Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Op soek na Leipoldt se oom Gert – ’n studie in historiese resonansies


Hein Viljoen - 2010-12-10

 Opsomming 

Teen die agtergrond van Wium van Zyl (1999) se opvatting oor die morele dood van Leipoldt se oom Gert onderneem ek in hierdie artikel, volgens die beginsels van die Nuwe Historisme, ’n soektog na die ou rebel by wie Leipoldt, soos hy by verskillende geleenthede beskryf het, die storie van “Oom Gert vertel” gehoor het. Die ondersoek werp lig op hoe Leipoldt die feite vervals en verfraai het en op die komplekse ontstaansgeskiedenis van die gedig. In kontras met verskillende moontlike historiese persone agter die figuur van oom Gert (en die moontlike wêrelde van die geskiedenis) werp die ondersoek ook lig op die ontologiese status van oom Gert binne die eiesoortige moontlike wêreld van die gedig. Die soektog gee veral insig in die sosiale energieë en resonansies van die gedig in sy historiese konteks. Veral een ou rebel vertoon merkwaardige ooreenkomste met oom Gert, en uit die handjievol tekstuele spore beskikbaar teken ek ’n skets van daardie besonder interessante persoon. Uiteindelik lewer die ondersoek veral ’n ingebedde (“thick”) interpretasie van die gedig op wat die komplekse dilemmas van oom Gert as patriarg en lojalis, parallel met Leipoldt se eie morele dilemmas, sterk na vore bring. Gelees met die Nuwe Historisme as benadering, kom die gedig op allesbehalwe ’n morele dood neer.

Abstract

Looking for Leipoldt’s Oom Gert – a study in historical resonance

Against the background of Wium van Zyl’s (1999) views on the moral death of Leipoldt’s character Oom Gert, I undertake here, on New Historicist principles, a search for the old rebel who, as Leipoldt reported on different occasions, told him the story of “Oom Gert vertel” (“Oom Gert tells”). The study sheds light on how Leipoldt distorted and embellished the facts, as well as on the complex genesis of the poem. In contrast with different possible historical persons behind Oom Gert (and the possible worlds of history) the investigation also sheds light on the ontological status of Oom Gert within the unique possible world of the poem. Above all the investigation reveals the social energies and resonances of the poem in its historical context. One old rebel displays particularly strong correspondences with Oom Gert, and from the few textual traces available I draw a sketch of that singularly interesting person. The investigation finally leads to a thick description of the poem that foregrounds the complex dilemmas of Oom Gert as patriarch and loyalist – parallel with Leipoldt’s own moral dilemmas at the time. Read with New Historicist principles the poem constitutes anything but a moral death.

1. Inleiding

Uit sy vergelyking van Multatuli se Golgotha en C. Louis Leipoldt se “Oom Gert vertel” kom Van Zyl (1999:75) tot die gevolgtrekking dat oom Gert se “storie van ons sterfte” die verhaal is van die morele dood van “Oom Gert en sy mede-daadloses toe hulle gekonfronteer is met onreg”. Hy meen dat oom Gert meer gesteld was op sy eie gerief as op verset teen onreg en dat hy korrek (en polities korrek) opgetree het onder krygswet en ook ná die Oorlog. Hy lees die gedig dus binne die raamwerk van 20ste-eeuse struggle-aktivisme. Lees ’n mens Leipoldt se gedig egter in die breër konteks van die Kaapse rebelle van die Suid-Afrikaanse Oorlog en die sosiale energieë van daardie tyd, kom ’n ander prentjie na vore.

Leipoldt (1911) het hom ’n hele paar keer uitgelaat oor die ontstaan van “Oom Gert vertel”, hoewel ’n mens dit baie versigtig moet interpreteer (Kannemeyer 1999:300). In 1933 het hy in Die Huisgenoot vertel dat hy die gedig geskryf het na aanleiding van wat ’n “oubaas” vir hom vertel het terwyl hy in Dordrecht sittings van die rondgaande hof bygewoon het. Hy het die gedig beskryf as “min of meer realisties, met, natuurlik, vervalsing van name en plekke” (Leipoldt 1933:58). Later het hy (1940:86) beweer dat hy die gedig in 1901 geskryf het in reaksie op wat ’n ou oom hom vertel het kort na die Slag van Labuschagnesnek, maar dat hy dit gewysig en volgens die raad van Horatius “verfraai” het – na sy gevoel toe “op ’n alte melodramatiese wyse”. ’n Jaar later het hy dit verbeter en oorgetik, skryf hy. Met hierdie uitsprake bevestig Leipoldt eintlik dat die gedig histories juis en outentiek is, gebaseer op persoonlike ervaring en ’n persoonlike ontmoeting met ’n ou rebel.

Dat die ontstaan van “Oom Gert vertel” heelwat meer kompleks is as wat Leipoldt dit voorstel, blyk as ’n mens daardie ou rebel probeer identifiseer. So ’n soektog kan ons dus insig bied in Leipoldt se kreatiewe proses – sy “stofkeuse, -verwerking en -ontwikkeling” soos Burgers (1960) dit genoem het. Tweedens kan dit lig werp op die morele dilemmas van oom Gert en op kwessies van identiteit en lojaliteit in Leipoldt se werk en in sy eie beskouings. Derdens raak dit aan die interessante kwessie van die ontologiese status van fiktiewe persone. Die vraag is byvoorbeeld of ’n karakter soos oom Gert sy bestaanstatus ontleen aan die feit dat hy na ’n historiese persoon verwys, of dat hy ’n bepaalde tipe mens verteenwoordig, byvoorbeeld ’n “rasegte boer”, soos Dekker (s.j.:87) hom genoem het. Die identifisering van ’n historiese persoon agter oom Gert kan dus die andersheid van hierdie karakter in sy eie moontlike wêreld help aantoon en die wêreld van die gedig skerper help kontrasteer met die moontlike wêrelde wat in die geskiedenis beskryf word (Margolin 1990, par. 2.1.2; Eco 2009:93).

Om daardie ou rebel te probeer identifiseer, is bowenal ’n manier om toegang te verkry tot die komplekse geheel van die kultuur waarbinne die teks in sy tyd gefunksioneer het en om die sosiale energieë en resonansies van die teks te rekonstrueer – die netwerk van “material practices” waarin dit ingebed is (Veeser 1989:xi). Die soektog maak dus ’n ingebedde interpretasie (“thick description”, Geertz 1975:9)2 van die teks moontlik.

Greenblatt (1990:225-6) beskou kultuur veral as ’n versameling reëls, onder andere oor wat as aanvaarbare gedrag geld. Tekste is na sy mening uitdrukkings van die kodes en reëls van die samelewing, maar skep andersyds ook die voorwaardes wat die verbreking en verandering van hierdie kodes reguleer. Hierdie verandering is vir Greenblatt nie willekeurig nie, maar vorm ’n stelsel van onderhandelinge oor die uitruil van goedere, idees en selfs mense (1990:229). In enige kultuur is daar dus vir hom “a general symbolic economy made up of the myriad signs that excite human desire, fear, and aggression” (1990:230).

Dit is hierdie simboliese ekonomie wat ’n ouer teks anders maak en dit laat saampraat met talle ander stemme uit sy tyd (die sogenaamde resonansie). Terselfdertyd wek die teks juis verwondering as unieke uitdrukking van die faktor mens wat koppig weier om hom deur die geskiedenis te laat determineer (Greenblatt 1990).

In wat volg, wil ek dus juis deur op soek te gaan na die historiese model vir oom Gert, die sosiale energieë en resonansie van die teks, die botsende rame van interpretasie rondom die teks in sy historiese konteks, probeer blootlê. Ek stel eers uit Leipoldt se uitsprake ’n profiel van die ou rebel saam, en skets dan die wyer historiese verband voordat ek hom tussen die rebelle van Dordrecht en verder probeer identifiseer. Vervolgens gee ek ’n kort lewenskets van die historiese oom Gert en vat die implikasies van my soektog vir die verstaan van “Oom Gert vertel” saam. Ten slotte formuleer ek ’n paar gevolgtrekkings.

2. ’n Profiel van die ou rebel uit ander uitsprake van Leipoldt

Leipoldt beskryf ook op twee ander plekke ’n gesprek met ’n rebel in die tronk. In ’n brief aan dr. Bolus van 13 Julie 1904 (Leipoldt 1979:43) skryf hy, in antwoord op Bolus se kritiek, dat sy artikel (eintlik: verhaal) “The rebel” (Leipoldt 1904) berus op wat ’n werklike rebel in Dordrecht se tronk aan hom vertel het.3  Leipoldt meen ook dat die werklike motief van die Kaapse rebelle nie verontwaardiging oor die Britte se optrede was nie. Familiebande het vir hulle swaarder geweeg. Boonop het hulle nie die ingebore lojaliteit van Bolus en ander Engelse Suid-Afrikaners gehad nie. Hy verwys na die teregstelling van rebelle (“The rebel” bestaan uit die gedagtestroom van ’n rebel op die vooraand van sy teregstelling), maar noem dat die rebel wat vir hom sy verhaal vertel het, “died of a bullet wound” (en dus nie tereggestel is nie). Hy sê egter nie of die persoon in die tronk dood is nie.

In sy hoofstuk oor die ouers van die Bosveldkinders in Bushveld doctor (Leipoldt 1980a:60–63, oorspronklik in 1937 gepubliseer) bespreek Leipoldt twee belangrike trekke van die boere, naamlik slimheid en die vermoë om hulle teenstanders uit te oorlê. Hiervoor het die boere baie respek. Ter illustrasie hiervan vertel hy dan hoe die Boerekommando’s die Kaapkolonie binnegeval en geannekseer het. Die Nederlandssprekende boere is tot republikeinse burgers verklaar en daardeur gedwing om by die Boere aan te sluit. Hierdie slim set van die Boereleiers, wat eintlik die Kaapse burgers blootgestel het aan vervolging vir hoogverraad, meen Leipoldt, is egter nooit van Boerekant gerepudieer nie, maar eerder bewonder.

Moontlik as illustrasie van die lyding wat hierdie optrede veroorsaak het, vertel Leipoldt dan die verhaal van sy besoek as korrespondent by die spesiale hoogverraadhof aan een van die rebelle in die tronk. Leipoldt beskryf die rebel as “one of the foremost farmers of the district” en as “an old man with a fine grey beard, a well-to-do, much respected farmer who had been field cornet, elder of the church, and justice of the peace (1980a:61).

Hy en die advokaat wat die rebelle verdedig het, mnr. B[urton], tref die eerbiedwaardige ou oom in trane aan – nie net omdat die republikeinse burgers sy skape gevat en hom gedwing het om die wapen op te neem nie, maar ook omdat hulle hom oorgelaat het aan die genade van die Engelse, wat hom mishandel en tot sy groot skande in die tronk gestop het. Wat sy vol beker egter soos Job s’n laat oorloop het, sê die ou oom, was die nuus wat die tronkbewaarder vir hom gebring het, naamlik “that our dearly beloved Alexandrina Victoria is dead” (Leipoldt 1980a:62). Leipoldt betwyfel nie die egtheid van die ou man se emosie nie, en beskou dit as deel van die “mosaic of incongruity” waaruit die karakter van die gewone boeremense bestaan. Hierdie besondere lojaliteit teenoor koningin Victoria – en daarmee saam die ontnugtering in die optrede van die Engelse – is ook sentrale gegewens in die oudste rebelleteks van Leipoldt, naamlik “De rebel” (1900).4

Leipoldt dui hier nie aan in watter dorp die gesprek plaasgevind het nie. Dat hy die gesprek koppel aan die dood van koningin Victoria (op 22 Januarie 1901), maak dit waarskynliker dat die ontmoeting in Colesberg eerder as in Dordrecht plaasgevind het. Leipoldt vertel naamlik in “Drie Kersnagte” (1931:61) dat hy in Desember 1900 verslaggewer by die hoogverraadhof in Colesberg was. Die laaste verhoor voordat die hof verdaag het tot 9 Januarie 1901, was op 18 Desember 1900, skryf Leipoldt. Tydens dié verhoor is sewe Colesbergers skuldig bevind. Leipoldt sonder die geval uit van oubaas Jan van der Merwe, ’n waardige gestalte, ouderling en 20 jaar lank veldkornet van sy wyk, wat die vernedering van die verhoor diep gevoel het. Hierdie oubaas pas baie mooi in die profiel wat Leipoldt in Bushveld doctor skets, maar dit plaas Leipoldt se bewerings dat die gedig in Dordrecht geskryf is, onder verdenking. Of anders het Leipoldt by meer as een geleentheid ou rebelle in die tronk besoek (wat seker moontlik is) en is die gedig ’n sintese van verskillende sulke ontmoetings.

Dit is ook minder waarskynlik dat Leipoldt inderdaad rondom 22 Januarie 1901 in Colesberg was, want onder die dokumente in die saak teen O.S. Vermooten (KAB, AG 2021, Colesberg, fol. 57, saaknr. 25/101) is daar ’n brief aan die prokureur-generaal wat meld dat die Spesiale Hof teen Kersfees 1900 verdaag het as gevolg van “another invasion” (onder leiding van generaal P.H. Kritzinger en regter Barry Hertzog) (Pakenham 1999:506), en eers in November 1901 sy sittings hervat het. Die brief noem 14 sake wat tydens die eerste sitting verhoor is, waaronder die saak teen Jan van der Merwe, ’n “Colonial Field Cornet”, wat skuldig bevind is dat hy as veldkornet opgetree het en burgers opgekommandeer het. Hy is gevonnis tot ses maande gevangenisstraf en ’n boete van £500.

Nog ’n faktor wat dit twyfelagtig maak of Leipoldt teen die einde van Januarie 1901 in Colesberg was, is sy eie beskrywing van die pandemonium wat losgebars het toe die nuus van die Boere-inval Colesberg bereik het en hoe selfs die advokate en regters so gou moontlik die trein wou haal om van die Boere af weg te vlug. Hierdie beskrywing staan in Leipoldt se agtste brief uit die Kaapkolonie (Leipoldt 2002:134–5), en uit die brief self is dit duidelik dat dit op Oujaarsaand in Kaapstad geskryf is. Dit dra ook die datum 31 Desember 1900.

In sy negende brief uit die Kaapkolonie vermeld Leipoldt dat koningin Victoria siek is en spekuleer wat sal gebeur as sy sou sterf. Hy noem haar “grootmoedertjie” en beskryf haar teenoor J.W. Sauer5 as “zoo zachtzinnig als een molletjie” (Leipoldt 2002:138) – presies dieselfde beeld as wat die magistraat in “De rebel” vir oom Elias gebruik. Hierdie brief is gedateer 21 Januarie 1901 en as ’n mens kyk na die verskillende gerugte wat Leipoldt noem, was hy waarskynlik in Kaapstad toe hy dit geskryf het.

“De rebel” het in Desember 1900 in Nederland verskyn. Die gebeure in die verhaal kom baie sterk ooreen met die mishandeling van “den heer Jager van Hoopstad” (Hopetown) wat Leipoldt beskryf in sy tweede brief uit Kaapstad, gedateer 24 Junie 1900. Jager, as vermoënde man van aansien en boonop veldkornet, sou ook kon inpas in die profiel van die ou rebel wat Leipoldt skets. Die verskil is egter dat daar in Jager se geval glad nie sprake van rebellie is nie en dat Leipoldt sy verhaal eerder vertel as ’n voorbeeld van wandade van die Engelse offisiere en soldate.

Uit hierdie reeks gegewens lyk dit eerder of Leipoldt die historiese gegewens verwring het vir ’n retoriese doel, naamlik om ’n treffende storie te vertel, en nie noodwendig historiese akkuraatheid nagestreef het nie. Die eienskappe wat Leipoldt aan die ou rebel toeken, bly egter taamlik konstant. Die eerbiedwaardige oom Jan van der Merwe van Colesberg pas goed in hierdie profiel in, maar dit bots met Leipoldt se heel stellige uitsprake dat die gedig in Dordrecht ontstaan het. Ons moet dus verder soek.

3. Die breër historiese verband

In “Oom Gert vertel” self (Leipoldt 1980c:5–11) is daar weinig aanduidings van die konkrete historiese omstandighede waaruit dit kon ontstaan het. Twee jong mans sluit by die Boere aan, word gevang en tereggestel as rebelle. Die dorp word nêrens geïdentifiseer nie en bitter min besonderhede word daaroor verskaf. Die dorp is egter nooit deur die Boere ingeneem nie (wat Dordrecht byvoorbeeld sou kon uitsluit). Oom Gert vertel dat die kakies ou Smith, die magistraat, afgesit en Oos-Londen toe gestuur het, wat ’n aanduiding mag wees dat die dorp iewers in Noordoos-Kaapland geleë was – immers die distrikte waaruit ongeveer ’n derde van die rebelle gekom het (Oosthuizen 1994:224). Daar word gemeld dat Bennie en Johnnie wou gaan aansluit by Smuts, wat met sy kommando gelaer was by Witkransspruit – skynbaar ’n volkome fiktiewe pleknaam. Nêrens gee die gedig vir ons gegewens waarmee ons dit in tyd en ruimte kan plaas sodat ons die ou oom wat die storie aan Leipoldt sou vertel het, kan identifiseer nie. Dalk is Leipoldt se bewerings selfs heeltemal fiktief.

Leipoldt se opmerkings oor die ontstaan van die gedig bots bowendien met die historiese feite. Die Vrystaatkommando’s onder kommandant J.H. Olivier het die noordoostelike distrikte Aliwal-Noord, Burgersdorp, Dordrecht en Barkly-Oos onmiddellik na die uitbreek van die Oorlog in Oktober 1899 binnegeval en geannekseer. Die doel van die inval was om goeie verdedigingsposisies teen die Britse offensief in te neem en om die spoorlyn na Oos-Londen te beheer. Weerbare manne is gewerf en opgekommandeer om by hulle aan te sluit, terwyl ander Kaapse burgers spontaan by die Vrystaters aangesluit het – dade wat natuurlik hoogverraad was teen die lojale Kaapse regering en die Britse Ryk.

In Maart 1900 het die Vrystaatkommando’s weer teruggeval onder druk van die Britse opmars na die noorde. Die Slag van Labuschagnesnek, net noord van Dordrecht, het van 3 tot 5 Maart 1900 (Oosthuizen 1994:89–96; Breytenbach 1977:456–8) plaasgevind tydens hierdie terugtog. Leipoldt het die spesiale hof in Dordrecht ’n hele jaar later eers bygewoon – in Maart 1901. Dit is dus onwaarskynlik dat die ou oom die verhaal vir hom vertel het kort na die Slag van Labuschagnesnek.

Kommandant Smuts se kommando, by wie, volgens oom Gert se verhaal, Piet en Skeeloog-Louw hulle gaan aansluit het na die teregstelling van die twee jong rebelle, was deel van die tweede Boere-inval in die Kaapkolonie. Hulle het eers in September en Oktober 1901 deur die Stormberge en die Kaapse Middellande getrek (Farwell 1976:337 e.v.; Reitz 1993:215 e.v.; Stretton 2001).

Leipoldt het dus in “Oom Gert vertel” die historiese name, datums, plekke en omtrent al die historiese besonderhede weggewerk en ook afgewyk van die chronologiese verloop van die Oorlog – die feite “vervals”, soos hy dit genoem het. Die storie van die twee jong rebelle het hy geplaas in ’n ongespesifiseerde dorp in Kaapland êrens in die loop van die Oorlog en verskillende fases van die Oorlog laat saamsmelt. Dat hulle in die tronk gehang is in die teenwoordigheid van mense uit die dorp stem ooreen met die geval van P.W. Kloppert, wat op 20 Julie 1901 in Burgersdorp gehang is (Jordaan 1904:43–51). Die storie van die twee rebelle kan die 34 Kaapse rebelle verteenwoordig wat gedurende die oorlog tereggestel is (Snyman 1962:71). Dit kan ook ’n bedekte verwysing wees na die skokkende teregstelings van F.A. Marais en J.P. Coetzee in Julie 1901.6 Hierdie teregstellings was deel van die uiters wrede maatreëls wat Kitchener ingestel het nadat hy die opperbevel in Desember 1900 oorgeneem het in ’n poging om die Oorlog vinnig te beëindig en om te verhinder dat die Kaapse Afrikaners verder rebelleer.

4. Rebelle van Dordrecht

As dit waar is dat Leipoldt die storie in Dordrecht gehoor het, was dit vermoedelik in Maart 1901 toe hy spesiale verslaggewer van die pro-Boerekoerant The South African News was by die spesiale hoogverraadhof wat die Schreiner-regering ingestel het om die Kaapse rebelle te verhoor. Die spesiale hof het in Desember 1900 in Colesberg, in Maart 1901 in Dordrecht en in April 1901 in Barkly-Oos gesit. Daarna moes Leipoldt oorneem as redakteur van The South African News na die arrestasie van die redakteur, Albert Cartwright, op aanklagte van sedisie in Mei 1901 (Cartwright 1976:2; Kannemeyer 1999:135).

In sy tiende brief uit die Kaap (Leipoldt 2002:142–6), gedateer 1 Junie 1901, meld Leipoldt dat hy pas teruggekeer het van ’n reis na die noordoostelike distrikte en doen hy verslag oor die omstandighede van die Boere-inval en oor die verhore in Colesberg en Dordrecht. Hy meld dat Dordrecht ’n uitstekende kommandant met die naam Levey gehad het (Leipoldt 2002:145) en ook dat hy “den heer Dempsey” ontmoet het, wat een van die rykste boere van daardie distrik was en die Vrystaatse kommandant £1 000 aangebied het om sy seun nie op te kommandeer nie.

Die £1 000 word ook vermeld in die verslag van die spesiale verslaggewer oor die verhoor van Michael E. Dempsey deur die hoogverraadhof (Anon. 1901c:4). Volgens die verslag van die verhoor van James Dempsey, vermoedelik eersgenoemde Dempsey se pa (Anon. 1901a:4), is getuig dat hy “a wealthy and honest man” is, “respected by everybody” en dat hy 68 jaar oud is. Dempsey pas dus ook goed in die profiel van die ou rebel in.

Die volledige brevet vir advokaat Henry Burton se verdediging van James Dempsey het bewaar gebly in die Vrystaatse Argiefbewaarplek (VAB, A 155/50). Die aanklag teen hom was hoogverraad, omdat hy die wapen opgeneem het en omdat hy ene Peter William Jordaan Coetzer aangemoedig het om te rebelleer. Daarby is hy daarvan aangekla dat hy ’n hoeveelheid dipstof uit die winkel van ene Glock gesteel het. Die brevet bestaan uit getuienis by die voorverhoor teen Dempsey, Dempsey se eie getuienis, sy verweer teen die getuienis, asook getuienis ter verdediging, onder andere van Abraham M.N. de Villiers, wat van 3 Januarie tot 16 Februarie in Dordrecht landdros vir die besettingsmagte was. Die landdros het onder andere getuig dat Dempsey ’n ooreenkoms met ’n vorige landdros gehad het dat hy ’n boete van £1 000 sal betaal as sy kinders nie opgekommandeer word nie. Hierdie poging om sy seuns en skoonseun uit die Boerelaer te hou, is onder andere beskou as bewys van sy lojaliteit. Dempsey is uiteindelik op albei aanklagte vrygespreek. Daar is egter min raakpunte tussen hom en oom Gert.

Leipoldt as The South African News se spesiale verslaggewer het tussen 7 en 18 Maart 1901 verslag gedoen oor die verhoor van 17 van die 23 rebelle7 op die rol in Dordrecht. Hulle algemene verweer was dat hulle gekommandeer is om by die Boere aan te sluit of dat hulle bewapen was om die grense teen die swartes te verdedig en dat hulle in ieder geval minder belangrike poste onder die Vrystaters beklee het. In die verslae is daar ook min raakpunte met oom Gert en sy verhaal. Wel word in die saak teen S.J. Marais melding gemaak van Piet “Zwart Oog” de Wet, wat moontlik ’n verband kan hê met Albert Skeeloog-Louw in “Oom Gert” (Anon. 1901b:4).

Uit die getuienis teen W.A. Smit blyk ’n paar parallelle met oom Gert (Anon. 1901c:4). Hy was ’n inwoner van Dordrecht en padinspekteur van beroep. Hy is beskryf as ’n man van invloed met sterk uitgesproke politieke opinies wat sy bes gedoen het om regeringseiendom te beskerm. Naas hoogverraad was die aanklagte teen hom dat hy as burgemeester van Dordrecht opgetree het en ammunisie uitgedeel het (en dus een van die leiers onder die rebelle was). Hoewel verskeie getuies hom gewapen tussen die Vrystaatse magte gesien het, was die getuienis vir die tweede en derde aanklagte egter swak en is hy derhalwe as ’n klas II-rebel behandel (wat beteken dat hy vir vyf jaar lank ontkieser is en verbied is om enige openbare amp te beklee – vgl. Oosthuizen 1994:224).

Volgens Stretton (2007) is ’n ander prominente burger wat as model vir oom Gert oorweeg kan word, Octavius Septimus Vermooten, ’n prokureur van Dordrecht. Die lys van persone wat skuldig bevind is aan hoogverrraad (KAB, AG 2117, p. 9) dui aan dat hy op 18 en 19 Mei 1900 verhoor is deur die hof van die Oostelike Distrikte in Grahamstad, skuldig bevind is aan hoogverraad en gevonnis is tot vier jaar tronkstraf. Hy is in Colesberg gearresteer, maar die spesiale hof kon hom nie in Desember 1900 daar verhoor nie, want die hof het voor Kersfees verdaag as gevolg van die tweede Boere-inval (KAB, AG 2021, Colesberg, fol. 57, saaknr. 25/101). Die aanklagte teen Vermooten was hoogverraad omdat hy opgetree het as klerk van die Vrystaatse landdros van Dordrecht en die wapen teen die Koningin en haar regering opgeneem het. Sy verweer was dat hy onder dwang opgetree het. Vermooten was dus reeds in die tronk voordat Leipoldt die sittings van die spesiale hof in Dordrecht bygewoon het, wat dit onwaarskynlik maak dat hy die model vir oom Gert was. Vermooten het later parlementslid vir Wodehouse geword (Stretton 2007).

Volg ’n mens Leipoldt se woorde aan dr. Bolus op, naamlik dat die betrokke rebel “died of a bullet wound”, blyk dit dat een van die aangeklaagdes van Dordrecht inderdaad tydens sy verhoor oorlede is, maar op Aliwal-Noord (hoewel dit nie duidelik is of hy in die tronk dood is nie – hy was wel in Aliwal-Noord vir sy verhoor). Hy was Marthinus Johannes Bekker van die plaas Kraaifontein, afdeling Wodehouse (waaronder Dordrecht destyds geval het). Die saak teen hom verskyn as nr. 21/37 in die Register of cases under chapter II of the Indemnity and Special Tribunals Act 1900 (AG 3549, Wodehouse). Hy is op 22 November 1900 aangekla van hoogverraad en aanranding. Hy is skynbaar ’n paar keer na Aliwal-Noord gestuur vir verhoor, onder andere op 7 en 28 Februarie en op 31 Mei 1901. Onder “Plea or verdict” staan vermeld "Owing to death of Accused charge not proceeded with" en dit is gedateer 3 Mei 1902. Sy sterfkennis (KAB, MOOC 6/9/454, fol. 2319) lui dat hy op 30 April 1902 op Aliwal-Noord dood is, maar sê nie wat die oorsaak van sy dood was nie. Dat die adres waar hy dood is, nie vermeld word nie, kan dalk aandui dat hy toe in die tronk was, maar dat dit verswyg is omdat dit so ’n groot skande was. Hy was 42 jaar oud en het sy tweede vrou, Martha Maria Bekker (gebore Schoeman), en vyf minderjarige kinders nagelaat, asook ’n seun by sy eerste vrou, Christina Magdalena Jacobs, wat in 1888 oorlede is. Volgens die voorondersoek op 17 September in Dordrecht is Bekker op Donderdag 13 September 1900 gearresteer. Die aanklagte teen hom was dat hy die wapen opgeneem het teen die Britse regering, dat hy verskeie burgers opgekommandeer het om vir die Vrystaat te veg en dat hy perde en gewere gekommandeer het vir die Vrystaters. Sy verweer was in hoofsaak dat hy self verskeie kere deur die Vrystaters opgekommandeer is en dat hy onder dwang opgetree het. Sy saak is op 11 April 1901 oorgeplaas van Wodehouse na Aliwal-Noord (KAB, AG 3421, Wodehouse, saaknr. 21/37, fol. 21-30), maar was teen Maart 1902 nog nie afgehandel nie.

Dit lyk nie of Bekker ’n ryk en vooraanstaande man was nie, want sy boedel was feitlik insolvent (KAB, MOOC 13/1/1230, fol. 15, 16). Sy bates is gewaardeer op £300, wat £4 te min was om sy skuldeisers te betaal. Dit het ingesluit rekenings van vier dokters vir sowat £46 en ’n rekening van sy prokureur, J.P. Smit, vir £40/3/5.8 Die beeld wat uit sy boedeldokumente na vore kom, is een van ’n baie siek man wat deur sy deelname aan die Oorlog, vrywillig of nie, baie swaar gekry het, die skande van die tronk moes ervaar, en geldelik feitlik geruïneer is om vir sy verdediging te betaal.

Hoewel Marthinus Bekker nie inpas in die profiel van die vooraanstaande ou, ryk boer nie, moes hy wel ’n baie sterk indruk op Leipoldt gemaak het, want die “loyal Dutchman” Marthinus Rekker in Galgsalmander (1932) en in Stormwrack (1980b) dra waarskynlik sy naam (baie effentjies vermom).

5. Die kring wyer getrek: Rebelle van Barkly-Oos

’n Mens moet dus verder soek na oom Gert – byvoorbeeld tussen die rebelle wat deur die spesiale hof in Barkly-Oos verhoor is. Op ’n foto in Smit (1973:242) se geskiedenis van die NG Gemeente Barkly-Oos lyk dit of daar agt Boere is wat sou kon deurgaan as “ou ooms”, naamlik J. de Wet, M. de Wet, L. la Grange, H. Naudé, L. Naude, T. Potgieter, J. Vorster en dalk ook J. Pansegrouw. Daar kan natuurlik ook ander wees, aangesien altesaam 941 burgers uit die distrik Barkly-Oos verhoor is vir hoogverraad (Snyman 1962:70).

In Leipoldt se verslae oor die verhore in Barkly-Oos is daar maar baie min ooreenkomste met “Oom Gert vertel”. Daarom is dit met ’n soort skok dat ’n mens in een van die verslae die naam Witkransspruit aantref – ’n spruit wat sowat vyf kilometer wes van Barkly-Oos verbyloop. Dit is in die verslag oor die verhoor van Johannes Daniel Naudé, wat tereggestaan het op drie aanklagte van hoogverraad, naamlik dat hy die wapen opgeneem het, dat hy lid van ’n krygsraad was en dat hy op 13 Januarie 1900 ’n perd aan die vyand verskaf het (Anon. 1901d:3–4).

Leipoldt se verslag oor Naudé se verhoor word bevestig deur ’n verslag in The Barkly East Reporter van 19 April 1901 en veral deur die gedetailleerde getuienis by die voorondersoek op 3 Julie 1900 voor T.T. Shepston te Rhodes, wat bewaar word in die Kaapse Argiefbewaarplek (AG 3393, fol. 37/45).

Uit die voorondersoek blyk dat verskeie swart getuies vir die staat Naudé gewapen gesien het, soms met ’n geel hoedband, en daarby dat hy ten gunste van die Boere gepraat het. Bowendien het hy groepies burgers wat rebelleer, aangemoedig en voorspoed toegewens. Verskeie getuies het verklaar dat Naudé ten gunste van rebelleer was en hulle aangemoedig het om aan te sluit. John Christian Vogel het getuig dat Naudé hom voor die inval vertel het dat die Boere op pad was en hom aangemoedig het om te gaan veg, want hy was ’n goeie skut. Naudé het gesê dat hy vir hom een van sy perde sal gee. Naudé was verder ook ’n vertroueling van die Vrystaatse landdros Zylstra, in wie se geselskap hy dikwels gesien is, onder andere deur die getuie Philippus Arnoldus Olivier (KAB, AG 3393 saaknr. 37/45).

Tydens die voorondersoek het Gideon Justus van Heerden, ’n landmeter van Rockfield, Barkly-Oos, getuig dat hy in Januarie 1900 saam met die burgers van wyk 1 in ’n kamp by Witkransspruit was. Hulle is beveel om na Dordrecht toe op te trek. Naudé het daar aangekom op pad na sy plaas toe en vir hulle gesê: “‘Burghers hou goede moet. Jullie moeten dapper vechten. Alles zullen recht komen.’ I then replied, ‘You can easily say that, as you rich people remain at home, and we poor people must go forward and fight’” (KAB, AG 3393 saaknr. 37/45).

In die verslag in The South African News (Anon. 1901d) word hierdie gegewens ook vermeld. Uit die kruisondervraging van advokaat Burton het egter geblyk dat Naudé se dogter by hom op die bokkie was en dat hy ongewapen was.

Vir die verdediging het Abraham Wynand Cronje en drie ander die getuienis van Van Heerden teengespreek en gesê Naudé het hom net gevra waar sy pa is omdat die jakkalse by sy skape gepla het, en niks gesê het van dapper veg nie, maar net dat hy hulle jammer kry omdat hulle so in die reën moet sit. In sy getuienis was Naudé self egter nie bereid om te ontken dat hy moontlik hierdie woorde geuiter het nie. Tydens die verhoor het Naudé gesê dat hy nie kon onthou dat hy vir hulle gesê het: “Fight well! And be courageous” nie, en dat hy nie glo dat hy dit kon gesê het nie (Anon. 1901e).

Philippus Arnoldus Olivier, ’n inwoner van Barkly-Oos, het in die voorondersoek getuig dat Naudé ’n ryk man was met groot politieke invloed onder die “Dutch” in die distrik en een van die leiers van die Afrikanerbond.9

John Petrus Greyvenstein jr. het Naudé by die verhoor ook beskryf as ’n invloedryke man, kommandant van die plaaslike wapenskou en voorheen ’n stadsraadslid. Hy was onder die indruk dat Naudé ’n Mauser en 500 patrone gekoop het vir die oorlog, maar hy het ook getuig dat Naudé hom ’n telegram van John X. Merriman10 gewys het waarin Merriman vir Naudé vra om sy bes te doen om die mense kalm te hou. In kruisondervraging het hy egter erken dat hy nie geweet het dat die beskuldigde ouer as 60 was en aan akute diabetes gely het nie (Anon 1901d:3).

Tydens die verhoor was Naudé se verweer op hierdie punt dat hy ’n man na sy ander plaas toe gestuur het en sy ou geweer vir hom gegee het om ’n klompie skape mee te beskerm. Die Mauser het hy toe ’n tyd later gekoop (Anon. 1901e).

J.P. Greyvenstein, die vader van die vorige getuie, het sy seun se getuienis ondersteun en beweer dat hy vir Naudé gewapen gesien het en dat Naudé hom aangeraai het om sy perd op stal gereed te hou en nie in die veld nie. In kruisondervraging moes hy egter tot sy verleentheid erken dat sy wa beskuit na die kommando’s toe vervoer het, maar aangevoer dat hy nie weet wie die beskuit op die wa gelaai het nie. Harry Dean Brown, ’n handelaar van Barkly-Oos, het getuig dat die beskuldigde die dag voor die Boere-inval gesê het dat hy sy perd, saal en toom gereed het. In kruisondervraging het hy egter erken dat hy en Naudé in teenoorgestelde politieke kampe is, omdat hy in die vorige verkiesing vir dr. Smart gewerk het en Naudé vir Merriman. Nogtans was hulle bevriend (Anon 1901d:3).

Die aanklag dat Naudé lid van ’n krygsraad was, spruit uit die bewerings van verskeie getuies dat Naudé dikwels by was as hulle voor die landdros moes verskyn. So het Charles Alfred Smart getuig dat Naudé ’n invloedryke man was en gewoonlik voorgesit het by vergaderings in sy wyk, Vaalhoek, in die distrik Barkly-Oos. Hy het ook vir Naudé saam met drie ander by die landdros gesien, en gesien dat die beskuldigde ’n hoedband van ligter geel as die gewone manskappe van die Vrystaat gedra het. Met die herbesetting van Barkly-Oos het William Fisher, ’n sersant in die Kaapse Polisie, getuig dat hy ’n brief van Naudé aan die landdros in die landdroskantoor gevind het waarin hy sê hy stuur die perd wat die landdros gevra het en hoop dat die landdros van die perd sal hou. Hy het ook getuig dat die beskuldigde sy wapens ingestuur het (insluitende ’n rewolwer van sy dogter, Alida) met ’n brief waarin hy sê hy lewer die wapens in ooreenkomstig ’n bevel van majoor Wooler (Anon. 1901f).

Twee verskillende afskrifte van die brief oor die perd en ’n vertaling in Engels is deel van die dokumente van die voorondersoek. Die beste weergawe lui as volg:

Noodhulp
13.1.1900

Den Wel. Ed. Heer
Landdrost
M. Zylstra
Barkly Oost

Waarde Landdrost,

Ik stuur u de paard met den drager dien u mij gevraagt heeft om Expressen mee te rijden.

Ik wil hopen dat hij u bevallen zal, u zal mij zeer verplichten als u mijn post en indien mogelijk de laatste nieuws kon laat weten.

Met hoogachting en beste groete U getrouwe

(get.) J.D. Naudé

Vir die verdediging het majoor Wooler getuig dat die beskuldigde na hom toe gekom het ná die herbesetting van Barkly-Oos en gesê het dat hy ’n lojalis is en versoek het dat hy sy wapens mag behou. As bewys van sy lojaliteit het Naudé ’n mediese sertifikaat van dr. Foules getoon waarvolgens hy aan diabetes mellitus ly. Wooler het die saak ondersoek, maar het bevind dat Naudé bevriend was met die landdros. Daarop het hy die beskuldigde versoek om sy wapens in te lewer (Anon. 1901f).

’n Besonder interessant stukkie getuienis in die lig van die wyse waarop koffie byna ritualisties geskink word in “Oom Gert vertel”, was dié van Claude Wright Chaband, die (Kaaplandse) magistraat van Barkly-Oos. Hy het getuig dat Naudé by was toe hy in Januarie 1900 sekere sake met (die Vrystaatse) landdros Zylstra in die Barklypas bespreek het. Naudé het hom gevra om voorrade na die lojaliste te laat deurkom, waarop hy gesê het hulle moet ’n petisie opstel wat hy aan sy regering sal voorlê. Die landdros het hom gevra of hy ’n sak koffie sal laat deurkom, wat hy beslis geweier het, wat die landdros as onbillik beskou het, omdat hy die lojaliste moet kos gee en ’n sak koffie nie die oorlog sal verleng nie, maar net ’n ou Hollander wakker sal hou (Anon. 1901f:3).

Naudé se algemene verweer was dat hy ’n siek man is en dat hy net ná die inval in Barkly-Oos ’n mediese sertifikaat gekry en vir die landdros gewys het sodat hy nie opgeroep word nie. Die landdros het dit so aanvaar, maar hy is nogtans ’n paar keer opgekommandeer. Naudé het in kruisondervraging deur advokaat Hutton, die aanklaer, erken dat hy op baie vriendskaplike voet met die landdros was, maar verklaar dat dit was om te keer dat hy front toe gestuur en sy eiendom gekonfiskeer word (Anon. 1901e).

Uit die getuienis blyk dat Naudé ’n ambivalente posisie teenoor die Boere ingeneem het. Aan die een kant is daar sterk getuienis vir sy lojaliteit teenoor Engeland en die Kaapse regering. Die magistraat van Barkly-Oos tydens die inval, Douglas Archibald Campbell, het trouens in die voorondersoek, tydens kruisondervraging van die aangeklaagde, gesê: “I have not known you to do anything disloyal. My opinion is that you encouraged others. I do not know of any act of disloyalty. I have never had to find fault with you” (KAB, AG 3393 saaknr. 37/45).

Hy is nie gevra om by die verhoor te getuig nie. In die voorondersoek kon (of wou) die lede van die Kaapse Polisie nie sweer dat hulle Naudé by die Boere gesien het nie (KAB, AG 3393 saaknr. 37/45). Blykens die verslag in The Barkly East Reporter (Anon. 1901e) het die aanklaer, advokaat Hutton, betoog dat Naudé oorgenoeg rede gehad het om lojaal te bly en dat vriende en bure by hom aangedring het om sy invloed en posisie te gebruik om rebellie te voorkom, maar dat hy die teenoorgestelde gedoen het. Advokaat Hutton het veral die brief wat Naudé saam met die perd gestuur het, beskou as bewys dat hy op intieme voet met die landdros was en dat sy simpatie by die Boere gelê het.

Andersyds het Naudé sekere mense sterk aangemoedig om te rebelleer en selfs help opkommandeer, maar self nie daadwerklik die wapen opgeneem nie. Dit was ook die gevolgtrekking van die hof dat Naudé die Britse regering vyandiggesind was, selfs nog voor die inval, maar dat die spesifieke aanklagte, ondanks sterk agterdog teen hom, nie bevredigend bewys kon word nie. Die hof het die getuienis van die swart getuies nie as betroubaar beskou nie. Naudé se dade het egter nie gestrook met die lojaliteit teenoor die Britse regering wat hy bely het nie. In sy uitspraak het regter Solomon vir Naudé verwyt dat hy nie sy aansienlike invloed aan die lojaliste se kant gebruik het nie, maar “openly and ostentatiously sympathised with the enemy” en daardeur ’n swak voorbeeld gestel het (Anon. 1901g:4). Hy moes eintlik aangekla gewees het van “inciting to rebellion” (KAB, AG 2088, fol. 19d, saaknr. 3/28, Prosecuting Barrister’s Report). Naudé is vrygespreek op al drie aanklagte, maar die regter het min simpatie gehad met die feit dat hy sewe maande lank in die tronk was en het dit as sy eie skuld beskou.

In die saak teen J.D. Naudé kry ons dus ’n stuk of agt punte van ooreenkoms met “Oom Gert vertel”. Naudé pas baie goed in die profiel van die vooraanstaande ryk ou oom; die pleknaam Witkransspruit kom daarin voor; die dogter; die dubbelsinnige houding teenoor die Boere en die Britse regering; die perd; die beskuit; ook die koffie en die suiker (oom Gert drink sy koffie soet, wat ’n verwysing kan wees na suikersiekte). Selfs Piet, die persoon wat neef Klaas in die gedig nie ken nie, verskyn in die getuienis, want in Stompvinger se getuienis by die voorondersoek word die naam genoem van Piet van Pletzen, wat toe ook reeds dood was. Hierdie unieke kombinasie van elemente (in geen ander verslag oor die rebelleverhore word byvoorbeeld ’n dogter genoem nie) maak dit dus heel waarskynlik dat die figuur van oom Gert gebaseer is op gegewens uit die verhoor van Johannes Daniel (Hans) Naudé.

6. Die historiese “oom Gert”

Wie was hierdie Hans Naudé eintlik, en hoekom was hy so bekend en invloedryk dat hy een van die weiniges was oor wie The Barkly East Reporter (Anon. 1909) ’n doodsberig geplaas het? So belangrik dat dieselfde koerant ook op 24 Desember 1915 ’n berig oor die dood van sy vrou en op 31 Desember ’n berig oor haar begrafnis geplaas het (Anon. 1915a en b)?

As deel van sy poging om rebellie in sy kiesafdeling te voorkom, het Merriman op 21 Oktober 1899 ’n telegram aan C.J. van Pletzen, M.G. Potgieter, H. Naudé, J. Visser en J.F. de Wet op Barkly-Oos gestuur waarin hy hulle vra om hulle bes te doen om die mense stil te hou en sedisie te voorkom sodat die kolonie nog gesag as ’n bemiddelaar sal kan hê. Lewsen (1966) dui hierdie persone in ’n voetnoot aan as “influential local bondsmen”. Naudé en Visser het vir Merriman gewerk tydens die verkiesing van 1889. Volgens die “Statistiek verslag voor 1899” van die Afrikanerbond (1899:43–4) was M.G. Potgieter die sekretaris van die afdeling Barkly-Oos en C.J. van Pletzen afgevaardigde na die Provinsiale Raad (Provinciale lid). Potgieter was ook ’n veldkornet. Van Pletzen was skynbaar reeds aan’t saamsweer met die Boere en is later saam met Potgieter en De Wet skuldig bevind aan hoogverraad – Van Pletzen as ’n belhamel (Lewsen 1966:100, noot 262). Naudé se naam verskyn egter nie in die lys ampsdraers van die Afrikanerbond vir daardie jaar nie.

In die deurslagboek van telegramme van W.P. Schreiner, premier van die Kaapkolonie by die uitbreek van die Suid-Afrikaanse Oorlog, is daar ’n onleesbare telegram (die derde deurslag) gerig aan P.J. Greyvenstein jr., en herhaal aan H.S. Nel en J.D. Naudé, Noordhoek (sic), Vaalhoek, PK Barkly-Oos (MSC27 Schreiner-versameling). En in ’n telegram lig Merriman op 23 November 1899 vir J.W. Sauer op Dordrecht in dat Barkly-Oos in die hande van die Boere is en stel voor dat Sauer tot by Hans Naudé se plaas ry en probeer om met vriende in Barkly-Oos kontak te maak (MSC15 Merriman-versameling, telegram nr. 435). Sauer het aan die begin van die oorlog ’n reis deur die noordoostelike distrikte onderneem om die gemoedere te kalmeer (of, volgens sy vyande, eerder aan te hits, D[ickson] 1983:620) en het onder andere op 27 November 1899 ’n groot vergadering op Dordrecht gehou. Hy was deurentyd telegrafies in kontak met Schreiner en Merriman.

Naudé word weer genoem in ’n brief wat Merriman op 28 Mei 1900 aan Milner skryf waarin hy pleit dat borg toegestaan word aan die rebelle in die tronk in Barkly-Oos. Hy vra dat Milner die geval van Hans Naudé amptelik oorweeg en beskryf hom as:

[A] man of 65 – one of the wealthiest, most respectable and respected farmers in the division [...] and is to my own knowledge about the last person one would expect to find a rebel. Mr Visser informs me that to his knowledge Naude has only been accused of having been “too friendly with the [Free State] Landdrost”; and at any rate being a man worth more than £10,000 it seems a fair case for bail. (Lewsen 1966:216)

Naudé is egter in 1847 gebore en was in 1900 dus maar 53 jaar oud!

Naudé is, volgens sy voorondersoek, op 11 April 1900 gearresteer. Dit is nie duidelik of Merriman se brief ’n effek gehad het nie, want Naudé se voorondersoek het eers op 7 Julie 1900 plaasgevind (KAB, AG 3393, fol. 37/45).

Ewe merkwaardig is dat John X. Merriman, tydens sy vredesending na Engeland, op 11 April 1901 ’n ongetekende telegram uit Barkly-Oos ontvang het met net twee lakonieke woorde daarin: “Naude acquitted” (MSC15 Merriman-versameling). Dit is maar een van die enigmas rondom Naudé. Naudé was dus persoonlik bevriend met Merriman en was ook een van die invloedryke burgers deur wie Merriman en Schreiner probeer het om die vure in die noordoostelike distrikte dood te slaan. Dit maak die kwessie natuurlik dubbel interessant, want Merriman en Sauer was mede-oprigters en medewerkers van The South African News en ook sterk bevriend met Leipoldt (Kannemeyer 1999:111).11

Foto 1. Grafmonument van Hans Naudé op die plaas Waterval, Barkly-Oos (Foto: Die skrywer)

Volgens sy sterfkennis (KAB, AG 6/9/617, fol. 951) is Johannes Daniel Naudé op die plaas Klipspruit in die distrik Aliwal-Noord gebore en op 28 Maart 1909 op die plaas Waterval van sy dogter Margarietha in die distrik Barkly-Oos oorlede. Hy het drie dogters nagelaat, naamlik Alida, getroud met Nicolaas Johannes van Zyl; Margarietha, getroud met Jacobus Andreas Reeders; en Anna, getroud met Henning Johannes van Aswegen. Hy het ook ’n kleindogter, Martha Francina Naudé, nagelaat. Sy was die dogter van sy seun, ook Johannes Daniel, wat op 1 Augustus 1898 oorlede is op die plaas Stoppoort in die Drakensberge tussen Barkly-Oos en Dordrecht, volgens mondelinge oorlewering aan bosluiskoors (Fouche 2006). Hy was getroud met Louisa van Aardt en was maar 28 jaar oud (KAB, AG 6/9/380, no. 2683).

Hans Naudé se pa, ook Johannes Daniel Naudé, is gebore in die distrik Worcester en oorlede op 7 Junie 1864 op sy plaas Klipspruit, Aliwal-Noord. Uit sy pa se sterfkennis (KAB, AG 6/9/108, no. 1137½) blyk dat Hans Naudé die vyfde van 14 kinders was.

Foto 2. Grafskrif van Hans Naudé (Foto: Die skrywer)

Hans Naudé figureer eintlik maar in die voetnote van die geskiedenis. In Reeders se geskiedenis van die dorp Rhodes (1991:134) word sy naam gelys as een van die lede van die Afdelingsraad van Barkly-Oos, en wel van 1889 tot 1896. The Barkly East Reporter vermeld dat hy in 1888 tot die Afdelingsraad verkies is. Verskeie notules van die Afdelingsraad is in The Barkly East Reporter gerapporteer, maar die volledige notules word in die Kaapse Argiefbewaarplek bewaar (4/BKE 1/1/1/1; 1/1/1/2). Uit die notules blyk dat Naudé die tersaaklike wetgewing geken het en dit kundig kon aanwend om voorstelle wat hom nie aanstaan nie, te opponeer. Tekenend in dié verband is sy sterk opposisie teen die verklaring van Barkly-Oos tot ’n distrik waar die Brandsiektewet (1886) van toepassing is. Soos Tamarkin (1996) aantoon, was die Brandsiektewet hoogs omstrede in die Kaapkolonie en verset daarteen ’n merker van konserwatisme: konserwatiewe boere was baie sterk gekant teen die nuwerwetse idee dat skape gedip behoort te word.

Uit die notules blyk dat Naudé se invloed in die Afdelingsraad geleidelik toeneem, sodat hy meer voorstelle inisieer en onder meer aangewys word as lid van die Lisensieraad. Op sy voorstel is die sekretaris Siebert weens nalatigheid en wanbesteding summier ontslaan (Notule van 21 Maart 1891 in 4/BKE). Hy is versigtig met die besteding van geld, gesteld op die letter van die wet en bevorder, na dit lyk, die belange (veral die paaie) van sy wyk.

Hans Naudé se testament, drie likwidasie- en distribusierekenings en ander dokumente oor sy boedel word bewaar in die Kaapse Argiefbewaarplek. Volgens sy testament (KAB, MOOC 7/1/857, fol. 916) moes sy hele boedel ná sy dood per publieke veiling verkoop word. £3 000 van sy en sy vrou se gesamentlike boedel moes in ’n trust geplaas word vir die gebruik en versorging van sy vrou. Die res moes in gelyke dele verdeel word tussen sy drie dogters en sy minderjarige kleindogter. Anna Susanna Naudé, gebore Naude, was sy tweede vrou en is op 20 Desember 1915 oorlede in die Mental Hospital, Grahamstad, waar sy volgens die boedeldokumente sedert 8 Maart 1895 ’n “paying patient” was (KAB, MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96).

Foto 3. Foto van Hans Naudé en sy dogters, asook sy kleindogter (Foto goedgunstiglik verskaf deur Henri Reeders, Strand)

Foto 4. Hans Naudé – detail vergroot uit Foto 3

Die eerste likwidasie- en distribusierekening (KAB, MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96) het £8 701 aangetoon, waarvan £8 200 onder die erfgename verdeel is (£4 100 aan sy vrou en £994 elk aan die vier erfgename). Die erfgename was baie diep in die skuld by die boedel vir skaaphuur en verbande op hulle grond, asook skuldbewyse.

Die tweede likwidasie- en distribusierekening (KAB, MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96) het ’n totaal van £8 532 aangedui en krediteure van ongeveer £300, sodat £8 230 beskikbaar was vir verdeling. Dit het ingesluit die plaas Noodhulp, wat gewaardeer is vir £5 146, en die plaas Cathgarva in die distrik Elliot, wat vir £2 243 gewaardeer is.

Foto 5. Die opstal op Noodhulp in 2009 (Foto: Mike Aggenbach, Barkly-Oos)

Om dit ’n bietjie in perspektief te plaas: van Naudé se ooie is verkoop teen 14/1 en ander teen 13/3. £16 000, die totale bedrag van sy boedel, verteenwoordig dus sowat 10 400 ooie. Vandag kos ’n ooi ongeveer R900, wat beteken dat die boedel vandag sowat R9,36 miljoen werd sou gewees het.

Die boedeldokumente (KAB, MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96) werp nogal ’n interessante blik op Hans Naudé as persoon. Daar is onder andere ’n rekening vir J. Vallentine, Barkly-Oos, vir goedere gelewer op 15 Maart (twee weke voor sy dood). Dit was vir een paar “Bays Boats” van 13/-, een “Bays Suit” van 12/6 en 26 blikkies kakao vir 5/-. Vermoedelik was dit vir die rooibruin skoene met swart punte en die rooibruin (Eng. “bay”12) pak waarin Naudé begrawe is en vir warm kakao om sy laaste dae draagliker te maak.

Die likwidasie- en distribusierekening (KAB, MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96) bevat ook ’n insiggewende lys bedrae wat ontvang is vir die huur van skape. ’n Kort uittreksel (die betalings in Mei 1909) lyk so:

Volgens die vonnis wat die eksekutrise op 8 Junie 1909 teen T.G. Kruger verkry het (KAB, CSC 2/1/1/596, fol. 157: 1909), was hy £18/5/0 verskuldig vir die huur van 300 merino-ooie vir die vyf maande van 20 Oktober 1908 tot 19 April 1909. Dit werk uit op £3/15/0 per maand of 3 pennies per ooi per maand. Die totale huur van skape wat deur 15 verskillende boere op die staat betaal is, was £334/11/6. Die gegewens oor die skaaphuur is belangrik, want dit dui aan dat ’n hele aantal kliënte van Naudé afhanklik was.

Die gegewens uit die boedel toon nie net dat Naudé “’n ryk ou bliksem” was nie (soos een van sy Reeders-nageslag hom beskryf het). Lees ’n mens dit saam met die getuie Van Heerden se opmerking dat die rykes by die huis bly maar die armes moet gaan veg, dan illustreer die boedel ook die sosiale stratifikasie van daardie tyd (Giliomee 1989:26). Naudé was dus ook een van die sogenaamde patriarge: ryk grondbesitters wat baie mag in die hande gehad het en van wie familielede en ’n aantal minder welvarende boere en bywoners afhanklik was. Die meeste joiners tydens die oorlog in Transvaal en die Vrystaat was bywoners (Grundlingh 1979). Dit lyk ook asof heelwat klas II-rebelle grondlose burgers was wat deur die patriarge onder druk geplaas is om aan te sluit. Die leiers en voorbokke, die klas I-rebelle, was meestal grondbesitters. Naudé se optrede strook nogal met hierdie beeld: hy is die ryk grondbesitter wat baie het om te verloor en wat sy eie en sy kliënte se belange moet bly beskerm deur albei vegtende partye tevrede te probeer hou. Hy moet die Vrystaatse landdros se vertroue bly behou sodat hy nie opgekommandeer en front toe gestuur word nie. Wat sou byvoorbeeld dan van sy dogters word? Sy vrou was immers sedert Maart 1895 in Grahamstad in die inrigting vir geestesversteurdes. Dat hy ook die vertroue van sy Engelse medeburgers kon bly behou, blyk uit die verslae van die verhoor en die merkwaardige stilswye van die Kaapse Polisie oor sy deelname aan die rebellie.

Dit is interessant om te spekuleer hoe Merriman en Sauer die gedig dalk sou gelees het. Onder Merriman se briewe is daar nie eintlik aanduidings daarvan nie, hoewel Leipoldt so ’n brief noem. Omdat hulle Naudé goed geken het en nou met Leipoldt saamgewerk het by The South African News, is dit nie onmoontlik nie dat hulle, verskuild, in oom Gert vir Naudé sou herken het. En dalk die dilemmas van Leipoldt self in die gedig sou hoor naklink het. Dit was moontlik om Naudé te beskerm dat Leipoldt so stellig die ontstaan van die gedig in Dordrecht geplaas het.

7. Implikasies vir die verstaan van “Oom Gert vertel”

Uit bostaande gegewens is dit duidelik dat “Oom Gert vertel” nie op ’n dag in Dordrecht geskryf is nie, maar in verskillende fases ontstaan het. Die geval van De Jager vermeld Leipoldt in sy tweede brief gedateer 24 Junie 1900. Dit lewer die stof vir “De rebel” wat in Desember 1900 in Elseviers Geïllustreerd Maandschrift verskyn het. In “De rebel” is daar ’n opvallende woordelikse ooreenkoms met brief nege (gedateer 21 Jan. 1901), waarin Leipoldt vir Sauer beskryf as so “zachtzinnig als een molletjie”. Dié twee tekste is geskryf rondom die tyd (Desember 1900) waarin Leipoldt moontlik vir Jan van der Merwe in Colesberg se tronk kon besoek het. Dat hierdie besoek kort ná die dood van koningin Victoria plaasgevind het, is egter, volgens die aanduidings van Leipoldt se bewegings uit dié tyd, waarskynlik versonne en eerder ingevoeg in Bushveld doctor om die besondere lojaliteit van die Kaapse burgers te beklemtoon.

J. Dempsey is verhoor op 7 Maart 1901 (VAB, A 155/50) en M.J. Bekker se saak is op 11 April 1901 oorgeplaas van Wodehouse (Dordrecht) na Aliwal-Noord (KAB, AG 3421, Wodehouse, saaknr. 21/37, fol. 21-30). Leipoldt sou Bekker dus in Dordrecht in die tronk kon besoek het. Die verhoor van Hans Naudé het van 6 tot 10 April 1901 plaasgevind. Leipoldt sou hom dus ook in die tronk kon besoek het – maar in Barkly-Oos. In hierdie tyd sou die grootste deel van “Oom Gert vertel” dus inderdaad kon ontstaan het, maar dan gebaseer op besoeke aan twee verskillende ou ooms in die tronk. Kannemeyer (1999:167) het reeds gespekuleer dat “Oom Gert vertel” ’n “eklektiese verbinding van baie voorvalle uit dié tyd” is.

Dempsey word vermeld in Leipoldt se brief tien van 1 Junie 1901, waarin hy verslag doen oor sy reis na die noordoostelike distrikte en die rebelleverhore. Op daardie stadium was dit egter nog nie algemeen bekend dat van die rebelle tereggestel is nie. Die eerste berig oor die teregstellings in The South African News het eers op 16 Julie 1901 verskyn (Anon. 1901h). Die verhaal van Bennie en Johnnie kon eers daarna vertel word. Insgelyks kon die proto-oom Gert eers ná September en Oktober 1901 vertel het van Smuts se inval in die Stormberge. Leipoldt het inderdaad in ’n brief aan Lulu Bolus gedateer 1 Mei 1913 (TAB, Nasionale Filmargief, MPO Burgers-versameling, 71/139) vertel dat hy die meeste van die gedigte in Oom Gert vertel en ander gedigte in 1902 geskryf het tydens die oortog in die “old Afric”. Dit klop ook met Lulu Bolus se uitspraak in haar “Memoir” voorin The ballad of Dick King and other poems (Kannemeyer 1999:142). Leipoldt se geheue laat hom egter ’n bietjie in die steek, want die skip waarmee hy van 25 Januarie tot 22 Februarie 1902 na Engeland oorgevaar het, was volgens Kannemeyer (1999:153) die S.S. Persic.

Hierdie moontlike hersiening op die skip was egter nog nie die laaste fase in die ontstaan van “Oom Gert vertel” nie, want daar is sterk woordelikse ooreenkomste tussen die gedeelte oor die vertrek van Bennie en Johnnie met die biltong en beskuit (rr. 127–55) en “The rebel” (Leipoldt 1904), waarvan Kannemeyer (1999:213-4) net ’n paar uitgewys het.

Oom Gert vertel dit so:

                   Ag, neef, ’n jongmens is tog steeks!
          En Ben was altyd koppig: selfs as kind
          Het hy daar baie keer om slae gekry!
130    En hul was vasbeslote om te gaan.
          Ek het twee perde toe by my gehad –
          Die kakies het dit nog nie afgeneem –
          Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer
          My skuld was dit nie dat die diere nog
          Daar in die tuin gestaan het; maar hul het!
          Nonnie – my vrou en Gerrie haar ma – sy het
          Dieselfde jaar gesterwe in Goudini
          Aan hartkwaal, want die oorlog het haar ook
          Gebreek in siel en liggaam – Nonnie ook
140    Het meegewaarsku, maar dit was vergeefs!
          “Ons kan dit nie hier uithou nie, oom Gert:
          ’n Mens moet tog iets vir sy nasie doen.”
          “Doen? Doen? Iets doen! Ag, wat kan julle doen?
          Wat kan ons algar doen?”
                                                Maar tevergeefs.
          Nonnie het toe my knapsak volgeprop
          Met biltong en beskuit; en ek het self
          Die saalsakkies met hardgekookte eiers
          En ander padkos volgelaai – want hy
          Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook
150    Neef Saarl se seun – en Saarl en ek was maats!
          So kan geen mens my dit tog kwalik neem,
          Al was ek ook ’n Britse onderdaan:
          Kan ek my eie vlees en been sien ly
          As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas –
          En my gewete het my nooit gekwel nie!

Vergelyk die volgende frases uit “The rebel”: “There is no sin in giving one’s kith and kin coffee when they need it, and if there was a horse on the farm, was it my fault?” (r. 156); “[Sarel] went into the veld with his uncle’s old horse and the biltong his aunt had made” (r. 158); “She [the ayah] had filled my saddle-bags with biltong and biscuit” (r. 172). Die naam Sarel kom ook voor in “Oom Gert vertel” en daar is sterk ooreenkomste tussen Sarel in “The rebel” en Piet in “Oom Gert vertel” – albei is baie sterk en baie steeks (“obstinate”, p. 158). In “The rebel” is die konflik van die hoofkarakter ook tussen plig (teenoor sy kinders) en die nuwe liefde vir bodem en bloedverwante. Boonop sê die hoofkarakter dat sy ma “died of the dropsy, and always complained that she felt so cold and that the chills crept over her” (p. 156), wat sterk ooreenkom met oom Gert se beskrywing van Nonnie se sinkings (r. 205–7). Hierdie parallelle dui nog ’n verdere hersieningsfase in 1904 aan.

Voordat die bundel in 1911 verskyn het, is dit in 1910 nog ’n laaste keer hersien op advies van J.J. Smith (Smith 1947:96 e.v.). Leipoldt het “Oom Gert vertel” dus nie in 1901 “klaar” geskryf nie, maar dit het oor ’n lang tydperk ontstaan.

Die belangrike tema van plig en “iets doen” is opvallend in brief nege van 21 Januarie 1901 (Leipoldt 2002:138–9). In hierdie brief skryf Leipoldt uit die oogpunt van ’n vreemdeling wat met veragting neersien op die Afrikaners in die Kaapkolonie wat hulle glad nie manlik gedra het nie – nie genoeg gedoen het om die Boere te steun nie. Merriman loop deur omdat hy so beginselvas is dat hy elke anderhalfjaar van party verander. Sauer word beskryf as so sag soos ’n mol wanneer iemand hom teenspreek – met ander woorde eintlik lafhartig. Leipoldt impliseer ook dat hulle vredesending na Engeland ’n gerieflike ontvlugting was. F.S. Malan, die redakteur van Ons Land, kry hy voor stok omdat hy “zoo warm schrijft en toch niets doet”. Hy verwyt die ander partylede dat hulle stilsit en hulle bes doen om hulle kiesafdelings ook stil te hou. “Zoo wint men niet voor vrijheid en recht,” sê Leipoldt. Hy bewonder die mense wat alles prysgee vir hulle beginsels en betreur dit dat “ons” sulke mense in die openbaar “beknorren” maar hulle optrede stilletjies goedkeur. Hy sluit die paragraaf af met: “Een Afrikaander moet heden ten dage voor zijn volk blozen als hij eenig zelfrespect bezit” (2002:139).

Hierdie paragraaf resoneer ironies met “Oom Gert vertel”, want Leipoldt besef skynbaar nie dat hy hier sy eie dilemmas artikuleer en dat ’n mens hom self ook van ’n gebrek aan manlikheid sou kon beskuldig nie: hy is immers ook maar een wat warm skryf en niks doen nie. Hy is ook nie bereid om alles vir vryheid en reg op te offer nie. Moes hy nie ook maar ophou skryf en saam met die Boere gaan veg het nie? Wat sê dit van sy eie selfrespek? “Iets doen” is oom Gert se dilemma ook, want hy reageer besonder heftig op Bennie en Johnnie se woorde dat ’n mens tog iets vir sy nasie moet doen. Agter hierdie heftigheid vermoed Scholtz (1975a:58-9) ’n komplekse skuldgevoel en ’n “gevaarlike” lojaliteit aan die Britse regering. Die punt is nie dat ’n mens oom Gert kan verwyt dat hy sy bloedverwante kos gegee het nie, maar eerder dat hy hoogverraad gepleeg het deur twee onervare jong mans te help om aan te sluit – en dat dit uiteindelik tot hulle dood gelei het. Die “pynlike selfverwyt” wat Scholtz agter oom Gert se woorde raak hoor, is dat hy swak is en self niks gedoen het nie.

Die voorlaaste paragraaf van Leipoldt se brief aan dr. Bolus van 13 Julie 1904 is hier besonder resonant:

There is another character about whom I should like to write a study – a character that in a way impressed and impresses me very much. I hinted at him when I tried to sketch Martins – the “English minded Dutchman”. The position of the Dutch loyalist during the war one, which from a literary point of view, yields much food for reflection and possibly for “strong” studies. (Leipoldt 1979:44)

Dan bly dit tog eienaardig dat Leipoldt die dilemmas van ’n “Dutch loyalist” byna nêrens in “Oom Gert vertel” laat blyk nie. Hy het nie net die historiese besonderhede in die gedig weggewerk en herrangskik nie, maar ook die sterk lojaliteit teenoor koningin Victoria heeltemal weggelaat. Die weggelate lojaliteit blyk aangrypend uit “De rebel” en ook uit Leipoldt se beskrywing van die ou rebel in die tronk in Bushveld doctor.

Biografies beskou, ensceneer die gedig natuurlik Leipoldt se eie dilemma ook: Wat kan mens doen? Moet ’n mens nie ’n slag ophou skryf en by die Boerekommando’s gaan aansluit nie? Kan ’n mens in die lig van die gruweldade van die Britse owerhede nog lojaal bly teenoor die Britse ryk? Roep familiebande, die stem van eie bloed, nie veel sterker as dit nie? As sendelingskind was Leipoldt natuurlik allesbehalwe “’n rasegte boer”, maar dit is inderdaad dié soort vrae wat Leipoldt ook in sy ander rebelletekste aan die orde stel. En die soort oorwegings wat hom ook in die kategorie van Van Zyl (1999) se daadloses sou kon plaas.

Die ooreenkomste met Hans Naudé maak egter duidelik dat oom Gert nie summier as daadloos afgemaak kan word nie, maar dat hy eerder, vasgevang tussen twee vegtende partye en botsende lojaliteite, beskou kan word as aktief besig om sy eie belange en die belange van sy familie en kliënte te probeer beskerm. Dit is dinge wat in die nasionalistiese aandrif ná die Oorlog dalk misverstaan sou kon word en waaroor ’n mens agterna dalk nie graag sou wou praat nie.

Die gegewens dat Naudé ’n patriarg met ’n hele aantal kliënte was, plaas die verhouding tussen oom Gert en Bennie en Johnnie immers in ’n ander lig: hulle is nie net familie nie, maar ook kliënte van oom Gert as patriarg en kennelik van die besitlose klas, omdat hulle nie perde van hulle eie gehad het om op kommando mee te gaan nie. Die sosiale stratifikasie in die gedig lyk egter platter as wat dit histories was. Andersyds is oom Gert in ’n mate ook aanspreeklik vir die dade van sy kliënte – nog ’n rede vir die kolonel se woede en oom Gert se skuldgevoel.

8. Gevolgtrekkings

As ’n mens “Oom Gert vertel” lees saam met historiese dokumente uit die Oorlog, blyk die komplekse ontstaansgeskiedenis van die gedig. Dit blyk ook dat die politieke kwessies van daardie tyd heelwat ingewikkelder was as wat gewoonlik aangeneem word. Vergeleke met die historiese figuur is dit duidelik dat oom Gert nie ’n weerspieëling is van die mens Hans Naudé nie, maar ’n karakter uit eie reg met die status van ’n patriarg binne die alternatiewe moontlike wêreld van die gedig. In hom het Leipoldt sekere unieke gegewens uit die getuienis teen Hans Naudé verwerk, maar sy verhaal resoneer met die verhale van ander ou ooms. Leipoldt het die gegewens op sy eie manier aangewend (“vervals” of “verfraai”), maar op ’n manier wat nie in die patroon van Multatuli inpas nie. Die dilemma van ’n lojalis soos oom Gert kry groter resonansie met die figuur van Hans Naudé in die agtergrond: ’n ryk grondbesitter, lojaal aan die Kroon en sterk in simpatie met die Boere, maar met ’n gesin, ’n hele paar kliënte en groot belange wat beskerm moet word. Om oom Gert net binne die interpretasieraam van Afrikaner-nasionalisme te verstaan, of net binne die moraliteit van ’n struggle teen ongeregtigheid en onvryheid, doen die karakter – én die skrywer – ’n onreg aan.

Globaal gesien stel die soektog na die historiese oom Gert ’n mens in staat om die gedig deeglik in sy historiese konteks te plaas, maar ook om van die verborge stemme en sosiale energieë in die gedig te herwin. Dit is nie net die kragte van bloedverwantskap en familie of van nasionalisme wat ter sprake is nie; die sterk lojaliteit van die Kaapse Afrikaners teenoor koning Victoria is opvallend weggeskryf uit die gedig. Patriarge soos Hans Naudé moet hulle en hulle kliënte se belange versigtig probeer onderhandel teenoor die brutaliteit en geweld van albei vegtende partye – wat in die oorlogsituasie ewe min erg het aan menseregte of die beginsels van ’n regstaat. Les bes is daar in die agtergrond ook aanduidings – in die houding van Kaapse Polisie teenoor Naudé, byvoorbeeld, en in oom Gert se sarkastiese opmerkings oor die kolonel – van verset teenoor die militêre owerhede.

Die waarde van ’n Nuwe Historistiese benadering tot “Oom Gert vertel” is kortom dat dit ’n ryk en veelfasettige ingebedde interpretasie van die gedig moontlik maak. Dit is ook duidelik dat die interpretasies van die kritici die gedig telkens deur ander interpretasieraamwerke laat sirkuleer – en op dié manier lewend hou.

Bibliografie

Argivale bronne

Kaapse Argiefbewaarplek (KAB)

Attorney General (AG)

AG 2021, Colesberg, fol. 57, saaknr. 25/101 [R vs O.S. Vermooten.] Anglo-Boer War Treason Trials. Class One rebels tried at first sitting 1900, December.

AG 2117. List of persons found guilty of high treason in the Supreme Court, High Court, Eastern Districts Court and Circuit Courts of the Colony of the Cape of Good Hope since 11th October, 1899. 1903.

AG 2088, fol. 19d, saaknr. 3/28. Barkly East: Special Court Prosecutions. Prosecuting Barrister's Report, [1901].

AG 3393, fol. 37/45. [R vs J.D. Naudé.] Voorlopige ondersoek en getuienis – Hoogverraad, 1900.

AG 3421, Wodehouse, saaknr. 21/37, fol. 21-30. [R vs M.J. Bekker.] Klagstaat, voorondersoek en ander dokumente, 1900.

AG 3549, Wodehouse, fol. 21/37. Register of cases under chapter II of the Indemnity and Special Tribunals Act 1900.

AG 6/9/108, no. 1137½: Sterfkennis J.D. Naudé, 1864.

AG 6/9/380, no. 2683: 22 Augustus: Sterfkennis J.D. Naudé, 1898.

AG 6/9/617, fol. 951: 21 April: Sterfkennis J.D. Naudé, 1909.

Cape Supreme Court (CSC)

CSC 2/1/1/596, fol. 157. Boedel J.D. Naudé vs T.G. Kruger, 1909.

Master of the Orphan Chamber (MOOC)

MOOC 6/9/454, fol. 2319: Sterfkennis M.J. Bekker, 1902.

MOOC, 7/1/857, fol. 916: Testament J.D. Naudé. 1907.

MOOC 13/1/1230, fol. 15: 1 Junie: Boedel M.J. Bekker. Eerste Administrasie- en Distribusierekening (gewysig), 1903.

MOOC 13/1/1230, fol. 16. Boedel M.J. Bekker. Tweede Administrasie- en Distribusierekening, 24 Desember 1903.

MOOC 13/1/1908, fol. 95, 96. Boedeldokumente J.D. Naudé, 1908–11.

Sekretaris van die Afdelingsraad, Barkly-Oos (4/BKE)

4/BKE 1/1/1/1; 1/1/1/2. Notules van die Afdelingsraad Barkly-Oos, tot 1894 en 1894-.

Transvaalse Argiefbewaarplek (TAB)

Nasionale Filmargief

MPO Burgers-versameling, 71/139. C. Louis Leipoldt brief aan Lulu M. Bolus, 1 Mei 1913.

Vrystaatse Argiefbewaarplek (VAB)

A[ccessions] 155/50, Aanwins P.J.C. du Plessis 1900-1934. [R vs James Dempsey.] Brief for the defence. Saaknr. O.M. 132.

Nasionale Biblioteek, Kaapstad

MSC15. John X. Merriman-versameling.

MSC27. W.P. Schreiner-versameling.

Ander bronne

Afrikanerbond. 1899. [Notulen van de] Vergadering van den Afrikaander Bond en Boeren Vereniging gehouden te Victoria West en geopend op Donderdag, Den 9den Maart 1899 des Morgens ten elf ure. Kaapstad: Van de Sandt de Villiers.

Anon. 1901a. The Treason Court. Sittings at Dordrecht. Tuesday, March 12. The case of Mr James Dempsey, [Mr G.J.J. van Rensburg, Mr O.J. van Heerden]. The South African News, 16 Maart 1901, p. 3. [Mikrofilm, Nasionale Biblioteek, Kaapstad en Pretoria.]

—. 1901b. The Treason Court. The sittings at Dordrecht, March 14. The case of Mr S.J. Marais [deel 1]. The South African News, 19 Maart 1901, pp. 3–4.

—. 1901c. The Treason Court. [Sittings at Dordrecht], Friday, March 15. The case of Mr Jan Venter, [Mr W.A. Smit, Mr Michael E. Dempsey]. The South African News, 21 Maart 1901, pp. 3–4.

—. 1901d. The Treason Court. The sitting at Barkly-East, April 6. The case of Mr J.C. Barnard, [Mr J.D. Naudé]. The South African News, 17 April 1901, pp. 3–4.

—. 1901e. The treason trials. Tuesday. J.D. Naudé’s case continued. The Barkly East Reporter, 19 April 1901, p. 2.

—. 1901f. The Treason Court. The sitting at Barkly East. Tuesday, April 9. Mr Hans Naudé’s case [deel 2]. The South African News, 20 April 1901, p. 3.

—. 1901g. The Treason Court. The sitting at Barkly East. Wednesday, April 10. Judgment in the Naudé case. The South African News, 22 April 1901, pp. 3–4.

—. 1901h. The execution of Marais. The South African News, 11 Julie 1901, p. 4.

—. 1901i. The execution of Coetzee. The South African News, 17 Julie 1901, p. 3.

Anon. 1909. Plaatselijke nieuws. [Death notice J.D. Naudé]. De Afrikaner Vriend/The Barkly East Reporter, Vrydag 2 April 1909.

—. 1915a. Local notes. [Death notice Mrs J. Naudé]. The Barkly East Reporter, 24 Desember 1915.

—. 1915b. Plaatselike nieuws. [Doodsberig mev. J. Naudé]. The Barkly East Reporter, 31 Desember 1915.

Breytenbach, J. 1977. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899–1902. Deel IV: “Die boereterugtog uit Kaapland”. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Burgers, M.P.O. 1960. C.L. Leipoldt. ’n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel.

Cartwright, M.F. 1976. C. Louis Leipoldt and martial law. Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, 31(1):1–11.

Davenport, T.R.H. 1970. Afrikaner Bond. In Standard Encyclopaedia of Southern Africa 1970.

De Kock, W.J. en D.W. Krüger (reds.). 1968. Dictionary of South African biography. Deel I. Kaapstad: Tafelberg vir die RGN.

—. 1983. Dictionary of South African biography. Deel II. Kaapstad: Tafelberg vir die RGN.

Dekker, G. s.j. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. 12de druk. Kaapstad: Nasou.

D[ickson], P.G. 1983. Sauer, Jacobus Wilhelmus. In De Kock en Krüger (reds.) 1983.

Eco, U. 2009. On the ontology of fictional characters. Sign Systems Studies, 37(1/2):82–98.

Farwell, B. 1976. The great Anglo-Boer War. New York: Harper & Row.

Fouche, J. 2006. Onderhoud deur skrywer met oom Jossie Fouche. Barkly-Oos, 6 Maart. Eie versameling.

Geertz, C. 1975. The interpretation of cultures Selected essays. Londen: Hutchinson.

Giliomee, H. 1989. The beginning of Afrikaner ethnic consciousness, 1850–1915. In Vail (red.) 1989.

Greenblatt, S.J. 1990. Culture. In Lentricchia en McLaughlin (reds.) 1990.

Grundlingh, A.M. 1979. Die “Hendsoppers” en “Joiners”. Die rasionaal en verskynsel van verraad. Pretoria: HAUM.

Nienaber, P.J. 1980. Leipoldt in beeld en woord. Johannesburg: Perskor.

Jordaan, G. 1904. Hoe zij stierven. Mededeelingen aangaande het einde dergenen, aan wien gedurende den laasten [sic] oorlog, in de Kaap-kolonie het doodvonnis voltrokken is. Burgersdorp: Andreas Coetsee.

Kannemeyer, J.C. 1999. Leipoldt - ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

Leipoldt, C. Louis. 1900. De rebel. Elsevier’s Geïllustreerd Maandschrift, 20:554–61.

—. 1904. The rebel. Monthly Review, Julie, pp. 152-72.

—. 1911. Oom Gert vertel en ander gedigte. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Hollands-Afrikaanse Uitgevers Maatschappij; J.H. de Bussy.

—. 1931. Drie Kersnagte. Die Huisgenoot, 4 Desember, pp. 29 e.v.

—. 1932. Galgsalmander. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. 1933. Eerste skoffies. In Leipoldt 1990.

—. 1940. Oor my eie werk. In Leipoldt 1990.

—. 1979. Dear Dr Bolus. Geredigeer deur E. Sandler. Kaapstad: A.A. Balkema.

—. 1980a [1937]. Bushveld doctor. Kaapstad; Pretoria; Johannesburg: Human & Rousseau.

—. 1980b. Stormwrack. Geredigeer met ’n nawoord deur S. Gray. Kaapstad: David Philip.

—. 1980c. Versamelde gedigte. Versorg deur J.C. Kannemeyer. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1990. Literêre causerie. Gekeur en ingelei deur J.C. Kannemeyer. Kenwyn: Jutalit.

—. 1999. Uit die skatkis van die Slampamperman. Saamgestel deur J.C. Kannemeyer. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2002. Hierdie land van leuens.Brieven uit de Kaap Kolonie” oor die Anglo-Boereoorlog soos gepubliseer in Het Nieuws van de Dag, 21 Mei 1900–7 Oktober 1901. Vertaal en geredigeer deur W. van Zyl. Kaapstad: Africana Uitgewers.

Lentricchia, F.F. en T. McLaughlin (reds.). 1990. Critical terms for literary study. Chicago, Londen: University of Chicago Press.

Lewsen, P. (red.). 1966. Selections from the correspondence of J.X. Merriman, 1899–1905. Deel 3. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.

Lewsen, P. 1982. John X. Merriman: Paradoxical South African statesman. New Haven: Yale University Press.

—. 1983. John Xavier Merriman. In De Kock en Krüger (reds.) 1983.

Margolin, U. 1990. The what, the when, and the how of being a character in literary narrative. Style, 24(3):453–69.

Nienaber, P.J. (red.). 1948. C. Louis Leipoldt Eensame veelsydige. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Oosthuizen, A. 1994. Rebelle van die Stormberge. Pretoria: J.P. van der Walt.

Oxford Dictionaries Online. 2010. Oxford University Press. http://oxforddictionaries.com (6 Oktober 2010 geraadpleeg).

Pakenham, T. 1999. Die Boere-oorlog. Vertaal deur L. Rousseau. 2de druk. Johannesburg: Jonathan Ball.

Reeders, H. (red.). 1991. Rhodes 100: 1891–1991. Rhodes: Die Eufeeskomitee.

Reitz, D. 1993. Commando; A Boer journal of the Boer War. Halfway House: Southern Book Publishers.

Scholtz, M. 1975a. Wat vertel "Oom Gert Vertel?". In Scholtz 1975b.

—. 1975b. Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.

Smit, A. 1973. Ligglans oor die berge. Eufeesgedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en gemeenskap Barkly-Oos 1873–1973. Barkly-Oos. Uitgegee deur die Nederduitse Gereformeerde Kerkraad Barkly-Oos met die medewerking van die plaaslike stadsraad.

Smith, J.J. 1947. Chris Louis Leipoldt My vriendskap en "samewerking" met hom. In Nienaber 1948.

Snyman J. 1962. Rebelle-verhore in Kaapland gedurende die Tweede Vryheidsoorlog met spesiale verwysing na militêre howe (1899–1902). Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 25:1-74.

Standard Encyclopaedia of Southern Africa. 1970. Deel I. Kaapstad: Nasou.

Stretton, S. 2001. Smuts in the Stormberg. Dordrecht: The Anderson Museum.

—. 2007. Onderhoud deur skrywer met Sandy Stretton. Buffelsfontein, dist. Dordrecht, 28 November 2007. Eie versameling.

Tamarkin, M. 1996. Cecil Rhodes and Cape Afrikaners. The imperial colossus and the colonial parish pump. Johannesburg: Jonathan Ball.

Van Zyl, W. 1999. Leipoldt, "Oom Gert vertel" en Multatuli. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 6(1):63–77.

Vail, L. (red.) 1989. The creation of tribalism in Southern Africa. Londen: James Curry.

Veeser, H.A. (red.) 1989. The new historicism. Londen: Routledge.

Eindnotas

1 Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die vriendelike en hartlike mense van Aliwal-Noord, Dordrecht, Lady Grey en Barkly-Oos. Abrie Oosthuizen en die personeel van die Aliwal-Noord-museum het my op die regte pad geplaas. Johan Greyling het sy familie-argief vir my oopgemaak. Sandy Stretton, wat die geskiedenis van Dordrecht soos die palm van sy hand ken, het baie waardevolle insigte bygedra. Die Reederse, afstammelinge van Hans Naudé se oudste dogter, Margarietha, of ouma Maggie, het hulle familiegeskiedenis openhartig met my gedeel: dankie aan Hanna Reeders en Hanri Reeders van Rhodes, Henri Reeders in die Strand, André Reeders en sy pa, André, van Colesberg, en Una Louw van Bloemfontein. Toitjie en Gladys du Toit van Barkly-Oos was voortreflike gashere en waardevolle informante. Nienkie Grobler het vir my die ou nommers van The Barkly East Reporter deurgesoek na vermeldings van Hans Naudé. Mike Aggenbag het, met oom Jossie Fouche as gids, vir my foto’s van Noodhulp geneem. Insig in skaaphuur dank ek aan Piet du Toit van Stellenbosch. Cari Coetzee het, na ’n taamlik lang soektog, vir my die voorondersoeke van M.J. Bekker en O.S. Vermooten in die Kaapse Argief opgespoor. Chris en Biebie van der Merwe se huis was vir my ’n tuishuis in die Kaap. Baie dankie aan almal. Les bes, baie dankie aan Rinie wat saam met my agter Leipoldt aan gereis het.

2 In sy verduideliking van ingebedde interpretasie verwys Geertz (1975:8–10) na Gilbert Ryle se opstelle "Thinking and reflecting" en “The thinking of thoughts" oor die verskille tussen ’n onwillekeurige knip van die oog, ’n doelbewuste knipoog om te kommunikeer, en later selfs ’n parodie van ’n knipoog of die oefen van ’n parodie van ’n knipoog voor die spieël. Antropologiese waarnemings, die feite, is dus reeds verduideliking, interpretasie, "explicating explications. Winks upon winks upon winks," skryf hy. Thick description definieer hy dus as volg: “Analysis, then, is sorting out the structures of signification [...] and determining their social ground and import” (Geertz 1975:9). Dit is nie ontsyfering soos deur ’n syferklerk nie, maar eerder ’n ontleding van die verskillende lae van interpretasies analoog aan die werk van ’n literatuurkritikus.

3 Sandler, die redakteur van Leipoldt se briewe aan dr. Bolus, meen dat die brief handel oor “De rebel” (Leipoldt 1900), maar dit is kennelik nie korrek nie: Leipoldt praat in die brief o.a. van sy karakter Snyders, die hoofkarakter in “The rebel”.

4 “De rebel” en “The rebel” is ook opgeneem in Leipoldt (1999).

5 Jacobus Wilhelmus Sauer (1850–1913) was ’n Kaapse politikus en later ’n minister in die Uniekabinet. Sy parlementêre loopbaan het in 1874 begin toe hy verkies is tot parlementslid vir Aliwal-Noord. Saam met John X. Merriman en James Rose-Innes het hy die liberale standpunt in die Kaapse parlement verteenwoordig, wat veral stemreg vir swartes en beskerming van hulle eiendomsreg op grond ingehou het. Na die stormagtige verkiesing van 1898 het Sauer Kommissaris van Openbare Werke in W.P. Schreiner se kabinet geword. Met die uitbreek van die Oorlog in Oktober 1899 het Schreiner en Merriman hom gestuur om die burgers in die noordoostelike distrikte van Dordrecht en Barkly-Oos te probeer oorreed om nie te rebelleer nie, maar sonder sukses. Aan die einde van 1900 is hy deur die Suid-Afrikaanse Party afgevaardig om saam met Merriman ’n vergeefse vredesending na Engeland te onderneem. Sauer was ’n briljante parlementariër en ’n skerp en venynige debatteerder. In die kabinet van Louis Botha het hy later Minister van Justisie en Naturellesake geword, en dit is onder sy leiding dat die Naturelle Grond Wet van 1913 op die wetboek geplaas is. Veral swart leiers het dit beskou as ’n verloëning van sy liberale beginsels (D[ickson] 1983).

6 Marais en Coetzee is op 24 Junie 1901 saam met hulle kameraad Cornelius Claassen op Dordrecht ter dood veroordeel deur ’n krygshof en is onderskeidelik op 10 Julie 1901 en 15 Julie 1901 tereggestel in hulle tuisdorpe, Cradock en Middelburg (Anon. 1901h en 1901i). Hulle is aangekla van moord op Engelse soldate te Wildefontein tydens ’n aanval op kommandant Kritzinger se kommando, alhoewel die getuienis vir hulle aandeel aan die skermutseling baie skraal was. (Kyk Oosthuizen 1994:157–8.)

7 Die aangeklaagdes was Barend van der Walt, Johannes Bastjan Cloete, Petrus Jacobus Pelofse, Michael Coenraad Mayer, Johannes Isaac Jacobs, James Dempsey, Gerhardus Jacobus Janse van Rensburg, Ockert Johannes van Heerden, Jan Antonie Rossouw, Gert Willem Botha, Caspar Johannes Schoeman, John Mattys de Beer, Stephanus Jacobus Marais, Jan Venter, Willem Abraham Smit, Michael E. Dempsey en Burton Weakly. (The South African News, 12, 14 15, 16, 18, 19, 20, 21, 23 en 25 Maart 1901.)

8 Aan dr. Kannemeyer, wat hom van 19 tot 30 April in Aliwal-Noord behandel het, het hy £5/5 geskuld; aan dr. Rowland £24/9 (waarvan £22 was vir ’n skuldbewys wat al in 1895 verskuldig was). Aan J.A. Botha was hy £28 verskuldig wat hy geleen het om vir sy verhoor te betaal. Die rekening van sy prokureur, J.P. Smit, was £40/3/5, wat ingesluit het ’n skuldbewys van 21 April 1902 vir £38/5/3. Die rekening is onder andere vir ’n telegram op 18 April wat ene De Klerk inlig dat Bekker na Aliwal-Noord vertrek het – waarskynlik vir die verhoor – en vir ’n telegram op 5 Mei “acquainting your relatives of your death” (KAB, MOOC 13/1/1230, fol. 15). Die tweede en finale administrasie- en distribusierekening van sy boedel (fol. 16) verdeel die plaas Leeuwspruit ter waarde van £1 050 tussen sy vrou en kinders. Dié plaas was in der waarheid die eiendom van sy skoonpa, Daniel Wilhelm Schoeman, wat Bekker uit Schoeman se boedel geërf het, soos blyk uit ’n brief wat A.J. Kidwell, die eksekuteur van Bekker se boedel, op 15 Junie 1903 aan sy korrespondente geskryf het in antwoord op navrae van die meester (fol. 15).

9 Die Afrikanerbond was tot 1898 die enigste betekenisvolle politieke party in die Kaapkolonie. Dit is in 1879/80 gestig deur ds. S.J. du Toit en het in 1883 saamgesmelt met Jan Hendrik Hofmeyr se Boeren Beschermings Vereeniging. Die Afrikanerbond het verskeie koalisieregerings gevorm in samewerking met bevriende buitestanders. In die fel-bestrede verkiesing van 1898 het die Afrikanerbond die meerderheid behaal en in koalisie met W.P. Schreiner die regering gevorm. Die Schreinerkabinet was pro-Boergesind, en het voor die Oorlog sy invloed gebruik om vrede te probeer bewerkstellig, maar sonder sukses. Die koalisie het geskeur oor die kwessie van strawwe vir die rebelle, sodat J. Gordon Sprigg in Junie 1900 weer aan die bewind gekom het. Baie lede van die Bond het gerebelleer, maar die Bond amptelik nie. In die verkiesings na die Oorlog het die Bond baie swak gevaar weens die ontkiesering van rebelle. Die Bond het veral die belange van die welvarende boere beskerm – soms nie baie verlig nie: in 1895 het die party byna geskeur oor die hantering van brandsiekte. Die Bond se beleid teenoor swartes was konserwatief en selfs onliberaal (D[ickson] 1983; Davenport 1970).

10 John Xavier Merriman (1841–1926) was aan die begin van die Oorlog (Kaaplandse) parlementslid vir Wodehouse en tesourier in die kabinet van W.P. Schreiner (in koalisie met die Afrikanerbond). Hy het liberale opvattings in die parlement verteenwoordig en was sterk teen die Oorlog gekant, wat hy beskou het as “onregverdig en onverskoonbaar”. Met die eerste Boere-inval het hy sy bes gedoen om te verhoed dat burgers in sy kiesafdeling rebelleer, maar sonder veel welslae. In 1901 is hy, saam met J.W. Sauer, afgevaardig op ’n vergeefse vredesending na Engeland, wat vir hom persoonlik groot verguising en ontbering meegebring het. Hy was ’n uitstekende spreker en ’n wydbelese en baie kundige parlementariër. Voor Uniewording was hy die laaste premier van die Kaapkolonie.

11 Tot dusver kon ek nog nie meer inligting oor die omstandighede van die oprigting van The South African News opspoor nie. Lewsen se biografie van Merriman (1982) werp ook nie verdere lig daarop nie.

12 Oxford Dictionaries Online omskryf bay as “adjective. (of a horse) brown with black points”.