Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

’n Stralekrans vir Mariël le Roux


Danie Botha - 2010-12-03

Die kans om saam met ’n skrywer te kuier, kry jy nou ook in Durbanville.

Mari Lategan van die maatskappy In Context Consulting en die nuwe bemarker van fiksie by NB-Uitgewers, Eben Pienaar, gaan voortaan saamspan om boekgesprekke met skrywers te reël in die elegant-gemaklike Treat Patisserie in die Hertex-vertoonlokaal in Durbanville. ’n Ligte ete word ook voorgesit en jy mag maar ’n boek koop en dit deur die skrywer laat teken.

Vroegaand Donderdag 18 November was die eerste geleentheid. Dit was die aand van Mariël le Roux, naaswenner in die Sanlam-Tafelberg Groot Romanwedstryd met Die naamlose.

Haar uitgewer, Riana Barnard, het haar netjies uitgevra oor die skryfproses en sy het gewiks en boeiend geantwoord. Daarna het ek as haar redakteur vertel van die redigeringstyd. (Ons het vooraf gejil oor dié betitelings. Ek het haar vertel dat ’n senior soos juffrou Berta Smit dit aan my as junior voorgehou het: Jy is iemand in jou beroep wanneer ’n skrywer ’n gas aan ’n mou beetkry op ’n partytjie en sê: “Ag, ontmoet my redakteur!” Of bemarker, of die toppunt: “… my uitgewer”.)

Eers het ek verrassing vir Mariël gehad en my praatjie só begin:

Ek wil nou graag lof bring aan Mariël le Roux en Die naamlose.

Eers my belange verklaar. Ek is Mariël se redakteur. Ek en sy en haar man, Jean, is almal eks-Worcesteriete, plek van ons jeug. Wie van u het ’n Worcester-verbintenis? … Julle is goeie mense.

’n Hele skaretjie skrywers het ’n verbintenis met Worcester, dodes en lewendes: C Louis Leipoldt, ID du Plessis, JM Coetzee, Juin du Toit, Sheila Cussons, Reinette de Villiers, Marzanne Leroux-Van der Boon, Esta Steyn, FW en Marietjie de Jongh, David Kramer, Etienne Britz, Abraham Phillips, Floris A Brown, Jaco Botha, Diana Ferrus, Judith Viljoen, Wilna Adriaanse (met Vier seisoene kind) en moi. Van dié groep het ek toe twee skrywers na hierdie geleentheid genooi, tydgenote van Mariël en Jean. Maar Marzanne le Roux-Van der Boon sit sonder e-posfasiliteite in Israel, besig met navorsing vir ’n roman. Esta Steyn kan ook nie vanaand hier wees nie, maar sy’t ’n e-posboodskap gestuur. Ek lees dit graag voor. U sal die skryfster van die Geraldina-komediereeks herken. ’n Advertensie: Volgende jaar verskyn ’n nuwe Esta Steyn: Droomdelwers. Esta se boodskap handel oor haar en Mariël se Hoër Meisieskool-dae, ’n skool wat Worcesteriete sal herken in Die naamlose.

Beste Mariël,

Ek groet hier van die Weskus af om nog ’n stemmetjie by al die ander stemme van gelukwensings te voeg. Veels geluk met die tweede plek! Dit wil gedoen wees!  Mag Die naamlose verder net van krag tot krag gaan en met groot geesdrif ontvang word.

As ou Worcesteriet gee ek jou hiermee ’n drukkie, al het ons paaie jare gelede geskei en al het die tyd oor ons geloop. Tog is daar herinneringe wat ek glo ons altyd sal deel. Ek was in 1963 in matriek in die Hoër Meisieskool toe jy in st 9 was. Ja, ek was die jongste van die drie Ellis-susters (ons was nie so bedeesd soos die vier Humphrey-susters nie). Jisso, ek was maar ’n stout kind; het die stomme juffrouens grys hare gegee, want ek het vreeslike dinge aangevang. Het hoeveel maal by die klaskamers se vensters uitgeklim en vir lewe en dood aan dakke of boomtakke gehang. En kos in die huishoudkundeklas gaan bedel. En ’n manier gevind om die koeldrankkas in die lobby oop te breek en vir die hele klas botteltjies koeldrank verniet te gee.

Onthou jy ou Kat?  Juffrou Grobbelaar wat Afrikaans gegee het? Ek het ’n soort van heilige ontsag vir haar gehad. Ons het Vrou op die skuit van Elise Muller in matriek gedoen en ek ken vandag nog omtrent die hele “Die dieper dors” uit my kop uit. Sy het mos altyd gepraat van die “fyn, tekenende besonderhede”. Dit het in my kop gegraveer gebly.  En onthou jy vir ou Logies? Juffrou Malherbe wat Engels gegee het met die rouge op die wange en die bruin hare wat elke dag presies dieselfde gelyk het? Dierbare siel.

Mens kan maar net dankbaar bly dat ons in sulke goeie, goue jare grootgeword het, so anders as vandag: Ons was Facebook-loos, Google-loos, Tweeter-loos, TV-loos, Dr Phil-loos, SMS-loos. Ons was darem nie draadloos nie!  Maar ons was wel goddeloos ... want ons het baie tyd gehad om kattekwaad uit te dink. Hoe het ek nie eenkeer die Worcester Standard gebel met die nuus van ’n swart vyfling wat in die hospitaal gebore is nie! En glo my, die pers en fotograwe het soontoe opgeruk.

Nou ja, hier sit ek en raak nostalgies oor die ou Worcesterdae, waar ons voetspore lê. My wens vir jou is dat jy nog baie sal delf in die goeie ou dae en dat jou stories sal voortvloei en vreugde sal bring, ver buitekant jou grense.  Mag die Here jou talente lieflik seën! Sterkte!!

Weskusgroete, ook vir Jean.

Esta Steyn

Hoe ek aan Die naamlose gewerk het?

Ek het die teks gekry om te keur sonder ’n skrywersnaam daarby. Toe sien ek die tegniek van die skrywer raak: om in kursiewe gedeeltes die intrige vooruit te loop, as ’t ware te voorspel wat gaan gebeur en daardeur spanning te skep. In die romeinse gedeeltes vind die leser uit hóé die dinge gebeur het. Ek het toe in my verslag gewonder of dit nie Mariël se teks is nie, want ek het dié skryfwyse in haar eerste boek (by Protea Boekhuis), Wilhelmina, kampkind op Java, by haar aangeprys. (Dié eersteling het ook ’n Worcester-verbintenis. Die hoofkarakter was ’n tannie van ons buurplaas ten noorde van Worcester in die jare vyftig en sestig. Ons het as kinders geweet sy’s van oor die water in Nederland, maar nie dat sy haar jeug in Javaanse krygsgevangenekampe deurgebring het nie.) Ek het ook onthou dat sy en Jean ’n rukkie gelede in Italië was, die land wat so ’n belangrike rol in die boek speel. Tafelberg se Riana Barnard het toe bevestig dis Mariël se werk.

Ek het altyd uitgesien daarna om verder en verder te redigeer aan Die naamlose. In die woorde van my toneelvriendin Maggi Atkinson: party dae was ek verswelg deur die maalkolke van die lewe, maar die aand kon ek gewoonlik met genoeë voor die rekenaar inskuif. Behalwe die aand van 1 April 2010, maar daaroor later.

Ja, die rekenaar. Deesdae werk ons redakteurs nie meer op pakke papier met ’n pen wat jy in ’n inkpotjie volmaak nie. Nee, ek kry die hele teks per e-pos van die skrywer of via Riana. Op die rekenaar bring ek die meeste korreksies dadelik aan. Oor ander sake waaroor ek twyfel of waarvoor ek nie ’n oplossing het nie, skryf ek dan in rooi vir die skrywer binne die teks. Sy antwoord my in blou op die teks. Sy mag met my stry, maar sy het nie. Sy gee toe, maak aanvullings, doen herskrywings. As ek en die skrywer regtig nie kan saamstem nie, roep ons Riana in as arbiter. Dit het nie gebeur by Mariël nie, want sy is so ’n goeie, so ’n natuurlike skrywer. Sy sukkel nie met skryftegnieke nie. Dit is dadelik op publikasiestandaard.

Dit was in my 38 jaar as redakteur nog altyd iets hoogs bevredigends om te sien hoe ’n skrywer op jou redigeringsvrae reageer. Jy maak voorstelle, maar die rasegte skrywer oortref jou altyd. Op 3 April skryf ek vir Mariël: “Ek moet regtig jou lof besing met jou fantastiese kreatiewe werk. Nie alleen verbeter jy gedeeltes volgens my vrae nie, maar elke verandering beteken wins. Jy voeg in die proses evokatiewe detailbeskrywings in; nog sielkundige insigte kom by.” Sy sal ’n soort fout wat ek op een of twee plekke aandui, op haar eie deurgaans verbeter.

Ek het haar lastig geval oor die alewige afluistery van veral die kinders. Dit is natuurlik iets wat kinders doen, maar aan die ander kant was dit ’n te opsigtelike manier van inligting oordra aan die leser. En toe die grootmense dit óók begin doen … Mariël het die aantal gevalle aansienlik verminder. Daar was ook ’n gedoente met die meubilering en uitleg van die huis.

 Ek het op ’n paar plekke in die teks lof ingeskryf, maar toe besef ek sy kan dink die ander plekke is nie goed nie. Het laat weet daar’s ander mooi en goeie gedeeltes ook. Ek het my ontroering erken: “Die ou man het heel aangedaan geraak. My buurvrou, Merle van Bosch, ’n gewese teatersuster, sê dis tipies van ons outoppies.”

Ek herinner u net daaraan dat Mariël verpleegkundige is – noem haarself in ’n storie “nurse”. Eenmaal ’n verpleegster, altyd een. Sy praat kamma van my rooi aantekeninge as “masels” en waar ek in my kritiek van ’n “perspektiefbreuk” praat, dink sy dis ’n ernstige siekte.

Ten slotte: oor die aand van 1 April 2010. Vir my 63-jarige oë moet ek die teks altyd na 14 pt vergroot op die skerm. Annelie Botes spot altyd. Sy vergroot haar tekste by voorbaat na 20 pt. Op die langnaweekaand vergroot ek weer die Mariël-teks om te kan werk. En êrens moes ek iets verkeerd gedruk het. Want die kursiewes word romeins. Romeins kursief. Paragraafindelings verdwyn. Korreksies wat vyf minute gelede gestet is, is nou weer foutief soos voorheen. Ek begin my e-pos aan Mariël: “Drama!” Ek roep die hulp in van Riana en twee ervare sekretaresses, Danita van Romburgh en veral Engela Reinke by NB-Uitgewers. Hulle sal eers die Dinsdag kan reageer. By wie is die fout? By my of Mariël?! Engela Reinke het tot vandag toe nog nie ’n verklaring nie. Sy het so agter haar hand gefluister Mariël is skotvry. Ekke moet die skuld dra, al het so iets sedertdien nog nie weer gebeur nie. Sal maar die pak vat; ’n skrywer het altyd reg – só is ons boekeredakteurs geleer.