Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Oor vakansie, tasse en bruide


Fanus Rautenbach - 2007-02-06

Was bietjie met vakansie.

Toe my kinders klein was (kleiner was!), sê Mamma: “Ons gaan volgende week met vakansie!”

Maak hulle beswaar: “Pa het gesê ons gaan met DIE BLOUTREIN!”

‘n Paar oorvertelbare dinge het in die vakansie gebeur …

“Eet koedoes tjops?”

Ons is in Marlothpark, net langs die Krugerwildtuin. Die vraesteller is ‘n sewejarige knaap wat by die heining staan en een van drie koedoebulle gisteraand se oorskiet-tjops voer. Die bul vat die tjoppie ewe netjies, terwyl kleineman hom oor sy neus vryf. Hy eet die tjop klaar en spoeg die beentjies uit.

Daarna nooi Roelf van Jaarsveld my om een aand oor Radio Laeveld met my mense te kom gesels. Presies om agtuur kondig Roelf van Laeveld aan dat ene Fanus nou gaan gesels, en die telefoonnommer is …

Die foon lui dadelik. “Fanus hier!”

“Hallo, Fanus, dis Philip Nel!”

“Wat sê jy, Philip?”

“Doer in die sewentigerjare het ek jou een oggend gebel.”

“Dit was in 1973," skeer ek gek.

“Nee, '72 … Dit was …”

“ … op ‘n Donderdag,” help ek hom grappenderwys aan.

“Kan jy DIT onthou???!!”

“Ja, dit was so dertien minute voor sewe!”

“Nee, dit was elf minute voor. Ons sou met vakansie gaan, het vyf tasse op
die kardak gelaai en dit het afgeval.”

“Dit was VIER tasse,” help ek hom.

“Nog reg! Vier tasse … en jy saai toe uit van die vyf tasse – uh … vier tasse! En
ons kry die tasse!”

“Maar, Philip, dit het in '72 gebeur, hoekom bel jy nou eers?”

“Ek kon nie deurkom nie!”

“Philip, bly aan, ek wil jou iets anders vertel.”

“Ek bly aan – ek gaan NOOIT weer neersit nie!”

Toe vertel ek hom: daardie selfde tyd skakel ‘n man my en vertel my dat
hy die vorige Saterdag getroud is. Hulle woon in die Kaap. Hy huur ‘n woonwa
vir hulle wittebrood en mik vir Melkbosstrand – "Dit is die mooiste
woonwapark in die hele wêreld!" sê die bruidegom. Hulle ry. Vroutjie sit
voor by hom en raak naderhand aan die slaap.

“Kan ek nie agter in die woonwa gaan slaap nie? Ek weet dit is teen die
wet, maar …”

Hy hou stil en hy vat haar agtertoe.

Sy het haar nagrokkie aangetrek en hy het haar mooi nag gesê, weer uitgeklim, voor ingeklim en verder gery. Na ‘n halfuur of wat se ry kry hy ‘n groot nood … hou stil, klim uit en verdwyn in die bosse aan die regterkant van die pad.

Skielik skrik sy wakker. Dit is doodstil, Sy klim uit, loop links om en –

Maar hy kom van die regterkant af en klim voor haar in! En ry verder!

En daar staan sy, soos die Spook van Uniondale … en huil.

Skielik is daar ‘n skerp lig en een van die provinsiale verkeersinspekteurs brul
op haar af op sy BSA. Hy hou stil en begin sommer raas: "Dame, hier
staan jy in die middel van die nag op die hoofpad, met jou amperniksies aan … Waar dink jy gaan jy heen?”

Sy vertel hom die hele storie.

Hy sê: "Wel, ek het nie ‘n ekstra valhelm nie, maar klim op en klou!”

Sy klim op en klou en hy laat waai Melkbosstrand toe.

“Philip, is jy nog daar?”

“Ek is nog hier,” antwoord Philip Nel oor die foon.

“Nou ja, wees dankbaar, julle het net vyf tasse –"

“– Vier!” help Philip my reg.

“Jy het net vier tasse verloor, maar hierdie man had sy bruid verloor!”