Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

SA se rooi ster


2010-12-07

Vars nuus: Die Kaapzicht Steytler Pinotage 2007 is in die Desember-uitgawe van Decanter internasionale wyntydskrif as die Top Pinotage aangewys. Dieselfde wyn was ook vanjaar een van die Absa Top 10 Pinotage wenners (Kaapzicht se vyfde Top 10-wenner), het 4½ sterre gekry in die 2011 Platter Wyngids wat verlede week vrygestel is en was gekeur as die Beste Pinotage van die Stellenbosch-distrik by die 2010 SA Terroir Wyntoekennings.

Kaapzicht Landgoed in die Bottelary-wyk naby Stellenbosch het vanjaar werklik na vore getree as een van Suid-Afrika en die wêreld se top produsente van die hoogste gehalte rooiwyn, gemeet aan die puntetoekennings deur verskeie panele plaaslik en internasionaal.

Nog ’n wyn wat in 2010 hoog aangeslaan is deur verskeie panele is die Kaapzicht Steytler Vision 2006 met die Ou Mutual Trofee Wynskou-toekenning as die Beste Pinotage Versnit en die Internasionale Trofee vir die Beste Nie-Bordeaux versnit by die Tri-Nations, waar die top wyne van Australië, Nieu-Zeeland en Suid-Afrika meegeding het.

Boonop het die Kaapzicht Steytler Vision 2007 ook ’n Goud Medalje by vanjaar se Veritas Toekennings en Mundus Vini in Duitsland ontvang, terwyl dit ook gekeur is as die nasionale Top Rooi Versnit by die SA Terroir Wyntoekennings. Die Kaapzicht Merlot 2007 het ook verskeie panele beïndruk met ’n Dubbelgoud Veritas Toekenning, aangewys as die Top Merlot deur die panele van die Wyn-van-die-Maand-Klub en WINE tydskrif, asook die nasionale Top Merlot by die SA Terroir Wyntoekennings. 

Die 2007-oesjaar het verseker puik wyne opgelewer in die prima wynbouterrein van die Bottelary Heuwels, wat deeglik benut word deur Kaapzicht se pa en seun span, Danie Steytler snr en Danie Steytler jnr.

Hul nuutste vertroeteling is die Bordeaux-versnit Steytler Pentagon en die eerste oesjaar, die Steytler Pentagon 2006, is verlede jaar vrygestel met 4 sterre in WINE tydskrif en 4½ sterre in die Platter Wyngids, terwyl die 2007 oesjaar wat vanjaar vrygestel is ook ’n Goud Veritas Toekenning en 4½ sterre in die Platter Wyngids ontvang het.

In die 2011 Platter Wyngids het vyf van Kaapzicht se rooiwyne 4½ sterre ontvang en vyf wyne 4 sterre, in ander woorde tien wyne het 4 sterre of meer ontvang.

“Bottelary Heuwels is ’n prima wynbouterrein vir rooiwyn. Die noordwestelike helling het die perfekte kombinasie van direkte sonlig en deurlopende koel seebriese van Valsbaai en die Atlantiese Oseaan. Die heuwels op ons landgoed is geleë slegs 20 km van die kus van Valsbaai. Die medium potensiaal graniet-gronde en droëland wingerde produseer lae opbrengs van vier tot agt ton per hektaar en skep sodoende klein korrels met gekonsentreerde geure,” sê Danie Steytler snr, keldermeester en mede-eienaar van Kaapzicht Landgoed.

Pa en seun maak ’n wenspan in die Bottelary Heuwels se prima wynbouterrein. Danie Steytler snr (keldermeester) en Danie Steytler jnr (wynmaker) van Kaapzicht Landgoed.