Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 06/12/2010: Is verset deur drukgroepe futiel teen die ANC se aanslag?


2010-12-08

06.12.2010

Vrye Woord (VW) was al meermale in kleiner kring onder skoot van siniese kritici wat met ons verset spot. Wat kan ons vermag? ’n Bekende skrywer en digter het minagtend in persoonlike skrywes gereageer omdat ons nie ’n bepaalde koerant oor ’n onderonsie met ’n rubriekskrywer (nie Annelie Botes nie!) wou aanvat nie.

Ons naam Vrye Woord as ’n drukgroep sê presies waarvoor ons staan: die bevryding van die woord. Geen sensuur en magsbeheer nie. Dit beteken natuurlik nie dat enigeen eensydig beskuldigings kan rondslinger en ons dit in ons nuusbrief sal publiseer nie (Die ANC se aanslag op skrif, ook op LitNet).

Moontlik het die verontregte rubriekskrywer ’n geregverdigde grief gehad, hoewel dit oor haar persoonlike mening gehandel het. Moet ons egter nou as arbiter tussen haar en die koerant optree?

Ons is nie ’n koerant met ’n personeel nie, ook nie ’n kletswerf nie. Ons wil bowenal geen geding met die media aan die gang sit tensy dit werklik geregverdig is nie. Dwarsdeur die ou sensuurbedeling was die media die grootste bondgenote om apartheidsverdrukking en sensuur aan die kaak te stel.

Elke redaksie of groep het boonop die reg om te besluit wat hulle wil publiseer. VW het reeds ’n ruk gelede begin om “ongemaklike” inligting aan die groot klok te hang en werk tans daaraan om dit formeel in ’n afsonderlike afdeling te maak. Etiese kodes sal egter soos vir WikiLeaks bly geld.

Die doeltreffendheid van ons verset is nou by die grootste Afrikaanse koerant in die land onder die vergrootglas. Rapport Weekliks stel nou hierdie diskoers aan die orde sedert die publikasie van Breyten Breytenbach se meningstuk “Al hoop vir ’n gekweste en pap volk is die vrye woord” op 21 November.

VW verwelkom kritiek en reageer daarop, maar die jongste bespreking van MC Botha, “Die Vrye Woord soos altyd ’n hersenskim”, het miskien nie te veel aandag nodig nie, omdat dit so duidelik bloot sensasionele veralgemenings en aanklagte sonder feite bevat. ’n Redaksionele raadgewer van VW se nuusbrief, Charl-Pierre Naudé, doen nogtans moeite om in die Rapport Weekliks hier onder daarop te reageer.

Botha se historiese perspektiewe op byvoorbeeld die eertydse Afrikaanse Skrywersgilde se verset is eintlik ’n bietjie lagwekkend. Mens sou dadelik kon dink hy is ná die struggle gebore, maar hy het die Gilde persoonlik meegemaak.

Hy kan skynbaar niks onthou van hoe die enigste Afrikaanse versetgroep in die land letterlik bladsye vol verdoemende inligting oor sensuur en apartheidsmisbruike in die Afrikaanse media, dikwels ook in Engels oorgeneem, gekry het nie. Wat hy wel weet, of onthou, is ’n drinkery. Moontlik sê dit meer oor hom as oor die Gilde.

Om aan te neem dat die destydse verset uit Afrikaanse kringe (nie Afrikaner- nie) geen invloed op die Afrikanerregering  gehad het nie, is om die hele geskiedenis te verdraai. Ek kon as termynvoorsitter van die Gilde persoonlik met die simpatieke ministers FW de Klerk en Aalwyn Schlebusch, toe in beheer van sensuur, gesprek voer. Dramatiese toegewings het as gevolg van die enorme druk uit alle oorde gevolg.

Rapport was destyds al ’n voorloper om kolomme ruimte af te staan, met die kulturele redakteur Coenie Slabber as die grootste bondgenoot in die redaksie. Rapport Weekliks is tans besig om ’n belangrike tradisie van openbaarmaking voort te sit. Die ANC-regering kan maar probeer soos hulle wil, maar houd den bek gaan nie hier werk nie.

Ten minste nie voordat tronkstraf vir die besit van geheime dokumente ingestel word nie. En selfs dan is die totaal onbeheerbare internet daar. WikiLeak is ook steeds daar, en sy plaaslike eweknie volg.

Hier onder volg ook ná Charl-Pierre se repliek ’n opsomming van die opspraakwekkende invloed van WikiLeak wat in verskeie opsigte vir VW ’n model is.

- CM

Repliek: Eerbare ding is om mag te opponeer wat jy so haat
Charl-Pierre Naudé

(Lees die volledige berig in Rapport Weekliks by: http://www.rapport.co.za/Weekliks
/Nuus/Repliek-Eerbare-ding-is-om-mag-te-opponeer-wat-jy-so-haat-20101204
)

Die skrywer MC Botha lewer verlede week in Rapport Weekliks onder die skuilnaam Jan ver Maak ’n nydige, onsamehangende en irrasionele aanval op Breyten Breytenbach en die antisensuurgroep Vrye Woord (’n drukgroep wat ek steun).

Hierdeur bewys hy homself geen guns nie.

Botha het as joernalis en skrywer al oortuigende gebare gemaak. Dus reflekteer sy onvergenoegde skrywe, gekoppel aan die algehele gebrek aan skerpsinnigheid, glad nie goed op hom nie. Veral as mens dit vergelyk met die relatiewe virtuositeit van die stuk deur Breytenbach wat hy kritiseer.

Botha is flink om ’n gewaande “analise” van die dissidentdigter aan te bied.

Ek dink nie mens hoef hierdie oordeel oor Breytenbach ernstig op te neem nie tot tyd en wyl dit minder ylhoofdig gestel word.

Wat wel kommentaar verdien, is die repliekskrywer se (werklik versteurde) morele neurose en die politieke onegtheid daarvan. Hierdie neurose strek veel wyer as die repliekskrywer. En dit werk koöptasie deur die magsugtige ANC in die hand.

Die Poolse skrywer Ceszlaw Milosz het in The Captive Mind ’n skitterende relaas gegee van hoe verdrukkende regerings intelligentsia en skrywers koöpteer.

Mens moet bewus wees van die meer bedekte maniere waarop dit geskied pleks van jou eie kapitulasie en verwardheid as die wysheid van engele op te dis.

Baie van die bronkrag van die ANC se magsmisbruik is juis afhanklik van ’n houding wat uit Botha se skrywe straal.

Dis die geloof onder wittes dat mens slegs iets kan verander as jy self aan die mag is. Hulle vergeet byvoorbeeld om die Grondwet se beskerming op te roep wanneer hul eie regte vertrap word. Dis ’n houding wat aangeneem is deur mense deur ons nasionale geskiedenis van skending van menswaardigheid, die mag van onderwerping en intimidasie.

Die ANC maak hierop staat!

Sodoende meng minder mense in met sy magsvergrype en kan hy ongehinderd maak en breek.

Dié misvatting oor mag en geregtigheid is ’n groot oorsaak van wit emigrasie. Ek glo verstoktes in die ANC steun wit emigrasie heimlik.

Die idee dat slegs mag dinge kan verander, veroorsaak ook die inwaartse (sielkundige) emigrasie van wittes en bruines te lande. Baie Afrikaners voel hulle het geen seggenskap nie en dit verlam hulle. Hoe verder inwaarts hulle emigreer hoe ongebreidelder regeer die ANC.

Alles deel van die plan?

Die ANC misbruik ’n bepaalde nasleep van die feit dat opstand deur voormalige wit dissidente teen apartheid in die onvermydelike nabyheid van mag plaasgevind het. Hulle weet dat enige eertydse, wit dissidente terselfdertyd ook uit die magsentrum geëet het (dit was onvermydelik so). Hulle was dissidente van binne.

Noudat daardie magsentrum verval het, sal sulke dissidente – wat nou dissidente van buite is – ook verdwyn (so hoop die uitgeslape ANC). En hy is deels reg!

Anders as die wit dissidente van weleer, onder meer die skrywersgroeperinge wat MC Botha in die 1970’s–‘80’s opgelewer het, het die swart bevrydingstryd ’n louterende, versterkende en stigtende ervaring gehad waarvan bevoorregte wit dissidente slegs kon droom: die mag van om volledig onderdruk te wees; van niks hê om te verloor nie; die gawe van onvermybare dapperheid; en die vrywees van die morele afpersing wat uitgaan van ’n magsentrum waaruit jy self stam.

Dus: die ANC buit die feit uit dat wit dissidensie in die verlede aan bevoorregting gekoppel was.

Ontkoppel dissidensie en bevoorregting in wit geledere en siedaar! Jy het effektiewe uitskakeling en verdere dissidensie uit daardie oord. Botha se brief is maar een van vele sieninge wat heeltemal onbewustelik hierdie manipulasie sterk.

Vrye Woord is ’n antisensuur-, antiregeringstellinginname wat plaasvind buite die heerserstand, sónder swyende beskerming van vriende in die staat, sónder verbonde welvaartsverbintenisse.

Hierin verskil dit van die Afrikaanse skrywersgroepe van destyds. Dis die soort formasie wat onder nie-ANC-Suid-Afrikaners aangemoedig en nie afgekraak moet word nie!

Maar wat doen Botha? As mens kyk na sy leeslys wat hy noem – Brand Fourie, FW de Klerk, Magnus Malan en ’n biografie oor PW Botha – is dit g’n wonder hy kan nie aan bevryding of historiese geheue buite die konteks van mag dink nie. Hy sê sulke boeke noem nie eens die bydraes van skrywers in die geskiedenis nie. Dis dieselfde as om te sê feministe lewer geen bydrae tot sport nie, want hulle word nie genoem in rugbybiografieë nie.

Niks minder nie as die feit dat die ANC vandag regeer, is getuienis van die mag van verset, die mag van die onbemagtigdes en van ’n vrye pers. Ek vind die naïwiteit en onverantwoordelikheid van Botha se uitlatings ongeloofbaar.

Sluit eerder aan by inisiatiewe soos Vrye Woord. Begin klein, ja. Opponeer die mag wat jy skynbaar so haat. Dan sal jy wees op daardie eerbare plek waar miljoene Suid-Afrikaners was toe hulle teen apartheid opgestaan het: die ware buitekant. Daar kan jy jou swart medeburgers ontmoet en hulle sonder skaamte in die oë kyk. En sommer meer tuis voel in jou eie land.

Én die stryd behoorlik aanknoop.

* Charl-Pierre Naudé is ’n digter.

En dís WikiDeepthroat
Yvonne Beyers
2010-12-04  

[By in Beeld gee meer inligting oor die verskrikking van WikiLeaks. Letterlik die hele wêreld se regerings is geskok oor die uitlek van vertroulike inligting. Hier onder is uittreksels uit die oorsig. Lees die hele berig by: http://www.beeld.com/By/Nuus/En-dis-WikiDeepthroat-20101203.]

Die waarheid móét uitkom, glo Julian Assange. Maar terwyl WikiLeaks pas weer derduisende staatsdokumente laat uitlek het, kruip die meesterbrein agter geheime weg. Yvonne Beyers soek die man agter die mite.

Toe Julian Assange 16 jaar oud was (so lui die legende), het hy onder die skuilnaam Mendax by rekenaars begin inbreek. Dit was die jaar 1987, en die jonge Julian het sy hacker-naam uit ’n frase in die werk van die Romeinse digter Horatius gekies: splendide mendax beteken “nobly untruthful”, oftewel “eerbaar oneerlik”.

Dié Australiese bleeksiel en twee ander kuberkrakers het onder die naam International Subversives saamgespan, en Julian het die reëls vir hul aktiwiteite só neergepen: “Moenie die rekenaarstelsels waar jy inbreek, beskadig (of dit laat ineenstort) nie; moenie die inligting in die stelsels verander nie (behalwe om jou spore toe te vee); en deel die inligting.”

Dit was toe. Vandag – meer as twee dekades, ’n string stertjies aan sy storie en ’n vloedgolf uitgelekte inligting later – geld dieselfde reëls steeds vir die man wat opnuut met die webwerf WikiLeaks bewys: hoe meer vertroulik iets is, hoe groter is die kans dat iemand se hande sal jeuk om dit uit te lap. En hoe kragtiger is die bom wanneer Jan Rap óók kan lees wat agter die rooi “Top Secret”-stempel lê.

Maar terwyl publikasies soos The New York Times, Der Spiegel en The Guardian vandeesweek ’n reeks ongemaklike onthullings publiseer uit die meer as 250 000 geheime Amerikaanse dokumente wat Wi­ki­Leaks aan joernaliste laat uitlek het, bly die lewensverhaal van die man wat dié webwerf in 2007 gestig het ’n geheim wat veel beter bewaar word. Waar WikiLeaks nou ’n simbool vir deursigtigheid is, het die meesterbrein agter die webwerf ’n byna mitiese figuur geword.

Geen wonder hy haal Oscar Wilde aan in ’n boek waarvan hy die medeskrywer is nie: “Man is least himself when he talks in his own person. Give him a mask, and he will tell you the truth.”

(. . .)

Hy word die “Robin Hood of hacking” genoem, maar tree glo soos ’n diktator op wanneer sy span besluit of inligting gepubliseer moet word – dié besluit berus nét by hom, spog hy.

“Met WikiLeaks het ek ’n stelsel probeer skep wat die probleem van mediasensuur en die sensuur van oopvlekkers regoor die wêreld oplos. As woordvoerder van die organisasie kry ek al die kritiek en al die krediet,” het hy aan Time gesê.

Terwyl sy aanhangers glo hý is die baanbreker wat sal sorg dat regerings die media nie suksesvol muilband nie, sê kritici Assange se webwerf plaas mense se lewe in gevaar – veral wanneer inligting oor konflikte soos dié in Irak of Afganistan onthul word.

En hoewel sy webwerf al verskeie belangrike onthullings geplaas het, was nie alles in die openbare belang nie. Gee enigiemand werklik om hoe die gesinsfoto’s lyk wat Sarah Palin van haar Yahoo!-e-pos-adres stuur?

En Assange, glo hý enigiets is heilig? “Natuurlik is daar legitieme geheime. Maar ons moet aanneem elke individu het die reg om inligting aan ander oor te dra,” het hy aan Time gesê.

En: “Wanneer regerings ophou om mense te martel en te vermoor, en wanneer maatskappye ophou om die regstelsel te misbruik, eers dan sal dit dalk tyd wees om te vra of aktiviste vir vrye spraak meer verantwoordbaar moet wees.”

  • Bronne: Forbes, Time, The Sunday Times, The New York Times, The Sydney Morning Herald, Bloomberg.com, Wikipedia, Crikey.com

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index