Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 01/12/2010: Wat wil die ANC in die doofpot stop?


2010-12-03

01.12.2010

Verdediging wys hoe dit gedoen moet word

Dit wil voorkom asof die fokus nou vinnig van die twee omstrede muilbandwette verbreed moet word om besonderhede te gee oor dit wat die ANC/regering/staat eintlik so graag wil toesmeer met geheimhouding en mediabeheer.

Die Departement van Verdediging het so ’n intelligente minister dat sy gereeld vir die hele land wys hoe om selfs die parlement te minag, moeilike vrae te ignoreer of veral sensitiewe inligting as staatsgeheime te bestempel. Dit is die bloudruk vir die toekoms, selfs voordat die inligtingswet aanvaar is.

Die parlement en trouens die land hoef nie te weet hoe paraat ons “verdedigingsmag” is om hoegenaamd die land te verdedig nie. Meer vrae en inligting kan boonop die hele wapenskandaal verder oopkrap.

Magtige nuwe wapens vir al drie die magte verroes omdat daar nie kundigheid of geld is om hulle selfs behoorlik in stand te hou nie. Miljarde rande wat derduisende armes se lot kon verander, is in die water gegooi. Die nuwe weermag wat soveel werk sou verskaf, het ’n groot grap in die oë van selfs vriendelike lande geword.

Die grootste enkele bedreiging vir Suid-Afrika is tans Somaliese seerowers en selfs daarmee kan ons nie gaan help weerstand bied nie. Ons onbruikbare fregatte kan nie seerowers in hulle klein bote aanvat nie!

Zwelinzima Vavi het selfs vanuit die alliansie die moed gehad om te verwoord dat die hiënas inbeweeg het om te aas en selfs in die eerste plek hulle kleintjies te voed. Hy het met Vrye Woord se uitgangspunte saamgestem en soos volg op ons skrywe gereageer: “I truly appreciate that more and more South Africans are crashing the walls of division that were designed to keep them apart. More importantly there is a just a set of values accruing from our constitution that should unite us irrespective of other differences of opinions we will always have, including at the ideological level.”

Wat beteken hierdie waardes vir die hiënas en vetkatte van die ANC? Hulle interpreteer dit as ’n vrypas om te plunder en hulself te verryk.

Praat van geld letterlik in die water gooi: Pieter Haasbroek stuur ’n berig van Stephen Goodson, “Sinking the South African Navy”, waarin die skrywer met bewyse toon dat bykans die hele vloot tans sonder beweging in die water lê en roes. Hy wys daarop dat die vloot se doel volgens hulself is om op see te veg en wen. “With its ships being almost permanently moored, and the lack of any trained crews, this must surely be rated as Mission Impossible.”

As daar ooit ’n berig was wat dadelik GEHEIM geklassifiseer sal word, is dit hierdie een. Mag selfs die seerowers hoor dat ons vloot nie vlot is nie, maar verroes en verrot? Pieter vra onder vir verdere onthullings.

Die ouddiplomaat Tom Wheeler waarsku dat WikiLeaks met hulle onthulling van ’n stapel vertroulike dokumente vir die regering die skietgoed kan gee om die inligtingswet te regverdig. Die ander sy van die saak is dat ons nou presies weet waar om heen te gaan met die hoogs geheime dokumente wat ons gesteel het en ons in die tronk kan laat beland.

- CM

 

’n Hoekie vir geheime? En wat verder met Vrye Woord?

Pieter Haasbroek

 

Charles, ek stuur graag aan jou voorbeelde van die inligting wat ons geagte minister van geheimhouding wil toesmeer (hier bo bespreek). Hiér is die eerste item. Hopelik sal ek spoedig bevestiging kry vir my tweede brokkie: “Zuma se drie liefdesbabas in Hongarye”. Viva die Vrye Woord!

Wat nodig is: ’n webwerf-hoekie vir geheime wat die regering wil toehou. Vra vir bydraes, wat die minister van geheimhouding kan besig hou met ontkennings / vure doodslaan / speurtogte na oorsprong, ens. Laat die menere bietjie sweet.

Wat die woordwerkersvakbond betref, net die volgende: Niks verhoed ons om met Vavi & Kie saam te werk nie. Of Solidariteit. Hulle het waarskynlik – saam met Afriforum – die mees doeltreffende Afrikaanse drukgroep in ons land buitekant die politiek tot stand gebring. Die belangrike vereiste vir samewerking bly egter ons doelstelling: die bevryding van die woord van die regering se aanslag daarop.

Ons moenie dié doelstelling oorlaai met ander sake nie (die stryd teen monopolie-kapitalisme, Praag, die BMF, ens); dit sal net verdeeldheid bring. Jou oorspronklike omskrywing van die doelstelling is wyd genoeg; ’n openbare reaksie op elemente daarvan (bv wat met taalonderrig gebeur, of met die inhoud van skoolboeke) sal die veldtog groter momentum gee. Kry net mense aan’t skryf.

 

’n Vakbond of nie?

At de Lange

Ek is teen alle geforseerde sensuur en boeke verbrand. Elke skrywer behoort self te leer watter van sy/haar eie werk verbrand moet word en watter skryfwerk van ander vermy moet word. Dit is die ruggraat van onomkeerbare selforganisasie (“irreversible self-organization”). Lees Nobel-pryswenner Ilya Prigogine se boek Order out of Chaos hieroor.

Ek meen ook Vavi is grotendeels reg en dat hy ons ondersteuning verdien solank as wat hy die standpunt huldig. Maar ek dink nie dis nodig om dit te doen deur ’n vakbond te stig nie. Ek is ook ten gunste daarvan dat mense wat dieselfde soort werk doen, hulleself vrywillig organiseer in ’n gilde.

Maar betaling om aan ’n gilde of vakbond of wat ook al te behoort en die klerklikes (“clergy”) daarvan te vergoed, is vir my ’n gruwel uit die hel. Geld kan nooit vrye energie vergoed nie.

Ek weet Vavi eis nie soveel as ander ANC-hebsugtiges nie. Hy kry “maar net” 0,5  miljoen rand per jaar, terwyl ’n ANC-minister begin met 1,7 miljoen rand per jaar. Hoe groot is skrywers se pensioen in vergelyking daarmee? Hoe groot is die pensioen van iemand wat nie kan skryf nie? Vorm julle eie mening.

Om te kan skryf is ’n eg menslike eienskap wat 12 000 jaar gelede ontluik het met rots-gravure oor die ganse aarde. Die waarde van enige eg menslike eienskap kan nooit met geld gemeet word nie. Dit vernietig die ander ses pilare van wysheid.

As enigeen die terme wat ek gebruik, vreemd vind, sal ek dit graag verniet verduidelik. Maar om my te sensor of selfs te verbrand, selfs al is dit ’n voorbok soos Charles Malan, is nie my skade nie. Ek sal wel eendag in vlees dood wees. Maar intussen word ek in gees.  

Vrye Woord ook by Woordfees 2011

Piet Westra


Gesprekstema: Nuwe sensuurbedreigings vir die Vrye Woord

Met Dene Smuts, Ampie Coetzee, Francis Galloway en Piet Westra

Die moontlike muilbandaktiwiteite wat spruit uit planne van die regering om 'n mediatribunaal en sensuurwetgewing in te stel, kom onder die loep in hierdie gesprek. Die deelnemers is Dene Smuts (DA-skaduminister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling), Ampie Coetzee (veteraan-kampvegter teen apartheidsensuur) en Francis Galloway (deskundige op die gebied van die uitgewerswese). Piet Westra, oudbibliotekaris en onlangse ontvanger van die Albie Sachs Vryheid-toekenning, tree op as gespreksleier.

7 Maart 15:00 | Boektent | 50 min | R40

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index