Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Protes 2 – Leve De Beschaving


Carina van der Walt - 2010-12-08

Subsidies word verminder. In Nederland ontvang formele instansies soos biblioteke en museums langtermyn-subsidies om te oorleef. Dit word vanuit die owerheid toegeken deur stadsrade, provinsiale rade of nasionale rade. Nou staan subsidieverleners onder groot druk om te bespaar. In aansluiting by die protesaksie Nederland Schreeuwt om Cultuur het die kabaretster Freek de Jonge ’n manifestasie in die Heineken Music Hall in Amsterdam gereël: Leve De Beschaving. Dit het plaasgevind op Maandagaand 22 November en is twee uur lank lewend op die televisiekanaal Ned.2 uitgesaai. ’n Beskawing word kennelik ook gemeet aan sy biblioteke, museums en televisie.

 


Wanneer museums op den duur minder geld kry, beteken dit minder kunsaankope vir hulle private versamelings, minder tentoonstellings, minder kunstenaars oor die drempel en ’n groeiende agterstand in die wêreld van internasionale kuns. Museums word onaantreklike plekke en besoekersgetalle daal.

Jaarliks word ook subsidies toegeken vir gebeure soos die Nationale Gedichtendag, die Nacht van de Poëzie, Nederland Leest, die Boekenweek en die Boekenweekbal. Hiermee word talent in die boekewêreld in ’n groot mate ondersteun. Op die oomblik is die BTW op die aankoop van ’n boek nog ses persent, maar lesers hou hulle harte vas na die pas afgelope BTW-verhoging in die teaterwêreld. Stadsbiblioteke gebruik hulle subsidies om hulle affiliale in die omringende dorpies te onderhou, maar ’n kwart van hierdie klein bibliotekies moet nou sluit.

Die konsert Leve De Beschaving het ontstaan op inisiatief van De Jonge. Onder leiding van die vakbond vir werknemers in kuns (FNV Kiem) het 500 kunstenaars vrywillig op kort kennisgewing daaraan meegewerk. De Jonge wou hiermee die volgende boodskap aan die konsertgangers en televisiekykers bring: “We zullen de inspirerende kracht van de kunst benadrukken. Het wordt een ode aan de cultuur die zo diep geworteld is in onze samenleving dat bezuinigingen erop als een minachting voor de beschaving worden ervaren.”

De Jonge het sy pastiche op ’n bekende gedig voorgelees:

De Dapperstraat (JC Bloem)

Natuur is voor tevredenen of legen.
En dan: wat is natuur nog in dit land?
Een stukje bos, ter grootte van een krant.
Een heuvel met wat villaatjes ertegen.

doodongelukkig op de laffe weg (F de Jonge)

cultuur is voor onnozele malloten
en dan wat is cultuur nog in dit land
een snel gevulde kinderhand
met klodders verf en pepernoten.


Daarna het verskillende groepe opgetree, soos ’n kinderorkes uit De Bijlmer (Amsterdam-Suidoos). Onder die verskillende individuele kunstenaars was die uitvoering deurCarel Kraayenhof met sy Argentynse trekklavier hartroerend melankolies. Die vaderlandsdigter Ramsey Nasr het sy gedig “Uit Nutteloze noodzaak” voorgelees en ’n encore gekry. Angus Jongerius, voorsitter van die vakbond FNV, het bekend gemaak dat die petisielyste meer as 100 000 handtekeninge gekry het en nog voortgaan.

Deurentyd het De Jonge die draak gesteek met die komende besparingsaankondigings. Die gehoorlede het elkeen ’n speelgoedfluitjie by die deure gekry toe hulle binnekom. Waarvoor? Dit het niemand geweet nie. Die laaste gebeure van die aand is aangekondig en toe word die doel van die fluitjies duidelik. Dit was ’n gesamentlike oefensessie vir die gehoor, want: “U zult het zelf moeten doen, dames en heren.” Eers het die grand madame van die Nederlandse kabaret ’n paar toonlere geblaas. Die gehoor moes dit herhaal. Daarna het hulle saam met die Metropole Orkes ’n bekende wysie van André Rieu geblaas. Ten slotte moes die gehoor dit op hulle eie doen.

Vir ’n beter demonstrasie van wat die kuns-en-kultuurbesnoeiings alles tot gevolg kan hê, kon die Nederlandse gehoor televisiekyker nie gevra het nie. Mens besef daarenteen dat goeie kuns dikwels júis in moeilike tyd tot stand kom. Sou premier Mark Rutte se berugte woorde uit die tweede kamer, “snoeien om te groeien” tog nog pragtige rose oplewer? Dan sal hy voorwaar erken word as die rosekweker waarvoor hy homself nou uitmaak.