery neerslag vind. Die ondersoek word gedoen teen die agtergrond van die ekonomiese werklikhede en die sosiaal gestruktureerde aard van plaasbestuur. Daar word ook vasgestel wie die deelnemers in die gesprek oor, en die proses van besluitneming ten opsigte van, die hantering van die natuurerfenis op die plase in die romans is. Gegewe die lang historiese ont­wikkeling van natuur- en omgewingsbewaringsinisiatiewe en -wetgewing in Suid-Afrika, kan navorsing oor bewaringsingesteldheid en -pogings, soos dit in die letterkunde opgeteken staan, een van die belangrikste instrumente wees in die kartering van ’n Afrika-ekokritiek binne die literêre grense van Afrikaans.

Sleutelwoorde: omgewingsbeskouing, omgewingsbewustheid, Afrika-ekokritiek, ekokritiek, Voetpad na Vergelegen (Chris Barnard), Verbrande paradys (Hans du Plessis), grondbesit in die moderne plaasroman, die arbeider in die tradisionele en moderne plaasroman, plaaseienaar

Abstract

Is nature reflected on the balance sheet? The farm owner’s perspective on the environment in Voetpad na Vergelegen (Chris Barnard) and Verbrande paradys (Hans du Plessis)

The farmer and his perspective on the environment may serve as a significant field of investigation in research on perspectives on and value placed upon nature in Southern Africa, an important area of focus in the development of an ecologically oriented literary criticism in Africa. This article investigates the literary manifestation of environmental awareness in the characters of the respective farm owners in Chris Barnard’s youth novel Voetpad na Vergelegen (1987) and Verbrande paradys (2009) by Hans du Plessis, and inquires into the extent to which ecosensitivity is demonstrated in conservation farming practices in these novels. The study is set in the context of the economic realities and socially structured nature of farm management. In addition, the article determines the participants in the discourse on and process of decision-making regarding the management of the natural heritage on the farms in the novels. Given the long period of historical development of nature and environmental conservation initiatives and legislation in South Africa, research on the attitude and endeavours regarding conservation as it is recorded in literature may be one of the most important instruments in mapping an African eco-criticism within the lite­rary limits of the Afrikaans language.

Key words: environmental perspectives, ecosensitivity, African ecocriticism, Voetpad na Vergelegen (Chris Barnard), Verbrande paradys (Hans du Plessis), land ownership in the modern farm novel, the labourer in die traditional and modern farm novel, farm owner

1. Inleidend

Op die internasionale kongres New grounds: Ecocriticism, globalization and cultural memory wat in 2010 in Nijmegen (Nederland) gehou is, is vrae geformuleer – nie vir die eerste keer nie – rakende verskille in die beskouings en beoefening van ekokritiek in verskillende wêrelddele. Sulke vrae word in die afgelope jare op plaaslike vlak gekoppel aan ’n diskoers oor die ontwikkeling en definiëring van ’n Afrika-ekokritiek.

In onlangse bydraes tot hierdie onderwerp, soos dié deur Wylie (2007) en Vital (2008),1 word interessante treë gewaag in die rigting van ’n gelo­kaliseerde, ekologies-georiënteerde literêre en kulturele kritiek2 wat duidelik on­derskeibaar is van die vorm daarvan wat in Noord-Amerika ontstaan het, na Europa beweeg het en tot dusver die belange en besorgdhede van die lande in die Noorde weerspieël het. Vir Vital (2008:88) is die idee van ’n Afrika-ekokritiek te koppel aan vrae omtrent die spesifieke betekenisse wat plaaslik aan die natuur toegeken word, en oor wat dit verraai omtrent mense hier se hede en verlede.

Wanneer gedink word oor die beskouings van en betekenisgewing aan die natuur in Suid-Afrika, kan die plaaseienaar en sy filosofie aangaande sy vryhede en verantwoordelikhede ten opsigte van dit wat as natuurgegewe tussen sy grensdrade geplaas is, as ’n betekenisvolle ondersoekterrein geïdentifiseer word. Sedert die eerste plase in 1657 aan vryburgers toegeken is, word die Afrikaner met die plaas en grond geassosieer (Coetzee 2000:viii). In die navorsing van Mccann (1997) en Pannell e.a. (2006) word teenstrydighede blootgelê ten opsigte van die algemene beskouing van boere en van hulle rol ten opsigte van omgewingsbewaring. Mccann (1997:749) dui aan dat boere gekarakteriseer word in terme van die noue band wat hulle met die natuur het, ’n duidelike bewustheid van die natuur se siklusse en ’n verantwoordelikheidsin as rentmeesters van die aarde. Terselfdertyd word konvensionele boerderypraktyke3 aanspreeklik gehou vir kommerwekkende degradasie van die bedreigde hulpbron wat grond in ons land is,4 en wys navorsers dikwels op die probleme wat plaaseienaars ervaar om ekonomiese doelwitte en dié van bewaringsboerdery5 te versoen (Lochner 2000:41; Dames 2005:48; Norval 2007:23).

Die manier waarop boere hul balansstaat saamstel, bepaal hulle houding teenoor bewaringspraktyke (Bezuidenhout 2003:30; Van der Walt 2004:26). Veeboere wat bewaringsmetodes toepas, verklaar dat die veld ook op die boer se balansstaat hoort en dat verbetering van veldgehalte beskou moet word as ’n belegging wat rente verdien. Hierdie benadering fokus op die langtermynvoordeel van beter drakrag wat onder andere deur die bewaringsbeginsel van “konserwatiewe veegetalle” bewerk word (Dames 2004:52). Veldtoestand is egter nie ’n maatstaf wat gebruik word wanneer die waarde van ’n plaas volgens konvensionele metodes beraam word nie (Bezuidenhout 2003:30); die beginsels van volhoubare boerdery moet dikwels die knie buig voor sogenaamde “roofboerdery” en die uitputting van die weidingspotensiaal van die veld om verhoging in produksie na te jaag (Dames 2005:47).

Ekonomiese voor- en nadele praat baie sterk téén mekaar in die gesprek oor bewaringsboerdery. Binne die konteks van gewasboerdery word geargumenteer dat bewaringsboerdery ekonomies sin maak op grond van besparings ten opsigte van tyd, brandstof, arbeid, herstelwerk en onderhoud (Lochner 1998:14; Van der Walt 2004:26); tog word hierdie voordeel nie in die wegspringjare ervaar nie en is baie boere huiwerig om bewaringspraktyke te volg weens die kapitaalinvestering wat eers ná jare verhaal kan word (Lochner 2000:41). Waar bewaringsbewerking aangepak word, betaal boere dikwels harde “skoolgeld” voordat hulle die beginsels onder die knie kry en insetkoste begin daal. Dieselfde praktiese en ekonomiese voorbehoude geld waar besluite ten opsigte van veeboerdery geneem word.6 Dan het bewaringsboerdery ook ’n sielkundige kant: dit slaag waar die boer ten volle daarin glo en dit met oortuiging bly toepas, al is die resultate in die beginjare moeilik bepaalbaar (Botha 2001:160).

Voetpad na Vergelegen (1987), ’n jeugroman uit die pen van Chris Barnard, is die verhaal van ’n gesin se stryd om kop bo water te hou op hulle plaas onder knellende ekonomiese omstandighede in die eerste helfte van die vorige eeu. In hierdie roman kom een van die mees komplekse aspekte van die verhouding tussen plaaseienaars en hulle grond7 dus ter sprake: die balans tussen verantwoordelikheid vir eie finansiële oorlewing en verantwoordelikheid vir die natuur se “oorlewing”, die fyn en moeilik balanseerbare spel tussen benutting en oorbenutting van natuurlike hulpbronne.

In 2009 publiseer Hans du Plessis Verbrande paradys, ’n roman waarin die toekoms van ’n unieke stuk natuurlike landskap sentraal staan in die besluit wat geneem moet word oor ’n plaas ná die skielike dood van die eienaar. Twee broers moet die bestuur oorneem van grond in ’n ekologies-sensitiewe gebied en tot ’n vergelyk kom oor die vraag: “Bewaar ons om te kan boer, of boer ons om te bewaar?” Hierdie gegewe bied ook die basis vir ’n vergelykende studie met Voetpad na Vergelegen, waarin twee broers eweneens worstel met die praktiese probleme en die bestuur van ’n plaas nadat die pa weens swak gesondheid belangstelling in die boerdery verloor het. Die ingesteldheid van ’n jong generasie plaaseienaars staan in die sentrum. Die gebeure in Verbrande paradys word egter in die moderne konteks geplaas met verwysings na die hedendaagse probleme waarmee die plaaseienaars in die Vredefortkoepel worstel. Pretorius (2009:6) som die situasie van die eienaars in die roman op met verwysing na die misdaad, onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening en frustrasies rondom telekommunikasie omdat telefoondrade gesteel word en die gebied swak selfoonontvangs het.

Wat die tekskeuse betref, is literêre motivering nodig. Hoewel jeugverhale algemeen gesien word as randverskynsels in die breër sisteem van letterkunde (Wybenga en Snyman 2005:12), is met Voetpad na Vergelegen bewys dat ’n gerekende skrywer soos Barnard8 die genre na die sentrum kan skuif, soos Viljoen (1998:51) oortuig is kan gebeur. Smuts (1998:239) beoordeel Barnard se vier jeugverhale, Boela van die blouwater (1962), Danda (1974), Danda op Oudeur (1977) en Voetpad na Vergelegen (1987), as van die bestes in Afrikaans. Le Roux (1987:9) meen dat in Voetpad na Vergelegen, wat in 1989 bekroon is met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepersprys vir Jeuglektuur, een van die beste stiliste in Afrikaans aan die woord is. Vir Brink (1987:27) slaag dié roman eerstens op grond van die sterkgeweefde verhaallyne, wat daaraan ’n “ryk en digte tekstuur” besorg, en die volgehoue spanningslyn. Barnard se verhaal beïndruk Aucamp (1988:38) deur die lewendige en geslaagde karakterisering van Krisjan, “in die stukkie niemandsland tussen kind en volwassene uitgebeeld met sy nukkerigheid, hunkering en drome”, maar ook van die pa- en ma-figure, waargeneem deur die helder oë van ’n sensitiewe seun. Le Roux (1988:7) het lof vir die realistiese en oortuigende karakterdialoog en verder vir Barnard se “onverbeterlike taalgebruik”.

Laasgenoemde aspek, deur Van Zyl (1988:15) ook genoem ’n “besondere woordkundigheid”, is vir Viljoen (1998:50) een van die belangrikste onderskeidende kenmerke van letterkunde, omdat literêre taalgebruik en vormgewing tot nuwe ervarings kan lei en sake in ’n nuwe lig kan stel. Van der Vyver sien in Voetpad na Vergelegen ’n “meesterlike storieverteller” en motiveer haar standpunt met verwysing na Barnard se gestroopte vertelstyl, “sonder onnodige uitspinsels en met elke woord sekuur geweeg, waarin tóg intense emosie oorkom – werklike belewing van die lewe in vele pynlike en vreugdevolle fasette” (1988:89). Ook Steenberg verklaar dat daar “geen effekbejag (is) in die beelde wat opgeroep word nie” en dat selfs nostalgiese beskrywings versigtig “verby sentiment en moralisasie skeer” in Barnard se vaardige hantering van sy romanmateriaal (1988:8).

Aucamp (1988:38) beskryf dié jeugverhaal se bydrae tot die gesprek oor plaasromantiek in Afrikaans met verwysing na die semidokumentêre inslag9 wat dit het. Een van die kenmerke van groot letterkunde is dat dit verlore tyd probeer herstel en bestendig, beweer hy, en Voetpad na Vergelegen is ’n verhaal uit ’n tyd “toe wit mense nog arm was”, toe depressie en droogte ’n abrupte einde gemaak het aan die landelike leefwyse van talle Afrikaners. Die plek wat Voetpad na Vergelegen, as een van die mees uitgebreide inisiasieverhale10 in Afrikaans (Aucamp 1988:38), vir homself verdien het in die Afrikaanse letterkunde, word opgesom deur dié vergelyking wat Aucamp (1988:38) tref: “Op stuk van sake is daardie soliede stuk Amerikana, genaamd Huckleberry Finn, óók ’n jeugverhaal. Én ’n inisiasieverhaal.”

Met die verskyning van Barnard se jeugverhaal was resensente van mening dat dit ewe veel aanhang onder grootmense sal vind (Van der Vyver 1988:89); dat dit “’n liefling (sal) word by lesers van alle ouderdomme” (Van Zyl 1988:15). Die term oorgangsliteratuur, verwysend na literatuur wat gelees kan word deur beide die jeug en volwassenes (Nieman 2005:127), kan ook op Verbrande paradys van toepassing wees. Cilliers (2009:6) verwys na die veelvlakkigheid van die roman wat “hom nie sommer in ’n genre laat plaas nie”, aangesien dit hoofsaaklik ’n roman oor die jeug is, maar nie noodwendig vir die jeug nie. Die roman kruis meer grense as net dié tussen volwassene- en jeugliteratuur, aangesien dit elemente bevat van die plaas- en die ekoroman en lesers dit ook kan vertolk as spannings- of liefdesroman en beslis ook elemente van die karakterroman daarin sal raaksien (Leyden 2009:33). Hier het ons te doen met heteronomie as duidelike literêre kenmerk van Du Plessis se roman en gedemonstreer as die beginsel dat ’n literêre teks oop is vir ’n groot aantal interpretasies, aangesien lesers in dialoog tree met die teks en dit interpreteer met elkeen se unieke metode en voorkennis (Viljoen 1998:50).

Verbrande paradys slaag die toets van literêre gehalte in die oë van kritici wat oplet na die boeiende spanningslyn (Cilliers 2009:6), die stukrag deur verwikkelde intriges en ontvouende geheime daaraan verleen en die bydrae van behendige tydspronge om die spanningsvolle storielyn vol te hou (Coetzee 2009). Pretorius (2009:6) en Cilliers (2009:6) beskou Du Plessis as ’n ervare verteller wat veral sy staal wys met karakterbeelding en die oortuigende wyse waarop die karakters illustreer dat elke individu trauma en vroeëre lewensgebeure op sy/haar eie manier moet leer verwerk. Die dialoog, wat in die monde van uiteenlopende karakters heeltemal verskil, dra by tot die suksesvolle beelding van die karakters in die roman (Coetzee 2009).

Reeds vóór Verbrande paradys was die natuur ’n sentrale tema in Du Plessis se werk. Sy eerste digbundel, Kleinwild (1978), bevat ’n afdeling wat toegespits is op die natuur en veldlewe. Oor sy tweede bundel, Gewete van glas (1984), skryf Brink (1984:11) dat daar gedigte is wat “’n ontmoeting beeld tussen mens, God en woord binne-in die klipbanke en die wortels van die aarde”. In die derde jeugroman11 uit Du Plessis se pen, getiteld Ditsem, Dawid! (1996), word die karakters by wildstropery betrek, beleef hulle die natuur op ’n Bosveldplaas intens en word hulle by die debat oor die etiek van jag betrek. In die Griekwa-gedigte wat Du Plessis skryf, vind transponering plaas van die Bybelse omgewing na die Kalaharilandskap van doringbome en duine, sterre, veldheuning en bokke. Dit gebeur in Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt (1999), Innie skylte vannie Jirre (2001), Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied (2002) en Hie neffens my (2003).

Hierdie ondersoek is eerstens gerig op die literêre manifestering van omgewingsbewustheid in die karakters van die plaaseienaars in die romans en van die mate waarin ekosensitiwiteit neerslag vind in praktyke van bewaringsboerdery. Tweedens word vasgestel wie die deelnemers in die gesprek oor en die proses van besluitneming ten opsigte van die hantering van die natuurerfenis op die plase in die romans is. Omgewingsbeskouing, ’n sentrale begrip in die navorsingsdoelstelling en ook in Mccann (1997) se navorsing spesifiek gekoppel aan die persoon van die plaaseienaar, word omskryf as die houding en persepsies ten opsigte van die natuurlike ruimte waarvan die plaas deel is, die ander spesies waarmee die planeet gedeel word, en ten opsigte van die toenemend dringende vrae oor die benutting van natuurlike hulpbronne en hoe om die mens se ekologiese voetspoor te beheer (Mccann 1997:750).

2. Konteks: die plaasroman, grondbesit en ekosensitiwiteit

Met die plaas as die sentrale gegewe in beide romans, moet hulle gelees word teen die agtergrond van die ontwikkeling van die plaasroman. Hierdie genre het sedert sy verskyning in die Afrikaanse prosakuns vroeg in die 19de eeu sy sentrale posisie in die verhaalkuns behou (Coetzee 2000:2; Van Coller 2009:20). Van Coller (1995:28-31) identifiseer twee stuwings in die ontwikkeling van die Afrikaanse plaasroman. Die eerste hiervan was in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu,12 toe droogtes, die depressie, toenemende armoede onder boere en die verstedeliking van ongeskoolde mense inbreuk gemaak het op die Afrikaner se lewenspatroon, wat in hierdie jare sterk gerig was op die plaas en grondbesitterskap, en dit dramaties versteur het. In die romans van onder andere C.M. van den Heever, D.F. Malherbe, J. van Bruggen en G.J. Joubert gaan dit oor besit, die betekenis van rypwording en groei, die mooi oes, suksesvolle produksie, en dan uiteindelik plaasverlating as gevolg van armoede. Aangesien die Afrikaner deur sy gehegtheid aan die plaas as’t ware sy aanspraak op die  grond kon bevestig, was dit belangrik dat die plaas nooit verlore moes gaan nie en dat erfopvolging bestendig moes word – grondbesit en patriargale kwessies is sentraal in die tradisionele plaasroman (Coetzee 2000:108).

Die karakters in die klassieke plaasromans was nie onbewus van hulle omgewing nie, maar die liefde en eerbied vir die grond, asook die verheerliking daarvan, wat kenmerkend is van hierdie romans, het hoofsaaklik te doen gehad met die oes wat sou saamhang met voortbestaan (Coetzee 2000:70). G.J. Joubert se jeugroman Oupa Landman se viool (1951) toon op tematiese vlak enkele intertekstuele verbande met Voetpad na Vergelegen en Verbrande paradys – dit gaan oor ’n seun wat ná matriek die boerdery oorneem van “die plaas wat ek elke dag liewer kry” (Joubert 1951:21). Die eerste sin daarvan is tekenend van die wyse waarop die grond waargeneem en verheerlik is in die tradisionele plaasroman: “Skoon en donker en vol nuwe belofte lê die grond met stuwende lewe wat weer verjongde groeikrag geput het uit die aarde” (Joubert 1951:1).

Dieselfde toegewyde aandag aan die onmiddellike omgewing van die oes en die landerye word gedemonstreer in Somer (1942) van C.M. van den Heever, waar die verskillende motiewe – die voortdurende kringloop van seisoene, die ewige afskeid en die futiliteit van die mens se liefde vir ’n medemens – alles geïntegreerd verband hou met die oes van die koring op die Vrystaatse plaas (Kannemeyer 1988:116). Waar die fokus wyer skuif oor die natuurlike omgewing in die tradisionele roman, is dit hoofsaaklik in die idilliese uitbeelding van die verhouding tussen mens en natuur en ter idealisering van ’n verbygegane, gelukkige landelike lewe (Roos 1998:25), of in die uitbeelding van die stryd teen natuurrampe: droogte, plae, hael (Botha 1998:593).

Die tweede stuwing in die ontwikkeling van die plaasroman vind plaas sedert die sestigerjare, toe apartheid as staatsbeleid gelei het tot die verbreding van die perspektiewe van ’n nuwe geslag skrywers wat hulle teen Afrikaner-hegemonie begin verset het (Van Coller 1995:30–31). In moderne plaasromans word belangrike aspekte van die tradisionele plaasromans (byvoorbeeld erfopvolging, die idilliese ruimte, die patriargie) ondermyn en parodiërend herskrywe,13 sodat dit ideologies radikaal afwyk van die tradisionele variant van dié subgenre (Van Coller 2006:99; Coetzee 2000:4, 110; Viljoen 2004:109). In die moderne terugskrywing oor die plaas word daar baie aandag geskenk aan grondhervorming as een van die kernkwessies oor grondbesit sedert die Wet op Herstel van Grondregte in 1994 aanvaar is om voorsiening te maak vir die herstel of vergoeding van regte ten opsigte van grond wat mense sedert 19 Junie 1913 deur rasgebaseerde diskriminerende wette ontneem is. Prinsloo en Visagie (2009:8) verwys na romans soos Horrelpoot (Eben Venter), Agaat (Marlene van Niekerk) en Disgrace (J.M. Coetzee) waarin die koloniale patroon van grondoordrag verbreek word en die grond oorgaan van wit besit na swart/bruin besit, omdat die werker uiteindelik in besit kom van die grond.

Die plaasroman is, soos Van Coller (2006:99) tereg beweer, geensins uitgeskryf nie. In sowel Voetpad na Vergelegen as in Verbrande paradys staan die plaas sentraal ten opsigte van sake soos erfreg, opeenvolging van geslagte, die natuur, arbeid en afskeid van die plaas; beide romans maak deel uit van die dekades lange gesprek oor die wyse waarop grond besit word. In Du Plessis se roman is die postkoloniale stem teenwoordig in die onderliggende tema van grondkonflikte. Die kwessie van grondeise word betrek by wyse van die aansprake van Andries Spogter; sy idees vorm deel van die gesprek oor hoe die plaas vorentoe bewoon en bewerk moet word.

Die motivering vir hierdie spesifieke keuse van tekste lê deels daarin dat dié romans, waarvan die opvallend ooreenstemmende tematiese gegewe reeds in die vorige afdeling uitgewys is, ook tot dieselfde subgenre behoort, naamlik oorgangsliteratuur, en as sodanig beter in ’n literêre ondersoek met mekaar saam-“praat” as tekste uit verskillende afdelings van die prosa. As vernaamste motivering geld egter dat die oorgang van plaasgrond vanaf die besit van ’n vorige generasie plaaseienaars na ’n jong generasie in dié twee tekste aangebied word met aandag aan die hantering daarvan as ekologiese erfenis – onderskeidelik op omgewingsverantwoordelike en omgewingsbeskadigende wyse – en nie slegs van die grond as simbool van familie-erfenis en -besit nie. Dit gebeur nie algemeen in die Afrikaanse plaasnarratief nie: die gegewe van grond as bedreigde hulpbron en van die gevare van onoordeelkundige plaasproduksie word net soms en periferaal aangetref in ons prosa. Hier bied ons letterkunde moontlik ’n weerspieëling van die werklikheid dat die verband tussen die beursie en dit wat op bewaringsvlak moontlik is, nie weg te redeneer is nie – ons moeilike boerderyomstandighede in ’n gebied wat as een van die wêreld se droër lande bekend staan14 in ag genome. Ter wille van volledige kontekstualisering word vlugtig vewys na enkele eietydse romans waarin boerdery wel ter syde met uitsprake oor ekologie verbind word.

Klawervier (1998) van Annelie Botes spreek hom uit teen die kortsigtigheid van boere en die regering en teen die bedreiging van die ondergrondse waterbronne en die eiesoortige diere en plante van die Kammanassie-streek. Dié gegewe bly egter deurgaans ondergeskik aan die stereotipe plaasroman-temas van die onderdrukking van die vrou, die stryd teen die patriargie, die klem op erflikheid, verbode liefdes, ensovoorts (Wybenga 1998:10). Wasserman (1998:9) merk tereg op dat dit in dié roman “nes in ’n C.M. van den Heever-plaasroman uit die dertigerjare daaraan toe gaan” en meen ook dat die boodskap van die volhoubare, ekologiese benutting van grond “verdwyn as ’n terloopsheid binne die wye doek van jare se gefrustreerde liefdesverhoudings, familietwiste en stryd om ’n bestaan te maak op die plaas”.

In Marlene van Niekerk se Agaat (2004) spruit die botsing tussen die boervrou van die plaas Grootmoedersdrift, Milla de Wet, en haar man, Jak, daaruit voort dat hy, volgens Milla se oordeel, die grond op foutiewe wyse bewerk. Haar pleidooie ten gunste van ekologies verantwoordelike grondbestuur op die plaas is dringend en oortuigend, maar dit vorm slegs die inleidende komponent van die weergawe van haar huweliksgeskiedenis van ontnugtering en agteruitgang. In die rekonstruksie van haar lewensverhaal strek dit nie beduidend verder as die heel vroegste huweliksfase waarin sy nog hoop gehad het om Jak tot meer verstandige boerdery te “bekeer” nie; binne die roman-omvang van meer as 700 bladsye word weinig verder as in die eerste tiende van die verteltyd verwysings na Milla se bewaringsdrif aangetref. Hierdie saak word verdwerg deur die veel groter verhaal van die kompleksiteit van individuele menseverhoudinge, ’n verhaal waarin die sentrale gegewe Milla se voorbereiding vir haar dood is en die rekonstruksie van haar lewens- en emosionele geskiedenis saam met die aangenome bruin kind, Agaat, wat langs haar sterfbed vir haar uit ’n versameling dagboekies lees.

Die boer se aanspreeklikheid teenoor die dier in sy kraal kom ter sprake in Etienne van Heerden se Die stoetmeester (1993), waarin skuld, veral op die gebiede van politiek en menseverhoudings, die kern van die karakters se ervarings is. Die Butlers van die plaas Fata Morgana het ook skuld aan die genetiese ingryp in natuurlike patrone wat die teling van die sogenaamde floubok tot gevolg het. Hiermee word aangesluit by die kwessie van die implikasies van teling in Sewe dae by die Silbersteins (1962) van Etienne Leroux. ’n “Onverklaarbaarheid” het ingesluip, sodat die perfek-geteelde bees, Brutus, nie kan bulk nie. Dit is geluidlose maar skreiende kommentaar wanneer hierdie pronkstuk van teling sy kop lig en “met sidderende oorgawe supersonies, onhoorbaar, sy swygsame proses na bowe stuur” (Leroux 1964:69). In Die koggelaar (1989), ’n drama van Pieter Fourie, het die stoetram Knaplat, wie se saad kunsmatig getap word, onder andere ook die funksie van alter ego en gewete van die boer, Boet Cronjé, waardeur Cronjé tot verantwoording geroep word (Boekkooi 1989:31). Die drama sentreer egter om rassekwessies en om Cronjé se skuld teenoor sy gekleurde halfbroer. Die ram, Knaplat, moet volgens die toneelaanwysings deur ’n swart akteur gespeel word en is eerstens simbolies van die swart bevolking (Van Wyk 1989:17; Elahi 1989:9). Die bewustheid by die boer van die oorspeling van sy hand teenoor die natuur en sy wette bly in al hierdie tekste ’n kantlyn-gegewe.

In Horrelpoot (2006) van Eben Venter word Marlouw op sy reis na sy voormalige familieplaas gekonfronteer met die verwoesting van die omgewing en epidemiese siekte van mens en dier wat onafwendbaar afstuur op ’n vernietigde landskap. Die beelde van omgewingsverval word aangebied as deel van ’n groter prentjie van die grootskaalse vernietiging van die infrastruktuur en van algehele verval in ’n postapartheid- Suid-Afrikaanse samelewing, ’n situasie gekoppel aan misdaad in verskeie gedaantes. Gräbe (2006:63) interpreteer die langdurige uitbuiting van die omgewing in hierdie roman as veroorsaak deur mense wie se voortbestaan afhanklik geword het van die bemeestering van misdaad as oorlewingstrategie, en sy sien die omgewingsverwoesting self as ’n tipe misdaad wat ’n onomkeerbare ekologiese versteuring tot gevolg het en lei tot ’n onherbergsame – en vir die mens gevaarlike – Suid-Afrikaanse landskap (2006:64).

Oorkoepelend beskou is dit duidelik dat die boer se omgang met grond as ekologiese erfenis, hetsy op omgewingsvriendelike of op onverantwoordelike wyse, nie dikwels in Afrikaans as sentrale tema ontwikkel word nie. Op grond hiervan word die spesifieke werk van Barnard en Du Plessis wat in hierdie ondersoek betrek word, ’n sinvolle tekskeuse.

Nieteenstaande die feit dat die tema van plaasbesit nie algemeen in die Afrikaanse letterkunde verbind word met die gegewe van die misbruik van grond/weiding en die beskadiging van die natuur nie, is die fokus op die verhouding tussen die mens en die natuur geen ongewone verskynsel in ons prosa nie. Meyer (2006:59-61) gee ’n oorsig oor die veelkantige verhouding tussen mens en natuur wat in die onlangse verhalende werk van onder andere Dalene Matthee, Johann Botha, Piet van Rooyen, Christiaan Bakkes en M.C. Botha uitgebeeld word. Die werk van Barnard en Du Plessis wat voorts ondersoek word, illustreer dus nog ’n aspek van die mens-natuur-verhouding wat op literêre wyse manifesteer in die interessante korpus Afrikaanse tekste wat hulle met die aarde en die plek van die mens daarop bemoei.

3. Plaas in ekonomiese knyptang

Voetpad na Vergelegen is tydruimtelik gesitueer in die vroeë of middeljare van die 19de eeu en op ’n bergagtige plaas in die Barberton-distrik. Dat Barnard dit juis in 1987 publiseer, mag impliseer dat die roman ook boerderyprobleme wil aansny vir ’n gehoor van ’n moderner tyd. Dit vertel van ’n sukkelboerdery met beeste in ’n gebied ver van die mark af en in ’n tyd toe padvervoer nog nie algemeen was nie. Die gesin op Vergelegen verkoop vee aan transportryers en spekulante wat die omgewing sporadies besoek, en smous hulle groente aan die myne in die omgewing om hulle kontantvloei aan te vul (4).

Krisjan, sestien jaar oud en die jongste seun op Vergelegen, weet dat dit broekskeur gaan op die plaas en aanvaar van jongs af mede-eienaarskap van die situasie.

Ek het lankal geweet ons is arm. Ek het geweet ons betaal veertig pond ’n jaar op die plaas af en ons sukkel elke jaar om dit betaal te kry. Ek het geweet daar is op daardie plaas met sy meer as duisend morg skaars sestig morg wat geploeg kan word. Ek het geweet Pa is nie meer sterk genoeg om te boer nie, maar ek het gedink ek is darem daar en ek word groot. (81)15

In November van die jaar waarvan vertel word, is die gesin in gebreke om die paaiement op die plaas te betaal, soos dikwels tevore. Krisjan se broer, Sampie, is te voet na die dorp en van agent tot agent in die hoop om iewers ’n lening te kan aangaan. Hy keer ontnugter terug en sy verslag bied ’n blik op die ekonomiese onbestendigheid van hulle lewe:

Waar’s jou sikkerasie, wil almal weet. Ek sê die oes. Hulle sê wat van die hael? Ek sê ons het beeste. Hulle sê die beeste kan vrek. Ek sê die plaas. Hulle sê watter plaas – dis nie julle s’n nie, dit behoort nog aan die Goewerment. (111)

In ’n poging om hulle inkomste te verhoog, maak Krisjan planne. Saam met Sampie staan hy die skoene van hulle sieklike pa vol en hy bevind hom reeds, ten opsigte van die praktiese eise van boerdery en probleemoplossing, in die rol van plaaseienaar. “Ons kan nog lande maak,” stel hy voor (16). Die uitvoerbaarheid van hierdie planne word egter beperk deur die geografiese aard van die plaas, wat beskryf word as “klipperige skuinstes en koppe en afgronde en klowe van hoek tot kant” (16). Op die enigste stukkie gelyk grond, naby die fontein, plant Krisjan grondboontjies, ’n onderneming wat hy as sy “eie boerdery” sien (18) en wat hom direk teen die natuur te staan bring. Die bosbokke vreet die jong plantjies op; bobbejane verwoes die oes.

Hierdie situasie skep vir Krisjan ’n nuwe probleem op praktiese en morele vlak, want respek vir ander spesies is die uitgangspunt waarvolgens op Vergelegen geleef word. “Ek maak g’n ’n ding dood nie,” (39) sê Krisjan duidelik wanneer die probleem van die bobbejane te sprake kom, en per geleentheid sê sy pa: “Jy moet oppas, jy praat nou van ons broers” (47). Selfs die feit dat die skoene wat Krisjan so begeer, ook van vel gemaak sal wees, raak vir hom ’n krisis, omdat dit impliseer dat die mens “doodmaak, heeltyd, om aan die lewe te bly”. Al probeer sy pa hierdie gegewe vir hom in perspektief plaas deur te verwys na “die wet van die natuur”, bly dit vir hom ’n morele dilemma. Hy glo, soos sy ouers, dat die Here in sy skepping woning maak, en meen: “Ons jaag Hom heeltyd oral uit met ons doodmakery” (41–2). Toe ’n bobbejaanwyfie in Krisjan se strik beland en hom, met ’n kleintjie teen haar aangedruk, smekend in die oë bly kyk, word die prentjie in sy kop “ingebrand soos ’n litteken wat ’n mens met jou saamdra: die oë wat [...] al dowwer word tot die lig heeltemal uit hulle padgee” (50). Sy broer, wat help ingryp in die “jollifikasie” van die bokke in die grondboontjieland, kwes per ongeluk een van die diere. In die lig van die skietlamp sien Krisjan die angsbevange oë van die dier en dit verwar hom ten opsigte van sy boerderydoelstellings: “[D]ie bok het soos ’n kind gehuil [...] Ek was nie meer lus om hier ’n oes af te haal nie. Ek was nie meer lus vir stewels nie” (40).

Die tema van ontsag vir die natuur is vroeg reeds prominent in die roman. Die openingsin verwoord al ’n afhanklikheid en dankbaarheid ten opsigte van die “versorging” deur die natuur: “Ons het daardie somer baie reën gehad en die veld was ruig” (1). Op verskillende wyses word die bepalende rol van klimaatsomstandighede en die siklusse van die natuur uitgespel. Hael beskadig die mielie-oes (37); vroeë koue en ryp is ’n bedreiging (43); in die droë seisoen verbrand die groente (140); en in die dor veld ontstaan ’n brand wat vinnig oor die hele plaas versprei en ook ’n deel van die opstal in puin lê (142–3). Die mens se afhanklikheid van natuurgawes word jaar ná jaar bevestig wanneer die betaalmaand op Vergelegen nader kom en die reëns wegbly, sodat die ploeëry in die klipharde grond “’n ellende” is en die mielies nie betyds geoes kan word nie (83, 140).

Hierdie vorm van omgewingsbeskouing, naamlik die erkenning dat die mens se omstandighede onderworpe is aan en gereguleer word deur aspekte van bepalende belang uit die natuur, is volgens Vital (2008:89) die kern van ’n bewaringsingesteldheid. In Voetpad na Vergelegen word die ingesteldheid van afhanklikheid jeens die natuur aangevul met ’n grondige kennis daarvan – die geure van jakkalsbossie en wildetee en renosterbos en boegoe is vir Krisjan moeiteloos onderskeibaar in die winterveld (44) – en ’n uitgesproke verwondering oor die misterie en die verskeidenheid in die natuur. Krisjan beleef dit plat op sy rug in die veldgras: “Klein liewenheersbesies het oor jou gesig geloop en koggelmanders het uit die skeure uitgekom en vir die middag sit en kyk. Dit was of jy die wêreld met die oë van ’n mier sien. Ek het my aan alles verwonder” (137).

Nog ’n vorm van natuurwaardering manifesteer in die band wat die karakters tussen die plaas se berggrond en hulle identiteit ervaar.16 Krisjan vind die idee dat die gesin afstand sal moet doen van die plaas ondenkbaar, en formuleer ’n kragtige argument rondom die identiteitswaarde wat hy daaraan heg:

Al ons sweet lê hier, Ma, al ons lag en ons huil. Elke boom en klip op Vergelegen het ’n storie, elke klofie, en net ons ken hulle storie. Ons ken elke berg en elke voetpad soos ons onsself ken [...]. Vergelegen is nie ’n plaas nie, Ma, Vergelegen is óns – elkeen van ons op sy eie en almal van ons tesame. Jy kan nie van jouself af weggaan nie. (147)

Ook sy broer se oortuiging is dat die plaas nie los te dink is van hulleself nie. Krisjan weet dat Sampie nie sal trek nie – “al het hy nie ’n draad klere oor nie, al moet hy stywepap eet – hy sal nie vir Vergelegen los nie” (139).17

Ten spyte van Sampie se aanvaarding daarvan dat die mens se lewe verknoop is met die gang en gawes van die natuur, verraai hy nie bewuste nadenke oor die invloed van hulle boerderypraktyke op die omgewing nie. In die lente waarvan vertel word, sien Krisjan vir Sampie “besete vasklou” aan die ploeg, “asof hy met die aarde self baklei”. Hy ploeg elke lappie ouland op die plaas, braak elke kaal bult, maak nóg lande (83). En verraai geen kommer oor verhoogde waterafloop, wat minder doeltreffende gebruik van beskikbare reënval impliseer, of die invloed van dié “besete” ploeëry op die biodiversiteit18 van die veld nie.

Onderliggend aan hierdie ekstreme vorm van oorbenutting van die plaas, waarvan Krisjan-hulle weet dat minder as ’n tiende beboubare grond is (81), blyk die naïewe geloof te wees dat die natuurlike hulpbronne onuitroeibaar is en die natuur ’n onuitputlike spens vir die mens. Krisjan se herinneringe aan die bottels koekheuning en bessiekonfyt in hulle kombuiskas ondersteun die idee van die natuur se rojale voorsiening (158); so ook die beeld van die veld as spens wat gebruik word om ’n goeie jaar te beskryf: “Ek onthou daardie voorjaar soos ’n mens veldheuning onthou wat jy in die geheim uitgehaal en onder ’n bakkrans geëet het” (168). Die geloof in die natuur as onuitputlike en standhoudende voorsiener word egter die beste geïllustreer in die benadering tot reën, waarop die hoop te alle tye en selfs in ’n onrealistiese mate gevestig bly. Krisjan sê: “Dalk, wie weet, reën al ons moeilikhede weg. Dalk reën Pa gesond. Dalk reën die reën Ma se moedeloosheid uit haar uit” (145). Hierdie oormoedige geloof in die wonderwerkende vermoëns van die natuur word bevestig wanneer die gesin uiteindelik moet oppak om die plaas te verlaat en daar oornag ’n bui reën uitsak. Die volgende oggend weier Krisjan se pa om op die klaar gelaaide wa te klim; hy protesteer: “Ek het laaste nag vir Ma gesê ons kan weer probeer” (150).

Die kernkomponente van hierdie gesin se omgewingsbeskouing, hulle respek en waardering vir die natuur, kry in die ekonomiese knyptangsituasie nie konkrete gestalte in ’n bestuurstelsel wat rekening hou met die potensiaal van die veld nie. Sampie se verbete en vernietigende ploeëry demonstreer die onoorkomelike dilemma van finansiële oorlewing versus ontsag vir die natuur. Hier blyk die teorie te geld van landboukundiges soos Mias van der Westhuizen (aangehaal deur Norval 2007:23), Tisdell (1996:129) en Pannell e.a. (2006:1407) dat plase op ’n omgewingsverantwoordelike wyse bestuur word waar en so ver dit ekonomies verstaanbaar en haalbaar is.

In Vanclay, Lawrence en Lockie se navorsing oor die dryfvere agter spesifieke boerderypraktyke waaraan plaaseienaars voorkeur gee (Vanclay en Lawrence 1995; Vanclay en Lockie 1993), word nie net bevestig hoe deurslaggewend ekonomiese faktore is by boerderybesluite en -voorkeure nie; daarin word ook beklemtoon dat boerdery sosiaal gestruktureer is en dat eienaars praktyke volg in ooreenstemming met wat in die plaaslike boerdery-subkultuur die uitgangspunt is ten opsigte van waardes en houdings, kennis en oortuigings (Vanclay en Lawrence 1995:97; Vanclay en Lockie 1993:14–6). Ander eienaars in die omgewing word beskou as belangrike bronne van inligting ten opsigte van “goeie plaasbestuur” (Vanclay en Lockie 1993:16). In Voetpad na Vergelegen speel oom Stoffel, Krisjan se ma se broer, ’n leidende rol in die gemeenskap wat só afgesonder is dat boodskappe van plaas tot plaas geflits word met ’n spieël (190). Hy was “’n flink boer en sy plaas was al betaal en hy’t geglo aan grondboontjies” (190). Dit lei tot Krisjan se besluit om self grondboontjies te plant, téén sy pa se advies in; ook Sampie volg met groot geloof die weg van saaiboerdery wanneer hulle die plaaspaaiement nie saamgeskraap kan kry nie. Hierdie keuses word dus direk gemotiveer deur die desperaatheid oor hulle gesin se finansiële posisie. Sampie sê: “Ek het nuwe lande gemaak. Ek het geploeg en gesaai en wéér geploeg en wéér gesaai. [...] Die Here hoor my, ek het hard gewerk [...]” (102).

Hierdie roman demonstreer die situasie waar ’n kerngesonde mens-natuur-verhouding in die aangesig van finansiële probleme nie realiseer in konkrete boerderybewyse van ’n bewaringsingesteldheid nie.

Wanneer die gesin die plaas verlaat, vind hulle tydelik ’n heenkome by Hans, die broer wat by ’n nabygeleë myn werk. Maar ’n verterende verlange na Vergelegen dryf hulle tot die besluit om Hans se spaargeld te aanvaar om die plaaspaaiement te betaal en weer te probeer om die boerdery te laat slaag. Hoewel Sampie op die myn agterbly en voortaan vir Hans help spaar aan die jaarlikse paaiement, verraai die planne wat gemaak word dat die stukkies bewerkbare plaasgrond steeds tot uitputtens toe benut sal moet word: “Ons sou met groente en mielies die pot aan die kook hou en die grootlande vol katoen kry” (156). Aan die einde van die roman word die gesin se geloof beloon met ’n goeie reënjaar en ’n mooi katoenoes. Hieruit volg egter dat steeds ’n hoër eis gestel word aan die grond waaruit dié gesin moet leef:

“Volgende jaar moet julle nóg lande maak,” sê die agent toe hy van die katoenlande af terugkom.

“Ons het nie meer ploegplek nie,” sê Pa.

“Hier ’n akkertjie, daar ’n akkertjie. Elke bietjie help. Uit hierdie drie lande behoort julle ’n goeie vierhonderd sak te kan haal.” (162)

Ten spyte daarvan dat geen teken bestaan van ’n veranderde en meer verantwoordelike benutting van die plaas wat vir hierdie gesin so kosbaar is nie, verraai die slot van die roman steeds die innige band wat Krisjan se mense met die seisoene en die natuur het: “Ons was die somer aan die tegemoet gaan en die maan was wit elke nag en die nagte was vol tarentale. Vergelegen was weer goed vir ons ...” (168).

In die volgende afdeling word die ondersoek uitgebrei na ’n roman waarin ’n andersoortige betekenistoekenning aan die natuurerfenis gevind kan word, asook ’n doelgerigte poging tot die bewaring daarvan.

4. Persepsieverskeidenheid ten opsigte van die omgewing

Omdat die materiële omstandighede van die Afrikaanssprekende in die moderne tyd – veral sedert die 1960’s – verander het, en omdat die persepsie van die werklikheid soos dit in taal geskep is, daarom ook verander het, het die letterkunde verander (Coetzee 2000:110).19 Verbrande paradys weerspieël die situasie van die vermoënde plaaseienaar, en hoewel dit nie tekens dra van die werkwyse van parodie of ondermyning van aspekte van die tradisionele plaasroman nie, is die moderne herkenbaar in die omstrede realiteite van die postkoloniale era in Suider-Afrika, soos plaasaanvalle en grondeise. Enkele aspekte van vernuwing word voorts uitgewys.

Die plaas Eden in Verbrande paradys is geleë in die oudste en die grootste meteorietimpakstruktuur in die wêreld, die Vredefortkoepel in die omgewing van Parys. Die karakters leef in ’n tyd waarin moderne navorsings- en inligtingstegnologie ’n groot rol speel in die bewusmaking van wonders op natuurvlak en die waarde van natuurerfenisse. Die Venter-gesin (Isak, Reinet en hulle twee hoërskoolseuns) is ingelig oor die ontstaan van die koepel twee miljard jaar gelede toe ’n asteroïed ongeveer 10 km in deursnee die aarde teen sowat 40 000 km/h getref het, omtrent 10 km in die grond ingeboor het, en ontplof het (147–8).20 Die uniekheid van die omgewing en die Venters se verknogtheid aan die plaas duik op in vele gesprekke in die roman. Sybrand sê vir sy broer: “As die omgewing verwoes word, is daar nie meer ’n Eden nie”, en Henro reageer: “As daar nie ’n Eden is nie, wil ek nie op die aarde bly nie” (136). Isak Venter sê vir sy vrou: “Die drang tot beskerming van enige ding is direk gekoppel aan die onvervangbaarheid daarvan. Iets wat uniek is, moet beskerm word teen vernietiging [...]” (145).

Die bewustheid van die natuurlike omgewing is in die eietydse plaasroman dikwels selfs skerper as in die ou plaasnarratiewe (Coetzee 2000:112). In Verbrande paradys word die omgewing ’n liriese teenwoordigheid; die Koepel word beskryf as “’n groen wonder” (198) en “eintlik ’n ware sprokie [...], die stilte, die afgeslotenheid, die ongereptheid” (191). Op die plaas trek die winter “soos ’n koue rilling al langs die rugstring van die berge af tot in die silwer murg van die rivier” (27). Sybrand beleef kommunikasie met die natuur in die geluide wat hy intens waarneem: dié van die jakkals (18), die rooibok (25), die witkruisarend (136) en jakkalsvoël (249); die visarend is “die Koepel se stem” (47). Daar bestaan ’n soort psigiese konneksie: “Die omgewing troetel hom soos ’n toegewyde ma” (380); tydens sy studentejare op die dorp verlang Sybrand na “die kombers van baie bome” (281).

Eden is egter nie meer vir die gesin die primêre bron van inkomste nie en die fokus in die roman is nie op boerdery-aktiwiteite nie. Isak het die boerdery afgeskaal tot ’n paar beeste en skape; hy verduidelik aan sy vrou: “Ek moes anders as die Venters voor my dink, onthou” (176). Met die sesde geslag Venters op Eden word die plaas beleef en geniet asof dit ’n naweek- of vakansieplaas is. Isak is ’n universiteitsdosent en hoofsaaklik bedrywig in sy studeerkamer; die seuns bring ledige ure voor die TV of met ’n visstok langs die rivier (56) deur. Die oudste erfgenaam, Sybrand, wil in sy pa se spore as letterkundige volg en die akademie sy toekoms maak.

Die isolasie van die plaas, ’n kenmerkende gegewe in die prototipiese plaasroman, word in Du Plessis se roman verbreek deur verwysings na die nabygeleë dorp, waar die seuns skoolgaan, en na binnedringing van die stad, wanneer ontwikkelaars uit Johannesburg vooruitsigte bring van die bou van ’n casino in die Koepel. Hierdie ontwikkelingsplanne is vir Sybrand ’n nagmerrie: “Ons moet keer. Die Davels sal ontwikkel al kos dit die laaste fluweelbos en rooi ivoor in die berge. Hulle sal gholfbane bou al suip dit die rivier leeg” (186). Sybrand het van Isak die eienskap geërf wat Botha (2001:160) land literacy noem, die vermoë om die grond soos ’n brief te “lees” om die gesondheid daarvan te bepaal en ook hoe gesond die invloed van ons gemeenskap en produksiesisteme daarop is. Ná die plaasbrand waarin Sybrand sy pa verloor, beskou hy Eden as “nou mý plig” (138), en terwyl hy die swartgebrande omgewing beskou, neem hy die hoë heining van die buurplaas waar as ’n “sny” wat teen die berg uit loop. “Dis die binnedrade wat die Koepel versnipper,” tref dit hom. “Die Koepel kan mos een groot wildreservaat wees?” (147).

Sybrand se ekologies-bewuste denke vind nie weerklank in die beskouings van die ander plaaseienaars nie. Hy besef: “Ons boer die natuur flenters” (185), terwyl die houding van die meeste ander is dat hulle nie “tyd (het) om wildtuin-wildtuin te speel nie” (193).

Coetzee (2000:122) beskou die wegbreek van eenselwigheid in denke en moraliteit van mense in plaasgemeenskappe ’n opvallende aspek van die nuwe plaasroman, soveel te meer omdat plaaseienaars nie besluite neem in ’n sosiale vakuum nie en die sosiaal-gestruktureerde aard van die boerderybedryf ’n invloed uitoefen op die plaaslike manier van doen (Vanclay en Lawrence 1995:97). Die een ná die ander buurman verkoop sy grond aan ontwikkelaars wat die natuurlike omgewing verwoes (149, 163), terwyl Sybrand voortstoei met sy pa se idee om die Koepel as ’n erfenisgebied te laat verklaar, en met sy pogings om eerstens “die Koepelaars van die Koepel (te) oortuig, voordat ons die wêreld van die waarde daarvan kan oortuig” (191).

Die vergadering wat Sybrand reël om ’n bewaringskomitee te probeer stig, word bygewoon net deur die nuwe dokter op die dorp (194). Dr. Willemse spel vir hom die moderne, multidimensionele aard van omgewingspersepsies uit as “die ewige ekologiese driehoek” tussen ontwikkelaars, boere en omgewingsbewustes: “Ontwikkelaars bedreig, boere boer en ons probeer bewaar. Die stryd van die groot B’s” (196).

Sybrand se droom om Eden deel van ’n groter natuurreservaat te maak en toerisme te vestig, word die sterkste teengestaan deur sy jonger broer, wat wil boer soos al die Venters vóór hom (181). Sybrand grond sy “alternatiewe” benadering tot die grond op die breër prentjie wat navorsing die moderne mens bied. Hy probeer verduidelik aan Henro, iewat prekerig en didakties: “Hier is iets baie groter en belangriker in die Koepel aan die gang as ek en jy en (ontwikkelaars soos) Boeta Davel. Onthou, dit wat ons nog altyd die Koepel noem [...] is skaars ’n tiende van die oorspronklike struktuur. Wat ons weet, is seker nie tien persent van wat regtig gebeur het nie. Maar die Koepel is nie landbougrond nie. Dit is ’n oerwonder, maar ons het dit kaal geboer” (370).

Die visie dat Eden deel is van ’n groter, sensitiewe natuurgeheel en dat die aanspraak op beskerming vir die totale Koepel moet geld, klop met die beginsels van ekosisteembewaring. Met hierdie benadering word aangesluit by wat bewaringskundiges meen die enigste werklike kans op die behoud van ’n betekenisvolle biodiversiteit is, naamlik die beskerming van groter ekosisteme en landskapgehele eerder as kleiner grondgebiede (Botha 2001:160).

Henro wil die skool ná graad 10 verlaat; hy sien homself as “eintlik ’n boer” en “’n ou wat met sy hande kan werk” (36). Vir hom is dinge eenvoudig: “Die Bybel sê ons moet oor die aarde heers” (149). Sybrand probeer in verskillende gesprekke sy broer oortuig dat die verskil tussen “heers oor” en “oorheers” ook die belangrike verskil is tussen “bewaar” en “bedreig” (150, 249, 267), en dat die vermindering van vee en die afbreek van die plaas se binnedrade ’n goeie plek is om met die bewaringstaak te begin. Teen die einde van die roman is daar tekens dat Henro die “dieper betekenis van die Koepel”, waarna hulle pa verwys het (163), begin verstaan en ’n kompromis probeer aangaan. Waar Sybrand die voerkamp se draad afgebreek het, ontwerp Henro ’n kamp waarvan die hele heining uit hekke bestaan, sodat die kamp na alle kante oopgemaak kan word (351).

Verbrande paradys is literêre bevestiging van die gevolgtrekking waartoe Dames (2005:48) kom omtrent bewaringsboerdery, naamlik dat dit slegs winsgewend is indien die voordeel van bewaring effektief na ’n bemarkbare produk omgeskakel kan word. In hierdie roman bied die moderne toerismebedryf ’n goeie ekonomiese alternatief vir boerdery in ’n ekologies-sensitiewe gebied. Verder geld dat die Venters uit Isak se salaris leef; sy en Sybrand se moderne denke oor omgewingskwessies is waarskynlik grootliks gemotiveer deur die mindere mate van finansiële afhanklikheid van wat die hulpbronne tussen die plaas se grensdrade bied. Aangesien Eden eerder ’n geriefsoord is as die finansiële sekuriteit vir hulle lewe, is die bewaring daarvan ’n soort luukse. Die buurdogter, Emma, begryp die voorreg daarvan as sy sê: “Ons bewaar ’n atmosfeer. Soos die stilte in die Koepel of die nag se donker” (345).

Die keuse wat Sybrand – en uiteindelik ook Henro – maak ten opsigte van die gebruik van die grond, is deels gemotiveer deur die moderniteit van die era. Die rekenaar, boeke en navorsingsbronne is direk betrokke by die Venters se situasie van ingeligtheid oor die omvang van die natuurwonder wat hulle omring (147); Sybrand vind in die navorsingsliteratuur die stappe wat gevolg moet word vir die opstel van ’n bestuursplan om ’n stuk grond as erfenis te verklaar (186); die koerant help hom met inligting en die plaas van ’n kennisgewing (192).

Die beginsels van bewaringsboerdery is egter geensins nuut nie,21 en wette wat op natuurbewaring van toepassing is, is so oud soos die eerste plase in ons land.22 Daarom moet die verskille ten opsigte van die plaaseienaars se ingesteldheid teenoor en besluite rakende grond- en omgewingsbewaring, soos dit in die twee romans uitgebeeld word, moontlik eerder gelees word teen die agtergrond van die werklikhede van die ekonomiese en sosiaal-gefundeerde aspekte van plaasbestuur.

In die moderne plaasroman is kwessies soos erfopvolging en erfreg steeds betekenisvolle uitings. Verbrande paradys fokus egter nie meer op die kwessie van “verskuldig” wees aan die voorgeslagte nie, maar eerder op ’n ingesteldheid van verantwoordelikheid teenoor die nageslag. Die roman eindig met die toekomsprojeksie van ’n nuwe geslag Venters rondom ’n koerantberig: “Vredefortkoepel SA se sewende wêrelderfenisgebied” (406). Dus is die belangrike gegewe hier ’n toekomstige geslag wat ’n beskermde natuurgebied “erf” en nie ’n stuk plaasgrond saam met die verpligting om dit op dieselfde manier as vorige geslagte te bestuur nie.

Een van die duidelikste breuke in die lyn wat getrek kan word vanaf die tradisionele plaasromans na die nuwe, is te vind in die uitbeelding van die “Ander” wat in die moderne narratiewe ook geleentheid vir die saamwees met hulle erfenis kry (Coetzee 2000:116). Die vraag na die betekenisse wat deur plaaslike gemeenskappe aan die natuur toegeken word en wat die konteks vir hierdie navorsing verskaf, moet in moderne tye in sy antwoord uiteraard die situasie van alle groepe in ons samelewing verreken. Daarom word vervolgens gekyk na hoe die rol van die “nuwe gespreksgenote” in die besluite oor die natuurerfenis in die romans uitgebeeld word. As agtergrond vir die volgende afdeling in hierdie artikel geld ook die feit dat sosiale geregtigheid deur die Sentrum vir Volhoubare Landbou (1998) geïdentifiseer word as een van die kernkomponente in die beoefening van volhoubare boerderybestuur, naas die kwessies van produktiwiteit, die verlaging van produksierisiko en ekonomiese lewensvatbaarheid (Steyn 1999:40).

5. Vennote in die erfenis

Die plaas Vergelegen in Barnard se roman huisves twee gesinne: Krisjan s’n en dié van Kashan, wat die arbeider is. In die uitbeelding van die verhouding tussen die eienaars- en arbeidersgesinne val die klem op wedersydse vertroue en op elemente van bedagsaamheid teenoor die ou man (43, 148), wat op menswaardige wyse uitgebeeld word as vry om self te besluit of hy die plaas saam met die gesin wil verlaat of eerder wil aanbly (148). In wysheid sê Kashan: “As jou voete soveel keer en soveel keer dieselfde koers geloop het, vat hulle nie sommer ’n nuwe koers nie”, en hieraan gee Pa erkenning: “Ek hoor jou goed” (148). Eers later besef Krisjan die waarheid van Kashan se woorde: “Die plek se voetpaaie sal julle nie los nie. Hulle sal agter jou en jou kinders aanloop tót julle omdraai” (149).

Tog is die inskripsie van eiendomlikheid, sowel van die arbeid op die plaas as van die arbeider, en as herkenbare element van die plaasverhale van vroeër, nie mis te lees nie. Kashan word in die roman weinig méér as ’n “verlengstuk” van die plaasaktiwiteite – hy help ploeg (92), staan by as koeie kalf (70), help oes (162), help vuur slaan (144). Wanneer ’n wa of ’n brief moet dorp toe gaan, moet Kashan nader staan (74, 164); wanneer Krisjan honde nodig het om die bobbejane van sy grondboontjieland weg te hou, doen Kashan se honde die werk (43). Hierdie gegewe herroep die motto van Van Onselen se publikasie waarin die lewensverhaal van ’n swart bywoner vertel word: “Die saad is myne. Die ploegskaar is myne. Die span osse is myne. Alles is myne. Net die grond behoort aan hulle” (1996:39;, eie vertaling). Op dieselfde wyse staan Kashan buite die gesprek en die besluite wat die grond en bewerking daarvan raak.

Intussen het die “diskoers van die onterfdes van die grond” begin (Coetzee 2000:18). In moderne plaasromans is erfreg problematies en word daar gevra wat die aard van die plaaswerker se aanspraak op grondbesit is, aangesien die werker net soveel arbeid as die boer verrig, en selfs meer. In Verbrande paradys word ’n duidelike rekonstruksie of ontwikkeling van die bewussyn van die moderne Afrikaner ten opsigte van die verhouding tussen plaaseienaar en werker uitgebeeld. Die Spogters, wie se familie al vir meer as tagtig jaar op Eden werk, se identiteit word aan die grond gekoppel en Coetzee (2009) meen dit is te verstane dat Andries ontwortel voel wanneer hy ná die brand van die plaas af wegloop. Andries word van tweejarige ouderdom af grootgemaak deur sy oom, Adam Spogter, wat by hom inprent: “Eden is mos ons blyplek ook [...]. Hoe sal ons dan nou nie hier hoort nie?” (51), sodat Andries ná die brand in totale verslaentheid besef: Eden is al huis wat hy ken; die Koepel is al ma wat hy het (83).

Andries is nie net aan Eden verbind deur sy vertroudheid met die Venters, saam met wie hy vir tee en beskuit om die kombuistafel aansit nie, en deur die finansiële versorging van Isak, wat onderneem om vir sy skool- én naskoolse opleiding in te staan nie. Hy beleef in dieselfde mate as die Venter-seuns ’n hartsverknogtheid aan die Koepel en ’n natuurgerigtheid wat blyk wanneer hy opmerk: “In die dorp sien ’n mens nie eers die berge nie” (17), en wanneer hy hunker na die vakansie, “drie weke in die stilte tussen die koppe [...]” (31). Die band tussen grond en identiteit is vir oom Adam ’n uitgemaakte saak – “Ons is die grond waarop ons woon” (315); “[A]s jy grond verkoop, verkoop jy jouself” (336) – maar hy dra ook ’n besondere perspektief op die plek van die mens binne die groter geskapenheid aan Andries oor: “Hoekom dink jy noem ons onsself Koepelaars? [...] Omdat ons die grond s’n is” (210).23 Toegerus met die insig dat die mens aan die grond behoort – eerder as andersom – word die kwessie van omgewingsbestuur vir Andries voor die hand liggend. “Sonder die Koepel is nie een van ons iets nie” (315), begryp hy; ook dat vernietiging van die Koepel “vernietiging (is) van onsself” (368).

Adam Spogter het die land literacy wat baie plaaseienaars in die omgewing nié het nie; hy spel die kwynende welstand van die grond en die bioversiteit in eenvoudige terme uit: “Mense boer die aarde op [...]. Ons het die diere van die veld skoon uitgeboer” (334). Dit is Adam wat vir Henro op die mees verstaanbare wyse die noodsaak motiveer van ’n erfenisgebied waar daar eers konvensioneel geboer is. “Hoe het die oumense dan gemaak?” daag Henro uit, en Adam verduidelik: “Die plase was groot en mense het minder nodig gehad. Vandag se tye is vreemde tye [...]. Die lappies grond in die Koepel het te veel en te klein geword. Ons is te veel wat uit haar grond uit moet eet [...]. Ons ma lê nou amper kaal” (334).

Wanneer Andries staan vir die universiteit se studenteraad, gebruik hy in die verkiesingsveldtog die saak van die bewaring en toekoms van die Vredefortkoepel om ook sy mede-“eienaarskap” van Eden te bevestig. Vroeër het hy reeds met Sybrand uitgeklaar dat hy graag ’n aandeel in Eden sal wil koop (185) en in ’n gesprek met Henro die instel van ’n grondeis geregverdig: “Ek het ook ’n reg op Eden” (359). Tydens die optog wat hy gereël het, weerklink sy oortuiging oor die megafoon: “Ons is inboorlinge van die Koepel, die eintlike grondeienaars wat soos ’n gewete moet opstaan teen die vernietiging [...]” (367–8); eie kursivering).24 Ná Reinette Venter se selfmoord en die onthulling van Andries se biologiese band met die Venters ontdek Sybrand dat sy ma die plaas in ’n trust gelaat het vir hom, Henro en hulle halfbroer (398). Sy bewaringsplanne begin dan meer konkrete vorm aanneem, met “broer Andries” sonder omhaal daarby ingesluit (399) en met duidelike blyke van sy onlosmaaklike verbintenis tot hierdie saak: “Ek is Eden. Of is Eden ek?” (399).

In die gelyke verdeling van erf- en bewaringsreg tussen alle betrokkenes in Verbrande paradys, en in die praktiese en ekonomiese uitvoerbaarheid van bepaalde karakters se versugting om die mens se ekologiese voetspoor te beheer, lê die tekens van ’n andersoortige realisering van die mens se omgewingsverantwoordelikheid as wat in Voetpad na Vergelegen uitgebeeld word. In Du Plessis se roman word situasies ten opsigte van erfopvolging en grondbesit gerepresenteer wat tiperend is van die eietydse plaasroman in Suid-Afrika, hoewel die kwessies dalk ideologies te maklik opgelos word. Die grense van die postkoloniale diskoers oor grond word ook verder geskuif: beskouings ten opsigte van die bestuur en benutting van natuurlike hulpbronne word uitgebrei om nie net die perspektief van die wit en voorheen koloniale grondeienaar te omvat nie, maar ook dié van die anderskleurige en voorheen subalterne werker.

6. Ten slotte

Hierdie ondersoek het nie die reikwydte om ’n verteenwoordigende beeld te kan bied van die wyses waarop die omgewingsbeskouings van plaaseienaars in die Afrikaanse verhaalkuns uitgebeeld word nie. Dit probeer wel ’n inleiding bied tot hierdie bepaalde invalshoek van navorsing oor die beskouings van en betekenisgewing aan die natuur in Suid-Afrika en as sodanig probeer dit ’n bydrae lewer tot die ontwikkeling en vestiging van ’n Afrika-ekokritiek.

In die romans wat betrek is, is verskillende grade van ekosensitiwiteit by die hoofkarakters waarneembaar, en verskille in die mate waarin die besef van die mens se onderworpenheid aan natuurkragte en -toestande in die omgewingsverantwoordelike bestuur van hulle grond realiseer. ’n Interessante bevinding is hoe duidelik Coetzee (2000:20) se sogenaamde “nuwe plaas-Afrikaner” in Verbrande paradys herkenbaar is in die persoon en omgewingsbeskouing van die oudste Venter-seun. Daar is die skerp aandag aan die natuur, die individualistiese navolg van alternatiewe plaaspraktyke en die wegbreek van die eendersheid van denke in die plaaslike gemeenskap en van die voorskrifte van vorige geslagte, asook die geleentheid wat die “bywoner” kry vir die saamwees met hulle erfenis. Hierdie roman weerspieël ook die nuutsoortige situasie dat die plaas bestuur word vanuit die posisie waar die boerdery nie meer die hoofbron van inkomste is vir die bewoners van die plaas nie. Cilliers (2009:6) wys op die dubbele implikasies hiervan: die moontlikhede van wildplase en toerisme open nuwe horisonne en bewaringsperspektiewe vir die eienaars van Eden, maar die opregtheid van hulle bewaringsgewetes word getoets deur die gewetenlose strategieë van ontwikkelaars met geen sin van morele aanspreeklikheid teenoor die natuurlike omgewing nie.

Voortdurende en indringende vraagstelling oor die betekenis van die plaas lei tot menige herbesoeke aan plaastekste deur skrywers en letterkundiges. Hierdie artikel probeer om nog ’n dimensie te belig van die digte betekenisgeheel wat opgesluit gevind word in die plaasrepresentasies in die Afrikaanse letterkunde. Dit sê naamlik dat die plaas ook ’n ruimte is waar op ’n baie direkte wyse uitdagings op die vlak van die opbouende ekologiese krisis rondom ons hanteer word. Gegewe die lang historiese ontwikkeling van natuur- en omgewingsbewaringsinisiatiewe en -wetgewing in Suid-Afrika, kan navorsing oor bewaringsingesteldheid en -pogings soos dit in die letterkunde opgeteken staan, een van die belangrikste instrumente wees in die kartering van ’n Afrika-ekokritiek binne die literêre grense van Afrikaans.

Bibliografie

Ashcroft, B., G. Griffiths en H. Tiffin. 1989. The empire writes back. Londen en New York: Routledge.

Aucamp, H. 1988. Verlore tyd herstel. Insig, Maart, p. 38.

Barnard, C. 1961. Bekende onrus. Pretoria: Van Schaik.

—. 1962. Boela van die blouwater. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

—. 1964. Pa maak vir my ’n vlieër Pa. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

—. 1974. Danda. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1975. Mahala. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1977a. Danda op Oudeur. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1977b. Taraboemdery. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1982a. Die rebellie van Lafras Verwey. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1982b. Duiwel-in-die-bos: Verhale. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1987. Voetpad na Vergelegen. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1992. Moerland. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1999. Boendoe. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2008. Oulap se blou: Veertig kort vertellings. Roggebaai: Umuzi.

Bezuidenhout, R. 2003. Your veld belongs on your balance sheet. Farmer’s Weekly, 21 Maart, pp. 30–1.

Boekkooi, P. 1989. Die koggelaar: ’n Mokerhou. Insig, 30 Junie, p. 31.

Botha, E. 1998. Etienne Leroux: Profiel. In Van Coller (red.) 1998.

Botha, M. 2001. Ecosystem conservation for the next decade. Veld & Flora, 87(4):160–61.

Brink, A.P. 1984. Dié Hans du Plessis dunnerig, maar louter plesier. Rapport, 2 Desember, p. 11.

—. 1987. Chris Barnard se nuwe jeugboek plesier vir oud en jonk. Rapport, 13 Desember, p. 27.

Cilliers, S. 2009. Du Plessis se jongste veelvlakkig; word nie maklik in boks gedruk. Beeld, 6 April, p. 6.

Coetzee, A. 2000. ’n Hele os vir ’n ou broodmes: Grond en die plaasnarratief sedert 1595. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.

Coetzee, C. 2009. Verbrande paradys: Verwikkelde verhouding in ’n gemaklike vertelstyl. http://www.litnet.co.za/article.php?cmd=cause_dir_news_item&news_id=63507&cause_id=1270 (12 April 2010 geraadpleeg).

Coetzee, J.M. 1988. White writing, on the culture of letters in South Africa. New Haven en Londen: Yale University Press.

Dames, R. 2004. Is konvensionele ekstensiewe bewaringsboerdery die winsgewendste opsie? Deel 1. Ons Eie, 39(4):52–4.

—. 2005. Is konvensionele ekstensiewe bewaringsboerdery die winsgewendste opsie? Deel 2. Ons Eie, 40(3):47–8.

Darian-Smith, K., E. Gunnen en S. Nutall (reds.). Text, theory and space: Land, literature and history in South Africa and Australia. Londen: Routledge.

De Villiers, H. 2007. Aan die oorkant (2004) deur Kasha Potgieter: Van duskant na oorkant. Stilet, 19(1):133–45.

Du Plessis, H. 1978. Kleinwild. Pretoria: HAUM.

—. 1984. Gewete van glas. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1991. Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou. Pretoria: HAUM-Literêr.

—. 1995. Bakgat, en wat dan van my? Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1996. Ditsem, Dawid! Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2001. Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte. Pretoria: LAPA.

—. 2002. Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied. Pretoria: LAPA.

—. 2003. Hie neffens my. Pretoria: LAPA.

—. 2009. Verbrande paradys. Pretoria: LAPA

Du Toit, K. 2008. SA farmers’ history of wildlife conservation. Farmer’s Weekly, 23 Mei, pp. 50–1.

Elahi, E. 1989. Afrikaanse toneel kán boei. Beeld, 12 Augustus, p. 9.

February, V. 1991. The Afrikaners of South Africa. Londen en New York: Kegan Paul.

Fowler, R. 2006. Conservation agriculture for sustainable farming. Farmer’s Weekly, 27 Oktober, p. 6.

Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.).1996. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene en Londen: The University of Georgia Press.

Gräbe, I. 2006. Apokalips nou of later? Eben Venter se siening van die Suid-Afrikaanse samelewing in Horrelpoot (2006). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 7(4):59–67.

Huggan, G. 2008. Interdisciplinary measures: Literature and the future of postcolonial studies. Liverpool: University Press.

Joubert, G.J. 1951. Oupa Landman se viool. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1962-1987. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Le Roux, A. 1987. Barnard gesels: “Was ek maar ’n messelaar”. Die Burger, 23 Desember, p. 9.

Le Roux, M. 1988. Barnard se jongste soos manna uit die hemel. Die Burger, 21 Januarie, p. 7.

Leroux, E. 1962. Sewe dae by die Silbersteins. Kaapstad: Human & Rousseau.

Leyden, M. 2009. ’n Ster het geval. Taalgenoot, 1 Junie, pp. 32–3.

Lochner, H. 1998. Leierboere se groot welslae. Landbouweekblad, Augustus, pp. 14–5.

—. 2000. Bewaringsboerdery: Leer uit ander se foute. Landbouweekblad, 5 Mei, p. 40–3.  

Martin, J. 1999. The jewelled net: Toward a southern African theory: practice of environmental literacy. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland.

Mccann, E. 1997. Environmental awareness, economic orientation and farming practices: A comparison of organic and conventional farmers. Environmental Management, 21(5):747–58.

McVeigh, S. 2002. The pros and cons of conservation tillage. Farmer’s Weekly, 27 September, pp. 27–8.

Meyer, S. 2006. Wildernis en woestyn: Omgewingskragte teen die mens s’n in Boendoe en Toewaaisand. Literator, 27(1):57–78.

Nieman, M. 2005. Eendag lank, lank gelede, toe daar nog duidelike grense tussen jeug- en volwasseneliteratuur was ... Stilet, XVII(2):122–38.

Norval, J. 2007. Boer slaan munt uit bewaring: Boer met ’n plan. Landbouweekblad, 11 Mei, pp. 22–4.

Nutall, S. 1996. The land in South African novels. In Darian-Smith, Gunnen en Nutall (reds.) 1996.

Panell, K.J., G.R. Marshall, N. Barr, A. Curtis, F. Vanclay en R. Wilkinson. 2006. Understanding and promoting adoption of conservation practices by rural landholders. Australian Journal of Experimental Agriculture, 46(3):1407–24.

Pretorius, W. 2009. Koepelaars se Eden verdwyn in dié paradys. Die Volksblad, 6 April, p. 6.

Prinsloo, L. en A. Visagie. 2009. Grondbesit in ’n postkoloniale plaasroman: Marlene van Niekerk se Agaat. Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 25(3):72–90.

Reimold, W.U. en R.L. Gibson. 2005. Meteorite impact – The danger from space and South Africa’s mega-impact, the Vredefort structure. Melville: Chris van Rensburg Publications.

Roos, H. 1998. Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu. In Van Coller (red.) 1998.

Sentrum vir Volhoubare Landbou. 1998. Bulletin. Bloemfontein: Fakulteit Landbou, Universiteit Oranje-Vrystaat.

Smuts, J.P. 1988. Chris Barnard: Profiel. In Van Coller (red.) 1998.

Steenberg, E. 1988. Karakters wat jonges sal boei. Beeld, 25 April, p. 8.

Steyn, F. 1999. Bewaringsboerdery, die enigste volhoubare alternatief vir droëlandboerdery. Elsenburg Joernaal, 54(1/2):40–44.

Steyn, T. 2001. Bewaringsbewerking. Ons Eie, 36(2):24–7.

Tisdell, C. 1996. Economic indicators to assess the sustainability of conservation farming projects: an evaluation. Agriculture, Ecosystems and Environment, 57(2):117–31.

Vanclay, F. en G. Lawrence. 1995. The environmental imperative: Ecosocial concerns for Australian agriculture. Rockhampton: Central Queensland University Press.

Vanclay, F. en S. Lockie. 1993. Barriers to the adoption of sustainable crop rotations. Wagga Wagga: Centre for Rural Social Research, Charles Sturt University.

Van Coller, H.P. 1995. Die Afrikaanse plaasroman as ideologiese refleksie van die politieke en sosiale werklikheid in Suid-Afrika. Stilet, VII(2):22–31.

—. 2006. Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa. Stilet, XVIII(1):90–121.

—. 2009. Tussenstand. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.

Van Coller, H.P. (red.). 1998. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.

Van der Vyver, M. 1988. Die laaste stukkie kindertyd. De Kat, Junie, p. 89.

Van der Walt, W. 2004. Bewaringsbewerking in die noorde: Dink heel anders oor boerdery en resultate sal volg. Koringfokus, 22(4):26.

Van Onselen, C. 1996. The seed is mine. The life of Kas Maine. A South African share-cropper. 1894–1985. New York: Hill & Wang.

Van Wyk, J. 1989. Koggelaar wys vaderlose Afrikaner. Vrye Weekblad, 9 Junie, p. 17.

Van Zyl, A. 1988. ’n Jeugboek vir alle ouderdomme. Die Volksblad, 20 Februarie, p. 15.

Viljoen, H. 1998. Literatuur, sy aard en sy funksies. In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 1998.

—. 2004. Land, space, identity: The literary construction of space in three Afrikaans farm novels. In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 2004.

Viljoen, H. en C. van der Merwe (reds.). 1998. Alkant olifant: ’n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.

—. 2004. Storyscapes. New York: Peter Lang Publishing Inc.

Vital, A. 2008. Toward an African ecocriticism: Postcolonialism, ecology and Life and times of Michael K. Research in African Literatures, 39(1):88–94.

Wasserman, H. 1998. Die genre van die plaasroman van Dertig word hiermee nie bevraagteken. Die Burger, 14 Januarie, p. 9.

Wêreldatlas vir Suid-Afrikaners. 2004. Jeppestown: Jonathan Ball Uitgewers.

Wybenga, G. 1998. Klawervier ’n roman wat met drif geskryf is. Beeld, 5 Januarie, p. 10.

Wybenga, G. en M. Snyman. 2005. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. ’n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: LAPA.

Wylie, D. 2007. //Kabbo’s challenge: Transculturation and the question of a South African ecocriticism. Journal of Literary Studies, 23(3):252–70.

Eindnotas

1 Wylie (2007) ondersoek die moontlikheid of die verwoording van die San-wêreldbeskouing, spesifiek die ekologiese strategieë en inheemse kennissisteme soos opgeteken in tekste van Alan James en Antjie Krog, ’n gelokaliseerde basis vir ’n Suid-Afrikaanse ekokritiek kan verskaf. In Vital se artikel (2008) word J.M. Coetzee se roman Life and times of Michael K ondersoek as voorbeeld van die verweefdheid van postkoloniale en ekologiese denke. Vital beredeneer die betekenisimplikasies daarvan om ’n ekologies-georiënteerde literêre kritikus in Suid-Afrika te wees en pas Oritz se idee van transkulturaliteit toe in ’n poging om ons land se diverse kultuurgeskiedenisse byeen te bring. Hier kan ook bygevoeg word dat Martin moontlik die vroegste poging aangewend het om vorm te gee aan ’n Suider-Afrikaanse ekokritiese teorie met haar DLitt-studie (1999).

2 Ekokritiek word deur Glotfelty en Fromm (1996:XVIII–XIX) omskryf as sowel ’n metode van kritiese ondersoek as ’n etiese diskoers gefokus op die onderwerp van die onderlinge verbondenheid tussen natuur en kultuur, spesifiek die kultuurprodukte van taal en letterkunde. Huggan (2008:64) sien ekokritiek se gemoeidheid met die verhouding tussen letterkunde en die natuurlike omgewing nie noodwendig as ’n spesifieke metode van literêre ondersoek nie, maar as “a strategy, an attitude, an angle of vision that allows for a myriad of literary critical methods”. Glotfelty en Fromm (1996:XIX) beklemtoon dat die ekokritiek sy staanplek het “with one foot in literature and the other on land” en dat sy terrein strek tot by die vakgebiede van die omgewingsfilosofie en die bio-etiek, “where (it) negotiates between the human and the nonhuman worlds”.

3 Steyn (1999:41) stel ’n konvensionele boerderystelsel, waar gekonsentreer word op finansiële gewin sonder inagneming van die grond, teenoor ’n bestuurstelsel gebaseer op bewaringsboerderypraktyke, waar die strategie is om die grond te beskerm en te verbeter en deur goeie beplanning van grondgebruik op lang termyn ’n verbetering in produksie te verseker.

4 Naas die afbreek van die grond is van die ergste nadele van die konvensionele bewerking van lande wind- en water-erosie. Volgens Steyn (2001:24) sal die afloop in normale reënvaltoestande in die Suid-Kaap jaarliks meer as tien ton grond per hektaar wegvoer. Die verlies is meestal onsigbaar en word prakties nie as ’n verlies beskou nie. Grond word egter stadig gevorm: in Suid-Afrika, waar jaarliks net 0,31 t/ha gevorm word, sal ’n gemiddelde grondverlies van 15 t/ha per jaar impliseer dat konvensionele bestuursgebruike elke jaar 48 jaar se skade aanrig (Steyn 2001:25). Fowler (2006:6) se statistiek sluit hierby aan: vir elke ton mielies, koring of ander gewas wat in Suid-Afrika geproduseer word, verloor ons gemiddeld 20 ton grond. Die Universiteit van die Wes-Kaap bereken dat gronderosie jaarliks uitloop op grondverlies van tussen 300 miljoen en 400 miljoen ton grond in Suid-Afrika.

5 Bewaringsboerdery word breedweg beskryf as ’n integrerende stelsel van grondbestuur wat verseker dat die grond die boerdery deurlopend ondersteun – sonder verlies aan produktiwiteit en lewensvatbaarheid (Fowler 2006:6; McVeigh 2002:28). Tisdell (1996:129) verwys in sy omskrywing na boerderypraktyke wat ekologiese biodiversiteit en volhoubaarheid begunstig.

6 Norval (2007:23) merk op dat waar die moderne veeboer besef dat die voedingspotensiaal van die veld nie tred kan hou met die genetiese voedingspotensiaal/-vereistes van die land se veekuddes nie, dié probleem dikwels oorkom word deur te konsentreer op die toediening van byvoeding en lekke, sonder dat die langdurige uitwerking van die probleem op die omgewing aandag geniet. Die langtermynkrisis hier is nie net die nadelige uitwerking op die veldtoestand en die drakrag van plase nie, maar ook ’n drastiese verhoging in die risiko van droogtes.

7 Kernbegrippe binne hierdie studie, soos grond en plaaseienaar, behoort kortliks verklaar te word. Met grond word, binne plaaskonteks, verwys na eiendom vir beoefening van landbou, akkerbou, grondverbouing of weiding. In die Afrikaanse plaasroman word die woord grond ook verbind met betekenisaspekte soos verbondenheid, besit, erfopvolging en arbeid (De Villiers 2007:135). Die term plaaseienaar word bó boer verkies, omdat dit ’n meer omvattende term is wat voorsiening maak vir die werklikheid dat baie plaaseienaars nie boere is nie, in die sin dat hulle nie die aktiewe bewerkers van hulle plase is nie en die inkomste wat deur die plaas gegenereer word, nie die hoofinkomste van hulle gesinne is nie.

8 Barnard het 29 boeke gepubliseer in al die prosa-genres: romans en novelles, kortverhale, jeugromans en dramas vir die verhoog, die radio, televisie en film. Sy werke het klassieke status in die Afrikaanse kanon (Smuts 1998:232) en word al geslagte lank vir skoolleerders en studente voorgeskryf: romans soos Mahala (1971), Moerland (1992) en Boendoe (1999); kortverhaalbundels soos Bekende onrus (1961) en Duiwel-in-die-bos (1968); en dramas soos Pa maak vir my ’n vlieër Pa (1964), Die rebellie van Lafras Verwey (1971) en Taraboemdery (1977). Barnard het ’n indrukwekkende versameling bekronings ontvang vir werke van al die genres waarin hy skryf, onder meer die CNA-prys (drie keer) en die Hertzog-prys (twee keer). Sy jongste bundel kort vertellings, Oulap se blou, het in 2008 verskyn.

9 Barnard verklap in ’n onderhoud met Die Burger: “Dis my pa en ma se storie. Sy is Hanna in die boek en hy is Flip. Dis hul regte name ook. Krisjan, die verteller, is die een karakter wat nooit bestaan het nie” (Le Roux 1987:9). Dokument word dus deur skrywersverbeelding gefilter om die roman te skep.

10 Wanneer Aucamp (1988:38) na Voetpad na Vergelegen verwys as inisiasieverhaal, wys hy op Krisjan se grootwordproses wat metafories voorgestel word, onder andere deur sy smagting na ’n paar skoene – op vyftien het hy nog nooit skoene gehad nie.

11 Du Plessis se eerste jeugboek, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, verskyn in 1991 en die tweede, Bakgat, en wat van my? in 1995.

12 Coetzee (2000:3) beskou Die meulenaar (1926) van D.F. Malherbe as die eerste werklike plaasroman in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en Van Coller (1995:25–6) verwys na die seminale plek van C.M. van den Heever se Laat vrugte (1939) binne die tradisie van die Afrikaanse plaasroman.

13 Aucamp (1988:38) beskou onder andere Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (1962), Uitdraai van Wilma Stockenström (1976) en Somer II (1985) van André Letoit as openlike parodiërings van die ou plaasroman.

14 Die Wêreldatlas vir Suid-Afrikaners (2004:7) klassifiseer Suid-Afrika as een van die wêreld se droër lande op grond daarvan dat nie eers ’n kwart van die land deur standhoudende waterlope gevoed word nie en dat minder as een tiende van ons totale reënwater in riviere beland, teenoor die wêreldgemiddeld van 31 persent.

15 Verwysings wat vanaf hierdie punt in die artikel bloot met ’n bladsyverwysing aangedui word, verwys na die betrokke roman van Barnard of Du Plessis wat op daardie oomblik ter sprake is.

16 Volgens Coetzee (2000:14) is die ervaring dat die boer se identiteit gekoppel is aan die grond waarop hy boer – ’n onderskeidende gegewe in die tradisionele plaasroman – terug te voer na die feit dat die boer se intense saamleef met die grond (“die mens wat op die veld arbei, is deel daarvan en groei soos ’n boom al vaster aan sy omgewing”) die persepsie voortgebring het dat grond en identiteit sinoniem is. Nutall (1996:220) neem die eerste koloniale besitname van grond as die beginpunt van die Afrikaners se verhouding daarmee. Ook Coetzee (1988:6) wys daarop dat die plaas vir geslagte lank uitgebeeld is as die natuurlike milieu van die Afrikaner en dat die persepsie geheers het dat die plaas die enigste plek is waar die Afrikaner se identiteit optimaal tot verwesenliking kon kom.

17 In hierdie denkwyse word iets van die ideologie van C.M. van den Heever se plaasromans weerspieël, naamlik die persepsie dat die Afrikaner sy onafhanklikheid en (uiteindelik) sy identiteit sal verloor as hy sy basis in grondbesit verloor (Coetzee 1988:110).

18 Biodiversiteit (die verskeidenheid van alle lewende organismes en spesies) word as algemene riglyn gebruik om die gesondheid van ’n bepaalde ekosisteem te evalueer (Dames 2004:53).

19 In die eerste afdeling is ook op vollediger wyse verwys na die faktore wat tot die ontwikkeling op die gebied van die Afrikaanse plaasroman bygedra het.

20 Hierdie inligting wat in die roman voorkom, word ook gestaaf deur Reimold en Gibson (2005:39–44).

21 Dames (2004:52) wys daarop dat bewaringsboerdery, geskoei op konserwatiewe veegetalle en gesonde weidingbestuursbeginsels, al sedert vroeg in die 1900’s deur die Departement van Landbou aan veeboere voorgehou word as die winsgewendste volhoubare langtermyn-opsie.

22 February (1991:31) verwys na die uitgifte van plase aan die vryburgers in 1657. Du Toit (2008:50) dui aan dat die eerste bewaringswette in Suid-Afrika op 1 Januarie 1657 deur die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) uitgevaardig is. Hierdeur is verbied dat enige voëls en wild geskiet mag word. Die tweede wet in bewaring, in 1658 uitgevaardig, het die afkap van bome verbied omdat vuurmaakhout aan die Kaap skaars geraak het

23 Hierdie woorde impliseer ’n wysiging ten opsigte van die kolonialiserende  ingesteldheid van kommodifisering van grondgebied. Die siening dat ’n gebied nie deur mense besit word nie, maar dat mense deur ’n gebied besit word, word deur Ashcroft e.a. (1989:180) beskou as ’n postkoloniale aspek van plekbenoeming waarin die duidelike breuk met koloniale diskoerse blyk.

24 In die tweede afdeling van hierdie artikel (“Konteks: die plaasroman, grondbesit en ekosensitiwiteit”) is reeds verwys na romans wat die prominensie van die tema van grondhervorming in die Suid-Afrikaanse letterkunde illustreer deur die gegewe van plaasgrond wat in die besit kom van swart of bruin arbeiders. In Verbrande paradys vind die oorgang van koloniaal na postkoloniaal nie plaas op dieselfde drastiese wyse wat die volledige oorname van besit impliseer nie. Andries ontwikkel van arbeiderseun tot halfbroer van die Venter-seuns en mede-erfgenaam van die Venter-grond.