Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Witwees in Afrika – Gedagtes oor Max du Preez se Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan


Desmond Painter - 2010-12-07

Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan
Max du Preez
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781770220560
Prys: R187.00

Klik hier en koop Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan nou van Kalahari.net!

 

Vergun my om hierdie resensie op ’n ietwat persoonlike noot te begin. Ek het Vrye Weekblad destyds ontdek toe ek nog op skool was – kort op die hakke van ’n ander openbarende ontdekking, die Voëlvry-musiekbeweging. Ek het die koerant heel per toeval op die plaaslike CNA se rakke gesien, daardeur geblaai, en dit gekoop. Ek dink dit het so R2 gekos; nie juis min vir ’n koerant in daardie dae nie. Maar ’n mens kon, anders as wat die geval is met die meeste Suid-Afrikaanse koerante vandag, jou darem ’n paar dae lank met Vrye Weekblad besig hou! Om die waarheid te sê, ek het nooit van my kopieë ontslae geraak nie. Ek dreig al lank om ’n paar van die beste voorblaaie (en daar was goeies!) te raam vir my kantoor.

Aanvanklik was ek heel onbewus van die politieke radikaliteit en omstredenheid van die koerant – ek was net ’n gewone 15-jarige seun, verveeld in die voorstede, met ’n vae vermoede van joernalistiek met meer edge as Die Burger, wat op daardie stadium so vanselfsprekend soos die oggend self elke dag by ons voordeur afgelewer is.

Nie dat dit politiek was wat my aanvanklik tot Vrye Weekblad aangetrek het nie. Op die duur was die koerant ’n politieke bewusmaker soos min, en in daardie opsig ’n vormende invloed, maar ek het Vrye Weekblad aanvanklik begin koop vir die uitdagende kunsblaaie. Max du Preez is absoluut in die kol as hy skryf: “Ons dekking van film, teater en visuele kunste was werklik op dieselfde standaard as die beste in die wêreld en sekerlik verreweg die beste ooit in Afrika. As ek nou van die artikels lees, is ek verstom – niemand skryf meer sulke goed nie. As ek terugkyk, wonder ek of ons kulturele impak nie dalk groter as ons politieke impak was nie – maar dit is ook nie so maklik om die twee te skei nie (262).

Daar is waarskynlik heelwat mense van om en by my ouderdom met soortgelyke stories oor hulle ontdekking van Vrye Weekblad,en oor die rol wat die koerant gespeel het in hoe hulle hulself as jong Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners in daardie jare polities geposisioneer en kultureel geherdefinieer het. Vrye Weekblad was in daardie opsig nie bloot nog ’n koerant nie, maar soos Voëlvry ’n geleier en amplifiseerder van rustelose, toenemend dringende politieke en kulturele energieë.

Alhoewel Max du Preez nie alléén verantwoordelik was vir Vrye Weekblad nie, verdien hy as stigter en redakteur van daardie koerant beslis sy plek in die joernalistieke geskiedenis van Suid-Afrika, en ook in die kulturele geskiedenis van die Afrikaners. Boonop bly hy as politieke kommentator, rubriekskrywer en populariseerder van die Suid-Afrikaanse geskiedenis ’n interessante en altyd uitdagende openbare figuur. ’n Outobiografiese teks deur hom behoort dus beslis verwelkom te word – al is dit dan ook ’n Afrikaanse verwerking (en bywerking) van ’n boek wat etlike jare gelede al onder die titel Pale Native in Engels verskyn het.

Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan is egter nie op voor die hand liggende wyse ’n outobiografie nie. Alhoewel Du Preez nie terughoudend oor sy persoonlike lewe en ervarings is nie, is dit die politieke geskiedenis van Suid-Afrika, en die problematiek van witwees in Afrika, wat die eintlike fokus van sy mymeringe in hierdie boek is. As joernalis het Du Preez immers al sedert die laat 1970’s ’n unieke perspektief op Suid-Afrika (en ook Namibië), en dit is in hierdie verband, as deelnemende en kritiese waarnemer van sy land se politieke dramas, dat hy sy persoonlike geskiedenis ter sprake bring. Die vraag wat Dwars probeer beantwoord, is nie “Wie is Max du Preez?” nie. Dit is veel eerder “Hoe het ons as Suid-Afrikaners gekom waar ons vandag is en waarheen is ons op pad?” en “Wie en wat is ’n wit Suid-Afrikaner?”

Die herverbeelding van Afrikanerskap (en van Afrikaans) in nierassige terme, en as inheems aan Afrika, is vandag natuurlik ’n gewilde, alomteenwoordige aktiwiteit. Selfs polities konserwatiewes dring deesdae luid daarop aan dat hulle Afrikane en van Afrika is – so asof hierdie status in die verlede deur ander van hulle weerhou is! Daar is by baie Afrikaner-meningsvormers en -intellektuele ’n dringendheid, by tye selfs ’n desperaatheid, om hulleself en ander daarvan te oortuig dat hulle regtig hier in Afrika hoort. Die politieke legitimiteit van die Afrikaners en hulle aansprake in ’n nuwe politieke konteks hang natuurlik in ’n groot mate hiervan af – veral in ’n konteks waar die begrip Afrikaan wél by tye deur die nuwe politieke elite in terme van ras gedefinieer word: Afrikaan as gelyk aan swart.

Maar die gretigheid om Afrika en Afrikaanskap te eien kan nie net toegeskryf word aan die legitimiteitskrisis wat Afrikanerpolitiek en Afrikaner-identiteite in die postapartheid-omgewing ondervind het nie. Die politieke ekonomie van die Afrikaanse media maak die ideologiese projeksie van ’n inklusiewe, nierassige Afrikaanse spraakgemeenskap insgelyks gebiedend – ’n hernude vorm van etniese entrepreneurskap, as’t ware, wat in diens staan van die konsolidering en uitbouing van ’n mark.

Anders as in die tyd van Vrye Weekblad is die nierassige, “‘kontinentale” herverbeelding van Afrikanerskap en Afrikaans as taal dus nie meer ’n kontra-ideologiese, polities gevaarlike projek nie. Jan Rabie se bekende uitspraak oor Afrikaans as Suid-Afrika se belangrikste veelrassige prestasie is deesdae net so mak soos die handjievol Van Wyk Louw-konsepte (“oop gesprek”, “lojale verset”, “venster op Europa’”) wat skynbaar outomatiese gewigtigheid en legitimiteit aan openbare diskoers in Afrikaans verleen.

In hierdie opsig is Max du Preez se openbare rol interessant. Soos Breyten Breytenbach word hy vandag in sekere opsigte gekoöpteer deur diegene wat hom in die 1980’s as volksverraaier gebrandmerk het. Sy persoonlike geskiedenis van politieke verset en sy standpunte oor die inheemsheid van Afrikaans en die Afrikaners kan heel gerieflik gebruik word om legitimiteit te verleen aan die ideologiese projek van “Afrikanisering” waarna ek hier bo verwys: ’n polities opportunistiese, soms selfkoesterende omgang met die herkoms en inheemsheid van die Afrikaners. (Waarmee ek nie probeer sê dat Afrikaners nie Afrikane is nie, of dat hulle nie Afrikane behoort te wil wees nie, maar bloot dat sodanige beroepe op Afrikaanskap en die nierassigheid van Afrikaans nie ideologies neutraal is nie, en dus krities beoordeel moet word binne die spesifieke kontekste waarin hulle verwoord word.)

Die manier waarop Max du Preez hier met die gegewe van Afrika en Afrikaanskap omgaan, is egter baie ver verwyder van bloot opportunistiese politieke retoriek, en sekerlik nie te versoen met ’n soort politiek wat dalk “Afrikaner-Nasionalisme lite” genoem kan word nie. In sy hantering daarvan is wit Afrikaanskap ’n uitdaging wat aan Afrikaners gestel word, eerder as wat dit ’n nuttige selfposisionering is wat eeue se selfsegregasie en rassisme sommer oornag tot ’n ongelukkige episodetjie reduseer ... G’n wonder nie dat Du Preez dikwels steeds deur baie regses as volksverraaier gesien word!

Aan die ander kant is Afrikaanskap beslis vir hom ook nie onderhandelbaar of ’n soort ontwykende ideaal nie: dit is nie iets wat deur die nuwe regering bepaal en aan groepe toegeskryf word nie. In hierdie opsig is Du Preez net so genadeloos in sy kritiek op die etniese nasionalisme van die nuwe politieke elite as wat hy op die volgehoue rassisme in Afrikanergeledere is. 

In die proses bied Du Preez ’n hoogs leesbare oorsig van sy loopbaan, sy vriende en vyande, en van die politieke krisisse en veranderinge in Suid-Afrika oor die afgelope drie dekades. Lesers wat sy rubrieke volg, sal die gedeeltes oor veral onlangse gebeure in Suid-Afrika dalk by tye oorbekend vind (soms word lang gedeeltes uit rubrieke aangehaal), maar daar is beslis genoeg herinneringe, indrukke en menings om van Dwars ’n bevredigende, soms openbarende leeservaring te maak.

Die boek eindig met die woorde: “Suid-Afrika het nog nie ’n vervelige land geword nie.”

Max du Preez het duidelik ook nog nie ’n vervelige joernalis geword nie.